Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (4)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (4) – Adrio König

Psalm 105

In hierdie Psalm het ons ’n ekstra element by die lof aan God. Hier word inderdaad na Israel se rol verwys, maar dis eensydig positief omdat Israel self nie regtig die oogmerk van die digter is nie. Hy wil ook die lof van die Here besing, en sy verwysings na die rol van Israel is net in diens van sy lof aan die Here. Hy verwys dus net na Israel om te verduidelik wat die Here gedoen het.

Die Psalm begin met oproepe om die Here te loof en sy magtige dade aan die nasies bekend te maak. Dié wat sy teenwoordigheid soek, moet bly wees. En dan roep hy almal op om aan die Here se magtige dade te dink (5), en dit is die oorgang na die lang verhaal waarin hy die magtige dade van die Here opsom.

 

Hy dek die hele geskiedenis: Abraham, Isak, Jakob, die vlug na Egipte tydens die hongersnood, Josef se rol in Egipte, die plae word in detail vertel en dek die grootste deel van die Psalm. Dan volg die uittog, en die intog in Kanaän. En die toepassing is tweevoudig: “Daarom moet hulle sy voorskrifte gehoorsaam en sy wil doen,” en die finale oproep: “Prys die Here!” Die wonders van die Here tydens die uittog moet dus dien as ’n oproep aan die volk om Hom gehoorsaam te wees.

 

Dis ’n kort samevatting van die inhoud van die Psalm. Maar dit mis eintlik die hele punt. Lees ’n keer aandagtig die Psalm deur en let op die nadruk op “die Here” en “Hy”. Let daarop dat die groot middeldeel oor Josef (18-23) die geskiedenis vertel van wat Josef in Egipte gedoen het sonder dat daar spesifiek na  die Here verwys word. Maar die gedeelte word ingelui met die woorde: “Hy (die Here) het iemand voor hulle uitgestuur” (17). Benewens hierdie lang middeldeel kom die woorde “Here” en “Hy” omtrent 30 keer voor. So te sê alles wat gedoen word, is sy werk. Die voorvaders en Israel en die Egiptenaars is dus die hele tyd ter sprake, maar hulle is net daar om te vertel aan wie die Here sy dade gedoen het.

 

Die rol van Israel word dan ook naïef-onskuldig voorgestel. In Eksodus 16 lees ons die verhaal van die kwartels. Daar word drie keer verwys na die verset van die volk (2, 7, 9), en hulle opstandigheid spreek duidelik genoeg uit hulle woorde aan Moses (16:2-3). Kyk ook na die skerp negatiewe interpretasie wat die volgende Psalm van hierdie insident gee (106:14). Maar Psalm 105 lui net: “Toe hulle kos vra, het Hy kwartels laat kom” (40). Die water uit die rots is gekenmerk deur selfs veel erger ontevredenheid en verwyte (Eks 17:2-3, 7), maar geen woord daarvan in hierdie Psalm nie. Daar lees ons net wat die Here gedoen het om vir hulle water te gee (105:41). En dit is ook al wat ons lees oor die hele woestynverhaal met al sy spanning en drama. Dit eindig net met: “Hy het … sy volk juigend, sy uitverkorenes jubelend laat voorttrek”! (105:43) Wat gaan hier aan? Is dit eerlik om só ’n absoluut onskuldige opsomming te gee van die woestyntog? Nie as dit as opsomming bedoel was nie. Maar dit was bedoel as lof aan die Here, en dan tel die  besonderhede oor die volk se rol nie regtig nie.

 

’n Mens moet dus gevoelig wees vir ’n skrywer se doel en oogmerk. As dit gaan om die lof aan die Here, moet dit wat daartoe bydra, oorheers. En die res is bysake. Oor die algemeen kan ons dus sê dat daar talle voorbeelde daarvan is dat die skrywers van die Ou Testament die uittog geweldig hoog aangeslaan het, en veral die wonders wat die Here gedoen het. Hulle kon nie daaroor uitgesing raak nie. Kyk ook nog na Psalm 135:8-12. En onthou, die meeste van hierdie Psalms is liedere wat in die tempel gesing is. Dit moes ’n geweldige ervaring gewees het om te hoor hoe die massa mense die Here met hierdie lofliedere prys.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (1)

JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (1) – Jan van der Watt

Die kruis van Jesus vorm saam met die opstanding die kern waarrondom die identiteit van Jesus en die Christendom oor die eeue gebou is. Dit het oor die jare heen ook die vis (wat oorspronklik die belangrikste teken van die Christene was) as hoofteken vir die Christendom vervang. Dit is eintlik ‘n onwaarskynlike verloop van gebeure, aangesien ‘n koning of Messias wat aan ‘n kruis dood is (‘n skandelike dood) nie vir die destydse mense na die ideale messias sou klink nie.

 

In hierdie Bybelstudie gaan ons kyk a) na die verloop van die kruisgebeure en b) na die manier waarop die kruis geïnterpreteer is.

 

deel 1 – Hoe verloop die kruisgebeure?

Jesus se kruisiging word min of meer op dieselfde manier deur die verskillende evangeliste beskryf. Die verskille wat ‘n mens tussen die verskillende beskrywings kry, hang saam met die besondere klem wat elke skrywer wou lê (ons noem dit die redaksie van elke skrywer). Kom ons kyk na die verloop:

Lees nou eers Markus 14-15 waar die verhaal vir ons vertel word.

 

  • Die gebeure voor die gevangeneming
    • Daar word planne gemaak om Jesus te vang deur van ‘n verraaier gebruik te maak
    • Jesus eet vir oulaas met sy dissipels saam en stel die nagmaal in.
    • Jesus gaan saam met sy dissipels na die tuin van Getsemane – daar bid Hy intens tot sy Vader
  • Jesus word gevang en verhoor
    • Jesus word in Getsemane gevang nadat Judas Hom verraai het
    • Jesus word deur twee “howe” verhoor:
      • ie Joodse Raad
        • Hulle soek redes om Jesus dood te maak en gebruik tot vals getuies
        • Petrus verloën Jesus
      • Jesus voor die Romeinse heerser, Pontius Pilatus
        • Pilatus verhoor Hom op aanklag dat Hy laster en Homself koning van die Jode maak
        • (Intussen pleeg Judas selfmoord)
        • Nadat die Jode Barabbas kies, word Jesus oorgelewer om gekruisig te word, al dink Pilatus Hy is onskuldig
  • Jesus word gekruisig
    • Die soldate bespot en slaan Jesus voordat Hy sy kruis na Golgota moes dra
    • Jesus word gekruisig
    • Jesus sterf en die Romeinse soldaat wat daar gestaan het besef dat Jesus regtig die Seun van God is
    • Daar vind wonders plaas (bv. donkerte en aardbewings)
  • Jesus word begrawe
    • Jesus word deur Josef van Arimatea van die kruis afgehaal en begrawe
    • Romeinse soldate bewaak die graf

 

Volgende keer kyk ons na ‘n aantal interessante dinge wat rondom die kruisiging van Jesus gebeur het.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (3) – Adrio König

Psalm 136

Hier is nog een van die Psalms wat die lof van die Here uitjuig. Net soos Psalm 114 is dit waarskynlik tydens die Pasgafees (Paasfees) in die tempel gesing. Die herhalende refrein “Aan sy liefde is daar geen einde nie” is deur die gemeente gesing in antwoord op die voorsanger wat die eerste deel van elke vers gesing het.

Daar is interessante ooreenkoms met Psalm 114. Ook in hierdie geval word daar geen aandag gegee aan die rol van Israel by die uittog nie. Dit gaan uitsluitlik om die werk en veral die groot mag van die Here. Daar is ook verskille. In Psalm 114 gaan dit net oor die uittog, eintlik net oor twee insidente tydens die uittog: Die tog deur die Rietsee, en dié deur die Jordaan. Hier gaan dit om veel meer. Dit gaan om die uittog, die deurtog deur die woestyn, en die intog in Kanaän in. Maar selfs nog meer. Die lied begin met ’n verwysing na die skepping.

 

Dit is belangrik dat die uittog dus hier in dieselfde asem as die skepping genoem word. Dit plaas die uittog op ’n baie hoë vlak, want die skepping is die aangrypendste en ingrypendste wonder ooit. Maar Psalm 114 het dit eintlik ook al gedoen deur die manier waarop dáár na die uittog verwys is: In die taal van die stryd teen die chaosmagte wat by die skepping sou plaasgevind het (114:3-6). Dit alles beteken dat die skrywers van die Ou Testament die uittog gesien het as ’n skeppingsdaad, die skepping van die volk. Elders word die Here dan ook die Skepper van Israel genoem (Jes 45:11).

 

Natuurlik het hulle reeds voor die tyd bestaan. Maar hulle het deur die uittog ’n nuwe bestaan gekry: volk van die Here. Ons kry dieselfde gedagte in die Nuwe Testament. Mense wat deur die geloof aan Jesus verbind word, word ’n “nuwe skepping” genoem. Die “nuwe mens” van 2 Korintiërs 5:17 is in die Grieks ’n “nuwe skepping” (NLV). Dieselfde gedagte lê ook agter die woord “weergeboorte”. Die Here begin eintlik oor met ’n mens, gee jou ’n nuwe lewe, jou eintlike lewe, dié lewe wat tel.

 

Die insette van 136:2 en 3 kom beter tot hulle reg as ons die NLV volg:

  • Prys die God van die gode.
  • Prys die Heer van die here.

Hierdie vertaling laat duideliker uitkom dat ons hier die voorstelling het dat daar baie gode is (politeïsme) waarvan Jahwe die Oppergod is, die magtigste God (monargiese politeïsme). Ons sou Hom in hierdie terme selfs die voorsitter van die godevergadering kon noem (Ps 82:1: “God takes his stand in the divine assembly, surrounded by the gods he gives judgement”). Om die Here se lof te besing, beskryf die digter sy “magtige dade” (v 4). Hy begin by die skepping. Hy sonder drie dinge uit: die hemel, die aarde en die “hemelligte”.

 

Daarna kom die uittog aan die beurt. Hy sonder weer drie dinge uit: Die Egiptenaars wat met die dood getref is, die Rietsee wat in twee gekloof is, en die farao wat met sy leërmag in die Rietsee verdrink het. Dan die deurtog. Dis ’n eenvoudige verwysing, maar ons besef nie regtig hoeveel dit werklik sê nie: “Hy het sy volk deur die woestyn laat trek” (v 16). In Jeremia 2:6 kry ons meer inligting om ons te help om die werklike betekenis van “woestyn” te verstaan.

Hy het ons deur die woestyn gelei,

deur ’n droë wêreld vol slote,

deur ’n dor land vol doodsgevaar,

deur ’n land waardeur niemand trek

en waarin geen mens woon nie.

Die feit dat die Here hulle deur die woestyn laat trek het, is dus ’n loflied op sy magtige voorsiening en leiding.

 

Ons het vroeër ’n opmerking gemaak oor die groot getalle in verband met die uittog. Dit is nie onmoontlik nie dat dit net nog ’n poging was om die wonderdade van die Here te beklemtoon wat so ’n groot hoeveelheid mense deur sulke haglike omstandighede gelei en onderhou het.

 

Daarna (17-24) kom die intog aan die beurt en roep die digter die oorwinnings oor die inwoners van Kanaän in herinnering. Dit is aangrypende wonders, want dit is behaal deur ’n volk wat al wie weet hoe lank op ’n tog deur die woestyn was. Dit beklemtoon die groot mag van die Here. Die feit dat Israel nie regtig in hulle eie krag en waarde bygedra het tot hierdie oorwinnings nie, word beklemtoon deur die feit dat die digter die land ’n “geskenk” noem (21, 22). Die vernedering waaruit die Here hulle bevry het (23), was natuurlik die feit dat hulle as ’n volk nie ’n eie land gehad het nie, maar as slawe in Egipte onderdruk is.

 

Die Psalm sluit af soos dit begin het, met die lof aan die Here. Dit is nog ’n besondere voorbeeld van hoe die uittog geïnterpreteer is as die wonderdade van God sonder enige verwysing na die rol van Israel. Dit is ’n lyn wat ons oor en oor in die Ou Testament kry.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (11)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (11) – Jan van der Watt

Markus 14-16

Die kruis wat voorspel is, word nou ‘n realiteit – omdat dit so bekend is, hoef ons nie te veel daaroor te sê nie.

 

 

  • Jesus word gesalf midde van planne om Hom te verraai en te vang (14:1-11)
  • Die nagmaal (14:12-25)
  • Petrus sal Jesus verloën en Jesus word dan ook in Getsemane gevang (14:26-52)
  • Jesus verskyn voor die Joodse Raad en Petrus verloën Hom (14:53-72)
  • Jesus voor Pilatus en Hy word oorgelewer om gekruisig te word (15:1-15)
  • Jesus word bespot en gekruisig (15:16-41)
  • Jesus word begrawe (15:42-47)
  • Jesus staan op en verskyn aan sy dissipels (16:1-20)

Jesus word gekruisig, maar staan weer op.

Dit is nie presies seker waar die Evangelie van Markus eindig nie. Volgens sommige grondtekste (dit is nou die ou Griekse tekste) eindig die Evangelie by Markus 16:8. Ander het 16:9-20 by. Dit laat mense nou wonder of 16:9-20 nie later bygevoeg is nie.

Slot

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt