Postmortem van ‘n gemeente wat dood is

“You have it easily in your power to increase the sum total of this world’s happiness now. How? By giving a few words of sincere appreciation to someone who is lonely or discouraged. Perhaps you will forget tomorrow the kind words you say today, but the recipient may cherish them over a lifetime.” ~Dale Carnegie

Postmortem van ‘n gemeente wat dood is

Gemeentes klou vas aan die lewe. Hulle kan vir baie jare terminaal wees voordat hulle finaal die deure toemaak. Ons lees gereeld van gemeentes wat toemaak of saamsmelt. As ons nou ‘n postmortem op hulle sou doen, wat verwag ons om te kry?

 

  • Die gemeente weier om soos die gemeenskap te wees. Hiermee bedoel ek dat ons dikwels verskuiwings in ‘n gemeenskap kry – mense trek weg uit die buurt; ‘n welvarende gemeenskap word al hoe armer. Dikwels wil so ‘n gemeente nie uitreik na hierdie nuwe intrekkers nie. Die gemeente word ‘n eiland van middelklas lidmate in ‘n see van arm mense.
  • Die gemeente het geen bedienings wat op die gemeenskap gefokus het, gehad nie. Daar word geen poging aangewend om die gemeenskap te bereik nie.
  • Lidmate fokus op gedenktekens. In sulke gemeentes is die gedenktekens stoele, tafels, kamers, ens. Hierdie gedenktekens word ‘n obsessie by die lidmate. Hulle lê meer en meer klem op die verlede.
  • Die persentasie van die begroting vir die behoeftes van lidmate neem progressief toe.
  • Evangelisasie word nie beklemtoon nie. Sodra die kerk die passie verloor om ongelowiges te bereik, is hy aan die doodgaan.
  • Lidmate stry meer en meer oor wat hulle wil hê. Die fokus na binne lei tot meer argumente en die argumente word al hoe meer bitsig.
  • Leraars bly al hoe korter. Hulle verlaat die gemeente omdat hulle ontmoedig is.
  • Die kerk bid selde saam. As hulle bid word die gebede beperk tot lidmate, hulle familie en vriende en hulle fisiese behoeftes.
  • Die gemeente het geen duidelikheid oor waarom hulle daar is nie – geen visie of missie of doel nie.
  • Die lidmate aanbid ‘n ander tydperk.  Almal kyk terug na ‘n tydperk toe die gemeente nog lewenskragtig was – hulle verafgood amper daardie tyd. Hulle toekomsverwagting is om na die verlede terug te keer.
  • Die fasiliteite gaan agteruit. Dit is dikwels nie ‘n finansiële saak nie – die lidmate sien net nie die agteruitgang raak nie.

‘n Mistroostige verhaal, maar ‘n verhaal waaruit ons iets moet leer. Baie gemeentes se lewensverwagting is maar kort. Die vraag is: kan gemeentes hierdie neiging omkeer?




Kan ek waardigheid bewys aan mense wat ek nie respekteer nie?

If then you have been raised with Christ, seek the things that are above, where Christ is, seated at the right hand of God.” The Christian community should be recognizable by the fact that its members are not like others who seek what is below, that they are not like the others who chase after the goods of this earth as if everything depended upon them, that they are not like the others who lose themselves in the world. That, Christians of all times have heard, read in the Bible, and therefore also known. But they obviously have not given others this impression. — Emil Brunner  

Kan ek waardigheid bewys aan mense wat ek nie respekteer nie?

Werk en lewe bring mense bymekaar. Dikwels het dit positiewe gevolge; soms werk die interaksie nie. Vir een of ander rede vertrou of respekteer die mense nie vir mekaar nie. Maar wat gebeur as hierdie mense weens hulle omstandighede verplig word om met mekaar saam te werk of te woon? Kan jy waardigheid bewys aan hierdie mense wie jy nie vertrou of respekteer nie?

 

Hier is ‘n paar voorstelle:

  • Fokus op menswaardigheid eerder as jou behoefte om reg te wees. Al respekteer jy nie ander se sienings nie, word die probleem net deur kommunikasie opgelos. As jy ander met waardigheid hanteer, vloei die kommunikasie. Die behoefte om reg te wil wees, lei dikwels tot ‘n negatiewe reaksie.
  • Plaas perke op verbale beledigings. As mense jou beledig, is jou eerste reaksie dikwels om hulle terug te beledig – dikwels op ‘n onwaardige wyse. Stel duidelike perke. As beledigings voortduur, stap weg.
  • Hoe sou jy voel? In die hitte van ‘n argument is ons dikwels neerbuigend. Dit maak dinge net erger en interaksie word onmoontlik. As volwassenes wil ons graag as volwassenes behandel word – dit lei tot samewerking.
  • Ken jouself. Onwaardige reaksies is dikwels die gevolg van vrees, onsekerheid of littekens uit die verlede. As iemand wie jy nie respekteer nie enige van hierdie hot buttons raak, is ‘n onwaardige reaksie naby. Jy moet dus bewus wees van jou snellers en hulle mag oor jou onderdruk.
  • Moenie altyd die slegste aanvaar nie. Kennis beklemtoon alternatiewe; aannames voed emosies en vrese. Moenie sommer aanvaar dat ‘n persoon jou doelbewus aanval nie. As hulle sê dat hulle doel is om jou aan te val, kan jy perke stel of eenvoudig net wegloop.
  • Aanvaar dat waardigheid nie lei tot verloor nie. As jy met waardigheid reageer, beteken dit nie jy is swak nie – dit lei nie tot mislukking nie. Inteendeel, daar is groot krag daarin as jy jou waardigheid behou en anders met waardigheid hanteer.
  • Laat toe dat tyd insig en antwoorde verskaf. Tyd ontlont; tyd gee jou die geleentheid om te besluit wat werklik belangrik is; dit stuur ook ‘n boodskap uit – ‘n nuwe benadering is nodig.

Hoekom is dit moeilik om mense wat jy nie respekteer met waardigheid te behandel? Waardigheid is dikwels die gevolg van wedersydse respek. As dit afwesig is, moet ons binne onsself kyk as ons met waardigheid wil optree. As ek met waardigheid reageer, behou ek my eie waardigheid. Daarom: tree altyd waardig op – ook teenoor mense wat ek nie respekteer nie.




Geraas en my gesondheid

“If you will not worship God seven days a week, you do not worship Him on one day a week.” A.W. Tozer

Geraas en my gesondheid

TED (Technology, Entertainment, Design) het sekerlik een van die interessantste blogs. Julian Treasure het geskryf oor die effek van geraas op ons gesondheid. Hy maak ‘n paar interessante stellings wat ons laat dink.

  • Die beraamde koste van geraas besoedeling in Europa alleen is $30,8 biljoen. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) het hierdie berekening gedoen. Dit sluit in werkdae verloor, behandeling,en verminderde produktiwiteit.
  • Elke jaar verminder geraasbesoedeling jou lewe met een dag (WGO).
  • As jy iemand kan hoor praat terwyl jy lees of skryf, val jou produktiwiteit met 66%. Geraas in die kantoor verhoog die vlakke van streshormone. As tegnologie gebruik word om geraas te verminder, verbeter werkers se vermoë om te konsentreer met 46% en hulle korttermyn geheue met 10%.
  • Die gemiddelde geraasvlakke in meeste klaskamers belemmer nie net leer nie, maar lei ook tot permanente gehoorverlies. Die WGO beveel ‘n geraasvlak van 35 desibels aan vir klaskamers. Die gemiddelde vlakke in Duitse klaskamers is 65 desibel – ‘n vlak geassosieer met permanente gehoorverlies.
  • In skole naby lughawens sukkel kinders om te verstaan wat hulle lees.
  • 50% van onderwysers doen skade aan hulle stembande op omdat hulle harder as die lawaai in die klaskamer moet praat – hoe meer lawaai, hoe harder moet die onderwyser praat.
  • 3% van hartaanvalle is die gevolg van verkeersgeraas.
  • Geraas mag tot misdaad bydra.’n Ondergrondse stasie in Londen het ‘n ernstige misdaadprobleem gehad. Toe hulle begin om klassieke musiek te speel, daal die rooftogte met 33% terwyl aanranding van die personeel met 25% daal.

Hierdie was vir my nuut. Miskien moet ons meer aandag aan geraas in ons omgewing gee.




Jesus, die Leermeester

God’s sovereignty does not negate our responsibility to pray, but rather makes it possible for us to pray with confidence. —Jerry Bridges

Jesus, die Leermeester

Jesus se gebruik was om mense te leer – in die sinagoges en tempel, langs die see, op die vlaktes en op berge. Die mense was verbaas oor sy onderrig – vol wysheid en gesag. Tog het baie, insluitend sy dissipels, nie altyd verstaan wat Hy hulle geleer het nie. Baie het ook sy onderrig verwerp: Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee.” … Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie (Johannes 6:60 – 66). Ons lees dat selfs Petrus Hom by geleentheid tereggewys het: Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe (Markus 8:31).

 

Dit is duidelik dat mense Jesus se onderrig verskillend beleef het: Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat  (Lukas 4:15). Ander sê weer: Jy is van die duiwel besete (Johannes 7:20). Hulle wou Hom selfs doodmaak oor wat Hy hulle geleer het. Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom Hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie (Johannes 7:16)

Jesus het verskillende metodes gebruik om die mense te onderrig:

  • Deur gelykenisse. Jesus leer baie dinge deur gelykenisse – beide om te onderrig en te veroordeel (Markus 4:10 – 20). Party van sy gelykenisse  gaan oor interpersoonlike verhoudings – die verlore seun en die barmhartige Samaritaan; ander  gelykenisse word op ‘n landbou en ekonomiese basis gebou – die saaier.
  • Deur vrae te vra en te antwoord. In die sinagoge vra Jesus vir die Fariseërs: Mag die mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak (Markus 3;4). Dawid noem Hom dus ‘Here’; hoe kan hy dan sy seun wees? Lukas 20:44). So antwoord Hy vrae oor belasting en die grootste gebod.
  • Deur kommentaar op die Skrif te lewer. In Lukas 4 lewer Jesus in die sinagoge by Nasaret kommentaar op Jesaja 61:1 – 2 en 58:6. In Matteus 5:21 – 48 lewer Hy kommentaar op die Pentateug.
  • Deur seën- en ellende-uitsprake.  Geseënd is julle wat arm is … maar ellende wag vir julle wat ryk is (Lukas 6:20 – 26).
  • Deur sy boodskap te kontekstualiseer. Jesus gebruik die voorwerpe om Hom om sy boodskap te verduidelik – Herodes se tempel (Johannes 2:18 – 21); Jakob se put (Johannes 4); die vyeboom wat nie vrugte dra nie (Matteus 21:19 – 22).
  • Deur wondertekens te doen. Hy genees die verlamde man om ander te leer dat Hy gesag het om sondes te vergewe (Markus 2:10 – 11). Hy dryf ‘n bose gees uit en volg dit op met ‘n les oor die koninkryk van God (Lukas 11:14 – 20)

Hoe het Jesus sy onderrig gesien? Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie (Lukas 10:42). Wat is hierdie beste ding wat nie van Maria weggeneem kan word nie? Om aan Jesus se voete te sit en te luister na sy onderrig.