Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (1) – Adrio König

8.3 Die verhouding Israel-kerk ná Pinkster

Dit bring byna vanselfsprekend die vraag na vore wat die verhouding dan is tussen Israel en die kerk omdat die kerk ná Pinkster hoofsaaklik uit gelowiges uit die heidene bestaan het. Daar is ’n standpunt van radikale diskontinuïteit. Dit beteken dat daar ’n absolute breuk is tussen Israel en die kerk, dat die kerk heeltemal ’n nuwe saak in die Nuwe Testament is waarvan daar geen sprake in die profesieë van die Ou Testament is nie.

Hierteenoor staan die standpunt dat daar inderdaad sterk kontinuïteit is tussen Israel (as die Godsvolk van die Ou Testament) en die kerk, maar dat hierdie kontinuïteit ’n bepaalde struktuur het waarin Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament die basis is waarop die kerk groei. Hierdie Israel is nie die huidige nasionale staat “Israel” of die Jode wat Jesus as Messias verwerp het nie.

 

Nadat ons nou net ons begrippe verduidelik het, behandel ons eers die standpunt van radikale diskontinuïteit; dus dat die kerk geen verband het met die Ou Testament nie, maar totaal nuut is.

 

Begripsbepaling

Die woord “Israel” kom in die Bybel in verskillende betekenisse voor. Voor die skeuring in die ryk word die 12 stamme “Israel”  genoem. Ná die skeuring is die Noordryk “Israel”, terwyl die Suidryk “Juda” is. Na die ballingskap van die Noordryk in 722, word dikwels weer na die Suidryk (Juda) as Israel verwys. In die Nuwe Testament is daar nog meer onderskeidings nodig. Daar is sprake van die ware Israel en die vleeslike Israel (Rom 9:6), van ware Jode en Jode na die vlees (Rom 2:28 ev), van kinders van Abraham (die ware Godsvolk) en nakomelinge van Abraham (wat nie regtig met die Here ’n verband het nie, Rom 9:6 ev).

 

In hierdie bespreking sal “Israel” hoofsaaklik in twee betekenisse gebruik word. In die eerste deel waar die verhouding Israel-kerk onder bespreking is, sal “Israel” gebruik word in die betekenis van die ware Godsvolk van die Ou Testament, die Ou-Testamentiese kinders van Abraham, en in die tweede deel waar die toekoms van Israel bespreek word, sal dieselfde betekenis geld, maar soms ook die betekenis van die huidige nasionale staat en volk wat vandag inderdaad bekend staan as “Israel”. Uit die verband sal dit telkens duidelik wees watter betekenis geld.

 

Radikale diskontinuïteit

Dit is ’n standpunt wat sterk verdedig word deur dispensasionaliste, dit is die teoloë wat ’n spesiale toekoms van Israel verwag, en veral oortuig is dat die onvervulde Ou-Testamentiese profesieë oor Israel eers in die Duisendjarige Vrederyk vervul sal word, en dan letterlik vir die herstelde volk Israel.

Hierdie teoloë praat graag van die misterie of geheimenis van die kerk en bedoel daarby dat daar niks oor die kerk bekend was voor God dit eers aan Paulus geopenbaar het nie. Hulle beroep hulle hiervoor op ’n paar uitsprake in die Nuwe Testament (Ef 3:1-6; Kol 1:24-27; Rom 16:25-26; 1 Kor 2:6-8), maar alles hang af van die betekenis van die uitspraak in Efesiërs. Hier word net kortliks hierdie standpunt oor hierdie teks weergegee. Die teks sal later breedvoerig bespreek word.

 

Efesiërs 3:1-6 Hier is sprake van ’n geheimenis wat nog nooit tevore geopenbaar was nie, en dit is dan volgens hierdie standpunt die geheimenis van die kerk. Dit sou dan beteken dat daar nooit in die Ou Testament sprake was van die kerk nie, en dat geen profesieë van die Ou Testament op die kerk betrekking gehad het of in/vir die kerk vervul is nie. Trouens die profete van die Ou Testament sou hiervolgens glad nie geweet het van die fase tussen die twee komste van Jesus, sy eerste koms en sy wederkoms nie. Hulle sou die twee komste as ’n eenheid gesien het.

Hulle sou verwag het dat die koninkryk van God in een enkele fase sou aanbreek wanneer die Messias kom en die heerlikheid herstel word wat Israel in die tyd van koning Dawid gehad het. Eers met die koms en aardse optrede van Jesus sou dit dan duidelik geword het dat die koninkryk van God in twee fases sal kom: eers die geestelike, innerlike koninkryk met die koms van Jesus en die heilige Gees en die tyd van die kerk, en ná die wederkoms die tweede, letterlike fase wanneer Israel herstel sal word en Jesus letterlik in Jerusalem op die troon van Dawid oor die hele aarde sal regeer.

 

Dit beteken dat die tyd van die kerk, die tyd waarin ons nou leef, die tyd tussen die eerste koms en die wederkoms van Jesus, ’n onverwagte tussentyd is, en dat God eers daarna sy eintlike doel bereik, om Israel te herstel. Dat hierdie tyd waarin ons nou leef, ’n onverwagte tussentyd is, is eers ná die koms van die Gees aan Paulus geopenbaar.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Verskonings wat my potensiaal doodmaak

Jesus Christ is not the enemy of reason, but only of the irrational arrogance of those who pride themselves on their intellect, and of the self-sufficiency of reason.* – Emil Brunner, Revelation and Reason, 

Verskonings wat my potensiaal doodmaak

“Ninety-nine percent of the failures come from people who have the habit of making excuses.”—George Washington Carver

Ons hoor gereeld verskonings wat ander mense maak en wat ons voel nie  water dra nie. Maar as dit kom by my eie verskonings is ek redelik blind. Sekere verskonings word later vir ons aanvaarbaar. Dit is dikwels hierdie “aanvaarbare” verskonings wat my persoonlike groei en potensiaal doodmaak.

 

Hier is drie baie algemene verskonings:

  • Ek is besig

Hoe dikwels sê ons nie dat ons te besig is om ‘n nuwe taak te begin nie – ons vertel selfs vir ander hoe deurmekaar ons lewens nou is. Om besig te wees is relatief. Die vraag is: Waarmee hou jy jou so besig? As jy besig is om belangrike dinge te laat gebeur, is dit goed. As jy egter skuldig voel na jy hierdie gelees het, is jy dalk nie so besig as wat jy dink nie.

  • Ek het dit nog altyd so gedoen

Almal van ons het met verloop van jare sekere “beginsels” geleer. Hierdie “beginsels” belemmer eerder as help my bediening. Net omdat ek ‘n ding nog altyd op ‘n sekere manier gedoen het, beteken nie dat dit reg is nie. Een van die voorwaardes vir groei, is dat ons sekere dinge moet “ontleer.” Ons moet ophou om die feit dat ons iets nog altyd op ‘n sekere manier gedoen het as verskoning te gebruik.

  • Ek kan niks van hulle leer nie

Ons is baie geneig om onsself met mense wat net soos ons dink, te omring. Daar is sekere mense na wie ons net nie uitreik nie, want ons kan mos niks leer van mense wat anders as ons is nie. Dit is nogal dikwels waar in die kerk. Miskien verwys die persoon te veel na een of ander skrywer waarvan ons niks hou nie. Of praat hy dalk te veel oor ‘n sekere onderwerp? Of hou ons nie van die musiek waarvan hy hou nie? As jy wegskram van mense wat van jou verskil, keer jy dat jy jou volle potensiaal kan bereik en groei.

As ons wil slaag, moet ons vasstel of hierdie verskonings aanvaarbaar is.




Sewe gevaartekens vir ‘n leier

Art is the elimination of the unnecessary. -Pablo Picasso

Sewe gevaartekens vir ‘n leier

Simon Petrus is ‘n baie gewilde figuur in die Bybel – hy is so menslik. Hy was die leier van die apostels; sy naam verskyn eerste op die lyste van apostels. Maar Hy het op ‘n dramatiese wyse geval (Lukas 22:31 – 62). Sy lewe is vol waarskuwingstekens vir vandag se leiers. Hierdie tekens gebeur nie altyd liniêr nie, maar elkeen van hulle is vir leiers ‘n rooi lig – gaan stadig en evalueer jou lewe.

 

  1. 1.Te veel selfvertroue

Jesus waarsku vir Petrus: Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Vol selfvertroue sê Petrus vir Jesus dat hy bereid is om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.  Petrus het dit bedoel. Kort daarna was hy bereid om Jesus in die tuin van Getsemane te verdedig. Ure daarna verloën hy vir Jesus – hy ontken dat hy Jesus ken. Hy het, sonder dat hy dit besef het, te veel selfvertroue gehad. Die oomblik as ek glo dat “dit nie met my kan gebeur nie,” flikker die rooi ligte.

  1. 2.Emosionele en fisiese uitputting

Die dissipels moes in Getsemane waghou en bid, maar hulle slaap.  Emosionele uitputting as gevolg van die toenemende teenkanting teen Jesus, eis sy tol. Uitputting maak hulle meer kwesbaar vir die vyand se pyle. Leiers het baie spanning wat tot uitputting kan lei.  Ook ons hou nie meer wag nie. Ons dra dikwels te veel laste en kry te min rus. Die gevolge kan ernstig wees.

  1. 3.Ons bid nie

Jesus se opdrag aan sy dissipels in Getsemane was duidelik: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. Maar hulle raak aan die slaap. Leiers bid dikwels nie, want hulle vertrou op hulleself en nie op God nie. As ek nie bid nie, is ek kwesbaar.

  1. 4.Daar is ‘n afstand tussen jou en Jesus

Petrus volg vir Jesus na Hy gevange geneem is: Petrus het op ‘n afstand agterna gekom. Ongelukkig ontwikkel daar gou ‘n afstand tussen sy hart en Jesus. Sy optrede sal gou hierdie stelling bewys. Hierdie man wat bereid was om saam met Jesus te sterf, staan nie by Hom toe hy daartoe uitgedaag word nie. As ons van God wegdryf, is van die eerste tekens dat ons minder ons Bybels lees en bid.

  1. 5.Probeer in die openbaar wegkruip

Petrus gaan sit by die manne om die vuur – dieselfde manne wat Jesus gevang het. Waarskynlik het hy gehoop dat niemand hom sou herken nie – dat hulle sy teenwoordigheid daar saam met hulle sou aanvaar. As jy in die versoeking kom om iets weg te steek, beweeg jy in die verkeerde rigting.

  1. 6.Vertel leuens

‘n Diensmeisie sien hom by die vuur sit, sy bekyk hom goed. Dié een was ook saam met daardie man. Petrus ontken dit – ek ken Hom nie. Jy weet dat jy as leier vinnig besig is om te val as jy ‘n leuen vertel as jy met die waarheid gekonfronteer word.

  1. 7.Ontkennings vinniger op mekaar

Drie keer praat ander oor Petrus se verhouding met Jesus; drie keer ontken hy so ‘n verhouding. Om te erken dat hy ‘n volgeling van Jesus is, kon sy dood beteken het. Dit was te erg vir Petrus. Sy ontkennings word al hoe heftiger: Man ek weet nie waarvan jy praat nie. Leiers wat besig is om te val, glo dikwels dat herhaalde en heftige ontkennings alles sal regstel.

Vir Petrus het die proses om te val vinnig verloop. Meeste leiers gly geleidelik. Die proses is dikwels so stadig dat hulle nie eers agterkom wat besig is om te gebeur nie. Daarom is dit belangrik dat ons hierdie waarskuwingstekens kan herken.




Hou dit eenvoudig

Do not go where the path may lead, go instead where there is no path and leave a trail – Ralph Waldo Emerson

Hou dit eenvoudig

Iemand het eendag vir Spurgeon, die bekende Engelse prediker, gevra of hy in ‘n paar woorde sy geloof kan opsom. Sy antwoord: “Yes, I can give it to you in four words: Jesus died for me.”  Die evangelie in ‘n neutedop is dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het. Dit is die hoeksteen van ons geloof. As ons dus die evangelie met ander mense deel, moet ons hulle herinner dat Jesus vir hulle gesterf het en sy bloed vir hulle gestort het.

 

Paulus was ‘n briljante persoon soos duidelik uit sy briewe blyk. Hy het verskillende kulture verstaan. Kyk maar net na sy optrede in Atene (Handelinge 17). Hy sou mense intellektueel kon oortuig, maar luister wat hy sê: Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Korintiërs 2:1 – 2).

Ons kan die verspreiding van die boodskap van die evangelie verhinder deur dit te ingewikkeld te maak. Onthou altyd dat dit die eenvoudige, kragtige, tog diepgaande, boodskap van die kruis van Christus is wat die krag het om lewens te verander.  As jy die evangelie verkondig, is dit goed om een woordjie wat die besigheidsmense graag gebruik, te onthou: KISS – Keep It Simple, Stupid.