‘n Leser vra:
Prof Hermie het in sy vorige antwoord* onder andere gesê restitusie is om heling te bring in ’n verhouding, nie verdere verwydering deur die ding wat in die eerste plek die probleem veroorsaak het nie. As mens flirtasies gehad het op geselslyne met ander vroue, sommige ontmoet het vir koffie maar nie intiem was nie – moet mens dit vir jou vrou vertel? Daar is soveel onsekerheid hieroor omdat daar nie in die kerk baie hieroor gepraat word nie. Kan mens nog steeds vrede met God hê indien jy dit nie sou bely teenoor jou vrou nie, omdat jy nie die verhouding skade wil berokken nie? Sommige sê jy leef met ’n geheim, dus in oneerlikheid. Hoe hanteer mens dit? Dit maak my siek omdat ek vir God reg wil lewe, maar ek wil nie my huwelik en ook my familie verder in die gedrang nie.
*Soek op Bybelkennis.co.za se webblad die term “restitusie” (skrywer Hermie van Zyl) om die volledige antwoord te lees.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Voordat ek ons vraagsteller probeer antwoord, plaas ek eers die relevante gedeelte uit my vorige antwoord waarna hy verwys:
“Restitusie is ’n daad van genesing en vreugde. Restitusie moet nie méér wonde en ongelukkigheid veroorsaak as wat die verkeerde ding wat ek wil herstel in die eerste plek veroorsaak het nie. Dan trek dit ’n streep deur die oogmerk van restitusie, naamlik om genesing en herstel in verhoudinge te bring wat voorheen deur ons sonde vertroebel is. ’n Mens moet daarom met wysheid te werk gaan, want restitusie kan onbedoelde, slegte dinge tot gevolg hê. Restitusie moenie ou wonde oopkrap of nuwes veroorsaak wat weer nuwe spanning in verhoudings kan bring, net sodat jy beter kan voel oor jou verlede nie. Nee, per slot van sake leef ons uit God se genade en vergifnis, nie uit die verdienste van ons goeie dade van restitusie nie.”
Dit is duidelik dat ons vraagsteller se huidige wroeging spruit uit die feit dat hy nie met ’n geheim wil saamleef wat hom herinner aan sy verlede nie. Hy het gebreek met sy dubbelhartige lewe van vroeër waarin daar allerlei flirtasies met ’n paar vroue was waarvan sy vrou niks weet nie. Hy glo wel dat God hom daarvoor vergewe het, maar nou wil hy ook oop en eerlik met sy vrou daaroor wees, daar moet geen geheime meer wees nie. Hy vrees egter dat as hy dit teenoor sy vrou sou bely, dit groot ongelukkigheid kan veroorsaak, moontlik die verhouding permanent beskadig, selfs op ’n egskeiding kan uitloop (as sy vrou hom nie vergewe nie). En dit wil hy ten alle koste verhoed. Maar aan die ander kant voel hy weer dat as hy dit nie bely nie, hy nie volkome oop en eerlik met haar is nie, en hy wil nie weer daardie pad van skynheiligheid loop nie; dit voel nie reg nie; dit vloek teen alles wat hy hom voorgeneem het om in die toekoms nie meer te wees nie. Hy het skoongemaak teenoor God, en het vergifnis ontvang – waarom nie ook skoonmaak teenoor sy vrou nie? Verder, hy wil nie met die spreekwoordelike swaard van Damokles oor sy kop leef nie, want sê nou maar sy flankeerdery kom vorentoe aan die lig, dan moet hy dit in elk geval aan sy vrou bely. Waarom dit nie nou doen en klaarkry nie? Dan is die lug gesuiwer en kan hy in vrede voortgaan met sy lewe, sonder hierdie geheime.
Hoe nou gemaak? Daar is nie ’n eenvoudige antwoord nie, maar die volgende opmerkings mag help:
Eerstens, dit is ’n vraag of ons werklik met restitusie te doen het indien ons vraagsteller sy vorige flirtasies met ander vroue, teenoor sy vrou sou bely. Restitusie gaan meer oor die regstel van ’n onreg van die verlede wat bekend is. Almal is bewus van die onreg, of ten minste die een teen wie die onreg gepleeg is; dis geen geheim nie. Dink aan die voorbeeld van Saggeus in die Bybel (Lukas 19:1-9): die handeling waardeur hy geld onregmatig van mense afgepers het, is bekend aan die betrokkenes. Nou het Saggeus berou daaroor en probeer hy hierdie onreg regstel deur daardie mense vierdubbeld te vergoed. Maar in ons vraagsteller se geval is die onreg wat hy aan sy vrou gedoen het deur met ander vroue te flankeer, nie aan sy vrou bekend nie. Net hy weet daarvan (en natuurlik God en die ander vroue ook). Dit lê dus nie heeltemal op dieselfde vlak as overte en bekende onregte van die verlede wat ten hemele skrei en roep om restitusie nie. Daar is gevolglik nie ’n voor die hand liggende noodsaak tot herstel nie, ten minste nie vanuit die vrou se perspektief nie. Die behoefte van ons vraagsteller om van sy slegte gewete oor dié saak ontslae te raak, kan ook op ander maniere hanteer word, wat my by die volgende gedagte bring.
Tweedens, waarheid en feite is nie altyd dieselfde ding nie. Voorbeeld: om vir iemand in sy gesig te sê dat hy lelik is, is miskien feitelik korrek, maar dis nie wat die Bybel waarheid sou noem nie. Volgens die Bybel moet ons in liefde met die waarheid omgaan (Efesiërs 4:15). Waarheid is nooit iets kil, afgetrokke en klinies nie. Waarheid en liefde gaan altyd hand aan hand. Dit dien daarom nie die waarheid om blindelings in ’n situasie in te storm en “kliniese feite” aan die groot klok te hang nie. Jy mag miskien goed voel oor jouself om alles in die oopte te kry, maar agterna mag dit blyk dat so ’n oopvlek van die feite meer skade as goed gedoen het – omdat die waarheid nie in die sagte handskoen van die liefde toegedraai is nie. Bybelse waarheid gaan immers nie primêr oor die naakte feite nie, maar wil uiteindelik ’n beter situasie daarstel as wat daar voorheen was. Natuurlik vra dit wysheid, insig en diskresie om te besluit wanneer al die feite bekend gemaak moet word en wanneer ter wille van die groter waarheid sekere feite verswyg moet word. En ek wonder of in ons vraagsteller se geval dit nie gerade is om eerder die feite van sy flankering met die liefde te bedek en daar te laat nie. 1 Korintiërs 13:7 en 1 Petrus 4:8 sê nie verniet nie dat die liefde alles bedek, ook menigte sondes. So ’n keuse het myns insiens niks met oneerlikheid te doen nie, maar juis om in liefde met die feite om te gaan. Na alles het ons vraagsteller kennelik gebreek met sy sondige verlede, daarvoor vergifnis ontvang by God en loop hy nou ’n nuwe pad. Wat my by die volgende gedagte uitbring.
Derdens, die beste manier waarop ons vraagsteller die situasie kan hanteer, is om sy verlede dood te leef met ’n lewe van liefde en trou. Hoe meer hy wegbeweeg van ’n agteraf gekonkel met ander vroue en hom toewy aan sy vrou, hoe meer sal die skuldgevoelens oor die verlede ook die wyk neem. Want ons oorwin nie die verlede deur voortdurend te tob oor alles wat ons verkeerd gedoen het nie, maar eerder deur daardie gevoelens te vervang met die goeie en die regte wat ons nóú doen. Ek bedoel, Petrus het die keuse gehad: hy kon hom sy lewe lank verknies oor hy Jesus drie maal verloën het, of hy kon hom toewy aan sy taak wat die Here aan hom opgedra het: om die Here se skape op te pas (Johannes 21:16-17). En as mens na die verdere geskiedenis van Petrus kyk, is dit duidelik dat hy laasgenoemde gekies het. En dis die pad wat elkeen van ons ook moet loop. Of ons sondes van die verlede nou bekend is of nie, ons moet dit bely, God se vergifnis daarvoor aanvaar en vorentoe leef. Dis die enigste volhoubare manier om met ’n slegte verlede te handel. Ook Paulus het gesê dat hy vergeet wat agter is en hom uitstrek na wat voor is (Filippense 3:13).
Ten slotte, die bekendmaking, al dan nie, van sy flankering met ander vroue bly einde ten laaste ’n besluit wat ons vraagsteller self moet neem, in die lig van hoe hy die situasie beoordeel. As hy voel hy kan nie met hierdie kennis saamleef nie, dat dit hom opvreet, moet hy dit teenoor sy vrou bely. Maar dit kan onbedoelde slegte gevolge inhou. As hy egter besluit om hierdie inligting van sy vrou te weerhou, is dit myns insiens ook ’n Christelike weg om te volg. In die lig van my verduideliking hierbo hoef hy nie te voel dat hy ’n oneerlike verhouding met sy vrou het nie. Volgens my verstaan van die evangelie dink ek nie dat ons vraagsteller verplig hoef te voel om ten alle koste al die feite bekend te maak nie. Hy kan nog steeds met integriteit voortgaan met sy huwelik, sonder om te voel dat hy huigel. Ter versterking van die nie-bekendmaking van sy vorige flirtasies is ook die gedagte dat ’n mens partykeer bloot ’n las wil deel om dit vir jouself ligter te maak, sonder om aan die groter prentjie te dink. Want onthou, deur vir sy vrou te vertel, word sý ook belas met iets waaraan sy geen deel gehad het nie. Is dit regtig die moeite werd? Gedeelde kennis kan goed uitwerk, maar ’n mens weet nooit vooraf hoe die ander een gaan reageer nie. Dit hang baie af van wie die persone betrokke is, die aard van hulle persoonlikhede en hoe hulle op trouma reageer. ’n Mens moet ’n fyn insig hierin hê. Partykeer is dit net beter om jou las alleen te dra, sonder om ander ook daarmee te beswaar. Ja, dis vir lank ’n doring in die vlees, maar soos Paulus moet ons ook glo dat God se genade vir ons genoeg is (2 Korintiërs 12:7-9). Maar ek begryp dat ons hier met ’n grensgeval-situasie te doen het en dat nie almal dieselfde soort besluit sal neem nie. Ons moet dus mekaar se keuses hierin respekteer.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl