Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (8) – Adrio König
9.2.3 Die positiewe interpretasie van Israel se rol
Teenoor hierdie negatiewe interpretasie van die uittog, staan ’n merkwaardig positiewe een. Met die eerste oogopslag kan ’n mens amper nie dink dit verwys na dieselfde uittog nie.
Jeremia 2:1-3 is so ’n voorbeeld. Die Here sê: “Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het. Israel was aan die Here gewy soos die eerste vrugte van die oes.” Wat ’n beeld om die innige verhouding tussen die Here en sy volk te beskryf! Die eerste vrugte van die oes was net die Here s’n. Niemand anders het reg daarop gehad nie (Eks 23:19; Lev 22:10 ev). Dit beklemtoon die eksklusiewe verhouding.
Terwyl sommige interpretasies van die uittog uitsluitlik daarop gerig is om ons op te roep om die Here te loof (9.2.1), en ander net op die negatiewe rol van Israel ingestel is (9.2.2), het ons hier ’n interpretasie wat uitsluitlik aan die positiewe rol van Israel aandag gee. Die uittog word as ’n idilliese tyd beskryf waarin Israel getrou aan die Here was en Hom soos ’n bruid liefgehad het, en dit nogal onder die allermoeilikste omstandighede in die woestyn waar geen kos was nie.
Wat wil die profeet hiermee bereik? Hy wil die geslag van sy tyd des te ernstiger vermaan oor hulle en hulle voorouers se ontrou (die res van die hoofstuk). Dit is een van die aangrypendste hoofstukke in die hele Bybel. Doen die moeite om dit te lees. Die kontras wat hy skilder tussen die idilliese liefde aan die begin in die woestyn, en die skreiende ontrou daarna in die beloofde land, roep ten hemel. En net so die kontras tussen Israel se ontrou aan hulle God terwyl selfs die heidene aan hulle gode getrou is (2:10 ev). Deur hierdie kontraste wil hy die volk met mag oproep om berou te kry en hulle te bekeer. Daarom gebruik hy ’n volkome eensydige interpretasie van die uittog. Hy wil sê: As julle voorouers só getrou was, watse rede is daar vir julle om die Here te verruil vir ander gode wat glad nie eens regtig gode is nie (2:11)?
Hosea 2:13-22 is nog so ’n voorbeeld. Ook hier het ons ’n eensydig positiewe interpretasie van Israel se rol tydens die uittog. Al wat van Israel gesê word, is dat sy die Here liefgehad het. Die Here sien uit na die toekoms: “Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.” Dit word hierdie keer net per implikasie gekontrasteer met hulle ontrou in die profeet se tyd.
Wat is dan die eintlike punt? Iets heeltemal anders as by Jeremia. Hosea beklemtoon die ongelooflike goedheid van die Here wat ondanks Israel se ontrou in hierdie tyd, sal maak dat hulle in die toekoms weer die Here so getrou soos tydens die uittog sal dien. Die punt is dus die toekomstige goedheid van die Here, soveel so dat Hy die ontrou van Israel sal verander sodat die bruidstyd van die woestyn herstel kan word. Dus op ’n baie interessante manier kom die profeet weer uit by die goedheid van die Here waaroor die volk Hom moet loof. Die Here gaan Israel dan “vir altyd” sy bruid maak (2:18).
Is hierdie eensydig positiewe interpretasie ’n verdoeseling van die werklikheid? Nee. Ons het dieselfde soort eensydig positiewe interpretasie gekry in die oproepe om God se lof te besing (9.2.1). Ons moet onthou dat die uittog ’n lang geskiedenis deurloop het waarin daar baie kante was. Daar was inderdaad ook positiewe reaksies van Israel. As die profeet daarvan ’n punt wou maak, het dit hom vrygestaan. Trouens ’n mens sien duidelik by Hosea dat hy wat die uittog so eensydig positief kon interpreteer, ook deeglik van die negatiewe kant bewus was. Kyk maar net na Hosea 9:10-17. Dit begin net so positief oor Israel se aan deel aan die uittog: “Israel was vir My soos druiwe waarop ’n mens in die woestyn afkom.” Maar net twee sinne verder kom dan die draai: “Maar hulle het na Baäl-Peor toe gegaan en hulle verbind aan ’n god wat vir hulle in die steek laat, en hulle het net so afstootlik geword soos die ding wat deur hulle vereer is” (9:10b). Hy verwys na Numeri 25.
En later, wanneer hy die troue liefde van die Here wil uitsing, lees ons hoe die Here soos ’n moeder vir ’n seuntjie, vir Israel in die woestyn gesorg het, “maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie” (11:3). En ’n paar verse later: “Maar Efraim het geweier om hom te bekeer” (11:5).
Wat ons egter wel leer uit hierdie uiteenlopende interpretasies van die uittog, is dat die situasie bepaal het watter kant van die uittog die profeet na vore bring. Dit beteken dat die uittog nie een vaste betekenis in die Bybel het nie, maar deur verskillende profete op verskillende maniere gebruik word om hulle verskillende oogmerke te bereik. En die uittog het hierdie verskeidenheid van interpretasies toegelaat omdat dit ’n lang en gevarieerde geskiedenis deurloop het.
In die volgende artikel gaan ons kyk na die betekenis van die uittog in die Nuwe Testament.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König