Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (1) – Adrio König

7.2 Spesifieke vervullings

Ons kies sewe profesieë uit die Ou Testament wat in die Nuwe vervul is, waarvan die eerste vier uit Matteus en dan drie uit Handelinge is.

  • Die geboorte van Jesus in Betlehem.
  • Die baba Jesus se terugkeer uit Egipte.
  • Herodes se kindermoord.
  • Judas se loon vir sy verraad.
  • Die opstanding.
  • Die koms/uitstorting van die Gees.
  • Die sending.

7.2.1 Die geboorte van Jesus

Dispensasionaliste verwys graag na Miga 5 wat dan letterlik vervul sou wees in Jesus se geboorte in Betlehem. En dit is inderdaad waar dat Betlehem sowel in Miga 5:1 as Matteus 2:1 genoem word as die geboorteplek van Jesus. Maar dis nie die einde van die saak nie.

 

Miga 5:1 is die inleiding tot ’n omvattende profesie, 5:1-5. In opgesomde vorm sê hierdie profesie dat die Messias in Betlehem gebore sal word, en dat sy eerste groot werk sal wees om Israel te bevry van die bedreiging deur Assirië wat juis in die tyd van Miga ernstig was. Daar sal eers nog ’n tyd van lyding wees (5:2), maar dan sal die Messias wat gebore is, met sterk optrede na vore kom (5:3), en wanneer die dreigende Assiriese leër dan die stad binneval, sal daar genoeg militêre leiers wees om teen hulle op te tree en hulle te oorweldig (5:4-5a). En dit alles sal die inisiatief wees van die Messias (5:5b).

 

Van hierdie profesie haal Matteus nou net die geboorte in Betlehem aan en ’n mens sou hier van letterlike vervulling kon praat. Maar wat van die res van die profesie? In die kwessie van letterlike vervulling is die vraag of ’n mens vooraf uit die profesie sou kon aflei hoe dit vervul sal word. En die antwoord is eenvoudig: Nee. Ons sou nie eens naastenby vooraf kon aflei hoe hierdie profesie in Jesus vervul sou word nie. Uit die profesie soos ons dit in Miga het, sou ons vooraf net kon dink aan ’n aanval deur Assirië en ’n oorwinning deur Israel onder die aanvoering van die Messias. Ons sou dus eenvoudig moes wag tot dit vervul is om te sien hoe dit werklik vervul word.

 

Die oorgrote deel van die profesie is trouens glad nie in Jesus se aardse optrede vervul nie. Net een klein sinnetjie is vervul, en daar was geen manier om vooraf vas te stel watter deeltjie dit sou wees nie.

 

Ons sal verder aan ook sien dat dit gewoonlik so gebeur. Nie die volle profesie nie, maar net ’n onderdeel daarvan word vervul, en daar is geen manier om vooraf te wete te kom watter deel dit sal wees nie.

 

7.2.2 Die baba Jesus se terugkeer uit Egipte

Matteus vertel hoe Josef met Maria en die Kindjie na Egipte vlug. En dan sien hy in hulle terugkeer uit Egipte die vervulling van Hosea 11:1 (Matt 2:15). ’n Mens kan net terloops sê dat ons hier te doen het met een van die geweldigste perspektiewe van Matteus oor die betekenis van Jesus. Hy is oortuig dat Jesus eenvoudig die rol van Israel oorneem omdat Israel misluk het in die Here se doel met hulle, en dat Jesus dus aan die begin van sy lewe net soos Israel ’n uittog uit Egipte gehad het. Die uittog van Eksodus was immers ook die “geboorte” van Israel. Maar dit net terloops. Dit is breedvoeriger behandel onder 9.3.3.

 

En die vervulling? Is Jesus se terugkeer uit Egipte die letterlike vervulling van hierdie profesie? Eintlik is dit ’n moeilike vraag. Nee, want Hosea 11:1 is in werklikheid glad nie ’n profesie nie. Dit vertel iets uit die geskiedenis van die uittog, van die wonderlike wyse waarop die Here die volk uit Egipte “gedra” het soos ’n moeder haar kindjie, maar daarteenoor dan die skokkende ontrou van die volk aan die Here (Hos 11:1-4). Uit hierdie verhaal neem Matteus nou net ’n enkele sinsnede en sien die terugkoms van die kindjie Jesus uit Egipte as ’n vervulling daarvan. Hy haal dus glad nie eens ’n profesie aan nie. Hy interpreteer ’n stukkie geskiedenis as ’n profesie omdat hy glo Jesus neem die plek van Israel in.

 

Weer die vraag: Sou ’n mens vooraf uit hierdie geskiedenis in Hosea iets oor die bewegings van Jesus kon aflei? Antwoord:  Nee, want ’n mens sou vooraf geen idee gehad het dat Matteus in ’n deel van hierdie geskiedenis ’n profesie sou sien wat in die lewe van Jesus vervul is nie. Daar is dispensasionaliste wat deur ’n baie ingewikkelde proses probeer aantoon dat ons wel in Hosea 11 ’n profesie het. Maar selfs as hulle reg is, sou niemand natuurlik daaruit kon aflei hoe Jesus se “uittog” uit Egipte sou lyk nie, dat Hy as baba op ’n donkie teruggedra sou word deur sy ouers nie. Dit is tog wat ’n mens sou kon doen as ons van letterlike vervulling praat.

 

In die volgende artikel kyk ons verder na spesifieke vervullings van profesieë.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Hoe reageer ek teenoor die evangelie?

We have much more to receive, but God has no more to give than he has given in Jesus Christ. –John Stott

Hoe reageer ek teenoor die evangelie?

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1 Korintiërs 1:18).

Daar word van Christene verwag om die evangelieboodskap in die wêreld uit te dra. Hoe die boodskap ontvang gaan word, weet ons nie. Mense gaan op verskillende maniere reageer.

 

In Handelinge 17 is Paulus in Atene. Hy vertel die Ateners van die opstanding uit die dood. Sy gehoor reageer op drie maniere. Ons kry steeds hierdie drie reaksies vandag as ons die evangelie verkondig:

  • Party het hom uitgelag. Die Interliniêre Bybel vertaal dit met hulle het vir Paulus gespot. Ek hoor hulle al: “Glo jy werklik dat die dooies kan opstaan? Is jy ernstig?” Vir hierdie mense is die evangelie dwaas en ongeloofwaardig. Kyk na die vers hierbo: Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan. Om met die evangelie te spot, is ‘n aanduiding dat hulle verlore sal gaan.
  • Party het gesê: ‘Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” Dit is nou diegene wat uitstel. Hierdie is ‘n baie algemene reaksie. Dit beteken: “Ek wil nie nou besluit nie.” Hierdie is ‘n baie bekende taktiek wat die duiwel met groot vrug gebruik: “Moenie nou vir jou oor die evangelie bekommer nie. Daar is nog baie tyd om dit te doen.”
  • ‘n Paar mense het egter by hom aangesluit en gelowig geword. Party het hulle bekeer en hulle denke verander. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus – ‘n intellektuele persoon en leier in die stad.

Wat leer ons hiervan? Bekering is God se werk – nie myne nie. Dit is die werk van die Heilige Gees in die lewe van die ongelowige. Het ons dan geen werk om te doen nie? Beslis nie – dit is ons taak om die waarheid te verkondig – om die evangelie uit te dra.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 15

The greatest charity in the world is the communication of divine truth to the ignorant. –Alexander Maclaren

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 15

Vraag:

Aangesien niemand die wet kan onderhou nie, wat is dan die doel van die wet?

 

Antwoord:

Dat ons die heilige aard en wil van God en die sondige natuur en ongehoorsaamheid van ons harte – en daarom ons behoefte aan ‘n Verlosser – verstaan. Die wet leer en roep ons op om ‘n lewe wat ons Verlosser waardig is, te leef. [Onderstreepte gedeelte is antwoord vir kinders.]

 

 

Teksvers:

Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (Romeine 3:20).

 

Kommentaar:

Nadat God aan Abraham die belofte gegee het, gee hy die wet aan Moses. Hoekom? Eenvoudig omdat Hy dinge slegter moes maak voor Hy hulle beter kon maak. Die wet openbaar sonde, ontlok sonde en veroordeel sonde. Die doel van die wet was … om die deksel van die mens se ordentlikheid te lig en te openbaar wat daaronder lê – sonde, opstand, skuld, onder die oordeel van God en onmagtig om homself te verlos.

 

Die wet moet steeds vandag toegelaat word om sy Godgegewe plig te doen Een van die grootste probleme van die hedendaagse kerk is om nie sonde en oordeel te beklemtoon nie … Ons mag nie verby die wet direk na die evangelie gaan nie. Dit is teenstrydig met God se plan in die geskiedenis van die Bybel … Geen mens het nog ooit die evangelie waardeer voordat die wet nie hom vir homself geopenbaar het nie. Dit is slegs in die donkerte van die naghemel dat die sterre verskyn, en dit is teen die donker agtergrond van sonde dat die evangelie helder skyn. Nie totdat die wet ons gewond en geslaan het, sal ons ons behoefte aan die evangelie om ons wonde te verbind,  erken nie. Nie voordat die wet ons gevange geneem  en in die tronk opgesluit het nie, sal ons smag dat Christus ons moet vrymaak nie. Nie voordat die wet ons veroordeel en doodgemaak het, sal ons na Christus roep vir vryspraak en lewe nie.  Nie voordat die wet ons tot wanhoop in onsself gedryf het nie, sal ons in Jesus glo nie. Nie voordat die wet ons nederig gemaak het, sal ons na die evangelie draai om ons na die hemel op te lig.

 

Hierdie kommentaar is deur John Stott (1921 – 2011), ‘n Engelse Anglikaanse prediker, geskryf. Hy dien baie jare as die rektor van All Souls Church in Londen. Hy was een van die hoofskrywers van die Lausanne Covenant (1974). Hy het baie boeke geskryf, insluitend Why I Am a Christian enThe Cross of Christ.

Hierdie kommentaar kom uit The Message of Galatians in The Bible Speaks Today Series (London and Downers Grove: IVP, 1968), 93.

 

Verdere leesstof:

 “Law in Action” in Concise Theology, by J. I. Packer.

 

Gebed:

Die Here openbaar Hom meer en meer aan ons in die aangesig van sy Seun, Jesus Christus … en vergroot die mag van sy genade. Sy tere genade bemoedig ons; en oortuig ons dat, aangesien Hy ons in sy genadeverbond opgeneem het, Hy ons nie as gevolg van ons sondes sal wegstoot nie. Hierdie sondes maak die Heilige Gees hartseer en maak ons vuil in ons eie oë: en … die Here voeg dit by die res van sy genade by … om die heersende mag van die Gees in ons toe te laat. Dit is ‘n bewys van die waarheid van sy genade. Dit is ‘n belofte van die finale oorwinning. Op daardie stadium sal Hy alles in almal wees. Tot in alle ewigheid. Amen.

 

Hierdie gebed is deur Richard Sibbes (1577 – 1635) geskryf. Hy was ‘n Engelse Puriteinse teoloog. In die vroeë 17de eeu was hy in Londen bekend as  “die hemelse dokter Sibbes.” Hy was die prediker van Gray’s Inn in Londen  en hoof van Catherine Hall, Cambridge. Sy bekendste werk was The Bruised Reed and Smoking Flax (waaruit hierdie gebed geneem is).

Uit “The Bruised Reed and Smoking Flax” in The Works of the Reverend Richard Sibbes, Volume 1 (Aberdeen: Chalmers, 1809), 80.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Hou hom uit jou gemeente!

In everyone’s life, at some time, our inner fire goes out. It is then burst into flame by an encounter with another human being. We should all be thankful for those people who rekindle the inner spirit. -Albert Schweitzer, filosoof, geneesheer, musikus en Nobel-pryswenner (1875-1965)

Hou hom uit jou gemeente!

Jy moet alles in jou vermoë doen om hierdie persoon uit die gemeente te hou. Hy sal meer doen om jou gemeente se fokus na binne te hou – om seker te maak die gemeente is ondoeltreffend. As gevolg van hierdie persoon word behoeftes in die gemeenskap nie hanteer nie.

Hy maak verskonings, veroorsaak konflik, vra onnodige vrae en lewer onnodige kritiek. Hy sal ook maak dat ander mense in die gemeente nie vir God kan dien, hulle gawes gebruik, God kan aanbid deur te gee en groei in hulle verhouding met Christus nie.

Wat is sy naam? IEMAND ANDERS.

  • Ek het gedink iemand anders gaan dit doen.
  • Hoekom het iemand anders nie daaraan gedink nie
  • Ek kan nie, maar ek is seker iemand anders sal daar wees.
  • Ek hoef nie te gaan nie, want iemand anders sal my deel doen

Stem iemand anders uit die gemeente by die volgende kerkraadsvergadering. Onthou: iemand anders is vir altyd weg. Iemand anders = Niemand = nie wat God deur die liggaam van Christus in jou gemeenskap wil doen nie.