Die groot idee

Too greedy is he for whom God does not suffice. –  Augustine

Die groot idee

Van die sterkste invloede in ons lewe is  onsigbaar; soms klein; hipoteties. Idees. Hulle vul ons gedagtes; hulle motiveer ons optrede; hulle bepaal hoe ons die werklikheid sien.

 

Idees is ook die kern van geestelike invloed. Hulle is kragtige werklikhede wat onsigbaar van die een persoon na die ander beweeg. Hulle verander en ontwikkel. Leiers moet altyd vra: “Wat is die beste idees wat ek na ander kan oordra? Is daar een groot idee wat God my mee beïnvloed het wat ek kan oordra aan ander?”

As ons aan groot leiers uit die verlede dink, onthou ons wat hulle bereik het, maar waarskynlik ook een of meer groot idees – idees wat die gedagtes geprikkel het; idees wat hulle gedryf het om iets groots te bereik; ‘n idee wat ander beïnvloed het; ‘n idee wat geïnfiltreer het.

Vir Martin Luther King Jr. was dit dat alle mense gerespekteer moet word, want hulle het dieselfde Godgegewe waardigheid. Vir Abraham Lincoln  was dit dat die eenheid van die state nie verbreek kan word nie. Vir Winston Churchill was dit dat tirannie nooit geduld kan word nie.

Augustinus  was teen die idee wat destyds algemeen in baie kerke voorgekom het, dat goeie dade/werke  jou verlossing kan bewerkstellig. Hy staan dan ook as die “dokter van genade” bekend. Billy Graham preek vir miljoene mense en dra dieselfde idee oor: God se vergewende liefde in Christus is vir alle mense beskikbaar. Robert Pierce, die stigter van World Vision, se groot idee was dat die Christelike geloof praktiese moet reageer op die fisiese swaarkry van mense dwarsdeur die wêreld.

Het God ‘n sentrale oortuiging – ‘n idee wat mense se gedagtes prikkel – in jou geplant wat jou in staat stel om die lewens van ander mense te beïnvloed?  Indien ja, wat doen jy daaromtrent?                                                                        




Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (5)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (5) – Adrio König

10.1.5 Adonai Jahwe

NJB vertaal dit tereg met “The Lord Jahwe”. Die ouer vertalings soos 1953 het vertaal met “die Here HERE.” Dit beteken iets soos die Heer/Eienaar/Beskikker wat Jahwe is. Dit is om verskeie redes ’n interessante benaming van die Here.

Die Hebreeuse woord adon, die enkelvoud van adonai, kom skynbaar uit die Kanaänitiese kultuur. Daar is nie ’n ouer Hebreeuse woord waarvan dit afgelei is nie. Dit is as hoflikheidsvorm in die gewone omgang tussen mense gebruik, maar met iets meer in as ons “meneer”. Dit het eintlik beteken dat die persoon belangriker is as jyself. Abraham se slaaf verwys na Abraham as “my adon” (eienaar? Gen 24:12).

 

Dit is baie interessant dat sowel buite die Bybel as in die Bybel soms ’n meervoudsvorm gebruik word terwyl dit tog net om een persoon gaan. Ons lees byvoorbeeld dat die Here die Egiptenaars sal oorgee aan ’n “harde regeerder” en dan word die meervoud vir adon gebruik (adonim, Jes 19:4). ’n Mens kry dit ook by ’n woord vir “eienaar”, Baäl. Hier word die meervoud van die besitlike vorm gebruik in die woorde: ’n “esel ken die krip van sy eienaar” (Jes 1:3, 1953-vertaling).

 

Dit gebeur ook wanneer ons die benaming Adonai Jahwe kry. Adonai is tegnies ’n meervoudsvorm, maar soos Baäl word dit vir een persoon gebruik. Dit is waarskynlik iets soos die sogenaamde pluralis maiestatus, die hoogheidsmeervoud. ’n Belangrike persoon soos die hoof van ’n regering sal vandag ook nog sê: “Ons het besluit … ” Wanneer adonai so vir die Here gebruik word, het dit die betekenis van hoogheid, grootheid, mag, grootste mag. NLV vertaal: “Die oppermagtige Here” (Eseg 20:3). Die 1983-vertaling het ’n baie vreemde vertaling: “Die Here my God.” Dit het baie min, indien enige, ooreenkoms met die Hebreeus.

 

Terug na die meervoudsvorm. By elohim verwys ons na die oortuiging dat ons eintlik die meervoudigheid/drie-eenheid van God alreeds in die Ou Testament kry. Elohim is ’n  meervoudsvorm, en daaruit lei mense dan af dat dit na die Vader en die Seun en die Gees verwys. By die bespreking van elohim word hierdie siening afgewys. In die Ou Testament is nog geen aanduiding van enige meervoudigheid in God nie. Ons kry dit eers in die Nuwe Testament waar Jesus ook as God bely word.

 

Die meervoudsvorm Adonai word egter ook gebruik as argument vir die meervoudigheid van God in die Ou Testament. Maar ons het reeds daarop gewys dat dit net soos ander meervoudsvorme nie die betekenis van ’n meervoud het nie, maar eerder ’n waardigheids- of hoogheidstitel is. Vir dié lesers wat in ’n bietjie ekstra nadenke geïnteresseerd is, kan die volgende interessant wees. In die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is, was die Hebreeuse Ou Testament nog net in medeklinkers geskryf. Die Jode het die Bybel so goed geken dat hulle dit sonder klinkers kon lees. Ons het vroeër al daarna gekyk. Dit beteken dat die besondere vorm van adonai, die vreemde meervoudsvorm wat deur ’n besondere klinker aangedui word (’n qamez in plaas van ’n patah, dit is ’n “lang” a in plaas van ’n “kort” a), nog glad nie so in die Ou Testament gestaan het nie. Hierdie klinkers is eers meer as 500 jaar na Christus, deur Joodse geleerdes by die medeklinkers bygevoeg om die Ou Testament meer toeganklik te maak vir mense wat dit nie meer sonder klinkers kon lees nie. Dit beteken dat hierdie vreemde meervoudsvorm adonai glad nie sigbaar was voor hierdie tyd nie omdat dit net deur ’n klinker aangedui word wat toe eers bygevoeg  is. En ons weet goed die Joodse geleerdes wat later hierdie meervoudsvorm ingeskryf het, het dit nie gedoen om ’n meervoudigheid in God aan te toon nie, want die Jode is oortuig dat daar geen spoor van so iets in die Ou Testament is nie.Daar is dus taalkundig en histories geen gronde om in adonai ’n werklike meervoud te sien asof dit na ’n meervoudigheid in God verwys nie.

 

In die volgende artikel gaan ons na die benamings El, Elim en Elohim kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Is jou kerk ‘n koninkrykskolonie of ‘n buiteklub

Today, and it breaks my heart to say it, finding a homeless person who has died of cold, is not news. Today, the news is scandals, that is news, but the many children who don’t have food – that’s not news. This is grave. We can’t rest easy while things are this way.” Pous Fransiskus

Is jou kerk ‘n koninkrykskolonie of ‘n buiteklub

Een van die oudste klooster in die wêreld is Sint Katharina. Dit is deur keiser Justinianus gebou om die monnike aan die voet van Sinai-berg te beskerm. Die mure is van graniet en tussen 8 en 35 meter hoog. Tot in die laaste eeu was daar net een ingang – ‘n klein deur ongeveer nege meter bokant die grond. Jy het toegang verkry met ‘n stelsel van katrolle en toue. Die klooster bevat baie antieke ikone en skatte, maar was tot betreklik onlangs ontoeganklik vir buitestanders.

 

Trevin Wax vra ‘n baie interessante vraag: Word ons kerke nie mettertyd soos hierdie klooster nie – ‘n versterkte organisasie sonder deure nie? ‘n Organisasie wat fokus op sy eie oorlewing en nie op sy spesifieke roeping nie. Die neiging is om te vergader met mense net soos ons. Ons sit spieëls om die evangelie – alles weerkaats na binne – in plaas daarvan dat ons groot vensters maak.

Die kerk is tog veronderstel om ‘n kolonie van die hemelse koninkryk te wees. Maar so dikwels verander ons die koninkrykskolonie in ‘n buiteklub. Ons fokus is die gemak en behoud van ons lidmate. Die groot opdrag om na die gemeenskap uit te reik, het in die proses verlore geraak.

Mense sê dat ‘n gemeente of ‘n oorlogskip of ‘n plesierboot is. Albei seil, maar hulle doel verskil radikaal. Die oorlogskip is daar vir ander – dit penetreer die vyand se gebied en veg daar. Die plesierboot is daar vir die gemak van sy passasiers. Luukse en gemak is die kernwaardes.

Het ons die gesindheid van ‘n plesierboot  word die kruis en opstanding van Christus gereduseer tot ‘n boodskap van persoonlike gemak. Ons eredienste vermaak ons. In plaas daarvan dat ons byeenkomste as basis dien vanwaar individuele Christene oor die wêreld versprei om die evangelie uit te dra,  bou ons mure om ons kerke om ons te beskerm teen die bose wêreld daar buite.

Die belangrikste waarde van gelowiges met ‘n plesierboot gesindheid is selfbehoud – hoe kan ons onsself beskerm teen mense wat van ons verskil. Persoonlike en kulturele voorkeure word absolute beginsels. As almal net meer soos ons sal wees, sou die wêreld ‘n beter plek gewees het!

Met ‘n oorlogsboot mentaliteit gaan dit nie oor selfbehoud nie, maar oor selfopoffering. Die geloofsgemeenskap bestaan nie vir homself nie, maar vir ander.




Hoe bou ons gelowiges?

What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us.”  A.W. Tozer

Hoe bou ons gelowiges?

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.  [Kategese = Godsdiensonderwys deur die kerk gegee, veral aan die jeug en in vraagvorm – HAT.]

 

Hoekom het kategese sy plek in die kerk verloor? Ons leef in ‘n tyd van kitskos – alles moet vinniger gebeur. Die probleem is dat kitskos jou gou vol maak, maar dit is nie ‘n gebalanseerd dieet nie. Dieselfde is besig om in die kerk te gebeur – die kos wat ons kry in die leer- en onderrigproses smaak lekker, maar voed ons nie juis nie.

Goed en wel: ons het ‘n nuwe dieet nodig. Die fondament waarop hierdie dieet gebou moet word, is goeie kategese. Maar nou voer ons ‘n opdraande stryd – ons swem stroomop. Hoekom?

  • In die Weste aanvaar ons nie meer eksterne gesag nie. Die gevolg is dat die waarheid en gesag van God se woord bevraagteken word. Kategese  aanvaar dat daar wel iets soos waarheid wat gesag dra en geleer moet word, is.
  • Daar is ‘n weerstand teen verdere onderrig. Baie Christene glo vandag dat as hulle aangeneem is dit nie meer nodig is om te leer nie – hulle weet nou alles wat hulle nodig het om te weet. Kinders leer ook nie meer die waarhede van die drie-enige God nie, maar net die stories van die Bybel. In ons Bybelstudies soek ons onmiddellik die persoonlike toepassing van die Skrifgedeelte – ons ignoreer die skrywer se siening oor die grootheid, die doel en die misterie van God. Die gevolg is dat ons begrip van wie en wat die God wat ons aanbid werklik is, vaag is. Leer word nou vir ons ‘n onaanvaarbare woord. In so ‘n konteks is kategese onwelkom.
  • Ons is besig. Ons gemeenteprogramme is (oor)vol. Ons sukkel om alles ingepas te kry. Daar is nie plek vir leer nie. Die gevolg: The good is blocking out the best.

As kategese – vir kinders en volwassenes – belangrik is, sal ons hierdie hindernisse moet oorbrug.