Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (2) – Adrio König

9.2 Die toegepaste betekenis in die Ou Testament

Met die toegepaste betekenis van die uittog word bedoel die geskiedenis soos later in die Ou Testament geïnterpreteer. Ons kry hierdie interpretasie veral in ’n aantal Psalms en sekere profete.

Wat dadelik opval, is die verskillende interpretasies wat van dieselfde geskiedenis gegee word. Natuurlik sal dit in hierdie interpretasies hoofsaaklik gaan om die rol van die Here en dié van die volk. En dit sal niemand verras nie dat waar die Here ter sprake is, dit oor sy verheerliking gaan. Wat ’n wonderlike rol het Hy nie gespeel as die groot inisiatiefnemer in hierdie geskiedenis nie!

 

Maar wanneer ons by die rol van Israel kom, is daar ’n opvallende ontwikkeling. Omtrent die helfte van die verwysings na hulle rol in die uittog, is negatief, veroordelend – soos ’n mens dit kon verwag. Maar die ander helfte is merkwaardig positief. Hoekom? Ons kom later by dié interessante vraag. Maar kom ons kyk eers na die lof aan die Here.

 

9.2.1 Lof aan die Here

Psalm 114

Dit is ’n kort, kragtige loflied op die mag van die Here. Dit val dadelik op dat daar glad nie spesifiek na Hom verwys word voor die einde van die Psalm, vers 7, nie. Maar dit sal blyk dat suggestie soms sterker kan spreek as direkte verwysing.

Vers 1, 2 verwys duidelik na die uittog. Die Egiptenaars word genoem “die volk met die onverstaanbare taal”. In hierdie tye is meestal vernederend gepraat van mense met ’n ander taal. Die Grieke het die mensdom in twee groepe ingedeel – soos die meeste ander volke ook gedoen het. Die Grieke het van ’n Griek en ’n barbaar (barbaros, meervoud: barbaroi) gepraat. Barbaros was skynbaar bedoel as “bar bar”, ’n spottende verwysing na die vreemde taal van die vreemdelinge wat dan “bar bar bar” sou praat.

Vers 3 verbind op ’n merkwaardige manier twee insidente: die deurtog deur die Rietsee en die tog deur die Jordaan, die begin en die einde van die uittog: Die see het dit gesien en op die vlug geslaan, die Jordaan het teruggedraai. Die voorstelling is dat die Rietsee en die Jordaan geskrik het. Maar die vraag hier is waarvoor die Rietsee en die Jordaan geskrik het. Die woordjie “dit” (“Die see het dit gesien”) staan nie in die Hebreeus nie. Maar dit word deur die vertalers hier ingevoeg omdat hulle aanvaar dat die see vir die Israeliete geskrik het wat voor die aanstormende Egiptenaars uitgevlug het. En dit is heeltemal ’n sinvolle afleiding. Maar ons sal later weer hierna kyk. Die sinnetjie oor die see is kort, kernagtig geformuleer, net die allernodigste woorde. Vir die nege Afrikaanse woorde is daar net drie in die Hebreeus: “Die-see gesien gevlug.” En dieselfde staccato-styl word in al vier die sinnetjies van vers 3 en 4 gehandhaaf: Vier sinnetjies elkeen met net drie woordjies, eintlik drie uitroepe:

  • Die-see gesien gevlug
  • Jordaan gedraai agtertoe
  • Die-berge rondgespring soos-lammers
  • Rante soos-kinders-van skape.

Om die effek te verhoog, word al vier sinnetjies dan in kamma-verbasing as vrae herhaal (5-6). Wat veroorsaak hierdie verskrikking en verwarring in die natuur? Ons sal nou-nou sien.

 

Wat verder belangrik is, is die feit dat die taal wat hier gebruik word (v 3-6), in die rigting wys van die stryd van die chaosmagte by die skepping waarvan die omringende volke se verhale vol was. Groot oermagte sou by die skepping teen mekaar geveg het. Dit is gewoonlik voorgestel as bloedige gevegte wat net ná swaar stryd na een of ander kant toe besleg is. Dit is dan hoe die wêreld tot stand gekom het – die skepping. Die taal en voorstellings van vers 3-6 kom uit hierdie agtergrond. “Die see” (Hebreeus: Jam) was ook die naam van een van hierdie chaosmagte.

 

Dit is hierdie agtergrond wat die digter die kans gee om die uittog in ’n baie dramatiese verband in te trek: Sommer al die berge en rante slaan saam op vlug. Daar is wêreldwye, kosmiese chaos. Waarom? Waarvoor het hulle geskrik? Dis die vraag waarmee ons begin het. Vers 3 het net gesê die see het “gesien en gevlug”. Die “dit” is deur die vertalers ingevoeg. Het hulle regtig net geskrik vir die volk Israel wat in aantog was? Dit het ’n redelike afleiding gelyk. Maar nou verander dit. Het die hele skepping (berge, rante) regtig vir hulle geskrik? Nee, skielik kom die ontknoping. Dit was glad nie vir Israel in aantog wat die see geskrik het nie. Net so kort en staccato-agtig kom dit:

  • Bewe, aarde, vir die aangesig van die Here
  • vir die aangesig van die God van Jakob.

Hulle het die Here gesien … en gevlug!

 

’n Mens moet mooi oplet hoe dit hier staan. Anders as die voorstellings van die groot gevegte tussen die chaosmagte, bewe die aarde as hulle Hom net sien. Die 1983-vertaling sê klaar te veel: “Bewe, aarde, as die Here verskyn.” Volgens die Hebreeus doen Hy glad niks, die aarde sien Hom net – en dis klaar genoeg. Dit beklemtoon sy heerlike grootheid en mag op ’n besondere manier. Waarom skrik alles as hulle Hom net sien? Oor sy groot wonders. En dan eindig die Psalm inderdaad weer met die uittog: Dit was God se wonders tydens die uittog wat sy groot mag bekend gemaak het (v 8).

 

Ons kry dieselfde verskynsel in Jesus se optrede teen die demone/bose magte. Hy kom om die heerskappy van God te herstel (die koninkryk te laat kom). Daarvoor moet Hy die bose magte oorwin wat die aarde as ’t ware van God gesteel het (Matt 12:28-29). Maar Hy doen dit nie in ’n verbete stryd nie. Hulle vrees en skree as hulle Hom net sien (Matt 8:28 ev).

 

Ons het dus in Psalm 114 ’n klassieke voorbeeld van een van die interpretasies wat later aan die uittogsverhaal gegee is: Sonder om selfs net sinvol na die rol van Israel te verwys, word die verhaal gebruik om die groot mag van die Here te beklemtoon, sy mag selfs ook oor die chaosmagte, ja, oor die hele aarde.

 

In die volgende artikel kyk ons na nog ‘n psalm wat die lof van dier Here uitjuig: Psalm 136.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (10)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (10) – Jan van der Watt

Markus 11-13

Jesus betree nou die hartland van die Joodse geloof. Hy gaan na die tempelstad toe, die stad van die Joodse geloof met hulle Joodse leiers.

 

 

Die temas verskuif nou, meer na ‘n tipe debat toe oor die godsdiens van die Jode in Jerusalem vs. die godsdiens wat Jesus bring. Die groot temas gaan oor die tempeldiens en reinheid, die godsdienstige gesag waarmee daar opgetree word en hoe gesag in verskillende vorms lyk, hoe die wet verstaan moet word, wat skynheiligheid is en hoe dit hanteer moet word, hoe ware godsdiens lyk. Markus 11-12 moet dus in die lig van die konflik van twee godsdienstige groepe gelees word. Kyk of jy ‘n aanvoeling vir die debat kan kry en dan vir jouself kan sê waar die Christendom van die Jodendom verskil.

 

  • Jesus trek die grootstad Jerusalem triomfantelik in (11:1-11)
    • Daar hang maar doodsheid in die stad (11:12-14)
    • En die tempeldiens moet skoongemaak word (11:15-19)
    • God se krag deur gebed speel nou ‘n rol (11:20-26)
  • op verskillende maniere
    • Wie gee Jesus die gesag? (11:27-32)
    • Wat se gesag het die Joodse leiers? (12:1-12)
    • Hoe lyk dit met die Romeinse gesag (12:13-17)
  • ‘n Groot debat:
    • Is daar ‘n opstanding? Die Jode stem nie oor alles saam nie (12:18-27)
    • Nog ‘n groter vraag: Hoe moet die wet verstaan word? (12:28-34)
    • Is Christus familie van Dawid (12:35-37)
  • Oppas vir skynheiligheid (12:38-40)
  • godsdiens op ‘n ander manier – soos die arm weduwee (12:41-44)

‘n Groot profesie:

  • Rampe, vervolging en groot verdrukking (13:1-23)
  • Die Seun van die mens sal kom (13:24-27)
  • Tekens van die wederkoms (13:28-31)
  • Die uur van die wederkoms (13:32-37)

 

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (1) – Adrio König

Hoofstuk 9

Die uittog uit Egipte

Dit is een van die interessantste temas in die hele boek. Ons gaan van drie kante af daarna kyk:

  • Die oorspronklike betekenis
  • Die toegepaste betekenis
  • Die Nuwe-Testamentiese verwysings

9.1 Die oorspronklike betekenis

Die uittog lê in die hart van Israel se geloof. Dit is die fundamentele gebeurtenis waarop hulle verhouding met God gebaseer is. Ons lees nie verniet oor en oor in die Ou Testament dat die Here van Egipte af (die uittog) hulle God is nie (Hos 12:10; 13:4). Ons lees selfs dat Hy Hom dáár vir die eerste keer aan Israel as Jahwe (Here) geopenbaar het (Eks 6:2). Dis die moeite werd om die geloofsbelydenis te lees wat elke Israeliet elke jaar in die tempel moes aflê (Deut 26:5-10). Die kern daarvan is die Here wat hulle uit Egipte bevry het en die land Kanaän aan hulle gegee het.

 

Dit kan dus niemand verbaas dat die volk hulle juis op die uittog beroep as hulle in nood is nie. Wanneer hulle voel dat God vir hulle kwaad is en hulle verstoot het, roep hulle: “Dink tog aan u gemeente wat U lank gelede u eiendom gemaak het, die volk wat U vir Uself as besitting verkry het” (Ps 74:1-2). Hulle is deeglik daarvan bewus dat dit nie in die uittog om hulle eie waarde en betekenis gegaan het nie, maar om die onverklaarbare goedheid van God. In Deuteronomium 7:6-8 lees ons: “Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ’n eed bekragtig het aan jou voorvaders … het Hy jou laat uittrek … ”

 

Dit het dus nie om Israel en hulle voortreflikhede gegaan nie, maar om die Here wat liefhet en getrou is en sy beloftes hou. En dit is natuurlik die oorweldigende kenmerk van die hele uittog: die inisiatief van God teenoor die dadeloosheid en selfs ontrou en opstandigheid van die volk. Die uittog word gekenmerk deur ’n reeks wonderwerke. Dit is een van die drie groot groepe wonderwerke in die Bybel bo en behalwe die skepping self en die wederkoms van Christus. Dit is trouens opvallend dat wonderwerke nie egalig in die Bybel versprei is en oral en altyd vermeld word nie, maar in hierdie drie groot konsentrasies voorkom:

  • Die uittog
  • Die vroeë profete (Elia, Elisa)
  • Jesus se aardse bediening en die vroeë kerk

 

Die wonderwerke tydens die uittog is byna sonder uitsondering die Here se reaksie op die vrees of ongeduld of opstandigheid van die volk.

  • Die Here beskik bedags ’n wolkkolom en snags ’n vuurkolom om die volk te lei (Eks 13:20-22).
  • Wanneer die volk met die see voor hulle die leërmag van die farao sien aanstorm, roep hulle in vrees uit. Dan beveel die Here Moses om die see met sy kierie oop te kloof (Eks 14).
  • Toe hulle protesteer dat hulle nie genoeg kos het nie, het die Here kwartels en manna uit die lug laat kom (Eks 16).
  • Daarna het hulle by Refidim met Moses rusie gemaak omdat daar nie water was nie. Die Here het Moses beveel om met sy kierie teen ’n rots te slaan, en toe het daar water uitgekom (Eks 17).

 

Dis interessant hoeveel negatiewe wonders ’n mens hier kry. In Jesus se bediening is daar omtrent net die vyeboom wat wonderbaarlik verdroog. Die ander is omtrent almal positiewe wonders, wonders wat red en help. Maar daar is omtrent net soveel negatiewe wonders as positiewes in die uittogsgeskiedenis.

 

Die tien plae is natuurlik wonders téén die Egiptenaars om Israel te red. Maar in die woestyn is daar heelwat wonderwerke om Israel te straf.

  • Die Here tref die volk met ’n ramp oor die goue kalf (Eks 32:35).
  • Wanneer die volk later weer in opstand is oor kos, laat die Here kwartels om hulle val wat hulle kon optel en eet (Num 11:31 ev).
  • Omdat die volk nie op die Here se tyd in Kanaän wil intrek nie, besluit die Here dat daardie hele geslag in die woestyn sal sterf voor die volgende geslag Kanaän sal intrek (Num 14:20- 35).
  • Wanneer die volk vir die soveelste keer oor kos in opstand is, stuur die Here giftige slange onder hulle in (Num 21:4 ev).

 

Dit is nie nodig om die hele geskiedenis oor te vertel nie. Die punt is reeds gemaak. Die geskiedenis van die uittog is ’n geskiedenis van die trou en die mag en die sorg van God teenoor die onmag en ontrou en opstandigheid van die volk. Hierdie volk het sy hele bestaan uitsluitlik te danke aan die uitreikende liefde van God wat nie ’n volk gesoek het wat dit werd was nie, wat trouens glad nie ’n bestaande volk gekies het nie, maar wat ’n nuwe volk geskep het, ’n groepie slawe wat nooit aan die gang sou gekom het as dit nie vir die genadige inisiatiewe van die Here was nie.  Dit beteken dat Israel nie ’n volk was wat onder andere in ’n spesiale verhouding met die Here geleef het nie, maar dat hulle niks anders was en geen ander bestaansrede gehad het nie as om die volk van die Here te wees. Hulle ontstaansgeskiedenis is ’n heerlike geskiedenis van verrassende genade.

 

Maar dit is net een kant van die saak. Daar is ’n ander kant ook, wat net so belangrik is. Van Israel se kant gesien, is dit ’n geskiedenis wat ’n mens liewer sou verswyg as jy kon, ’n geskiedenis van ontrou en opstand en mislukking. Waarom vertel Israel só ’n geskiedenis oor sy ontstaan? Volke is trots op ’n ontstaansgeskiedenis vol heldedade. Hulle soek rolmodelle om na te volg. Maar die geskiedenis wat Israel oor hulle ontstaan vertel, is alles behalwe!

 

Onthou nou radikaal kritiese teoloë wil ons laat glo dat daar eintlik nooit regtig so ’n uittog was nie. ’n Paar nomadiese stamme kon wel sekere bewegings gemaak het, en ander kon later by hulle aangesluit het, maar van een groot uittog van ’n hele volk was daar nooit enige sprake nie. Al meer groepe sou maar net later by een groep aangesluit het, en hulle sou toe verhale uitgedink het oor hulle ontstaansgeskiedenis. In beginsel is dit natuurlik moontlik dat die geskiedenis só verloop het. Maar dan moet ons aanvaar dat ’n groeiende groep gekies het om oor hulleself só ’n geskiedenis uit te dink. Dis ’n geskiedenis van mislukkings. Hulle is voortdurend in die “rooi”. Hulle is bang as die Egiptenaars aanstorm, hulle kerm elke keer oor hulle omstandighede, hulle kom in opstand teen die gesag oor hulle. En as ’n mens die geskiedenis volg tot by die uiteindelike intog in Kanaän in, is daar nie ’n enkele rolmodel om na te volg nie. Selfs die leier Moses maak dit nie. Hy moet weens ongehoorsaamheid self ook buite die beloofde land sterf. Trouens weens hulle voortdurende ontrou moet daardie hele geslag eers uitsterf voor die volgende geslag die land kon ingaan.

 

Wie dink so ’n geskiedenis uit? Dit is die geskiedenis van ’n volk wie se bestaan heeltemal van hulle God afhanklik is, ’n God wat hulle voortdurend teleurstel en krenk in sy eer. Daar kan net een rede wees waarom ’n volk so ’n patetiese ontstaansgeskiedenis oorvertel. Dit moes so ongeveer só gebeur het.

 

Die basiese gegewens van die uittog is histories betroubaar, al sal daar natuurlik baie vrae wees oor die fyner besonderhede. Die groot getalle het altyd vreemd voorgekom. Trouens vroeg in die geskiedenis van die radikale kritiek het ’n behoudende Ou-Testamentiese geleerde gesê as jy wil ontken dat daar so ’n persoon soos Moses was, sal jy ’n nuwe Moses moet uitdink om sy rol oor te neem.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

 
 




Hoe moet ek as Christen leef?

“There are two ways of exerting one’s strength: one is pushing down, the other is pulling up.” ~Booker T. Washington

Hoe moet ek as Christen leef?

 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was (Filippense 2:12). Paulus het vir hulle ‘n goeie voorbeeld gestel en hulle bemoedig. Daarom sê Paulus vir die Filippense: Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie (2:12). Kan hulle dit doen? Ja: want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (2:13).

Paulus verduidelik ook die stappe wat hierdie gelowiges moet neem om vir Christus te lewe:

 

  • Hulle moet saam met al die ander gelowiges in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 1:27 – 30).
  • Onthou wat Christus vir hulle aan die kruis gedoen het: En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (2:5 – 11).
  • Hulle was bly in die Here vir die werk wat Hy in en deur hulle gedoen het.
  • Hulle moes op die doelwit fokus: Ek span my in om by die wenstreep te kom (3:12 – 14).
  • Hulle rig hulle gedagtes op dit wat goed is: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (4:8 – 9).
  • Hulle moet tevrede wees met wat hulle het – ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp (4:10 – 13).
  • Hulle moet diegene in nood help (4:14 – 19).

Ons raak maklik van ander afhanklik vir ons geestelike groei en motivering. Die Christelike lewe is altyd afhanklik van die verhouding tussen die individuele gelowige en sy Here. Ons moet slegs op Christus en die Heilige Gees vertrou vir ons geloof. Fokus op Christus; bid gereeld; lees die Bybel gereeld; pas God se woord in jou lewe toe.