Bou jy lugkastele?

Divisions in the church breed atheism in the world ~ Thomas Manton

Bou jy lugkastele?

Is dit nou die beste manier om jou probleme op te los en jou denke te verskerp?  Sosiaal wetenskaplikes het bewyse gevind dat daar wel voordele in dagdrome kan wees. In die verlede is dit as ‘n mors van tyd beskou, maar nuwer navorsing bewys dat dit nie heeltemal so sleg is as wat  ons dink nie – geen wonder ons doen dit so baie nie.

 

Jonathan Schooler,  ‘n sielkundige aan die Universiteit van Kalifornië, Santa Barbara, sê dat dit iets is wat die mens van diere onderskei:  Die vermoë om die hier en nou te verlaat en in toekomsdenke en beplanning oor gebeur wat nie tans voor ons is, betrokke te raak. Dit is van waarde as dit by kreatiwiteit kom. Dagdrome is wanneer jy tyd spandeer aan gedagtes wat niks met jou taak te doen het nie. Dit gebeur dikwels as die taak oor en oor gedoen word.

Dit lyk dus asof die bou van lugkastele nie noodwendig ‘n vermorsing van tyd is nie – dit kan kreatiwiteit bevorder.




Moenie net daar staan nie … doen iets

How utterly terrible is the current idea that Christians can serve God at their own convenience.” — AW Tozer

 Moenie net daar staan nie … doen iets

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8).

Nadat Jesus dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien – Jesus se hemelvaart. Hierdie was die einde van Jesus se lewe op aarde, maar dit is ook die begin van die verhaal van die vroeë kerk.

Jesus sê in werklikheid vir sy dissipels: Dit is nou julle beurt om My lewe op aarde te leef. Hulle besef dit is onmoontlik, maar Jesus belowe dat Hy die Heilige Gees gaan stuur  om vir hulle alles te gee wat hulle nodig sou kry.

 Lukas gaan voort met die verhaal. Die dissipels kyk stip na die hemel toe daar skielik twee mans in wit klere by hulle staan. Hulle sê vir die apostels: Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom  soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het. Die apostels staan daar verbaas oor die gebeure wat hulle pas gesien het. Die engele sê vir hulle in soveel woorde: “Moenie net daar staan nie – doen iets. Julle het ‘n opdrag. Doen wat julle aangesê is om te doen.”

 Hierdie woorde geld net so vir my en jou. Ons het die taak van daardie dissipels geërf. Ons kan nie net rondstaan terwyl daar so baie is om te doen nie. Ons taak is om die koninkryk van God sigbaar in hierdie wêreld te maak. Ons moet die Christelike boodskap uitleef. Ons opdrag is om die goeie nuus tot in die uithoeke van die wêreld uit te dra. Die uithoeke van die wêreld is daar waar ek leef en werk en sosialiseer. Moenie net daar staan en na die hemel opkyk nie – doen iets.




Die oplossing vir pyn en lyding

To trust in any thing more than God, is to make it a god ~ Thomas Watson 

Die oplossing vir pyn en lyding

 As Christene siek word en swaar kry, kan hulle bid en God vra vir genesing of verlossing. God het die krag om ons lewens te verander en die swaarkry weg te neem. Maar wat doen ons as dit nie God se wil is dat ons nou genees word nie? Wanneer en hoe sal swaarkry en pyn dan ophou?

 

 In Openbaring 21:1 – 4 lees ons: Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. In hierdie gedeelte gee God aan Johannes ‘n gesig van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die wêreld soos ons dit tans ken, sal nie vir ewig bestaan nie. Hierdie is ‘n wêreld wat onder die gevolge van die sonde, soos siekte en dood, gely het. maar God se plan is duidelik: Kyk, Ek maak alles nuut.

 Nadat Johannes die nuwe hemel en nuwe aarde gesien het, sien hy Jerusalem wat uit die hemel afkom. Jerusalem is die hoofstad van God se koninkryk – die plek wat God gekies het om sy troon op aarde te vestig. Hierdie stad is pragtig –  soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. Toe hoor Johannes die harde stem van God: Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.

 Die koms van die nuwe Jerusalem simboliseer die koms van God om op ‘n fisiese wyse in die wêreld teenwoordig te wees. Dit gaan dus nie oor ons wat gaan om by God te wees nie, maar God wat kom om by ons te wees. Die implikasies hiervan is massief: Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Volgens God se tydtafel word volle genesing eers bewerkstellig as die nuwe Jerusalem kom.

 Dit beteken dat voor dit gebeur sal Christene ly en trane stort. In hierdie wêreld word Christene steeds siek en sterf uiteindelik. Dit is egter nie die Christen se eindbestemming nie. Eendag sal God die trane afdroog. Wat ook al ons pyn en swaarkry is, sal die terugkeer van Jesus Christus en die transformasie van die heelal die uiteindelike oplossing bring. Dan sal alles volmaak wees. Dit is gewaarborg: Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees (Openbaring 21:7).




Harde woorde = Liefde?

There is no better test of growth than that a man desires God because he is God. —Martyn Lloyd-Jones

 Harde woorde = Liefde?

Expect great things from God; attempt great things for God. (William Carey, sendeling na Indië). Ons hou van hierdie aanhaling. Daar is een groot gevaar:  ons doen groot dinge, sodat ander mense ons kan raaksien.

 

 Na Stefanus se marteldood neem die vervolging van Christene dramaties toe. Die gelowiges is uitmekaar gejaag. So gebeur dit dat Filippus in ‘n Samaritaanse stad aankom. Daar verkondig hy die evangelie en doen wonders.  Die mense het aandagtig geluister na wat hy te sê het: Daar was groot blydskap in daardie stad (Handelinge 8). Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het, het ook in daardie stad gewoon. Hy word selfs deur Filippus gedoop.

 Hy was ‘n bekende in die stad en die inwoners het selfs na hom as “Die Groot Krag van God” verwys. Mense het hom bewonder. Toe Filippus daar aankom, verander alles. Simon sien dat die ware krag van God deur Filippus vloei. Toe kom Petrus en Johannes daar aan. Die gelowiges in die stad ontvang toe die Heilige Gees. Hulle trek nog groter skares as Filippus. Almal praat daarvan – ook Simon. Sy ster was besig om te verskiet.

 Simon was gewoond daaraan dat die mense hom bewonder het. As hy maar net ‘n bietjie  van hierdie krag kon kry, sal hy weer groot wees en sou die mense hom weer bewonder. Hy bied vir die apostels geld aan as hy maar net die bevoegdhede wat hulle het, kon kry. As hy Petrus se reaksie sien, besef Simon dat hy ‘n groot fout gemaak het: Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. Kwaai woorde. Simon krimp inmekaar en sê: Bid julle tog vir my tot die Here, sodat niks wat julle gesê het, my tref nie.

 Is Petrus se woorde nie te kras nie? Nee, dit is woorde vol genade. Die liefde vir selfverheerliking is ‘n gevaarlike sonde – dit is geestelik dodelik as dit nie hanteer word nie. Beide Petrus en Johannes is by geleentheid deur Jesus tereggewys. Hulle het besef dat dit vir hulle voordelig was. Ongelukkig weet ons nie wat Simon se reaksie was nie.

 God wil nie hê dat ons hierdie waarskuwing moet ignoreer nie. Hierdie gedeelte is opgeneem in die Bybel, sodat ons sal onthou dat God se krag nie ‘n kommoditeit is waarmee ons handel kan dryf nie. Dit is nie ‘n manier om ons eie grootheid of rykdom na te streef nie.

 Ons almal kan ‘n ietsie van Simon in onsself sien. Ons word almal versoek om ons eie heerlikheid na te streef – selfs as ons in die koninkryk van God werk. As ons dit raaksien, moet ons dit in ‘n ernstige lig sien en dit uitroei. Ons moet dit bely, berou hê en weerstaan.

 Laat ons groot dinge van God verwag; laat ons groot dinge vir God aanpak. Maar ons moet altyd Petrus se raad onthou: So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen (1 Petrus 4:11).