Moses ontmoet God in ‘n doringbos

You are the most difficult person you will ever lead.” —Bill Hybels

Moses ontmoet God in ‘n doringbos

Moses was besig om sy skoonpa se vee op te pas toe hy ‘n snaakse verskynsel sien (Eksodus 3). Hy sien ‘n doringbos wat aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Hy stap nader om die verskynsel te ondersoek. Maar toe hy naderkom, roep God na hom uit die doringbos. God sê vir hom dat hy sy skoene moet uittrek, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. God openbaar toe sy plan  om sy volk uit Egipte te verlos, aan Moses.

Moses vra toe twee baie belangrike vrae:

 

  • Wie is ek? Hoekom stuur U nou juis vir my?
  • Wie is U? Wat moet ek vir die mense sê as hulle my vra wie my gestuur het?

Hierdie is twee basiese vrae wat elkeen van ons vir onsself moet afvra. My hele lewe – hier, nou en tot in ewigheid – word bepaal deur die regte antwoord  op hierdie twee vrae.

Vraag 1: Wie is ek dat ek dit by die farao sou waag en dat ek die Israeliete uit Egipte sou bevry? God antwoord nie die vraag direk nie, maar sê vir Moses: Ek sal by jou wees. Van die begin af was God se mense bekend as mense by wie Hy is en wat aan Hom behoort. Ons kan nie onsself los van God definieer nie. Dit is sy teenwoordigheid by ons wat ons in staat stel om te doen wat Hy van ons verwag. Glo ons nog steeds hierdie woorde van God:Ek sal by jou wees?

Vraag 2: Wie is U? Wat is sy Naam? Wat moet ek dan vir hulle sê? Dan die verbasende antwoord: Ek is wat Ek is … ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur. God kan Hom nie definieer deur na iets of iemand anders te verwys nie. God het nog altyd bestaan; Hy is wie Hy is van ewigheid af en sal dit altyd wees. Hierdie is ‘n stelling van ‘n absolute wese, absolute mag en van absolute belang. God is wie Hy is en sal nooit verander nie. Hy is nie sommer ‘n generiese god soos die Griekse en Romeinse gode nie. Hy is ‘n spesifieke persoon met ‘n unieke karakter en ‘n spesifieke, spesiale verhouding met sy mense.

Moses het geen idee gehad waarin hy hom begewe het toe hy sy skape gelos het en nader geloop het om te sien hoekom die bos nie uitbrand nie. Hy loop egter in die teenwoordigheid van die lewende God. Daarom wat God hom beveel om sy skoene uit te trek. Toe Moses sien wat werklik aan die gang is, bedek hy sy gesig – God se heiligheid oorweldig hom. Al wat hy kon doen was om te luister en te gehoorsaam.

 




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 16

It is only our bad temper that we put down to being tired or worried or hungry; we put our good temper down to ourselves. –C.S. Lewis

 ‘n Nuwe Kategismus: Vraag 16

Vraag:

Wat is sonde?

 

Antwoord:

Sonde is om God te verwerp of te ignoreer in die wêreld wat Hy gemaak het; om teen Hom in opstand te kom deur sonder enige verwysing na Hom te leef; om nie te doen  of te wees wat Hy van ons in sy wet verwag nie – dit lei tot ons dood en die disintegrasie van die hele skepping. [Die gedeelte wat onderstreep is, is die antwoord vir kinders.]

 

 

Teksvers:

Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God (1 Johannes 3:4)

 

Kommentaar:

Vanaf die oomblik dat ‘n mens van God as God en van homself as self bewus word, word die verskriklike alternatief van kies tussen God en self as middelpunt geopen. Hierdie sonde word daagliks deur jong kinders en onkundige mense gedoen, maar ook deur gesofistikeerde mense – deur mense wat alleen is en mense wat in ‘n gemeenskap lewe. Dit is die val in elke individuele lewe, en in elke dag van elke individu se lewe – die basiese sonde agter alle ander spesifieke sondes. Op hierdie oomblik doen ek en jy dit  of is op die pad om dit te doen of is op pad om daarvoor vergifnis te vra. Ons probeer, as ons wakker word, om die nuwe dag aan God se voete te lê; maar voor ons klaar geskeer het, word dit ons dag en God se deel word gesien as iets wat ons uit ons “eie sak” moet betaal – ‘n aftrekking wat, volgens ons, ons eie behoort te wees.

 

Hierdie kommentaar is deur C. S. Lewis geskryf. Hy was Professor in Engelse literatuur aan die Oxford Universiteit en later die hoof van die Departement Engels aan Cambridge Universiteit. Hy skryf literêre kritiek, kinderliteratuur, fantasieliteratuur en teologie. Hy is veral bekend vir sy werke soos Mere Christianity, The Screwtape Letters, en The Chronicles of Narnia. ‘n Lid van die Anglikaanse Kerk is sy bekering na die Christelike geloof deur sy kollega en vriend J. J. R. Tolkien beïnvloed.

Hierdie kommentaar kom uit The Problem of Pain (New York: HarperCollins, 1940), 70.

 

Gebed:

O Heer, ontneem my nie van my hemelse seëninge nie.

O Heer, verlos my van die ewige straf.

O Heer, ek het in my gedagtes en denke gesondig, in woord en daad, vergewe my.

O Heer, verlos my van die kleinheid van my siel en hardheid van my hart.

O Heer, verlos my van alle versoekings.

O Heer, verlig my hart wat deur bose begeertes verduister is.

O Heer, ek as mens het gesondig: Sal U, as God,  in liefdevolle deernis my vergewe.

O Heer, stuur u genade om my te help om u Naam te verheerlik.

O Heer Jesus Christus, maak my u dienaar in die boek van die lewe.

O Heer my God, alhoewel ek niks goed in u oë gedoen het nie, gee aan my in u genade, die wil om te begin om goed te doen.

O Heer, sprinkel op my hart die dou van u genade.

O Heer van hemel en aarde, dink aan my, u sondige dienaar, koud van hart en onrein, in u koninkryk

O Heer. Ontvang my as ek bely.

O Heer, moenie my verlaat nie.

O Heer, moenie my in die versoeking lei nie.

O Heer, laat ek aan die goeie dink.

O Heer, gee aan my trane, dat ek die dood en ‘n gevoel van vrede onthou.

O Heer, gee aan my die krag om my sondes te bely.

O Heer, gee aan my nederigheid, barmhartigheid en gehoorsaamheid.

O Heer, gee aan my volharding, groothartigheid en teerheid.

O Heer, plant in my hart die wortel van alle seëninge en die vrees vir U.

O Heer, verseker dat ek U met my hele hart en siel kan liefhê en U gehoorsaam in alles wat ek doen.

O Heer, beskerm my teen bose mense en duiwels en passies en alle ander onwettige dinge.

O Heer, U ken u skepping en wat U daarvoor wou gehad het, mag u wil ook in my, ‘n sondaar, vervul word.

U is geseën vir ewig. Amen.

 

Hierdie gebed is deur Johannes Chrusostomos  (347 – 407) geskryf. Hy was die aartsbiskop van Konstantinopel. Gebore in Antiogië kry hy later die naam Chrusostomus, wat “goue mond” beteken, want hy kon so goed preek. Hy word deur beide die Oosters-Ortodokse en Rooms-Katolieke Kerke as ‘n heilige beskou. Hy is bekend vir sy Divine Liturgy of St. John Chrysostom, en sy goot aantal preke – insluitend 67 oor Genesis, 90 oor die Matteus-evangelie en 88 oor die Johannes-evangelie.

Hierdie gebed kom uit “A Prayer by John Chrysostom: According to the Number of the Hours of the Day and Night” (daar is 24 van hulle) in A Manual of Eastern Orthodox Prayers (New York: St Vladimir’s Seminary Press, 1983), 14–15.




Dissipelskap: Die plaaslike gemeente

Miss no single opportunity of making some small sacrifice, here by a smiling look, there by a kindly word; always doing the smallest right and doing it all for love.” Therese de Lisieux

Dissipelskap: Die plaaslike gemeente

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

God se opdrag is dat ons dissipels van al die nasies moet maak. Dit kan ons nie op ons eie doen nie – dit word ook nie van ons verwag om dit op ons eie te doen nie. Ons is deel van die geloofsgemeenskap.

Die kerk moet nie na binne fokus nie. Ons woon in ‘n omgewing wat ons bedreig, maar die kerk is ‘n vuurtoring en nie ‘n bomskuiling nie. Ons kruip nie weg vir probleme nie – ons lei ander daardeur.

Liefde is egter die basis van wat dit beteken om Jesus Christus te volg. En die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:5). Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Interaksie tussen gelowiges behoort deur liefde gekenmerk te word. Dit is hoe die wêreld ons sal herken: Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes14:34 – 35).

Die laaste aand voor sy kruisiging bid Jesus vir sy dissipels. Let net op hoeveel klem Hy op eenheid plaas (Johannes 17:20 – 23). Die eenheid van die kerk sal die wêreld oortuig dat ons waarlik volgelinge van Jesus Christus is.

Hiermee het ons aan die einde van hierdie kort reeks oor dissipelskap gekom.

Dissipelskap: Dra mekaar se laste

All of us are born for a reason, but all of us don’t discover why. Success in life has nothing to do with what you gain in life or accomplish for yourself. It’s what you do for others.” ~ Danny Thomas

 Dissipelskap: Dra mekaar se laste

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

Leraars rus lidmate toe. Hulle doen nie al die werk in die gemeente nie. Maar as ons ander moet dien, vra ons dadelik: Wie? En Hoe?

Bediening klink intimiderend. Ken jy mense wat ‘n stryd met sonde het of wat swaar laste dra? Help hulle. Ons hou nie daarvan om by ander mense se probleme betrokke te raak nie. Maar God roep ons om ander te bemoedig, te help, uit te daag. Jy kan nie wag totdat jy eers al jou eie probleme opgelos het voor jy ander help nie.

In die moderne wêreld soek ons vinnige en maklike antwoorde vir probleme. Ons gaan selde na die hart van ‘n probleem. Is ons bereid om in ander mense se laste te belê? So dikwels sê ons net vinnig: “Ek dink aan jou. Ek bid vir jou.” Dit help hulle nie in die moeilike tyd wat vir hulle voorlê nie. Ons sien dikwels nie die werklike probleem raak nie. Die probleem lê in die hart van die persoon.

Hoe verander ons ‘n persoon se hart? Dit is onmoontlik. Net God kan dit as deel van sy verlossingsplan doen. Die evangelie gaan nie net oor hoe om gered te word nie. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en vir julle ‘n hart van vlees gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom (Esegiël 36:26 – 27).

Dit is die Gees wat iemand lewend maak, die mens self kan dit nie doen nie (Johannes 6:63). Hoe doen God dit? Deur sy woord: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (1 Timoteus 3:16 – 17). Hy doen dit ook deur gebed. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking (Jakobus 5:16 – 17). Ons kan dit so opsom: As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe (Romeine 8:13).

Om mekaar se laste te dra is moeilik, maar dit is nie opsioneel nie. Daarvoor is die kerk daar. God se bedoeling is egter dat die kerk een liggaam moet wees en nie ‘n klomp individue nie. Hy bemagtig ons om die waarheid en transformasie in mense se lewens te bring – nie deur vir hulle traktaatjies te gee en goeie wense toe te wens nie. As ons God se roeping in kerk wil uitleef, moet ons ons verantwoordelikheid vir mekaar baie ernstig opneem. Volgende keer gaan ons na die rol van die plaaslike gemeente kyk.