Eenheid in die kerk – hoe skep ons dit?

“Kind words can be short and easy to speak, but their echoes are truly endless.” ~Moeder Teresa

Eenheid in die kerk – hoe skep ons dit?

Leraars en lidmate wil graag eenheid in hulle gemeente hê. Hulle praat dikwels oor die belang van eenheid. Begeerte is nie genoeg nie – daar moet ‘n plan wees om eenheid te bevorder. Om eenheid te bewerkstellig, kan soms baie moeilik wees. Van een ding kan ons seker wees: dit gebeur nie sommer vanself nie.

 

Uiteindelik kan net die Here eenheid in die gemeente bring, maar ons kan help om eenheid te bevorder.

  • Preek daaroor. Dit beteken nie dat ons af en toe daarna verwys nie; dit beteken ook nie dat ons daaroor preek as ons sien daar is nie eenheid in die gemeente nie. Nee, ons moet gereeld daaroor preek en praat. Ons moet beklemtoon dat geen gemeente God se roeping sal verwesenlik sonder dat daar eenheid is nie. Wys die gemeente daarop dat eenheid vrede bevorder: Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te leef (Efesiërs 4:3). Wys vir die lidmate dat eenheid in die gemeente goed en mooi is: Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! (Psalm 133:1).
  • Praat oor hoe Jesus eenheid beklemtoon het. In Johannes 17 kry ons Jesus se langste gebed wat opgeteken is. Luister net hierna: Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U my gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefhet net soos U My liefhet (17:21 – 23). As eenheid dan vir Jesus so belangrik is, moet dit tog vir ons ook belangrik wees.
  • Modelleer dit. Jy kan nie die gemeente lei om eensgesind te wees as jy stukkende verhoudings in jou lewe het nie. Mense kyk na jou … en volg jou voorbeeld.
  • Kry almal op dieselfde bladsy. As die gemeente sukkel met onenigheid oorweeg ‘n enkele Bybelstudie instrument. Dit mag eenheid fasiliteer. Moenie toelaat dat kleingroepe kies wat hulle wil behandel as daar onenigheid in die gemeente is nie. Dit beteken gesprekke waaraan almal kan deelneem – almal is besig om dieselfde konsepte te bestudeer.

Dink net hoe ons gemeentes sal verander as ons almal saam met Jesus bid vir eenheid. Wat sal gebeur as die hele gemeente eendragtig daarna streef op God se roeping te vervul?




Wat is my ingesteldheid ?

We must not conceive of prayer as overcoming God’s reluctance but as laying hold of his highest willingness. —Richard Trench

Wat is my ingesteldheid ?

Hier is een van Henri Nouwen se kort stukkies:

Die teenoorgestelde van ‘n ingesteldheid van oorvloed is een van skaarsheid. Met ‘n oorvloedsingesteldheid sê ons: “Daar is genoeg vir almal, meer as genoeg – kos, kennis, liefde … alles.” Met so ‘n ingesteldheid gee ons dit wat ons het, weg – aan enigeen wat ons pad kruis.

Sien ons honger mense gee ons vir hulle kos; sien ons onkundige mense deel ons ons kennis met hulle; sien ons mense wat ‘n behoefte aan liefde het, geen ons vir hulle vriendskap en liefde en gasvryheid en stel hulle voor aan ons familie en vriende.

Leef ons met hierdie ingesteldheid sien ons ‘n wonderwerk: dit wat ons weggee, vermeerder – kos, kennis, liefde … alles. Daar sal self iets oorbly.




Leierskap is nie vir sissies nie

If you read history you will find that the Christians who did most for the present world were just those who did most for the next. —C.S. Lewis

Leierskap is nie vir sissies nie

Ondervinding is die beste leermeester vir leiers. Daar is ‘n paar dinge wat ‘n mens graag vooraf sou wou geweet het voordat jy oor hulle gestruikel het. Art Perry identifiseer tien sulke dinge:

  • Hierdie werk sou maklik gewees het as dit nie vir die mense was nie. Mense is al wat ons het.  Jy moet daarvan hou om met ander te werk en hulle te help as jy ‘n leier wil wees.
  • Dit is maklik om te veel tyd met die verkeerde mense te spandeer. Spandeer jou tyd met diegene wat ‘n hoë potensiaal het.  Moenie al jou tyd spandeer aan die oppas van swak presteerders nie.
  • Neem stadig in diens; bevorder vinnig; ontslaan regverdig en vinnig. As jy ‘n swak keuse gemaak het – en almal doen dit op een of ander stadium – stel dit vinnig reg.
  • Mense verander nie fundamenteel nie. Jy kan nie ‘n persoon se kernwaardes of gedrag of dit wat hy glo, verander nie. Jy mag dalk tydelike verandering kry, maar volhoubare verandering moet vanuit die persoon self kom.
  • Terugvoer is die kragtigste instrument tot jou beskikking. Leiers moet hulle terugvoervaardighede verbeter.
  • Besef dat almal in jou span jou dophou en oordeel. As dit wat jy doen, verskil van dit wat jy sê, verloor jy jou geloofwaardigheid. Geloofwaardigheid is die sleutel tot suksesvolle leierskap. Jy moet hard werk om dit te kry. As jy dit verloor het, sal jy dit onwaarskynlik weer terugwen.
  • Duidelike verwagtings gepaard met aanspreeklikheid = hoë prestasie.  ‘n Leier moet duidelike, uitdagende verwagtings stel en aanspreeklikheid van die span bevorder..
  • Gee aandag aan ‘n persoon … stel belang in hulle werk en aktiwiteite. Dit wys jy respekteer hulle. Jy is nooit te besig om te stop, te luister en te praat nie.
  • Te veel leiers praat as hulle moet luister.. As jy praat, kommunikeer jy nie werklik nie – jy maak ‘n geraas.
  • Vrae is kragtiger as opdragte. Vaardige leiers gebruik vrae soos ‘n chirurg ‘n skalpel hanteer.

‘n Mens leer uit ondervinding veral as jy foute maak. So ‘n paar riglyne verhoed dat jy te veel tyd spandeer om uit jou foute te leer.




Veg soos ‘n Christene!

I have never won an inch of the way to heaven without fighting for it. —C.H. Spurgeon

Veg soos ‘n Christene!

Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom (Efesiërs 4:29). Hierdie verse en die gedeelte rondom vertel vir ons hoe ons soos ‘n Christen kan veg. J. D. Greear identifiseer ‘n hele aantal maniere om dit te doen:

 

  • Ondersoek jou hart. Dit is die eerste en belangrikste stap. Al het mense jou benadeel, wat sê jou emosionele reaksie oor jou hart? Het kwaadwilligheid en bitterheid in jou hart ingekruip? Hierdie is alarmsisteme vir jou hart en is dikwels ‘n groter saak as die benadeling wat jy ondervind het.
  • Sien alles wat jy kan oor. Bepaal wat gekonfronteer moet word en wat kan maar oorgesien word. Dit is wat Paulus bedoel as hy sê: volgens die omstandighede.  Natuurlik is daar  tye wanneer jy moet praat en konfronteer; daar is tye wat dit nie nodig is nie. Die kuns is om te weet wanneer om wat te doen.
  • Wees prakties volgens die omstandighede. Daar is tye en plekke wat nie goed is vir argumente nie – byvoorbeeld as jy baie moeg is. Kom eerder later terug na die argument. Daar is ‘n groot gevaar hieraan verbonde – jy kom nooit na die argument terug nie – jy krop dit op. As jy sê dat julle na 24 uur na die argument moet terugkom, doen dit.
  • Luister vinnig, praat stadig. Die grootste probleem met kommunikasie is nie dat ons ons verkeerd uitdruk nie, maar dat ons nie luister nie. Meeste van ons kan nogal ons punt duidelik oordra, maar luister nie so goed nie. Om goed te luister is een manier om ander hoër as jouself te ag (Filippense 2:3 – 4).
  • Soek hulle heiligmaking, nie jou regverdiging nie. As jy vergeet van die idee dat jy elke argument moet wen en jouself regverdig, kan jy fokus op wat vir ander mense en julle verhouding van waarde is. Dit beteken dat jy soms moet terugstaan … al dink jy dat jy reg is.
  • Glo in God se oorkoepelende doel in jou verhoudings. As jy aanvaar dat God ‘n doel het met elkeen van jou verhoudings bring ons ‘n element van hoop in ons verhoudings in. Dit maak nie noodwendig moeilike verhoudings maklik nie,  maar dit bring perspektief. God het geweet jy gaan in daardie verhouding kom, en Hy het ‘n doel daarmee.
  • Laat genade jou woorde versadig. As dit gebeur verander die inhoud en toon van die gesprek. In plaas daarvan dat jy die positiewe punte aanvaar en die negatiewe punte raaksien, begin jy die negatiewe punte aanvaar en die positiewes raaksien. Jy is nie meer sarkasties en neerhalend nie – dit is dinge wat afbreek.
  • Moenie die handdoek ingooi voordat daar absoluut geen manier is waarop die verhouding reggestel kan word nie. Ons moet eers die krag van genade die geleentheid gee om in ons te werk.
  • Vergeef waarlik. Vergifnis is ‘n keuse, maar dit hang nie af van ‘n ander persoon se berou nie. Vir versoening is twee mense nodig; vir vergifnis is net een mens nodig. Die enigste alternatief vir vergifnis is bitterheid.
  • Doen alles uit eerbied vir Christus. Die kruis moet groot wees in jou lewe – jy moet so oorweldig wees deur Christus se offer dat jy elke benadeling van jouself in ‘n ander lig sien. Doen dit vir Jesus.

 Hierdie is voorwaar riglyne wat almal van ons met vrug kan gebruik.