Die kanon van die Nuwe Testament en Nicea

Only a mediocre person is always at his best – W. Somerset Maugham

Die kanon van die Nuwe Testament en Nicea

Michael Kruger skryf dat daar baie algemeen aanvaar word dat die kanon van die Nuwe Testament in 325 by die eerste ekumeniese konsilie in Nicea vasgestel is – onder die invloed van Konstantyn. Dan Brown maak hierdie selfde aanspraak in sy boek The Da Vinci Code. Dit was ‘n bestaande siening wat hy eenvoudig in sy boek gebruik het.

 

Hierdie aanspraak is vals. Die konsilie by Nicea, en Konstantyn, het niks met die samestelling van die Nuwe Testament te doen gehad nie. Nicea se bekommernis was hoe Christene Jesus Christus se Goddelikheid sou artikuleer. Dit was die geboorteplek van die Geloofsbelydenis van Nicea.

Sodra mense besef dat die vergadering by Nicea niks met die samestelling van die Nuwe Testamentiese kanon te doen gehad het nie, vra hulle gewoonlik: “Watter vergadering/sinode het oor die kanon besluit?”  Ons kan tog nie ‘n kanon hê sonder dat ‘n gesagvolle, amptelike liggaam daaroor besluit het nie. Iewers moes iemand tog hieroor gestem het.

Daar was nie so ‘n liggaam nie. Daar was streeksliggame wat uitsprake oor die kanon gemaak het – Laodisea, Hippo, Kartago. Hierdie liggame het nie boeke gekies wat dan in die kanon opgeneem is nie. Hulle het bloot daardie boeke wat reeds as fundamentele dokumente vir die Christelike geloof gefunksioneer het, bevestig. Hulle het verklaar hoe dinge was – nie hoe hulle dit graag sou wou hê nie. Hierdie liggame het nie geskep of bepaal of gesag verleen aan sekere boeke nie – hulle het bloot ‘n kanon erken wat reeds daar was.

Die Nuwe Testamentiese kanon se samestelling is nie deur ‘n stemmery of raad of sinode aanvaar nie, maar deur ‘n breë en langstaande konsensus.The canon of the New Testament was ratified by widespread consensus rather than by official proclamation (Bart Ehrman).

Die kanon is nie deur mense gemaak nie; dit was nie die gevolg van magspeleties deur die ryk, kulturele elite in een of ander donker, rookgevulde kamer nie. Dit was die resultaat van God se mense wat oor baie jare hierdie boeke gelees en gebruik het en daarop gereageer het.

Dieselfde geld basies vir die Ou Testamentiese kanon. Jesus self haal uit die boeke van die Ou Testament aan. Nêrens kry ons ‘n indikasie dat  daar enige onsekerheid was oor watter boeke daar behoort het nie. Hy het selfs sy gehoor aanspreeklik gehou daarvoor dat hulle hierdie boeke moes ken.

Mense het  ‘n rol in die kanonieke proses gespeel, maar beslis nie die rol wat so dikwels aan hulle toegedig word nie. Mense het nie die kanon bepaal nie – hulle het daarop gereageer. In wese het die kanon eintlik homself gekies.

 




Laat sy liefde jou lei: ‘n “Ja” vir God bring vrede!

Laat sy liefde jou lei: ‘n “Ja” vir God bring vrede! – Milanie Vosloo

“Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is, is my eintlike familie.” Matteus 12:50

God se opdragte is nooit goedkoop nie. Dan sou almal mos doen wat Hy vra. Nee, ons Here vra dikwels juis die effens moeiliker dinge van ons. Soms selfs die oёnskynlik onmoontlike. Want ons God weet waartoe ons in staat is wanneer ons dit sáám met Hom doen.

 

Die heerlikheid van gehoorsaamheid lê dikwels nie in die uitkoms nie, maar in die blote wéte dat jy getrou aan sy stem was. Want gehoorsaamheid bring ongekende vrede in die harte van God se kinders. Dit maak jou vry van jouself, van wêreldse bande, van aardse goed en van skuldgevoelens. Oombliklike gehoorsaamheid, sê Rick Warren, gaan jou meer van God leer as ‘n leeftyd van Bybelstudie. Jy sal sommige bevele trouens nooit verstaan as jy hulle nie eers gehoorsaam nie.

Onthou vandag, jy kan nooit ‘n fout maak as jy aan God gehoorsaam is nie, want wanneer jy doen wat Hy vra, sê wat Hy van jou verwag en leef soos wat Hy hou voorskryf, sal dit altyd tot jou beswil en tot sy eer en verheerliking wees.

Heilige Gees, leer my om u stem nie net te hoor nie, maar sonder aarseling te doen wat U vra.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Apologetiek: Apologetiek en Evangelisasie

. —John Owen

Apologetiek: Apologetiek en Evangelisasie

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Christelike apologetiek verteenwoordig ‘n ernstige en volgehoue betrokkenheid met “dié  vrae” soos gevra deur die kultuur, groepe mense en individue.

Ons moet wys dat die Christelike geloof betekenisvolle antwoorde op hierdie vrae het. Apologetiek berei die weg vir evangelisasie voor. Evangelisasie nooi mense uit om op die evangelie te reageer.

Jesus het dikwels die koninkryk van God met ‘n feesmaal vergelyk (byvoorbeeld Lukas 14:15 – 24). Apologetiek verduidelik vir mense dat daar wel ‘n fees gaan wees; dit sal wonderlik wees om uitgenooi te word. Hulle moet verlang na wat die Christelike geloof belowe. Die begeerte na iets gee die motivering om dit te ondersoek. Evangelisasie rig ‘n persoonlike uitnodiging om die fees by te woon. Beide is noodsaaklik vir die vervulling van die roeping van die kerk.

Apologetiek en evangelisasie vul mekaar aan, maar dit is nie dieselfde ding nie. Volgende keer gaan ons na die beperkings van apologetiek kyk.




Tabita: Ken jy haar?

Departing from the Church is a falling away from the living God”. – Calvyn

Tabita: Ken jy haar?

In Handelinge 9:36 – 42 lees ons van Tabita – in Grieks Dorkas.

36In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer neergelê.

38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.

Lukas vertel vir ons die verhaal van die opwekking van Tabita. In sewe verse vertel Lukas vir ons dat Tabita ‘n geliefde was.  As gevolg van hierdie episode lees ons baie mense het tot geloof in die Here gekom.  In hierdie paar verse lees ons van lof, humor, hartseer, vreugde en ons kry insigte in die geloof van die vroeë kerk.

 Tabita was geliefd in Joppe. Sy was so ‘n integrale deel van die geloofsgemeenskap in Joppe dat die mense nie die lewe sonder haar  kan voorstel nie. Hoekom was sy so geliefd? Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. Sy kan onmoontlik nie dood bly nie. Daarom stuur hulle twee mans om vir Petrus in die nabygeleë Lidda te gaan haal.

Wat baie interessant is van hierdie verhaal is dat Tabita niks sê nie – Lukas praat namens haar. Al wat ons lees wat sy gedoen het, was om haar oë oop te maak en toe sy vir Petrus sien, sit sy regop. Daarna help Petrus haar om op te staan. Die gelowiges en weduwees word geroep om haar te sien – lewend.

Hoekom was Tabita so ‘n besondere mens?  Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. Maar wat het sy gedoen? Sy het vir die weduwees klere gemaak. Vergeet ons nie dat dit dikwels die klein dingetjies in ons verhouding met ander mense is wat die verskil maak nie? Om vir hulle  klere te maak en nie onbruikbare klere – vuil en vol gate –  te gee nie.