God is naby – baie naby

 

If I can stop one heart from breaking,
I shall not live in vain;
If I can ease one life the aching,
Or cool one pain,
Or help one fainting robin
Unto his nest again,
I shall not live in vain.

     –Emily Dickinson

 

God is naby – baie naby

Daar is ‘n pragtige verhaal uit die ooste van Engeland. Op ‘n stadium was dit die middelpunt van die wolhandel in Engeland. Een van die skaapwagters sterf en met hom in die kis is van sy wol – wol wat hy self van sy eie skape geskeer het. Hoekom? As die oordeelsdag kom, sal Christus die wol sien en besef dat hierdie man ‘n skaapwagter was.

Omdat Christus self op ‘n stadium ‘n herder was, sal Hy onmiddellik die probleme van hierdie man besef – Hy sal weet hoeveel tyd is nodig om om te sien na skape wat gereeld afdwaal. Daarom sou Christus verstaan waarom hy nie so dikwels in die kerk was nie.

Ons lag hieroor, maar hierdie storie maak ‘n belangrike punt – iets wat ons moet waardeer as ‘n waardevolle insig: Ons God is nie ver weg nie; ons God is nie iemand wat niks van siekte en swakheid weet nie. God weet en God verstaan. Daarom kan ons met vrymoedigheid na die genadetroon gaan, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang (Hebreërs 4:16).




Apologetiek: Verstaan die die aard van geloof

In the face of suffering, one has no right to turn away, not to see. -Elie Wiesel

Apologetiek: Verstaan die die aard van geloof

 [Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

 Hoekom glo ons in God wanneer dit nie met absolute sekerheid bewys kan word nie? Die nuwe ateïste beweer dat geloof irrasioneel is – jy hardloop weg van die bewyse en weier om te dink. Kom ons kyk na die stelling: verkragting is verkeerd. Ons kan nie met rede of die wetenskap bewys dat hierdie stelling reg is nie. Dit maak nie dat ons hierdie stelling nie meer glo nie.

Geen gemeenskap kan oorleef sonder die konsep van geregtigheid nie. Ons kan egter nie bewys dat enige spesifieke siening van geregtigheid reg is nie.

Sir Isaiah Berlin, bekende filosoof, sê dat menslike oortuigings in drie kategorieë val:

  1. Dié wat met empiriese waarnemings bewys kan word
  2. Dié wat deur logiese afleiding gemaak kan word.
  3. Dié wat nie deur een van bogenoemde bewys kan word nie.

Hierdie derde kategorie bevat die waardes en idees wat die mens se kultuur vorm – dinge wat ons glo wat sin, rigting en doel aan die mens se lewe gee.

Die VN sê dat hulle in fundamentele menseregte glo. Hierdie stelling is baie belangrik, maar die stellings in Die Universele Verklaring van Menseregte kan nie bewys word nie – nie logies of wetenskaplik nie. Ons kan hulle nie bewys nie, maar vir hulle verdedigers is hulle redelik. Gevolgtrekking: Ons onderwerp ons aan die groot wêreldsienings van ons tyd sonder absolute bewyse.

Almal van ons glo dat sekere dinge waar is terwyl ons besef dat ons dit nie kan bewys nie. Kritici van geloof in godsdiens sê dat geloof ‘n vorm van geestesongesteldheid is wat tot godsdienstige mense beperk is. Dit is verkeerd: geloof is deel van menswees. Ateïste aanvaar nie dat menslike rede perke het nie. Hulle aanvaar egter dat hulle eie oortuigings betroubaar en verantwoordelik is. Maat die kernwaarhede van ateïste kan ook nie bewys word nie. Hulle kritiek van die Christelike geloof berus op sekere morele waardes (godsdiens is boos; God is nie goed nie; ens) wat nie bewys kan word nie.

Die Christelike idee van geloof is meer as om net te glo dat sekere dinge waar is. Dit is nie net om te glo dat God bestaan nie, maar ook om te ontdek dat hy wys, liefdevol en goed is – daarom wy ons ons toe aan Hom. You are not with an argument which demands your  assent, but with a Person who demands your confidence (C. S. Lewis)

Ludwig Wittgenstein sê dat hy nog nooit van iemand gehoor het wat tot geloof in God as gevolg van ‘n argument gekom het nie. Rasionele argumente het ‘n plek in apologetiek, maar ek kan glo dat God bestaan sonder dat my lewe verander. Dit is nie bekering of ware geloof nie. Jakobus 2:19: Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. Daar is ‘n wêreldse verskille tussen rasionele aanvaarding en persoonlike transformasie.

Bekering is die taak van evangelisasie – die apologetiek berei die weg vir bekering voor deur te wys dat dit sin maak om in God te glo. Ons mag dalk nie kan bewys – in die absolute rigiede sin van die woord –  dat daar ‘n God is nie, maar ons kan wel daarop wys dat dit beslis redelik is om te glo dat God bestaan. Dit maak meer sin van die lewe, geskiedenis en ons ondervindings as enigiets anders. Dan kan ons iemand uitnooi om op hierdie liefdevolle Vader te reageer en op sy beloftes te vertrou.




Apologetiek: Paulus se regstoesprake (Handelinge 24 – 26)

Next to Christ I have one joy: to preach Christ my Lord. —Samuel Rutherford

Apologetiek: Paulus se regstoesprake (Handelinge 24 – 26)

 [Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Rome was die dominerende mag in die destydse wêreld om die Middellandse See. Die owerhede het die opkoms van die Christendom met suspisie bejeën. Hoekom? Dit kon probleme in ‘n plofbare streek veroorsaak en was ‘n bedreiging vir keiseraanbidding.

Keiseraanbidding was ‘n burgerlike godsdiens as gevolg van ‘n verhewe siening van die keiser. Dit begin tydens die bewind van keiser Augustus. Toe die Christelike godsdiens ‘n betekenisvolle teenwoordigheid in die oostelike gedeeltes van die Ryk kry, was keiseraanbidding gevestig. Keiseraanbidding is gesien as ‘n belangrike manier om sosiale eenheid en stabiliteit te verseker. ‘n Weiering om aan hierdie kultus deel te neem word as opstand gesien. Die Christene was kwesbaar, want hulle weier om deel te neem.

Tertullus, ‘n advokaat, bring juis hierdie aanklag teen Paulus in (Handelinge 24:1 – 8). Hy beskryf Paulus as ‘n gevaarlike man wat skeuring in Joodse geledere bring. Hy is ‘n leier van die dwaalrigting van die Nasareners. Hierdie was ‘n ernstige aanklag  en Paulus sal op ‘n doeltreffende wyse moet reageer as hy vir Feliks, die goewerneur wil oortuig. Hierdie toesprake van Paulus gebruik patrone wat bekend was aan die regsprosedures van destyds.

Regstoesprake het gewoonlik vier of vyf standaard komponente gehad. In Handelinge 24:10 – 21 reageer Paulus op die aanklagte van Tertullus. Hy verwerp die aanklagte punt vir punt. Hy beklemtoon die kontinuïteit tussen wat hy en wat die Jode glo. Die fynere punte van wetsargumente van die Romeine is nie vir ons van belang nie, maar wel dat Paulus geweet het hoe Romeinse howe gewerk het – hy kon binne die sisteem gewerk het.

  • Paulus maak gebruik van die reëls van die Romeinse regstelsel. Hy besef die belang van sekere argumente vir diegene  wat die kritiese besluite oor sy toekoms moes neem. Omdat hy weet wat saak maak, kan hy homself baie doeltreffend verdedig. Ons moet steeds die evangelie teen baie kritici verdedig. Hierdie mense is nie een homogene groep nie. Die redes waarom mense die Christendom aanvaar, of verwerp, verskil. Pas jou verduideliking by jou gehoor aan.
  • Dit is duidelik dat Paulus en die evangelie deur sy aanklaers verkeerd voorgestel word. Paulus se strategie is om baie duidelik dit wat hy glo uiteen te sit. ‘n Verwerping van die evangelie hang af van die verstaan van wat dit is. Dit is baie moontlik dat dit ‘n verwringing van die evangelie is wat verwerp is. Dit is moontlik dat die evangelie nooit werklik verstaan is nie. Vir Paulus is een van die beste verdedigingsmeganismes die akkurate verduideliking van die evangelie.

Volgende keer kyk ons na die gehoor – wie is hulle?




Apologetiek: Paulus se preek in Atene (Handelinge 17)

Christians do not think God will love us because we are good, but that God will make us good because he loves us (C. S. Lewis).

Apologetiek: Paulus se preek in Atene (Handelinge 17)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid (1 Korintiërs 1:22).

Toe Paulus daar aankom was Atene eintlik maar net ‘n provinsiale stad in die Romeinse Ryk. Tog was Atene belangrik weens sy filosofiese erfenis – die plek waar Plato se Akademie was.

 

Paulus begin sy toespraak met ‘n geleidelike inleiding tot die tema van die lewende God. Hy laat toe dat die godsdienstige en filosofiese nuuskierigheid van die Ateners die kontoere van sy uitleg vorm.  Hy begin: Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Dit is sy kontakpunt. Hy verbind met die bestaande Griekse godsdienstige aannames. Dan wys hy vir hulle dat die Christelike godsdiens verder gaan. Wat die Grieke beskou as onbekend (selfs onkenbaar) sê Paulus is deur die opstanding van Christus bekend gemaak. Paulus kan met hulle verstandswêreld en ondervindings verbind sonder om ‘n kompromis met die integriteit van die Christelike geloof aan te gaan.

Hoe verbind hy met die Ateners? Ons moet onthou dat hulle niks van die Ou Testament geweet het nie. Daarom benader hy hulle uit ‘n totaal ander kultuurkonteks. Petrus gebruik die Skrif; Paulus gebruik die boek van die natuur. Hierdie idee het natuurlik diep wortels in die Skrif: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:2). Die verwysing na God as Skepper word nou ‘n kanaal om oor die tema van verlossing in Christus te praat.

Paulus is duidelik bekend met die besondere identiteit en kenmerke van sy gehoor. Hy gebruik dit wat hulle glo en plaaslike landmerke as die ankers van sy preek. Hy verwys na mense met wie hulle bekend was – nie Moses en Dawid nie, maar na Aratus, een van die grootste kulturele ikone van sy tyd. Hy was ‘n student van die Stoïsynse filosofie in Atene en wel by die skool wat deur Zeno gestig is. Luister hierna: God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af (Handelinge 17:27 – 28).

‘n Tweede landmerk speel ook ‘n rol in Paulus se benadering: ‘n altaar waarop geskrywe staan: ‘Aan ‘n onbekende god.’ (17:23). Hierdie anonieme altare was algemeen in daardie tyd. Paulus sê dat ‘n god van wie die Grieke  ‘n implisiete en intuïtiewe bewustheid het nou aan hulle bekend gemaak word. Die God wat ons indirek in die natuur leer ken, kan ten volle deur die opstanding van Jesus Christus geken word.

Petrus se benadering tot sy Joodse gehoor sou nie hier gewerk het nie – en omgekeerd. Paulus pas  sy retoriek by die plaaslike situasie aan – hy haal ‘n plaaslike gesagsfiguur (Aratus) aan en gebruik die apologetiese potensiaal van ‘n plaaslike landmerk (‘n altaar aan ‘n onbekende god).

Volgende keer  kyk ons na Paulus se regstoesprake.