Dissipelskap: Toegerus vir die taak

The most erroneous stories are those we think we know best — and therefore never scrutinize or question. -Stephen Jay Gould, paleontoloog, bioloog, skrywer (1941-2002)

Dissipelskap: Toegerus vir die taak

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

As dit alle gelowiges se taak is om dissipels te maak, hoe moet ons hulle toerus? Die vroeë kerk was nie ‘n organisasie gelei deur ‘n CEO nie. Die kerk is ‘n liggaam wat net doeltreffend kan funksioneer as elke lid sy deel doen.

In Efesiërs 4:11 – 16 word dit pragtig beskryf. Jesus Christus gee aan sy liggaam – die kerk – sekere gawes – apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Hoekom gee Hy hierdie gawes? Om die werk te doen? Nee, Om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. Wat is die eindresultaat van hierdie benadering? Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus … ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hoekom is dit belangrik dat alle gelowiges betrokke moet wees? Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Dit is baie duidelik dat die kerk die gemeenskap van gelowiges is waarin elke gelowige aktief betrokke is by bediening. Die implikasies is geweldig – ek moet aktief betrokke wees in die kerk anders funksioneer die kerk suboptimaal. Maar ons het so baie verskonings om nie betrokke te raak nie – te besig; ek weet nie genoeg nie; ek wil eers my eie lewe in orde kry … Die probleem is dat daar geen uitsluitingsklousules in Jesus se opdrag is nie. Lees net Lukas 9:57 – 62 en hoor al die wonderlike verskonings waarmee mense na vore kom. Daar is so dikwels ‘n verskoning waarom ons Jesus Christus nie op hierdie oomblik kan gehoorsaam nie. Luister na Jesus se reaksie: Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie – harde woorde.

Jesus Christus het ons gemaak net soos ons is; Hy het ons van alles voorsien wat ons vir ons taak nodig het. Ons kan nie mense se harte verander nie – net God kan dit doen. Ons moet net gehoorsaam wees en mense wat nie glo nie, leer – al moet ons self nog baie leer.

Die belangrike ding is om net eers aan die gang te kom. Hoe neem ek daardie eerste stap? Volgende keer kyk ons daarna.

Dissipelskap: Die groot opdrag aan die kerk

                                                                                                              

Dissipelskap: Die groot opdrag aan die kerk

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

Jesus se opdrag aan sy dissipels in Matteus 28:19 – 20 geld nie net vir leraars en sendelinge nie – dit geld vir my ook.

Lees ons Handelinge sien ons dat al God se kinders saamgewerk het om sy opdrag uit te voer. Hulle reik uit na die mense om hulle; hulle vra die mense om Jesus Christus te volg; hulle leer hulle; hulle gehoorsaam alles wat Hy hulle geleer het; hulle doop die mense. Dissipels maak dissipels.  Hulle het Jesus se opdrag letterlik en ernstig opgeneem. Die gevolg is dat die evangelie gou oor die destyds bekende wêreld versprei het.

Is die maak van dissipels nog vir die kerk belangrik? Moet vandag se kerk dalk iets anders doen – ‘n ander opdrag kry? Hoekom doen die leraars en betaalde amptenare vandag al die werk in die kerk? Die lidmate woon eredienste by, sit iets in die kollektebord en gaan huis toe – geïnspireerd en gevoed! Meeste lidmate weet nie meer hoe dit lyk om dissipels te maak nie.

Een van die groot probleme is dat gemeentes op programme fokus. Ons het ‘n program vir alles wat ons doen. Maar om dissipels te maak, is meer as net ‘n program – dit is ons lewensroeping. Dissipels maak dissipels. Hoe lyk dit in die praktyk? In die Groot Opdrag is daar vier belangrike woorde: gaan, maak, doop en leer. Baie eenvoudig. Ons het beslis nie ‘n groot geleerdheid nodig om dit te verstaan nie. Die probleem is dat die praktyk nie so eenvoudig is nie.

God bring voortdurend nuwe mense en nuwe geleenthede oor ons pad. Ons moet bereid wees om die geleenthede aan te gryp en bereid wees om in die proses ‘n prys te betaal: As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat … As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg (Johannes 15:18 – 20). Dissipels maak dissipels: maklik om te verstaan, duur om te implementeer.

As ons dissipels van Jesus Christus wil wees, moet ons tog vir die taak toegerus wees. Volgende keer kyk ons daarna.

Dissipelskap: Tel die koste

I divide all readers into two classes: those who read to remember, and those who read to forget. –Willia Lyons Phelps

Dissipelskap: Tel die koste

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

In Lukas 14:25 – 33 praat Jesus oor die eise van dissipelskap.

As dit dan ‘n prys gaan kos, hoekom moet ons dissipels maak? Jesus Christus het sy dissipels geroep. Soos hulle Hom gevolg het, sien hulle hoe Hy siekes genees, dooies laat opstaan, maar hulle sien ook  sy liefde vir sondaars. Dit pas nou nie juis in wat die mense van destyds verwag het dat die Messias sou kom doen nie. Hulle volg Hom tot die einde … en toe sterf Hy aan die kruis. Hulle hoop vir ‘n beter wêreld sterf saam met Jesus aan die kruis. Nou volg drie dae van verwarring en ontnugtering. Alles waarop hulle gehoop het, is weg. Het hulle drie jaar van hulle lewens gemors om Hom te volg?

Maar op die derde dag staan Hy uit die dood uit op; Hy het die sonde en die dood oorwin. Nou sal Hy sekerlik die stukkende wêreld heelmaak. Nee, Hy gee aan sy dissipels ‘n finale opdrag en vaar na die hemel op.

Wat is hierdie taak wat Hy vir sy dissipels gee? “Julle moet dit wat Ek begin het, voltooi. Neem die boodskap wat Ek verkondig het en leef dit uit.” En sy opdrag? Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels; doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:18 – 20).

Hoekom moet ons dissipels maak? Om dit ‘n opdrag is wat Jesus Christus aan ons gegee het. Volgende keer kyk ons na die opdrag aan die kerk.




Dissipelskap: Wat is ‘n dissipel?

The less we read the Word of God, the less we desire to read it, and the less we pray, the less we desire to pray. –George Mueller

Dissipelskap: Wat is ‘n dissipel?

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

Kom ons begin deur na twee basiese vrae te kyk:

  • Wat is ‘n dissipel?
  • Hoe word ek ‘n dissipel van Jesus Christus?

Wat is ‘n dissipel?

Die woord dissipel word vertaal met leerling, vakleerling of volgeling. In die tyd van Jesus Christus het die dissipels hulle rabbi (= leermeester) gevolg. Waar hy gegaan het, het hulle gevolg. Hulle leer van sy onderrig, maar ook deur te kyk wat hy doen – hulle doen wat hy doen. Jesus Christus het sy dissipels geroep om Hom te volg. Hulle het nie geweet waarheen Jesus hulle gaan neem nie. Hulle weet wel wat dit beteken om te volg – hulle gaan oral waar Hy gaan en sien alles wat Hy doen.

As Jesus Christus ons roep om sy dissipels te wees, moet ons Hom volg. Ons boots Hom na en volg sy bediening. In die proses word ons meer en meer soos Hy. Maar ons glo vandag dat ons ‘n Christen kan wees sonder om Jesus Christus te volg of soos Hy te wees. ‘n Volgeling wat nie volg nie, is tog ‘n onsinnige idee. Dit is glad nie wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie.

Die konsep van ‘n dissipel wees, is maklik om te verstaan, maar nie so maklik om uit te leef nie. Hoekom nie? Want, as ek sê dat ek ‘n dissipel van Jesus Christus is, beïnvloed dit my hele lewe.

Hoe word ek ‘n dissipel van Jesus Christus?

Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19.

Dit was Jesus se woorde aan die eerste vier dissipels wat Hy geroep het om Hom te volg. Net voor dit sê Hy: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (4:17). As iemand vir jou sê dat die koning op pad is, wat doen jy? Jy maak seker dat jy gereed is om hom te ontvang.

Bekering beteken omdraai; van rigting verander; loop in die teenoorgestelde rigting. Dit vereis optrede. Jesus Christus sê vir die mense dat hulle hulle moet voorberei, want die Koning is op pad. Hoe berei ons voor vir hierdie Goddelike koninkryk?

  • Besef dat jy op die verkeerde pad is: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23).
  • Maar God in Jesus Christus het alles verander: Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8).

Alles gaan oor Jesus Christus: wie Hy was en wat Hy gedoen het. ‘n Belangrike aspek van bekering is dat ons ophou glo dat daar iets is wat ons kan doen om onsself te red. Iemand anders het reeds vir ons sonde betaal. Dit is vir ons iets vreemd, want dit is nie hoe ons moderne mense oor die lewe dink nie – elkeen vir homself is ons benadering. Dat ons op Iemand anders se offer vir ons moet vertrou, is nog vreemder vir ons. Maar hierdie optrede van God is reeds in die Ou Testament duidelik. Dink maar net hoe Hy sy volk uit Egipte gelei het.

Een aspek van dissipelskap wat ons dikwels ignoreer, is die koste – om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees, kos iets. Daarna kyk ons volgende keer.