Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (4) – Adrio König
7.2.6 Die uitstorting van die Gees
Op die Pinksterdag toe die Gees gekom het, preek Petrus (Hand 2:16 ev) met sy teks uit Joël 2:28-32. Hy sien hierdie profesie vervul in die uitstorting van die Gees. Hy haal inderdaad ook die hele profesie aan, iets wat Matteus nooit doen nie. Matteus haal net dié deel aan wat volgens hom vervul is. Die profesie in Joël gaan oor die koms van die Gees. Dit sal gepaardgaan met baie opvallende verskynsels.
- Seuns en dogters profeteer
- Bejaardes droom
- Jong mans sien visioene.
- Tekens in die hemel en op die aarde: bloed, vuur, rookwolke.
- Sonsverduistering, bloedrooi maan.
Is hierdie profesie nou letterlik vervul in die koms van die Gees? Wel, geeneen van die opsienbarende natuurverskynsels is vervul nie, en ook niks van die oorlogsimbole (bloed, vuur, rookwolke) nie. Op die Pinksterdag self, die geleentheid waarin Petrus die vervulling van Joël sien, kry ons net die koms van die Gees wat inderdaad deel van die profesie is. Later was daar natuurlik wel mense wat geprofeteer het en visioene gesien het. Maar dit is nie die punt wat Petrus maak nie. Hy sê nie met die uitstorting van die Gees is begin met die vervulling van die profesie van Joël, en dat die ander dinge later geleidelik sou volg nie. Die uitstorting is volgens hom sonder meer die vervulling.
Ons het dus dieselfde situasie as by Matteus: Daar is een punt van ooreenkoms, en dit is vir Petrus genoeg om dit aan te kondig as die vervulling van die profesie van Joël wat hy in sy volle omvang aanhaal. Maar ons sou nooit eens naastenby uit die profesie kon aflei hoe dit vervul sou word nie.
7.2.7 Die sending
Die laaste vervulling van ’n profesie waarna ons kyk, kom uit die mond van Jakobus (Hand 15:15-17). Hy verwys na die profesie in Amos 9:11-12.
Die situasie in Handelinge 15 is die eerste “sinode” van die vroeë kerk waar die probleem bespreek word van Paulus se sendingwerk onder heidene. Paulus het nie van hulle verwag om die Ou-Testamentiese wette te hou soos die Sabbat en die besnydenis nie. Sy boodskap was dat hulle net deur die offer van Christus gered word as hulle hulle vertroue in Hom stel. Maar sommige Joodse Christene wou hê dat hulle ook net soos die Jode die hele wet moes hou, en veral dat hulle ook besny moes word. Na bespreking tree Jakobus uiteindelik na vore en steun die posisie van Paulus. Sy punt is dat God deur Paulus werk en besig is om vir Hom ’n volk uit die heidennasies te versamel. En volgens hom getuig die profete van ouds al daarvan. Om dit te bevestig, haal hy dan Amos 9:11-12 aan. Jakobus se weergawe van Amos ondersteun sy punt baie sterk: Die Here sal Israel herstel (waarskynlik in die terugkeer uit die ballingskap), “sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen.” Waar is die probleem dan? By die opvallende verskille tussen Amos 9:11-12 en die wyse waarop Jakobus dit in Handelinge 15:15-17 aanhaal. Hier is die relevante dele uit die twee boeke:
Amos 9:12 Handelinge 15:17
Sodat my volk die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is, sodat al die mense die Here kan soek oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is (Amos 9:12) ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees sê die Here wat hierdie dinge doen (Handelinge 15:17). Amos gee ’n oorlogsprofesie: Israel sal sy ou vyand Edom oorwin, en trouens ook al die ander nasies oor wie die Here se Naam uitgeroep is. Die laaste frase beteken die nasies op wie die Here klaar beslag gelê het.
Jakobus maak daarvan ’n sendingteks: al die heidene wat die Here geroep het, sal Hom soek. Hoe werk dit? Nogeens moet ons onthou dat Jakobus en die vroeë Christene ’n “ander” Ou Testament gelees het as ons Ou Testament, naamlik die Septuagint, en dit is waar Jakobus hierdie vreemde bewoording van Amos 9 gekry het. Ons het reeds verwys na die feit dat die Septuagint nie ’n akkurate vertaling was van die Ou Testament, die sogenaamde Masoretiese teks waaruit ons huidige Ou Testament vertaal is, is nie. Die vertalers van die Septuagint het onder andere twee dinge
gedoen:
- Om tekste wat nie met die Messias te doene gehad het nie, so te vertaal dat dit wel met Hom in verband gebring kon word.
- Om tekste wat oor die nasionale belange van Israel handel, te verander na sendingtekste.
En dit is presies wat met Amos 9:11-12 gebeur het. In die Hebreeus (soos in ons Afrikaans) is dit ’n profesie wat aan Israel ’n oorwinning beloof oor een van sy aartsvyande. Maar die Septuagint het dit vertaal soos dit nou in Handelinge 15:17 staan – ’n sendingteks. En dit is dan wat Jakobus gebruik in sy argument ten gunste van Paulus se sending onder die heidene. Hy kies dié weergawe van Amos 9:12 waarmee hy sy punt die beste kan maak. Van die vervulling van Amos 9:11-12 in sy oorspronklike Hebreeuse vorm is daar in Paulus se sendingwerk geen enkele spoor nie. Daar is geen manier hoe ’n mens uit Amos 9, soos dit oorspronklik gelees het, vooraf iets van Paulus se sendingwerk sou kon aflei nie.
Dit lyk dus asof ons die gedagte van die letterlike vervulling van profesieë heeltemal moet prysgee, ook wat profesieë betref wat eers in die toekoms vervul sal word.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer:Prof Adrio König