DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (6)

DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (6) – Jan van der Watt

Die verskynings van Jesus

Daar is baie verhale in die Nuwe Testament wat vertel van Jesus wat aan verskillende mense verskyn het (lees bv. 1 Kor 15:1-11). Op grond daarvan kan ‘n mens eintlik nie ontken dat Jesus aan mense verskyn het nie. Tog is daar mense wat dit probeer weg verklaar.

 

  1. Daar is mense wat beweer dat die mense aan wie Jesus verskyn het gehallusineer het. Nou, hallusinasie is iets wat individueel in ‘n mens se kop plaasvind – dit lê dus nie buite jou nie. Wat is die kans dat soveel verskillende mense op verskillende plekke en in een geval aan 500 mense gelyk presies dieselfde gehallusineer het. Eintlik is dit nie werklik eers te oorweeg nie.

  • Ander gee toe dat die hallusinasieteorie te onwaarskynlik is. Hulle maak dit meer verfynd deur te sê die dissipels en al die ander het gerou en in die emosionele staat het hulle gesigte van Jesus, wat hulle baie gemis het, gesien. Die getuienis in die Evangelies maak dit baie onwaarskynlik, want daar word baie klem gelê op die feit dat Jesus aan meer as een persoon gelyk verskyn het en dat mense saam met Hom kon eet en aan Hom kon vat. Hoe vat ‘n mens aan ‘n “gesig” wat jy sien omdat jy hartseer is? Die teorie veroorsaak ook net te veel probleme om regtig ‘n goeie verklaring vir die verskynings te wees.
  • Getuienisse verskil
  • ‘n Ander argument is dat die verskillende getuienisse oor die opstanding van Jesus heelwat verskil, kyk maar na die beskrywings in die verskillende Evangelies. Lukas vertel byvoorbeeld van die Emmausgangers (Luk 24:13-35) en Johannes van Tomas wat nie wou glo nie (Joh 20:24-29) en die verhale kom nie in die ander boeke voor nie. Wat is nou presies wat? Veronderstel Jesus het nie opgestaan nie en die dissipels wou ‘n storie opmaak, hoe sou die storie gelyk het? Sou hulle vir elkeen gesê het om sy eie storie op te maak? Nee, hulle sou probeer het om ‘n eenvormige storie die wêreld in te stuur. Tog is dit nie wat ons in die verhale van die Nuwe Testament kry nie. Hier lees ons verskillende verhale van verskillende mense. Die rede is waarskynlik omdat elkeen weet wat met hom of haar gebeur het en die verhaal wou hy of sy vertel, maak nie saak wat die ander ervaar het nie. So gesien bevestig die verskeidenheid van verhale eintlik juis die outensiteit van elke verhaal van Jesus se opstanding.

    Histories gesien is die waarskynlikheid dus groter dat Jesus wel opgestaan het as dat dit alles sommer net stories is. Die mense wat die opstanding ontken het eintlik meer om te verduidelik as die mense wat die opstandig erken.

    Dink nou na oor die volgende:

    Skrywer: Prof Jan van der Watt

     




    Alle Paaie lei na Jesus: God Drie-enig in die Ou Testament (3)

    Alle Paaie lei na Jesus: God Drie-enig in die Ou Testament (3) – Adrio König

    10.4.3 Die “Ons” in Genesis 1:26

    Daar is twee ander verwysings wat soms gebruik word. Die een is die “Ons” van Genesis 1:26. Indien hierdie “Ons” na die Drieeenheid verwys, sou ons natuurlik hier wel getuienis hê dat ons alreeds in die Ou Testament lees van ’n meervoudigheid van God. Vroeër was dit ’n taamlik algemene oortuiging dat die “Ons” inderdaad na die Drie-eenheid verwys. ’n Ander beskouing was dat God met engele in beraad gegaan het, en ’n derde dat dit ’n hoogheidsmeervoud is.

    Die oortuiging dat dit na die Drie-eenheid verwys, word egter deur sterk besware gedruk. Daar is nie in die res van die Ou Testament enige getuienis wat die Jode oortuig het van enige  meervoudigheid in God nie. God is een, sy Naam is Here (Jahwe) (Deut 6:4). NLV gee vier moontlike vertalings van hierdie kernvers in die Ou Testament, en al vier beklemtoon dat die Here een is.

     

    Ons moet onthou dat ons as Christene “in hindsight” na die Ou Testament kyk. Ons is klaar terég oortuig dat die een ware God uit drie goddelike Persone bestaan. Ons kry goeie gronde daarvoor in die Nuwe Testament. Maar dan neig ’n mens natuurlik daartoe om enige moontlike verwysing daarna in die Ou Testament aan te gryp.

     

    Die gedagte dat God hier in beraad gaan met die engele is inderdaad ’n moontlikheid. Dit gebeur herhaaldelik in die Bybel dat God met die hemelwesens in gesprek en beraad gaan. Maar dit is tog vreemd dat Hy dan van “ons beeld” praat. Die mense is tog seker nie geskape as die beeld wat God en die engele gesamentlik het nie. Daarom is die betekenis van ’n hoogheidsmeervoud (pluralis maiestatis) die beste beskikbare oplossing. Ons kry dit dikwels by hooggeplaastes dat hulle aan kondig: “Ons het besluit dat … ”

     

    AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

     

     

     

    Skrywer:  Prof Adrio König




    Hoekom aanbid ons?

    Our chief want in life is somebody who shall make us do what we can. -Ralph Waldo Emerson, skrywer en filosoof (1803-1882)

    Hoekom aanbid ons?

     Al julle volke, klap julle hande; juig tot eer van God met ‘n jubelende stem, want aan die Here, die Allerhoogste, kom eerbied toe; Hy is die Groot Koning oor die hele aarde (Psalm 47:2 – 3).

    Almal van ons moet gereeld herinner word aan waarom ons aanbid. Elke Sondag kom ek met ander gelowiges bymekaar  en ons sing en bid. Ons doen dit, want dit is die regte ding om te doen.

     

    Dit is nie verkeerd om te aanbid omdat dit die regte ding is om te doen nie. Maar soms tydens ons aanbidding besef ons dat daar iewers ‘n fout is. Ek sing liedere sonder om werklik te dink wat die woorde beteken. Ek het die fundamentele rede waarom ek doen wat ek doen, skoon vergeet.

    Wat is hierdie rede? Aanbidding is nie primêr ‘n emosionele saak nie, alhoewel ons dikwels emosioneel word as ons God aanbid. Ons aanbid nie primêr omdat ons iets uit die diens wil kry nie, alhoewel dit dikwels vir ons voordelig is om saam met ander gelowiges te aanbid. Ons aanbidding het niks met onsself te doen nie, alhoewel aanbidding een van die betekenisvolste dinge is wat ons in die lewe doen. 

    Maar hoekom aanbid ons dan? Lees weer Psalm 47:2 – 3. Die deurslaggewende woord hier is want. Ons aanbid God vir wie Hy is: die Here, die Allerhoogste. Ons aanbid Hom ook vir wat Hy gedoen het. Ons aanbidding is ‘n reaksie  op God – sy karakter en sy optrede. Ons aanbidding is in die evangelie gewortel – die goeie nuus van wat God in Jesus Christus gedoen het. Ons aanbid en loof God, want die unieke, magtige, heilige en regverdig God het na ons in liefde uitgereik. In Jesus Christus het Hy ons van sonde en die dood verlos; Hy trek ons in in die geloofsgemeenskap; Hy maak ons sy vennote in sy werk om die wêreld te verlos en te herstel.

    Dit is die rede waarom ons aanbid.

     




    Wat beteken die verordeninge en die voorskrifte en die bepalings wat die Here ons God vir u gegee het?

    –F. B. Meyer

    Wat beteken die verordeninge en die voorskrifte en die bepalings wat die Here ons God vir u gegee het?

    Moses is besig om met die volk te praat (Deuteronomium 6:20 – 25). Hy onderrig sy gemeente oor hoe om die geloof na die volgende geslagte oor te dra. Hierdie kort gedeelte bestaan uit:

    1. ‘n Kind se vraag; en
    2. Die antwoord van ‘n volwassene.

    Moses aanvaar dat as ons met verskillende kulture gekonfronteer word, kinders hulle ouers vir ‘n verduideliking oor hulle besondere leefwyse sal ondervra. Of die oorsprong van hierdie vraag nou onkunde of nuuskierigheid is, vra die kind in werklikheid: “Hoekom word ons deur hierdie regulasies beheer?”

    Moses begin nie sy antwoord deur oor die wette te praat nie – hy begin met ‘n uitleg oor wat die proloog tot die tien gebooie beteken. Ons was in Egipte die farao se slawe, en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry 22toe Hy voor ons oë tekens en groot wonderdade gedoen het en rampe oor Egipte laat kom het, oor die farao en sy hele huis. 23Maar vir ons het die Here daarvandaan laat wegtrek om ons in hierdie land te bring en dit vir ons te gee soos Hy aan ons voorvaders met ’n eed belowe het. Moses sê dat die volk nie primêr deur ‘n stel reëls beheer word nie, maar deur ‘n kennis van die Here – veral sy verlossingsdade en sy spesiale verhouding met hulle. Hy beklemtoon vier kritiese gebeure in die geskiedenis van die volk:

    1. Ons was in Egipte die farao se slawe. Die geskiedenis van Israel as volk begin met hulle behoefte aan verlossing – hulle was slawe in Egipte.
    2. Die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry. God bevry Israel uit hulle desperate posisie deur sy magtige dade.
    3. 22Toe Hy voor ons oë tekens en groot wonderdade gedoen het en rampe oor Egipte laat kom het, oor die farao en sy hele huis.
    4. 23Maar vir ons het die Here daarvandaan laat wegtrek om ons in hierdie land te bring en dit vir ons te gee soos Hy aan ons voorvaders met ’n eed belowe het. Die Here bring hulle uit Egipte sodat hulle die land wat Hy met ‘n eed aan hulle voorvaders belowe het, kon bewoon.

    Die Here red hulle uit Egipte sodat hulle sy onderdane kan word, soos duidelik blyk uit die voorskrifte en bepalings.

    In vers 24 – 25 antwoord Moses die vraag wat reeds in vers 20 gevra is. Die Here het al hierdie voorskrifte vir vier redes gegee:

    1. Om volgens al hierdie voorskrifte te lewe – om hulle optrede te beheer.
    2. Om die Here ons God te dien –  om die nodige ontsag vir die Here by hulle in te skerp.
    3. Sodat dit altyd goed kan gaan met ons.
    4. Sodat ons kan bly lewe soos dit nou die geval is.

    Die hoogtepunt van hierdie gedeelte is vers 25: Ons sal die wil van die Here ons God doen as ons hierdie hele wet in sy teenwoordigheid gehoorsaam en daarvolgens lewe soos Hy ons beveel het.”

     

    Deuteronomium 6:20 – 25 is belangrik, want dit beklemtoon die belang van doelgerigte strategieë vir die oordrag van die geloof en die gedagtenis van God se verlossingsdade in die geskiedenis. In die Nuwe Testament kry ons gereelde oproepe om die geloof oor te dra:Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander oor te dra (2 Timoteus 2:2). Jesus  het doelbewus die paasfees verander in die nagmaal. Hy sê: Gebruik dit tot my gedagtenis (Lukas 22:19). Die nagmaal moet ons altyd weer herinner van Christus se verlossingsdade. Moenie die geskiedenis vergeet nie.