Alle Paaie lei na Jesus: Ou Testamentiese benamings van Israel vir die kerk

Alle Paaie lei na Jesus: Ou Testamentiese benamings van Israel vir die kerk – Adrio König

8.4 Ou-Testamentiese benamings van Israel vir die kerk

Dit is dan ook nie vreemd nie dat juis die benamings wat in die Ou Testament vir Israel gebruik is, in die Nuwe op die kerk toegepas word. Die merkwaardigste getuienis hiervan kry ons in die eerste Petrusbrief.

Eers noem Petrus die gelowiges “’n heilige priesterdom wat geestelike offers bring”, uitdrukkings wat natuurlik dadelik aan Israel laat dink, maar dan word ’n stortvloed van Ou-Testamentiese aanduidings van Israel op die kerk toegepas:

  • die uitverkore volk,
  • ’n koninklike priesterdom,
  • ’n nasie wat vir God afgesonder is,
  • die eiendomsvolk van God (2:9).

 

En asof dit nog nie genoeg is nie, word ook die merkwaardige woorde uit Hosea 1:10-12 en 2:22 op die kerk toegepas: “Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys” (2:10).

 

Die res van die Nuwe Testament is vol hiervan. Dink maar net aan Kolossense 3:12 waar ons lees dat die kerk die uitverkore volk van God is, aan die aanhef by byna elke brief van Paulus waar die gemeente in die Grieks “die heiliges” genoem word, en elders waar die gelowiges dikwels kinders van God en kinders van Abraham genoem word. Ook die uitdrukking “volk van God”, die tipiese benaming van Israel, word in die Nuwe vir die kerk gebruik. Maar veelmeer as dit. Talle beloftes wat direk vir Israel gegee is, word vir die kerk herhaal, en selfs vir die kerk vervul. Paulus gee ’n hele lys in 2 Korintiërs 6:16-18, en dan beklemtoon hy nogal: “Hierdie beloftes (wat oorspronklik aan Israel gegee is) is ook vir ons”, dus vir die kerk (7:1). Hy doen dieselfde in Romeine 9:24-29 waar hy nie minder nie as vier beloftes aanhaal wat vir Israel gemaak is en nou op die heidene toegepas word. En nogeens is hy heel spesifiek dat  dié beloftes nou vir dié is wat uit die heidene geroep is (9:24). Hierdie verskynsel kan vermenigvuldig word uit die Briewe van Paulus.

 

Konklusie: Daar is sterk kontinuïteit tussen Israel en die kerk. Maar Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament, het die prioriteit. Ons is by hulle bygevoeg, nie hulle by ons nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Karakter: Van binne na buite

“Treat a man as he appears to be and you make him worse. But treat a man as if he already were what he potentially could be, and you make him what he should be.” ~Johann Wolfgang von Goethe

Karakter: Van binne na buite

Ons is almal bekommerd oor hoe ons buite lyk. Daar is niks mee verkeerd nie. Die probleem is as ons meer bekommerd is oor hoe ons buite as binne lyk. Ons reputasie word bepaal deur wat ander van ons buitekant glo; ons karakter verteenwoordig wat ons binne is. As jy fokus om binne beter te wees word jy met verloop van tyd beter van buite. Hoe is dit moontlik? John Maxwell gee ‘n paar redes hiervoor:

 

  • Die binnekant beïnvloed die buitekant

Meer as 2 500 jaar gelede het die skrywer van die Spreuke-boek reeds gesê dat wat ons in ons harte dink, ons word. Wat kry ons vandag? Geneeshere sien die impak van ‘n positiewe gesindheid en hoop op genesing. Mentors beklemtoon die belang van visualisering vir sukses; sielkundige beklemtoon die belang van selfbeeld.

Wat ons glo, is belangrik. Wat ons doen of nie doen in die privaatheid van ons daaglikse lewe bepaal wie ons is. As jy jou hart, verstand en siel verwaarloos, verander dit baie vinnig wie en wat jy van binne en buite is.

  • Oorwinnings van binne gaan oorwinnings van buite vooraf

As jy die dinge wat jy moet doen, doen wanneer jy hulle moet doen, sal jy eendag die dinge  wat jy wil doen, doen wanneer jy hulle wil doen. Dit klink ingewikkeld. Wat dit beteken is dat voor jy kan doen, moet jy eers wees. Ons sien dikwels mense wat oënskynlik alles wat nodig is doen en tog nie slaag nie. Dit beteken gewoonlik dat iets binne verkeerd is en reggestel moet word. Die regte bewegings van buite met die verkeerde motiewe van binne lei nooit tot volhoubare sukses nie. Regte praat van buite met verkeerde denke van binne lei nooit tot volhoubare vordering nie. As ek van buite my bekommernis oor iemand uitspreek, maar van binne is ek vol haat en minagting lei nooit tot blywende vrede nie. Voortdurende groei en sukses gebeur wanneer ek die binne- en buitekant van my lewe in lyn met mekaar bring. Om die binnekant reg te kry, moet eerste kom. Soliede karakterkenmerke is die fondament vir sukses.

  • Ons ontwikkeling van binne is volledig onder ons beheer

Ons kan nie altyd bepaal wat met ons gebeur nie, maar ons kan altyd bepaal wat binne in ons gebeur. Karakter sluit in dinge soos integriteit, moed, volharding, vertroue en wysheid. Jy kan nie jou vingerafdrukke verander nie, maar jy self skep jou karakter in jou – jy is verantwoordelik vir jou karakter. As jy nie die regte keuses oor jou karakter maak nie, gee jy in werklikheid jou eienaarskap oor jouself op. Nou behoort jy aan ander – wat jou ook al beheer. Hoe kan jy ooit jou volle potensiaal bereik en die persoon word wat jy kan wees as ander  jou keuses vir jou maak? Winning in life is more than just money…it’s about winning on the inside…and knowing that you have played the game of life with all you had…and then some.” (Doug Firebaugh). As jy suksesvol wil wees moet die opbou van jou binnekant – jou karakter – jou prioriteit wees.





Dinge wat Jesus gesê het wat ons dikwels vergeet (2)

“An automobile goes nowhere efficiently unless it has a quick, hot spark to ignite things, to set the cogs of the machine in motion. So I try to make every player on my team feel he’s the spark keeping our machine in motion.” ~Coach Knute Rockne

Dinge wat Jesus gesê het wat ons dikwels vergeet (2)

Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen (Johannes 13:17

Watter sin het dit as julle my aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat ek sê nie (Lukas 6:46).

Ons vergeet dikwels dit wat Jesus Christus gesê – soms pas dit ons. Ek gaan twee blogs hieraan spandeer. Ons gaan nou aan met wat ons gister begin het

  • Ons vergeet dat Hy gesê het ons moet ons vyande liefhê

Mense behandel/hanteer ons sleg. Hoe moet ons nou reageer? Ons moet hulle liefhê – nie kwaad word nie; nie ‘n wrok teen iemand dra nie. ‘n Mens staan verbaas oor die vyandigheid van Christene teenoor ander Christene wat aan ander kerke behoort. Nog erger is die vyandigheid teen ander godsdienste en politici.

  • Ons vergeet dat ons feesmale vir diegene wat minder het, moet gee

Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het (Lukas 14:13 – 14). Hierdie mense was baie spesiaal vir Jesus. Hoe nader jy aan Jesus leef, hoe meer gee jy vir sulke mense om. Onthou: as jy aan hulle gee, gee jy aan die Here.

  • Ons vergeet dat Jesus red.

Ons weet dat Hy vergewe en ons sing graag daaroor. Wat ons vergeet het, is dat Hy gekom het om sondaars te verlos en dat dit daarom vir ons ook belangrik moet wees. Ons wat baie aandag en tyd gee om die armes te voed en te klee dink soms dat ons ons opdrag voltooi het. Nie eers amper nie. Ons misluk as ons vir mense brood gee, maar ons bly stil oor die Verlosser wat hulle ware behoeftes kan hanteer.

  • Ons vergeet dat met Jesus is verandering die norm

In Lukas 5:36 – 39 praat Jesus van wyn in nuwe en ou velsakke gooi. Ons hou van die status quo; ons wil graag dinge doen soos ons dit nog altyd gedoen het. Die Here roep ons voortdurend uit ons gemaksones, weg van dit waaraan ons gewoond is. Hy wil hê ons moet dinge nuut sien en doen. Jy kan nie vir Jesus Christus oor ‘n lang tyd volg as jy nie gewillig is om voortdurend te verander en aan te pas nie.

  • Ons vergeet dat die doel nie is om reëls na te kom nie

Die doel is om gehoorsaam aan God te wees en nie om slaafs ‘n stel reëls na te kom nie. Paulus stel dit so: Die letter maak dood, die Gees maak lewend (2 Korintiërs 3:6). Gaan maar na ‘n wettiese gemeente. Wat sien ons? Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matteus 23:23)

  • Ons vergeet om die hele Woord te lees en nie net een of twee verse uit konteks nie

Ons hou van ons verse – hier een, daar een. Hulle pas so mooi op allerhande plakkers. Jeremia 29:11 is ‘n goeie voorbeeld.

 My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here (Jesaja 55:8). Ons wil ons godsdiens maklik en gemaklik hê – geen eise nie, kits belonings en geen ruimte vir buitestanders nie – tensy hulle baie vinnig net soos ons word.

Wat moet ons doen as ons agterkom ons gemeente skuldig is en die Here se onderrig vergeet en dat ons primêr net vir onsself bestaan?

  • Begin jy self om dinge te verander – moenie altyd vir iemand anders wag om die voortou te neem nie.
  • Moet nooit vir jou medelidmate kwaad word en hulle begin treiter vir hulle nalatigheid nie.
  • Bewys deernis (liefdesdade) vir almal om jou.
  • Na ‘n tydjie begin jy met ‘n paar vriende in jou gemeente praat oor dit wat jou bekommer. Nou moet jy versigtig wees. Moenie vir mense sê wat hulle moet doen nie (wat ‘n versoeking). Vertel net vir hulle wat die Here op jou hart gelê het en wat jy besluit het.
  • Wag vir die Here. Bly naby Hom; bid gereeld vir die gemeenteleiers en jou medelidmate; wees gehoorsaam.
  • Wees geduldig. Die agteruitgang het nie oornag gebeur nie. Daarom gaan jy dit ook nie binne ‘n paar weke regstel nie.

Maak dit van jou ‘n koning as jy jou inspan vir meer sederhout? Jou pa (Josia) het geëet en gedrink, hy het reg laat geskied en reg gedoen en dit het goed gegaan met hom. Hy het die saak behartig van die swakke en die arme, en dit het goed gegaan. Wie hierdie dinge doen, dien My, sê die Here (Jeremia 22:15 – 16).

 




Dinge wat Jesus gesê het wat ons dikwels vergeet (1)

“How do you identify someone who needs encouragement? That person is breathing.” ~Truett Cathy

 Dinge wat Jesus gesê het wat ons dikwels vergeet  (1)

Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen (Johannes 13:17

Watter sin het dit as julle my aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat ek sê nie (Lukas 6:46).

Ons vergeet dikwels dit wat Jesus Christus gesê – soms pas dit ons. Ek gaan twee blogs hieraan spandeer.

Joe McKeever het tien dinge geïdentifiseer.

  • Ons vergeet dat die tweede gebod ook  ‘n gebod is

Ons wil so graag glo dat ons godsdiens iets “privaat” is – net ek en die Here. Maar Jesus sien dit anders: En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is:’Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’ (Matteus 22:39). Hierdie is ‘n gebod – nie ‘n opsie of ‘n mening of ‘n wens nie. Hierdie gebod is ‘n belangrike komponent van wat Jesus gesien het as ‘n belangrike manier om te getuig vir die wêreld. Hoekom gehoorsaam ons nie hierdie gebod nie? Dit is ongemaklik, moeilik en eis iets van ons. As ons mense werklik liefhet en hulle het ons nodig, mag dit dalk my vol skedule omkrap. Dit is baie makliker om diegene wat dit waardeer of wat niks van ons nodig het nie, lief te hê.

  • Ons vergeet dikwels twee dinge oor Jesus se opdrag om die wat honger het kos te gee, die wat dors het iets te gee om te drink, ens (Matteus 25).

Ons vergeet hierdie is ‘n opdrag – dit is nie iets wat Jesus hoop ons sal doen nie. Ons gevoel is ons is baie besig met baie belangrike dinge – meer belangrik as hierdie opdrag van Jesus. Jesus verwag dat gelowiges dit sal doen. Ons het ook nie ‘n keuse wie ons moet help nie – een van die geringstes van hierdie broers = almal.

  • Ons vergeet dat om God en ons naaste lief te hê, gaan oor optrede en nie emosie nie.

Jesus sê: Julle moet julle vyande liefhê (Lukas 6:27). Onmiddellik verduidelik Hy dat Hy optrede verwag: doen goed … seën … bid … gee.  Woorde is belangrik; emosies mag ook belangrik wees, maar niks het ‘n groter impak as dit wat ons doen nie. Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het (Matteus7:24). Waarvoor die Here ons roep is om te gee, te bid, te seën en te help. Om dit aan ander te doen – maak nie saak hoe ons daaroor voel nie – is liefde.

  • Ons vergeet dat Jesus gesê het dat ons kan verwag om sleg behandel te word

Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs ‘n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys (Johannes 16:2). Ons verwag dat ons waardeer gaan word deur almal wat ons dien – dat hulle ons sal liefhê. As dit nie gebeur nie, vra ons allerhande vrae soos: “Al wat ek gedoen het, was om te help. Hoekom behandel God my dan so sleg?” Die antwoord: niks is verkeerd nie.

Die probleem is dat ons van gedeeltes soos Matteus 10:16 – 22 vergeet. Daar waarsku Jesus sy volgelinge van die vervolging wat nog voorlê: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Sommige voel dat as teenspoed hulle tref daar vir hulle geen plek is om die Here te dien nie – hulle verlaat selfs die kerk. Die Skrif waarsku ons selfs dat ons dat ons moeilikheid van binne en buite die kerk kan verwag (Handelinge 20:28ev.

Volgende keer gaan ons aan met dinge wat Jesus gesê het, maar wat ons so dikwels vergeet.