Die Bybel: Hoekom het God die Bybel vir ons gegee?

No man who is full of himself can ever truly preach the Christ who emptied himself. –J. Sidlow Baxter

Die Bybel: Hoekom het God die Bybel vir ons gegee?

Hoekom het God besluit om met ons te praat?

 

  • Sodat ons van Hom kan leer. God openbaar Homself in die Bybel aan ons – Hy openbaar sy karakter en sy eienskappe aan ons deur vir ons sy soewereine optrede dwarsdeur die geskiedenis te beskryf. Hy wil hê dat ons sekere dinge van Hom moet weet. In die Bybel leer ons van sy mag, geregtigheid, barmhartigheid, toorn, heiligheid, deernis, ens. Hy word volledig in die Bybel beskryf. Daarom is dit nie nodig dat ek my eie prentjie van Hom moet ontwikkel nie. God wil hê dat daar geen wanbegrip oor Hom moet wees nie.
  • Om oor onsself en die wêreld waarin ons leef, te leer. Waar kom ons vandaan? Hoekom is die wêreld in die toestand waarin hy is? Waarheen is ons en die wêreld op pad? Die Bybel antwoord al die belangrikste lewensvrae – nie net sogenaamde godsdienstige waarhede nie. Die Bybel beskryf akkuraat die wêreld waarin ons woon – God het immers self die wêreld gemaak.
  • Om ons in staat te stel om goddelike lewens te lei. Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag (2 Petrus 1:3). As ons God ken, het ons alles wat ons nodig het vir ‘n goddelike lewe. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Hier spel Paulus die doel waarom ons die Skrif moet bestudeer duidelik uit. Onthou altyd die waarskuwing van die skrywer van die Hebreër-boek: Die woord van God is lewend en kragtig. Die is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (4:12).
  • Om ons verhouding met God te fasiliteer. Elke verhouding het kommunikasie nodig waarin die mens sy gedagtes, emosies, kommer en drome uitdruk. Dieselfde geld vir ons verhouding met God. In die Bybel deel God sy gedagtes en begeertes met ons. Hy het vir ons 66 boeke gegee sodat ons Hom beter kan leer ken. As ons die Bybel lees, luister ons na God se stem en word ons verhouding met Hom versterk.
  • Om Jesus Christus te verheerlik. Alle gebeure in die Bybel wys na God se Seun. Alles is geskryf om Jesus Christus te verheerlik.  Ons lees dus die Bybel om Jesus Christus in ons lewens te verheerlik.
  • Om ons vir ons Godgegewe roeping voor te berei. Reeds in Genesis 2:15 lees ons dat God die mens in die tuin laat bly het om dit te bewerk en op te pas. In Genesis 12 kry Abraham sy roeping van God. Ons is nie hier in die wêreld net om ons eie persoonlike verhouding met God te geniet nie – ons is ook hier as God se dienaars en ambassadeurs: Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen (2 Korintiërs 5:20). Ons is mede-arbeiders van God. Ons kry ons opdragte van God – in die Bybel. Hoekom is ons hier? Hoe word ons deel van dit wat God besig is om op aarde te doen? Die Bybel antwoord al hierdie vrae … as ons net bereid is om te lui ster.

Dit bring ons by ‘n belangrike vraag: Kan ek die Bybel verkeerd lees? Daarna kyk ons volgende keer.




Die Bybel: Hoe bestudeer ek die Bybel?

There are no problems we cannot solve together, and very few that we can solve by ourselves. ~Lyndon B. Johnson

 Die Bybel: Hoe bestudeer ek die Bybel?

[Die idee is nie om volledig te verduidelik hoe ons die Bybel moet lees nie, maar net om enkele gedagtes uit te lig. Daar is dik teksboeke wat vir ons vertel hoe om die Bybel te interpreteer.]

Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:20). Dit is deel van Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels. As ons dit wil doen, moet ons Jesus se onderrig en beloftes ken. Maar waar kry ons dit? In die Bybel.  

Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry (1 Petrus 2:2). Dit is duidelik dat gelowiges op die Skrif moet vertrou vir geestelike oorlewing en groei.

Die Bybel is die woord van God. Wat beteken dit? Dit is iets wat God vir ons geskryf het. Ons kan dit sien as ‘n stem uit die hemel wat met ons praat. As die Bybel dan die woord van God is, moet dit tog elke aspek van my lewe vorm en elke besluit rig. Alles goed en wel, maar ek moet steeds weet hoe om die Bybel te hanteer – op die regte manier en vir die regte motiewe.

Hoekom lees ek die Bybel? Kom ons kyk na drie verkeerde redes om die Bybel te lees.

  • Ek voel skuldig. Ek weet ek is veronderstel om die Bybel te lees en daarom doen ek dit. Dit is ook hoekom sommige mense eredienste bywoon.
  • Status. Mense respekteer mense wat die Bybel goed ken. Natuurlik moet ons die Bybel goed ken, maar hoekom is dit nodig? Om slim te lyk? Om as die mees geestelike persoon in die kamer erken te word? Ek lees die Bybel, want ek het ‘n begeerte om God beter te leer ken; om deur sy Woord verander te word; om mense om ons lief te hê en te dien. Om die Bybel te lees om “beter” as iemand anders te wees, is verregaande.
  • Die Bybel is ‘n bron van leermateriaal. Hierdie is ‘n baie subtiele wangebruik van die Bybel. Natuurlik is dit noodsaaklik om die Bybel hiervoor te gebruik – die voorbereiding van preke, voorbereiding vir Bybelstudie … Die probleem is as ons dikwels die Bybel slegs as ‘n bron van studiemateriaal sien. Ons moet die Bybel lees om te luister wat God vir ons wil sê en leer. Daarom moet ons toelaat dat die Bybel ons op allerhande onverwagse maniere verander.

Dit bring ons by ons volgende vraag: Hoekom het God die Bybel vir ons gegee?




Die Bybel is ‘n verhaal!

If words are to enter men’s minds and bear fruit, they must be the right words shaped cunningly to pass men’s defenses and explode silently and effectually within their minds. -J.B. Phillips, skrywer en predikant (1906-1982)

 Die Bybel is ‘n verhaal!

Die Bybel vertel vir ons ‘n verhaal. Die Bybel is nie ‘n gefragmenteerde skatkis van geskiedenis, poësie en etiese riglyne nie. Dit is ‘n ware verhaal wat betekenis aan ons lewens gee – aan ons daaglikse lewe. Hierdie verhaal is nog nie afgehandel nie. Die boek Openbaring sê vir ons hoe hierdie verhaal gaan eindig, maar ons is nog nie daar nie.

 

Elkeen van ons het ‘n rol te speel in hierdie verhaal. Ons sal hierdie rol slegs kan vervul as ons hierdie verhaal as die waarheid aanvaar. As ons dit doen, gaan ons hele lewe deur hierdie verhaal verander  en gevorm word. Hierdie is die verhaal van God, die wêreld wat Hy gemaak het en sy ongelooflike verlossingsplan.

Hierdie verhaal begin by Genesis 1 en 2. Dit is die fondament waarop die res van die Bybel gebou word. Hier lees ons van die wêreld soos hy veronderstel was om te wees. God het hierdie wêreld gemaak soos Hy dit graag wou hê: sonder sonde, volmaak en alles wat Hom verheerlik.

 Ek wil ‘n paar blogs gebruik om iets oor hierdie Bybel te sê. Daar is veral drie vrae wat ek wil hanteer:

  • Hoe bestudeer ek die Bybel?
  • Hoekom het God die Bybel vir ons gegee?
  • Kan ek die Bybel verkeerd lees?

Volgende keer kyk ons na die eerste vraag: Hoe bestudeer ek die Bybel?

 




Deelname is die nuwe uitmuntendheid

It is evident that our conversion is sound when we loathe and hate sin from the heart. –Richard Sibbes

 Deelname is die nuwe uitmuntendheid

As jy wil sien dat mense geestelik groei, moet jy maniere ontwikkel om hulle te laat deelneem. Deelname beteken nie net dat ek hulle by bestaande gemeenteprogramme inskakel nie. Nee, ons moet hulle toerus sodat hulle kan sien wat God besig is om rondom hulle te doen en hulle dan aan te moedig om by God in daardie werk aan te sluit.

 

 Prestasie teenoor deelname

Uitmuntendheid is dié prioriteit vir baie bedienings. Doen jy dit nie beweeg mense na ‘n ander kerk met beter programme. Maar uitmuntendheid kan probleme skep.  Lê ons al ons klem op uitmuntendheid kan mense begin dink dat die gemeente die voorsiener van godsdienstige dinge en dienste van die hoogste kwaliteit is. Lewer net ‘n uitmuntende geestelik produk en jy sal mense trek. Maar wat gebeur as jy hulle nou het? Deur die klem op uitmuntendheid te plaas, kondisioneer ons mense om kritiese verbruikers van godsdienstige sake en dienste te word. Ons leer hulle om te verbruik … nie om deel te neem nie.

 Maar Jesus roep ons nie om verbruikers te wees nie – Hy roep ons om deelnemers te wees met dit waarmee Hy in hierdie wêreld besig is. Sonder deelname kan ons nie groei as volgelinge van Hom nie. Deur passief ons geloof te ontvang, beteken dat ons geen geestelike spierkrag opbou nie. Jy kan nie jou geestelike groei uitkontrakteer aan leraars nie. Dit is iets wat net jyself kan doen. Daarom moet gemeentes ruimte skep vir lidmate om deel te neem anders gaan ons hulle geestelike groei afstomp.

 Deelname is die nuwe uitmuntendheid. Aktiewe deelname is die enigste manier waardeur betekenisvolle deelname sal groei. Deelname  versterk mense se geloof in God, want hulle besef hulle speel ‘n noodsaaklike rol in die werk wat God besig is om te doen. Die vraag wat kerkleiers moet vra, is: Hoe kan ek lidmate se deelname verhoog? Hoe kan ek lidmate van verbruikers na deelnemers, van passiewe toeskouers na dissipels, skuif? Die ideaal is ‘n gemeente waar elkeen aan God se sending deelneem.