Praat, Here, u dienaar luister!

“The church becomes irrelevant when it becomes purely a human creation. We are not all we were made to be when everything in our lives and churches can be explained apart from the work and presence of the Spirit of God.” – Francis Chan

Praat, Here, u dienaar luister!

Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!” En Samuel sê: “Spreek, Here, u dienaar luister!” (1 Samuel 3:10)

Ek moet bid dat die Here my leer om te luister. 

Die wêreld is so besig en raas so baie en my ore is al moeg van al die klanke wat gedurig op my aanrol. Gee my die insig van die jong seun Samuel toe hy gesê het: Praat, Here, u dienaar luister. Gee my die vermoë om te hoor as U in my hart praat. Laat ek gewoond word aan die klank van u stem – ook as die klanke van hierdie aarde stil word. Al wat dan oorbly is die klanke van u stem wat praat. Amen.

Hierdie is ‘n gebed van A. W. Tozer uit sy boek: The Pursuit of God

 




‘n Gebrekkige boodskapper met ‘n volmaakte boodskap

The Christian’s life in all its aspects—intellectual and ethical, devotional and relational, upsurging in worship and outgoing in witness—is supernatural; only the Spirit can initiate and sustain it. So apart from him, not only will there be no lively believers and no lively congregations, there will be no believers and no congregations at all.” – J. I. Packer

‘n Gebrekkige boodskapper met ‘n volmaakte boodskap

En my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel (2 Kronieke 7:14).

Ek dink ons almal sal saamstem dat ons land ‘n herlewing nodig het. Natuurlik kan ons nie ‘n herlewing bring nie, maar ons kan bid vir een. Dit is wat ons ook in bogenoemde vers lees – God sê vir sy volk om berou te hê en te bid.

 

Jona gaan na Nineve met ‘n duidelike boodskap: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes (3:4). In hierdie boodskap is daar geen belofte van vergifnis nie – God se liefde word glad nie eers genoem nie. Jona sê basies vir hulle dat hulle almal gaan sterf. Hierdie boodskap het Jona glad nie gepla nie – hy gee nie om nie.

Maar die mense glo vir Jona en toon berou – hulle vas en trek rouklere aan.  Selfs die koning trek rouklere aan en gaan sit op ‘n ashoop. En dan lees ons: Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie (3:10).

Hierdie was seker die grootste herlewing in die geskiedenis van die mensdom. En dit het alles met ‘n  boodskap gebring deur ‘n gebrekkige boodskapper begin. Ons is almal gebrekkige boodskappers, maar ons het ‘n volmaakte boodskap om te bring – die goeie nuus van Jesus Christus. Anders as Jona kan ons vir mense sê dat God hulle liefhet en dat Hy hulle sal vergewe. Ons moet ook vir hulle sê dat as gevolg van hulle sonde hulle los van Hom staan. As hulle hulle rug op hulle sonde draai en hulle geloof in Jesus Christus plaas, kan hulle vergewe word.

Ons kan nie ‘n herlewing teweeg bring nie, maar ons kan vir een bid. Ons is gebrekkig, maar ons het ‘n volmaakte boodskap. Die uitdaging vir ons is: Moenie jouself isoleer nie – infiltreer.




Is besig wees ‘n dwelmmiddel?

Trying to do the Lord’s work in your own strength is the most confusing, exhausting, and tedious of all work. But when you are filled with the Holy Spirit, then the ministry of Jesus just flows out of you.” – Corrie Ten Boom

Is besig wees ‘n dwelmmiddel?

Vir baie mense is besigwees ‘n dwelm en verdedigingsmeganisme. Hulle gebruik besigwees om hulle veilig te hou of gebruik dit as verskoning waarom hulle sekere dinge nie gedoen het of sleg gedoen het.

 

Wat doen mense as die spanning te veel word? Sommige isoleer hulle – hulle keer na binne; ander val terug op ‘n gewoonte waarmee hulle vantevore gesukkel het – hulle eet; ander word kwaad. Ander mense hou hulle besig. Mense wil graag besig wees, want dit laat hulle voel dat hulle bekwaam is of hulle wil nie verveeld wees nie of hulle haat die stilte. As ek besig is, hoef ek nie te dink aan wat iemand vir my gesê het nie. In werklikheid is ek besig om weg te hardloop. En ek gebruik my besigwees as verskoning waarom ek dalk nie sal slaag nie of dalk nie die verhoudings bou wat ek behoort te doen nie.

Besigwees is ‘n dwelm om my af te stomp en ‘n verdediging om my veilig te hou. Dit werk, maar afstomping en veiligheid is nie juis die woorde wat ek in die lewe wat ek graag wil lewe, wil hoor nie.  Ek wil meer hê. Uitputting is tog nie iets om na te streef nie; uitputting is tog nie ‘n statussimbool nie.

Hoe sal my lewe wees as ek besigwees sien vir wat dit is en dit verwerp?




Hoe vra ek om verskoning?

“There is no use in running before you are sent; there is no use in attempting to do God’s work without God’s power. A man working without this unction, a man working without this anointing, a man working without the Holy Ghost upon him, is losing time after all.” – D.L. Moody

Hoe vra ek om verskoning?

Ons het onlangs gesien hoe bekende figure soos Arnold Schwarzenegger, Lance Armstrong, Tiger Woods, David Petraeus …  om verskoning vra. Natuurlik het ons baie agting vir mense wat hulle foute voor ander erken. Maar ons is ook sinies, want dikwels voel ons dat dit nie werklik ‘n verskoning was nie. Hierdie openbare mea culpa (skulderkentenis, boetedoening) klink goed, maar hulle het nie die komponente van ‘n opregte verskoning nie.  Die kerk doen nie veel beter nie. Ons probeer ons verkeerde optrede regpraat in plaas daarvan dat ons dit erken en daarvoor verskoning vra – ‘n nie-verskoning verskoning.

 

Die konsep van verskoning is algemeen in die Nuwe Testament. Ons kry voorbeelde in die Skrif om dit goed te doen en ons leer dat ‘n verskoning meer as ‘n perskonferensie is. Luister na wat Jesus in sy bergrede sê:  As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe (Matteus 5:23 – 24).

  • Die verantwoordelikheid lê by my – as ek agterkom iemand het iets teen my, moet ek gaan vrede maak.
  • Selfnadenke is die sleutel – as dit my byval. Dit beteken ek moet tyd maak  om te bid en vas te stel of ek nie dalk iemand seergemaak het nie. Dit beteken nou nie ek moet die hele dag tob of aanmekaar verskoning vra nie. As jy selde sê “ek is jammer,” is dit tyd vir selfondersoek.
  • Vertel die waarheid as jy gekonfronteer word voordat jy vrede maak. Paulus sê reguit: Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam (Efesiërs 4:25). Ons is geneig om leuens te vertel, want ons vrees die gevolge as ons eerlik sou wees. Maar die waarheid sal seëvier – al neem dit partykeer lank.
  • Moenie uitstel nie.  In Efesiërs 4:25 – 26 sê Paulus vir ons om nie die dag kwaad af te sluit nie –  Moenie die duiwel vatkans gee nie. As jy uitstel word die kloof net al hoe groter.
  • Aanvaar volle verantwoordelikheid. Ons is geneig om die verantwoordelikheid na ander af te skuif – veral na die persoon wat iets teen ons het.
  • Woorde is belangrik – wees spesifiek. Hoe meer spesifiek jy is, hoe makliker is dit om jou te vergewe.
  • Onthou jou stemtoon is net so belangrik soos jou woorde.
  • ‘n Verskoning van aangesig tot aangesig werk beter – veral as daar oogkontak is. Dit mag vernederend wees, maar dit is beter.
  • Moenie die ander persoon se reaksie probeer beheer nie. Laat hom toe om sy seerkry, teleurstelling uit te spreek. As jy hulle reaksie sien, mag dit jou verhoed om weer dieselfde fout te maak.
  • Werk na versoening. Vra byvoorbeeld: “Is daar iets wat ek kan doen om ons verhouding weer reg te stel?” As jy vra, moet jy bereid wees om te doen wat gevra word.

‘n Egte, proaktiewe verskoning het die krag om dialoog weer te herstel en heling te bring. As volgelinge van Jesus Christus laat ons die standaard stel vir wat dit beteken om waarlik om verskoning te vra.