Verhoudings is alles hier op aarde

Sociological studies suggest that the real danger for millennials is not ‘spiritual indoctrination.’   On the contrary, we are perhaps the least catechized, the most theologically and ethically illiterate generation ever.” — Anna Williams

Verhoudings is alles hier op aarde

As ons die Bybel lees, sien ons dat Jesus gedurig tyd by mense deurgebring het – dit was sy hele sending. Ons kry Hom dikwels in groot en klein byeenkomste. Iewers langs die pad het ons vergeet dat God die beste in en deur verhoudings werk. Ons probeer programme wat veronderstel is om mense te “bereik,” maar ons bereik hulle net so op ‘n afstand.

Ons vergeet dat ewigheidsverskille een verhouding op ‘n slag gemaak word. Ons kultuur vereis dat ons gedurig besig moet wees – daar is nie juis veel tyd vir verhoudings nie. Ons kan nie ‘n verskil in ons samelewing maak as ons nie bereid om tyd met mense te spandeer nie – in ons daaglikse omgewing.

Hoekom moet ons tyd  belê in die bou van persoonlike verhoudings?

  • Bediening = Verhoudings

Bediening is die vermoë om mense se harte aan te raak –  ons ontdek wat in hulle lewens aangaan en ontmoet hulle daar waar hulle is. Ons kan nie die behoeftes van mense van ‘n afstand af bepaal nie. As ons mense liefhet net daar waar hulle is, is dit bediening. As ons die liefde van God uitleef deur waarde te heg aan mense wat seerkry en gebroke is, kan ons ‘n ewigheidsverskil maak. Dit gebeur as ons persoonlik ons lewens in die lewe van ander mense belê.

  • Dissipelskap = Verhoudings

Ons kan kennis in verskillende omgewings oordra. Maar om kennis oor te dra, is nie dissipelskap nie; om programme  in te stel, is nie dissipelskap nie. Dissipelskap beteken om saam te leef op so ‘n manier dat ons die waarhede van die Bybel leer, maar dat ons ook leer hoe om dit in ons daaglikse lewe toe te pas. Yster slyp yster, vriende vorm mekaar (Spreuke27:17). Hierdie eenvoudige spreuk leer ons dat ons sal word wat God bedoel het ons moet wees, as ons tyd in goddelike verhoudings deurbring. God gebruik die ander mense in ons lewens om ons vir sy heerlikheid te vorm.

  • Lewe = Verhoudings

Ons moderne kultuur is ‘n kultuur van isolasie. Ons vervang intieme verhoudings met tegnologie. In hierdie omgewing waarin sosiale media so belangrik is, kan ons dink ons is met baie ander mense verbind – ons sien mos op Facebook wat in hulle lewens aangaan! Vra vir jouself: “As jy ‘n behoefte het, na wie toe sal jy gaan?” “ Na wie toe kan jy gaan met die lewe se moeilike vrae?” “Is daar iemand naby genoeg aan jou met wie jy oor jou probleme kan praat?” God het ons gemaak om in verhoudings te leef. Sonder hierdie verhoudings gaan ‘n groot deel van ons lewens verlore.  As ons aan die einde van ons lewens kom, wil ons nie meer aandele of ‘n hoër status hê nie – ons kyk terug en sien dat verhoudings ons grootste bate was.

  • God het ons so liefgehad dat Hy in ‘n verhouding met ons wil leef

Dit is hoe belangrik God verhoudings sien – Hy word een van ons; Hy het onder ons kom leef as mens; Hy word gekruisig om die prys vir al ons sondes te betaal; Hy staan op en skep so die geleentheid vir ons om ‘n verhouding met Hom te kan hê. God het ons liefgehad ten spyte van wie ons is en ten spyte van wat ons gedoen het. Al wat Hy vra, is dat ons in Hom moet glo. Hy het die eerste tree geneem deur na ons te kom sodat Hy ‘n verhouding met ons kon hê. Ons moet sy voorbeeld volg en die eerste tree neem as ons verhoudings wil bou.

Verhoudings moet die primêre doel wees van alles wat ons doen. Die enigste ding in hierdie wêreld wat ewig is, is mense. Belê in die ewigheid deur tyd met mense deur te bring.  Ons moet mense sien vir wie hulle in Jesus Christus kan wees. Bring tyd deur met mense vir wie Jesus Christus gesterf het om hulle te verlos. Maak plek in jou daaglikse skedule vir mense. As jy dit doen sal jy sien dat jou perspektief van mense verander – jy sal ook sien wat God van jou verwag terwyl jy hier op aarde is.




Het ons die “basiese” sonde vergeet?

“When Jesus tells us about his Father, we distrust him. When he shows us his Home, we turn away, but when he confides to us that he is ‘acquainted with Grief’, we listen, for that also is an Acquaintance of our own.”   ~Emily Dickinson

Het ons die “basiese” sonde vergeet?

Jy mag nie begeer nie. Klink so ‘n bietjie uit sy plek uit tussen al die ander gebooie. Die gruwel van al die ander gebooie is vir ons baie duidelik Die tiende gebod lyk goedaardig. Hoe ernstig kan dit nou wees om te begeer?

 

Delf ons ‘n bietjie dieper sien ons hierdie gebod ernstiger is as wat ons gedink het. Ons lees hiervan ook op ander plekke in die Bybel. Geldgierigheid (‘n vorm ban begeer) is ‘n wortel van allerlei kwaad (1 Timoteus 6:10). As Paulus ‘n goeie voorbeeld soek oor wat sonde is, sê hy: Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” (Romeine 7:7).

Die eerste sonde – Eva in die tuin van Eden – is waarskynlik begeerte. As sy na die boom van die kennis van goed en kwaad kyk, sien sy dat die boom se vrugte mooi is om na te kyk en begeerlik was. Geen wonder dat baie mense begeerte as die “moeder van alle sondes” sien nie. Die probleem met begeerte is nie net begeerte per sé nie, maar die manier waarop dit oorsprong gee aan baie ander sondes. Dit maak dat ons ons naaste haat in plaas van liefhet; om hom te verag in plaas daarvan dat ons hom voorspoed toewens. Begeerte beroof ons van vrede en vreugde. En uiteindelik haat ons God, want ons glo dat Hy daardie dinge wat ons so begeer, vir ons ontsê.

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (5)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (5) – Jan van der Watt

Kyk of jy kan sien hoe episode 3  klem op bogenoemde boodskap lê…………………………………………

 

Jesus preek oor sy preke en die effek wat preke op mense moet hê (4:1-34):

  • Saaier… saai Woord (4:1-25)
  • Saad groei vanself (4:26-30)
  •  


op verskillende maniere. Jesus se preke bevestig deur wonders.

  • Stilmaak van die storm deur Jesus se woorde en geloof (4:35-41)
  • Die besetene van Gadara en geloof (5:1-20)
  • Onvoorwaardelike geloof deur ‘n onbekende vrou (5:21-43)

 

 


Die Koninkryk kom deur die woorde van Jesus wat geglo moet word. En ‘n mens kan maar glo, want kyk net wat doen Jesus alles. God werk in en deur Hom.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (2) – Adrio König

8.1.2 Israel

Israel was in ’n unieke verhouding met die Here. Hulle het in ’n besondere sin hulle hele bestaan aan Hom te danke. Hulle is geroepe om soos Hy heilig te lewe (Lev 11:44, 45), wat onder andere beteken het om afgesonder van die heidene te leef sodat hulle nie aan die heidene se sonde sou deel hê nie, veral aan hulle afgodsdiens. Die verbod op ondertrouery met ander volke is ’n goeie voorbeeld. Dit sou Israel deel gegee het aan die sonde van hierdie volke. Die ondergang van koning Salomo deur sy baie heidense vroue is ’n klassieke voorbeeld.

Daarom was daar in die geskiedenis van Israel baie bepalings oor wie deel van die volk mag word (Deut 23:2-8; Rig 2:1-3:6), en ná die terugkeer uit die ballingskap selfs die insident toe al die vreemde vroue en hulle kinders weggestuur is (Esra 10). Van die begin van hulle bestaan was ander volke vir hulle ’n bedreiging. In Egipte moes hulle veg vir hulle lewe. By die intog in Kanaän in moes hulle volke voor hulle verdryf om ’n land te kry. En die bedreiging deur vyandige volke het nooit opgehou nie.

 

Eintlik het dit ná Dawid hoe langer hoe erger geword sodat hulle in die eeue voor Christus omtrent nooit ’n vry volk was nie. Ook in Jesus se tyd was hulle onder Rome se heerskappy. Dit is dus begryplik dat daar in die Ou Testament sterk uitsprake teen vreemde volke is. Hulle is as ’n dodelike bedreiging beskou, veral vir Israel se verhouding met die Here. In Deuteronomium is daar voorbeeld op voorbeeld van hoe Israel tydens die intog in Kanaän die volke moes uitwis (7:15-26; 25:17-19). Dit is dan ook nie vreemd nie dat daar hoe langer hoe meer sterk oordeelsuitsprake teen die volke kom. Die Here sal die konings van die aarde “bymekaar bondel en in ’n gat toesluit”, “die volke gaan ’n kalkbrandery word, hulle gaan aan die brand gesteek word soos afgekapte doringbosse” (Jes 24:22; 33:12). Sommige profete het hoofstukke vol oordeelsuitsprake teen bepaalde volke (Jes 13-23; Jer 47-51).

 

Dit is dus begryplik dat Israel hoe langer hoe meer uitgesien het na die koms van die Messias, ’n koning in Dawid se styl, wat die heerlikheid van Israel sou herstel soos dit in die groot koning Dawid se tyd was. Dit is ook die profesieë wat hulle oor die Messias gehad het.

 

Maar dit bring ’n interessante saak na vore. Selfs in hierdie swaar tye het hulle steeds die perspektief behou dat daar ’n nuwe tyd sou kom, ’n tyd waarin die volke na Jerusalem sou stroom om daar die Here saam met hulle te kom dien, en só deel te ontvang aan die heil. ’n Mens sou eerder verwag dat hierdie perspektief heeltemal sou verdwyn in die lig van hulle swaar geskiedenis met ander volke. Maar hierdie perspektief op die ander volke was diep in hulle geskiedenis ingegraveer. Hulle het dit saamgebring van die tyd van hulle stigters, Abraham en Sara, af. Toe die Here Abraham geroep het, het Hy hom nie uit sy heidense familie weggeneem om sy familie en die ander volke te vergeet nie. ’n Wesenlike deel van die belofte aan Abraham was: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen 12:3).

 

Dit het meegebring dat Israel in beginsel ’n oop volk was, en dat vreemdelinge toegang tot hulle volkslewe kon kry. Daar is wel nie baie voorbeelde nie, maar daar was dalk veel meer wat eenvoudig nie opgeteken is nie. Naäman die Siriër word wel nie deel van Israel soos “die menigte mense van ander afkoms”, Ragab, die Gibeoniete en Rut, nie (2 Kon 5; Eks 12:38; Num 11:4; Jos 6:25; Jos 9; Rut), maar hy aanvaar die Here as sy God wat hy terug in sy eie land sal gaan dien.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König