Alle Paaie lei na Jesus: Jesus eindig en vervang bepaalde dinge (2) – Adrio König
11.1.2 Die wet (hoofstuk 3)
Daar is ’n sin waarin Jesus ook die wet beëindig en vervang. Hy word selfs die einde van die wet genoem (Rom 10:4). En in Hebreërs lees ons die wet was maar net ’n skadubeeld of ’n vae aanduiding (GN) van dit wat nog in die toekoms gewag het (10:1). Hierdie radikale uitsprake sluit natuurlik direk aan by dié oor die tempeldiens, en het net soveel aanstoot gegee.
Dis juis hierdie twee sake wat aanleiding daartoe gee dat Stefanus gevang word: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die tempel en die wet van Moses te sê nie” (Hand 6:13). Maar ons moet op hierdie punt mooi onderskei omdat daar ’n ander sin is waarin die wet sy volle betekenis behou soos ons in hoofstuk 3.5 en 3.6 gesien het.
Die presiese bewoording van Romeine 10:4 help ons baie. Die nuwere Afrikaanse vertalings bemoeilik net die saak. Die 1953-vertaling is nie so duidelik nie, maar dit gee die betekenis die beste weer: “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.” GN vertaal ongeveer soos volg: Sedert Christus gekom het, is die wet nie meer die pad na God nie. Van nou af geld: God neem almal aan wat glo. Wat beteken dit? Nie dat Christus die wet as sodanig beëindig het nie, maar wel ’n bepaalde funksie van die wet, en dan ’n funksie wat die wet eintlik nooit bedoel was om te hê nie, maar wat gaandeweg deur die Jode aan die wet toegeken is: om ’n mens by God aanvaarbaar te maak. Daar was genoeg uitsprake in die Ou Testament wat sommige Jode oortuig het dat dit inderdaad die betekenis van die wet was: As jy die wet kan hou, sal God met jou tevrede wees. Ons het hierdie siening breedvoerig bespreek onder 3.5. Ons het toe ook gesien dat dit ’n hoogs emosionele saak was wat gemoedere kon opjaag. Die Joodse Christene het die besnydenis as deel van die wet beskou, en geëis dat heidene wat tot geloof in Jesus kom, besny moet word om gered te word. Dit is aan hierdie vermeende betekenis van die wet dat Jesus dan ’n einde maak, nie aan die wet as lewensreël vir gelowiges nie. Daarvoor gebruik Paulus nog altyd die wet as rigsnoer, selfs as die basis van sy vermanings aan gemeentes.
Maar vir die Jode en Joodse Christene was die verwerping van die wet as heilsweg ’n ingrypende saak. Dit is interessant om in hierdie lig ’n oomblik te kyk na Galasiërs 3:12, wat ’n aanhaling is uit Deuteronomium 27:26. Paulus gee ’n negatiewe interpretasie aan hierdie teks uit Deuteronomium, maar dit het oorspronklik ’n positiewe betekenis gehad. In Deuteronomium is dit die samevatting van ’n lys sondes wat ’n vloek op ’n mens laat rus. Dit is die bekende sondes wat dikwels verbied word soos onsedelikheid, onbarmhartigheid, oneerlikheid, en is nie veel meer as ’n aantal konkretiserings van die Tien Gebooie nie. Die samevatting lui dan: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou en nie daarvolgens lewe nie.” Op sigself is dit tog nie snaaks nie. Dis ’n oproep om gehoorsaam aan die Here te leef.
Waarom gee Paulus dan daaraan ’n negatiewe betekenis? Omdat hy dit teenoor die geloof stel. Teenoor: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe,” stel hy: “God spreek ons vry omdat ons glo.” En waar daar só ’n teenstelling is, is die keuse vir Paulus vanselfsprekend: geloof, nie doen nie; Christus, nie die wet nie.
Maar nog ’n keer: Waarom interpreteer Paulus hierdie uitspraak so negatief, terwyl dit heeltemal positief bedoel is in Deuteronomium? Omdat daar tussen die tyd van Deuteronomium en Paulus ’n lang geskiedenis lê waarin die Joodse leiers die wet verhef het tot die heilsweg, in plaas van soos dit oorspronklik, ook in Deuteronomium, bedoel is: as lewensreël vir die volk van die Here. Veral ná die ballingskap het die leiers probeer om ten alle koste te verhoed dat so ’n ramp hulle ooit weer tref. En hulle het dit gedoen deur die onderhouding van die wet te verabsoluteer as dié manier om God tevrede te stel, en dit ten koste van die lewenshouding van geloofsvertroue.
Dit alles beteken dus dat selfs ons opskrif bokant hierdie paragraaf: Jesus beëindig en vervang iets, nie altyd dieselfde betekenis het nie. Die tempelkultus het geen besondere afwykings vertoon nie. Jesus het dit nie beëindig en vervang nie omdat dit in sy egte vorm ontoereikend was nie, maar eenvoudig omdat dit ontoereikend geword het toe Hy gekom het. Hy het gebring wat oneindig meer en beter was as die bestaande, al was die bestaande nog ongeskonde. Daarom het Hy dan ook die hele tempelkultus beëindig, en nie net ’n deel daarvan nie. En verder het Hy dit nie net beëindig nie, maar dit ook vervang, dit wat oneindig beter was in die plek daarvan gesit.
Maar wat die wet betref, vervang Jesus nie die wet as sodanig nie, maar net ’n aspek van die wet, en boonop ’n aspek wat nie regtig by die wet gehoort het nie, maar later bygevoeg is en dit eintlik verwring het. ’n Mens sou dus ook kon sê Jesus herstel die wet in sy oorspronklike funksie. Hy beëindig net die wanfunksionering daarvan.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König