DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (2)

DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (2) – Jan van der Watt

2. Paulus skryf ‘n lang hoofstuk (1 Kor 15:1-34) oor die opstanding van Jesus, waarin hy die belangrikheid daarvan onderstreep.

 

  • Let op die volgende interessante dinge:

    Paulus laat die hele Christelike boodskap staan of val met die opstanding. As Jesus nie opgestaan het nie, is ons geloof tevergeefs en is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Waarom dink jy sê hy dit? ………………………………………………………………………………………………………………………………    

  • Die rede lê by die eras wat gewissel het. As Jesus nie opgestaan het nie, het ons geen bewys dat daar lewe na die dood is nie. Dan het God nie met Jesus geslaag nie – hoe weet ons dan of Hy met ons sal slaag. As Jesus egter uit die dood opgestaan het, wys dit dat God die krag het om dit te doen en dat daar lewe na die dood is. Dan het ons ook hoop (1 Kor 15:12). Dit is dan ook wat hy bedoel as hy sê ons hoop nie net in hierdie lewe op Jesus nie – daar is vir elke Christen ‘n toekoms. Dit sê die opstanding vir ons.

    • Die bewys dat Jesus opgestaan het kan onder andere afgelei word uit sy verskynings aan mense. Paulus noem ‘n klomp (1 Kor 15:4-10) en moedig die destydse lesers indirek aan om te gaan vra as hulle onseker is – baie van die mense leef nog, sê hy. Paulus is dus nie bang dat die werklikheid van die opstanding van Jesus verkeerd bewys sal word nie.
    • Die dood, wat mense van God af weggehou het, is deur Jesus se opstanding vernietig (1 Kor 15:26-28). Dit beteken dat as iemand sterf, die dood daardie persoon nie meer vir altyd daar kan hou nie. Jesus is nou in beheer – Hy sê wie leef vir ewig en wie nie.
    • Die opstanding is altyd die afronding van die kruis. 1 Kor 2:1-5 beskryf die kruis as sentrum van Paulus se prediking, maar dit sluit altyd die opstanding in. Sonder die opstanding sou die kruis nie veel sin gemaak het nie. 

    3. Ander skrywers van die Nuwe Testament baseer ook hulle boodskap geheel op die opstanding. Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Deur met hierdie woorde te begin, gee Petrus eintlik die raamwerk vir die res van sy boodskap. Jesus het opgestaan en daarom het ons hoop wat by God vir ons bewaar word. Dit maak die huidige en toekomstige lewe die moeite werd. Daarom kan sy boodskap ook geglo word.

  • Om terug te kom by die vraag: hoe belangrik is die opstanding volgens die Nuwe Testament? Die antwoord is kort: Sonder die opstanding is daar geen Evangelie nie, het die Christene geen hoop nie en is ons godsdiens tevergeefs. En die rede? Die opstanding bewys dat daar lewe na die dood is en dat Jesus daardie pad vir ons oopgemaak het.

    Volgende keer kyk ons na die belang van die opstanding vir ons.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt

     




  • Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (4)

    Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (4) – Adrio König

    10.1.4 Jahwe Sebaot

    Daar is ’n bepaalde rede waarom Jahwe Sebaot saam met El Shaddai, wat verder aan behandel word, baie belangrik is. Vir beide benamings kry ons in talle vertalings die woord “almagtig”. Jahwe Sebaot word dan vertaal met “die Here die Almagtige”, en El Shaddai met “God die Almagtige”. Beide is ongelukkige vertalings en wel om twee redes: Eerstens is sowel sebaot as shaddai se betekenis onseker, en tweedens het Hebreeus glad nie ’n woord vir “almag/almagtig” nie. Ons bepaal ons nou by sebaot.

    Sebaot is ’n meervoudsvorm van saba. Saba kom voor as werkwoord en as selfstandige naamwoord. As werkwoord kan dit beteken “oorlog maak”, “vir oorlog uittrek”. Dit kan egter ook vir die tempeldiens van die Leviete gebruik word. As selfstandige naamwoord kan dit verwys na iets wat swaar, gewigtig, belangrik is. Dit verwys soms na diens wat aan iemand opgelê is soos krygsdiens. Dit kan egter ook verwys na hemelwesens (Ps 103:21; 148:2) en selfs na die sterre wat dan “die leërmag (sebaot) van die hemel” genoem word.

     

    Die vraag is nou wat sebaot beteken in die benaming vir die Here: Jahwe Sebaot. Dit is in teologiese kringe ’n sterk omstrede vraag. Die eerste groot verskil is of Jahwe Sebaot beteken “Jahwe van die sebaot” of “Jahwe wat Sebaot is”. Daar is drie moontlike betekenisse.

    • “Jahwe van die sebaot” kan beteken Jahwe van die krygsmagte van Israel. In 1 Samuel 17:45 lees ons van “die Here Sebaot, die God van die linies (leërmagte) van Israel.” Hier lyk dit of die Here gesien is as die aanvoerder van Israel se leërmagte. Dan is die 1953-vertaling heeltemal goed: “Die Here van die leërskare.”
    • Die tweede moontlike betekenis is dat sebaot na die hemelse magte verwys, die engelemagte rondom die troon van die Here. Sommige meen selfs dat dit beteken die Here is die bevelvoerder van alle magte van aardse en hemelse wesens. Beide hierdie twee moontlike betekenisse gaan dus uit van die oortuiging dat Jahwe Sebaot beteken: “Jahwe van die sebaot/van die leërmagte,” of dit nou die leërmagte van Israel of die hemelse leërmagte of albei saam is. Jahwe Sebaot sou dan beteken dat God ’n belangrike, magtige aanvoerder van leërmagte is.
    • Die derde betekenis gaan uit van die ander oortuiging, dat Jahwe Sebaot beteken Jahwe wat Sebaot is. Sebaot is dan ’n sogenaamde abstrakte meervoud of ’n versterkvorm. Daar is in Hebreeus heelwat sulke vorms wat eindig met die -ot meervoudsuitgang. In die geval van die begrip wysheid sou hierdie meervoud dan iets beteken soos “ware wysheid”, en die meervoud van kennis iets soos “grondige kennis”. Dit is dus ’n intensiewe vorm. Omdat saba met mag verband hou, sou hierdie meervoudsvorm iets soos die ware mag, die groot mag kon beteken. Jahwe Sebaot het dan te doen met die koninklike majesteit van Jahwe.

     

    Die vertalers gaan dan uit van hierdie moontlike betekenis en vertaal met “Jahwe die Almagtige”, maar dit is ’n baie ongelukkige vertaling

    • omdat groot mag glad nie almag beteken nie,
    • omdat hulle nou vir een van drie moontlike betekenisse kies,
    • omdat daar nie ’n Hebreeuse woord vir “almag” bestaan nie, en dié begrip wat vreemd is aan die Hebreeuse denke, nie op hierdie manier in die Ou Testament ingevoer behoort te word nie.

     

    Die woord “almag” het so ’n vreemde konnotasie uit vorms van die Griekse filosofie dat dit net eenvoudig ontoelaatbaar is om dit in die Ou Testament se boodskap oor God in te dra. In hierdie filosofie beteken almag dat God enige oomblik enigiets kan doen, maar dis glad nie deel van die manier waarop die Bybelskrywers oor God skryf nie. Die Ou Testament se geskiedenis word oorheers deur die voortdurende ontrou en ongehoorsaamheid van die volk van God wat teen die wil van God agter ander gode aanloop, en dan deur God gestraf moet word. Dit is die verhaal van ’n God wat in liefde stry om die hart van sy volk. Dit is totaal iets anders as die Griekse almagtige God wat net sy vingers klap en dan staan alles en almal presies soos Hy dit wil hê.

     

    Natuurlik lees ons oor en oor in die Ou Testament van die mag van die Here, want Hy kan op aangrypende maniere hopelose situasies verander. As vertalers dus ’n keuse in hierdie rigting wou maak, kon hulle die GN volg wat vertaal: “Die Here van die (ganse) wêreld/aarde,” of selfs ’n effens meer spesifieke vertaling soos: “die Here, die Magtige.”

     

    Uiteindelik is die enkele vertalings egter te verkies wat hierdie benamings van God onvertaald laat en net in ons soort letters oorskryf soos Jahwe Sebaot, eenvoudig omdat die betekenis onseker is. Die tweede beste is dan om ’n betekenis te kies wat soepel is en nie so spesifiek soos “Almagtige” nie. Die 1953-vertaling het gekies vir “die Here van die leërskare”.

     

    In die volgende artikel gaan ons na Jahwe Adonai kyk.

     

    AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

     

     

     

    Skrywer:  Prof Adrio König




    Laat sy liefde jou lei: Wat verwag jou Vader van jou?

    Laat sy liefde jou lei: Wat verwag jou Vader van jou? – Milanie Vosloo

    Voorspoed het mos ‘n manier om ons gou van ons kinderlike en afhanklike geloof te stroop. En wanneer dit gebeur het, is ons presies waar Satan ons wil hê. Wanneer ons op ons eie missie is en ons hand uit God s’n laat gly het, kan die bose met ons maak net wat hy wil. Iets wat tragiese gevolge kan hê!

    Liewe medegelowige, wanneer dit met jou goed gaan, jy gelukkig is en op alle terreine van jou lewe die goeie geniet, beleef jy ‘n wonderlike fase van jou lewe. Geníét dit! Want dis God se geskenk van goedheid aan jou! Maar weet ook, dat niks wat jy is of het, daar sou wees sonder die genade van jou Vader nie.

    God verwag van ons dat ons in slegte én goeie tye Hom met dieselfde passie sal aanbid. Dis wanneer ons dubbele seёn ervaar!

    Dankie Here vir u onuitspreeklike genade en seёn-op-seёn in my lewe! Dankie!

     

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

     

    milanie_boeke_advertensie

     

     Skrywer: Milanie Vosloo

     




    Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (3)

    Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (3) – Adrio König

    10.1.3 Jesus as Jahwe

    Die eerste is die gebruik om uitsprake wat in die Ou Testament van Jahwe gegeld het, in die Nuwe op Jesus toe te pas. Dit is ’n algemene gebruik in die Nuwe Testament. Hier volg drie taamlik willekeurige voorbeelde.

     

    • Die vraag wie aan die Here (Jahwe) kan raadgee (Jes 40:13), word op Christus toegepas (1 Kor 2:16).
    • Die Here (Jahwe) het krygsgevangenes saamgeneem (Ps 68:19), maar in die Nuwe Testament geld dit van Christus (Ef 4:8).
    • Die “magtige heerlikheid” van die Here, waarvan die Ou Testament vol is, word in die Nuwe op Jesus toegepas (2 Tess 1:9).

    Dit beteken ’n bepaalde vereenselwiging van Jesus met Jahwe. Wat van Jahwe in die Ou Testament geld, word in die Nuwe aan Jesus toegeskryf.

     

    Die tweede is die geweldige uitspraak van Paulus in die lied in Filippense 2. Hier hou hy Jesus aan ons voor as voorbeeld van hoe ons ander hoër as onsself moet ag. Hy haal dan die lied aan waarin die vernedering van Jesus in besonderhede uitgespel word. En dan volg die keerpunt wanneer ons lees hoe God Jesus ná sy vernedering weer verhoog het. God het Hom

    “tot die hoogste eer verhef

    en aan Hom die Naam gegee

    wat bo elke naam is,

    sodat in die Naam van Jesus

    elkeen wat in die hemel

    en op die aarde

    en onder die aarde is,

    die knie sou buig,

    en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!’

    tot eer van God die Vader” (Fil 2:9-11).

     

    Vir Jode en Christene is daar net een Naam wat bo elke naam is. God het dus ná Jesus se vernedering aan Hom die Naam Jahwe gegee. Daarom moet elke knie van alle lewende wesens voor Hom buig, wat net van Jahwe gegeld het, en daarom sal almal bely: Jesus is Kurios (Here, wat die LXX se vertaling van Jahwe is). As ons dan bely Jesus Christus is “Here” (kurios), kan dit net een ding beteken: Hy het dieselfde naam as die Vader: Jahwe. Waarlik, alle paaie lei na Jesus! Selfs die unieke naam van God, Jahwe, word ook Jesus se Naam.

     

    ’n Mens hoef nie eens daarop nadruk te lê nie dat dit alles vanselfsprekend ’n unieke verhouding tussen Jesus en die Vader veronderstel, ’n verhouding waarvan die kerk later bely het dat Hy aan die Vader gelyk is, en nog later dat Hy en die Gees saam met die Vader die een ware God is (die sg Drie-eenheidsleer).

     

    AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

     

     

     

    Skrywer:  Prof Adrio König