JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (5)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (5) – Jan van der Watt

ii) Vir wie het Johannes gepreek?

Dit lyk of Johannes die sogenaamde geestelike leiers in Jerusalem, daar by die tempel, in sy visier gehad het.

 

  • In Mat 3:7 word die Fariseërs en Sadduseërs by name genoem as Johannes oor die oordeel van God praat. Hulle moenie dink die feit dat hulle as Jode gebore is (kinders van Abraham) dat dit hulle saak met die Here regmaak nie. Hulle moet soos kinders van God leef. Dit beklemtoon Lukas veral.
  • Baie mense het na Johannes toe gekom en is gedoop. Dit was baie gewone mense wat na Johannes gestroom het, maar ons het ook gesien dat die belangrikes daar opgedaag het. Johannes se kritiek en boodskap was egter veral teen die meer gesiene priesters, familiehoofde, Fariseërs en Sadduseërs en selfs ander belangrike mense in die samelewing gerig wat nie meer vir God geleef het nie, maar vir hulleself. Hulle het nagelaat om die basiese dinge wat God vra te doen, soos om vir die armes te sorg en hulle nie uit te buit nie.

    iii) Waarom het Johannes nou juis gedoop?

    Doop is nie net deur Christene gebruik nie. Doop was wat ons noem ‘n oorgangsrite. Mense wat onrein was, het hulle gewas met water (is gedoop) en dan was hulle rein. Hulle het dus oor die grens van onrein na rein gegaan. Sondaars is gedoop en het van sondaars oor die grens na vergeefde mense gegaan. Doop was dus die plek waar die oorgang van een toestand na ‘n ander “gemerk is in die openbaar”. As Johannes iemand doop gaan die persoon die grens oor van iemand wat sondig na iemand wat nie wil sondig nie, maar gehoorsaam aan God wil bly. As Jesus iemand doop, gaan daai persoon die grens oor van iemand wat nie aan Jesus behoort nie, na iemand wat aan Jesus behoort.

    Die Johannesevangelie maak ‘n addendum: Johannes moes doop sodat God vir hom kon wys wie regtig die Messias is. Lees maar Joh 1:33-34.

    iv) Hoe is Johannes dood?

    Johannes se kop is afgekap, omdat hy so eerlik en reguit met koning Herodes was. Hy het hom aangespreek oor sy onsedelikheid en die feit dat hy met sy broer se vrou getrou het. (Lees die interessante verhaal in Mk 6:17-29). As ons egter na die verhaal van Josefus oor Johannes kyk, dan was daar ‘n politieke rede waarom hy doodgemaak is, Herodes was bang dat al die mense wat na hom toe oorstap miskien soos ‘n revolusie teen die Romeine kan lyk. Daarom het hy hom uit die weg geruim.

    Die twee weergawes is nie presies dieselfde nie, maar hoef nie te bots nie. Beide kan waar wees. Die een gaan oor Johannes se politieke rol en die ander een oor sy morele rol.

     

    v) Wanneer het Jesus begin preek?

    Daar is twee moontlikhede wat altwee in die Nuwe Testament genoem word:

  • Jesus begin preek terwyl Johannes ook nog aan die preek is (Joh 3:22-23).
  • In die volgende artikel gaan ons kyk na Jesus se doop deur Johannes.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt

     




  • Alle Paaie lei na Jesus: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan? (2)

    Alle Paaie lei na Jesus: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan? (2) – Adrio König

    6.6.2 Die vroeë Christene se gebruik van die Septuagint

    Waarom is hierdie Griekse vertaling van die Ou Testament vir ons belangrik? Miskien het jy dit self al opgemerk dat die skrywers van die Nuwe Testament soms vreemde woorde gebruik wanneer hulle uit die Ou Testament aanhaal. Vergelyk Amos 9:11- 12 met Handelinge 15:16-17. Die twee stelle woorde kom glad nie ooreen nie, terwyl Jakobus doelbewus uit Amos aanhaal. Waar kry Jakobus hierdie vreemde woorde?

    Hy haal uit die Griekse vertaling aan en nie uit die oorspronklike Hebreeus nie, terwyl ons Ou Testament juis uit die Hebreeus gemaak is. ’n Mens kry talle sulke verskille, soms kleiner, soms groter. Dit is dus nie die skrywers van die Nuwe Testament wat nie versigtig en korrek uit die Ou Testament aangehaal het nie. Dis die vertalers van die LXX wat nie noukeurig vertaal het nie. Miskien moet ons dit tog versigtiger stel. Ons is vandag taamlik seker dat daar nie net een enkele Ou-Testamentiese teks bestaan het nie. Waarskynlik het daar van sekere boeke in die Ou Testament verskillende weergawes die rondte gedoen. Daar was nog geen boekdrukkuns nie. Mense moes alles met die hand oorskryf. Dit alleen kon taamlike verskille ten gevolge gehad het. En ons is dus nie seker of die vertalers nie dalk sulke afwykende tekste gehad het vir hulle vertaling nie.

     

    Maar waarom dié lang storie oor die twee Ou Testamente? Omdat ons nog ’n keer gaan sien hoe alle paaie na Jesus lei. Ons weet natuurlik baie min oor die situasie waarin die vertalers was of die oogmerke wat hulle met die vertaling gehad het. Ons is wel taamlik seker dat hulle nie so noukeurig vertaal het nie, en hulleself selfs heelwat vryhede veroorloof het. Ons kan selfs ’n paar tendense in die vertaling identifiseer. En dis juis dit wat vir ons belangrik is.

     

    Dis nie vreemd dat die meeste vroeë Christene die Septuagint bo die Hebreeus verkies het nie. Die evangelie het vinnig in die Griekssprekende wêreld versprei. Dink maar net aan Paulus se sendingreise. Dis tog vanselfsprekend dat hy sou verkies het om die Grieks te gebruik in sy sendingwerk onder Griekssprekendes. En Grieks was die algemene omgangstaal in die gebiede waarin hy gewerk het.

     

    Maar dit kan nie al rede wees vir die voorkeur aan die Septuagint nie. Jakobus haal ook uit die LXX aan, maar hy werk in Jerusalem onder Arameessprekende Jode.

     

    6.6.3 Messianisering en Missionisering

    Daar was in die inhoud van die Septuagint rede waarom ook Jakobus dit verkies het bo die oorspronklike Hebreeus. Onder die tendense in hierdie vertaling is twee belangrik, die Messianiseringstendens en die Missioniseringstendens.

     

    Messias: Die eerste tendens het met Messias te doen. Die Griekse vertalers het die neiging gehad om tekste wat nie regtig na ’n komende Messias verwys het nie, só te vertaal dat ’n mens dit Messiaans kon interpreteer. In Genesis 47:31 het die Septuagint “septer” terwyl die Hebreeus “bed” het (“En Jakob het daar op sy septer (ipv bed) gebuig voor God”). Die vertalers van die Septuagint doen dit omdat “septer” elders in verband met die Messias gebruik word (Ps 2:9; 110:2), en hulle dus met hierdie vertaling die indruk wil skep dat Jakob ’n tipe van die komende Messias is. Ook in Jesaja 11:1 vertaal die Septuagint “heerserstaf” in plaas van “takkie”, en bereik dieselfde effek. In Numeri 24:7 lees die Hebreeus: “Israel se waterkruike loop oor, hy saai waar oorvloed water is.” Dit word vertaal as: “Iemand sal uit sy nageslag kom en hy sal heers oor baie volke.” Onmiddellik laat dit weer aan die Messias dink.

     

    Behalwe hierdie soort Messiaserende tendens was daar ook gevalle waar die Septuagint se vertaling die vroeë Christene goed gepas het al het die vertalers dit waarskynlik nooit so bedoel nie. Die vroeë Christene het graag gebruik gemaak van die Septuagint by Jesaja 7:14. Die vroeë Christene het aan Jesus se maagdelike geboorte geglo. Om dit te bevestig, kon hulle die Septuagint gebruik wat Jesaja 7:14 met “maagd” vertaal het teenoor die Hebreeus wat “’n jong vrou” het: “Die maagd sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring” (Matt 1:23). ’n Jong vrou hoef natuurlik nie ’n maagd te wees nie, want ’n maagd is ’n meisie wat nie maar net jonk is nie, maar wat nog nooit seksuele gemeenskap gehad het nie. Só kon die Christene hulle dus op die Septuagint beroep om te sê dat Jesus hierdie kind was.

     

    In die liedere oor die dienaar van die Here in Jesaja word die Hebreeuse woord vir “dienaar” elke keer in die Septuagint met “kind” vertaal. Die vroeë Christene kon dit maklik op Jesus toepas wat ook die Kind (“Seun”) van God genoem is. Die Grieks vir “kind” en “seun” is dieselfde.

     

    Sending: Maar daar was ook ’n sendingtendens in die Septuagint. Tekste wat eintlik ’n meer nasionalistiese betekenis het, is vertaal as sendingtekste. Kom ons kyk na een so ’n voorbeeld. Jakobus haal Amos 9 aan in sy toespraak in Handelinge 15. Sy aanhaling kom uit die Septuagint.

     

    Amos 9:12 Handelinge 15:17

    Sodat my volk (Israel) die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is. Sodat al die nasies die Here kan soek oor al die nasies ja, al die heidennasies oor wie my Naam uitgeroep is wat Ek geroep het om my eiendom te wees.

    In Amos was hierdie profesie ’n nasionalistiese profesie. Dit het daarop neergekom dat Israel in die toekoms oor Edom ’n oorwinning sal behaal, en sommer oor ’n aantal ander volke ook. Dit was ’n “lekker” belofte, want Edom was een van Israel se aartsvyande. Maar in die Septuagint word dit ’n sendingprofesie. Die heidennasies sal die Here soek, almal oor wie sy Naam al klaar uitgeroep is.

     

    Daar is meer sulke voorbeelde. In die Hebreeus lees ons in Jesaja 54:15: “As iemand jou aanval, het Ek hom nie gestuur nie; wie jou aanval, sal die onderspit teen jou delf.” Dit word vertaal met: “Proseliete sal om my ontwil by jou aansluit, hulle sal by jou ’n toevlug soek,” ’n duidelike sendingvertaling.

    In Jeremia 3:19 word die persoon wat aangespreek word, in die Septuagint “Here” genoem (anders as in die Hebreeus), en in plaas daarvan dat hy “’n besitting kry wat liefliker is as enigiets wat enige nasie het,” word Hy “die magtige Heerser oor die nasies” genoem. Sulke vertalings het gepas in die vroeë Christene se oortuiging dat die Messias oor die nasies sal heers, en dat hulle Hom dus aan die heidene moet gaan verkondig.

    In Genesis 49:10 word verwys na “die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp”. Dit word in die Septuagint vertaal met: “Die heerser wat die hoop van alle volke sal wees.” Dadelik kom die sending dus in perspektief. Dit is die diepste rede waarom die Christene selfs in Jerusalem die Septuagint verkies het, al het hulle nie die Griekse taal nodig gehad soos Paulus nie.

     

    ’n Mens kan natuurlik vra waarom die Jode die Hebreeus só vertaal het. Waarom die nadruk op die Messias en die sending? Daar kan verskillende sienings hieroor wees, maar ’n mens moet onthou die Septuagint is so ongeveer 200 jaar voor Jesus vertaal. In hierdie tyd het dit sleg gegaan met Israel. Hulle is keer op keer deur vyande oorwin en oorheers. Hulle kon dus maklik ’n nuwe behoefte ontwikkel het dat die Messias sou kom omdat hulle geglo het Hy gaan hulle van hulle vyande verlos en die heerlikheid herstel soos dit in die tyd van die groot koning Dawid was. Hulle het dus ’n dringender behoefte aan die Messias ontwikkel.

     

    Verder het hulle juis in hierdie tye baie meer te doene gekry met mense uit ander gelowe. Hulle was klein minderhede in groot wêreldstede soos Alexandrië in Egipte, en Korinte in Griekeland. Dit kon gelei het tot die besef en behoefte dat hulle hulle geloof met ander moet deel. Hulle kon ook hulle godsdiens vergelyk het met die ander, en oortuig geraak het dat hulle iets meer het om aan ander aan te bied. Daar was altyd by die profete ’n belangstelling in ander mense. Die Ou Testament het self die toekomsverwagting dat die volke na Jerusalem sal stroom. Dit alles kon ’n bepaalde dringendheid by hulle laat ontstaan het om hulle godsdiens met die mense rondom hulle te deel, sodat selfs in die vertaling van die Ou Testament die vertalers die boodskap van die sending sterker wou laat deurkom.

     

    Die feit dat die Christene hierdie vertaling verkies het, sê net nog ’n keer dat alles vir hulle om Jesus gegaan het, en dat hulle ’n vertaling verkies het wat hulle nog meer as die Hebreeus gehelp het om Hom en sy boodskap te beklemtoon.

     

    Wat toe agterna gebeur het, is baie interessant. Die Christene het hierdie tendense in die Septuagint met groot vrug gebruik, onder andere ook om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is. Immers hulle het geglo die Messias het in Jesus gekom, en hulle kon die Jode se eie vertaling gebruik om dit te ondersteun. Dit het beteken die Joodse leiers het ’n reaksie teen hulle eie vertaling ontwikkel, so erg dat hulle dit later amptelik verwerp het. Maar die Christene het dankbaar daaraan vasgehou. Die Septuagint het tot in die tyd van die Kerkhervorming die Ou Testament van die Christene gebly; dus vir omtrent 1 500 jaar! Eers die Kerkhervormers het besluit om daarvan af te sien, en wel om redes wat nie almal so oortuigend is nie, en na die Hebreeuse Ou Testament terug te gaan. Die Katolieke Kerk het tot vandag nog meer respek vir die Septuagint as die Protestante.

     

    In die volgende artikel gaan ons na die gesag van die Septuagint kyk.

     

     

    AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

     

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

     

    Skrywer:Prof Adrio König

     




    Wat vertel die kruis vir ons?

    Flatter me, and I may not believe you. Criticize me, and I may not like you. Ignore me, and I may not forgive you. Encourage me, and I will not forget you. -William Arthur Ward, skrywer (1921-1994)

    Wat vertel die kruis vir ons?

    Vandag hoor ons baie preke oor die verlossende effek van Christus se dood. Dit is goed en reg so, Ons hoor nie altyd wat die kruis vir ons van God se karakter  vertel nie en hoekom die kruis nodig was nie. Byvoorbeeld, as die dood van Jesus nie absoluut noodsaaklik en voldoende was vir die versoening van ons sondes nie, dan is dit baie moeilik om te aanvaar dat God ‘n liefdevolle Vader is.

    Watter liefdevolle Vader sal sy Seun aan so ‘n aaklige lyding en dood onderwerp as dit nie absoluut nodig was nie? Is dit dalk ‘n geval van kindermishandeling? Beslis nie. Hoekom nie? Natuurlik is daar ander maniere waarop God kon wys dat Hy vir ons lief het. Dit bring ons by Goeie Vrydag en God se karakter.

    In die Bybel lees ons gereeld dat God heilig en regverdig is. Die Bybel sê ook dat God nie sonde kan ignoreer nie. Kom ons kyk na Romeine 3:25 – 26: Hom het God gegee as  offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenwoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. Ons sien dat God die sondes tydelik ongestraf laat bly het, maar Hy kan dit nie vir altyd doen nie. Uiteindelik moet reg en geregtigheid seëvier. Dit is deel van God se karakter. God moet regverdig wees en terselfdertyd sonde straf. Paulus sê dat God dit gedoen het terwyl ons nog sondaars was, terwyl ons nog ver van Hom af was – terwyl ons nog vyande van Hom was. Goeie Vrydag demonstreer dus God se regverdigheid en genade. Dit moes eintlik ons gewees het wat aan die kruis gehang het. Jesus is die een persoon wat nie moes gesterf het nie.

    Soms dink ons dat omdat God vergewe  dit nie nodig vir Hom is om sonde te straf nie. Hy is ‘n liefdevolle God en daarom kan Hy die sonde oorsien. Dit werk nie so nie. In ieder geval wie wil nou leef in ‘n wêreld waar geregtigheid nie gedoen word nie? Dink net aan al die verkeerde dinge wat in die wêreld gebeur en gebeur het. God kan dit mos nie ongestraf laat nie. Die ongelooflike waarheid is dat die een wat ons Regter is, is ook die een wat reeds vir ons sonde betaal het. Die kruis herinner ons daaraan dat God ‘n manier gevind het om beide regverdig te wees en om sondes te vergewe.

    Goeie Vrydag herinner ons dat geregtigheid nie deur verlossing gekanselleer word nie. Dit word bereik deur verlossing aan die kruis. Geregtigheid word nie verwyder as God deernis en verlossing bewys nie. Die kruis beteken Goeie Vrydag is werklik goeie Vrydag – die beste Vrydag ooit.

     




    Die opstanding verander alles

    “The fear of the Lord tends to take away all other fears. …This is the secret of Christian courage and boldness.” – Sinclair B. Ferguson 

    Die opstanding verander alles

    Is die opstanding van Christus belangrik? Maak dit ‘n verskil? Paulus het so gedink. Paulus hoor die verbasende nuus dat daar mense in Korinte was wat nie aan die toekomstige opstanding van die liggaam geglo het nie. In die Grieks-Romeinse wêreld is geglo dat die dood die einde van alles is. Skeptici glo dit nog steeds. 

    Wat Paulus ontstel het was dat Christene wat in die liggaamlike opstanding van Jesus geglo het, nogtans die toekomstige opstanding ontken het. Paulus glo dat jy nie die een sonder die ander kan hê nie. As gelowiges nie in die toekoms gaan opstaan nie, dan het Christus ook nie opgestaan nie. As Christus nie opgestaan het nie, verander alles. Wat is die gevolge van Christus se opstanding vir die lewe van ‘n Christen?

    • Ons kan nie die opstanding van Christus van die evangelie skei nie

    In 1 Korintiërs 15 herinner Paulus die Korintiërs aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Deur die evangelie word julle ook gered …  Maar wat het hy aan hulle verkondig? Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf , volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek. Daarna het Hy aan sy dissipels verskyn. Die opstanding is dus ‘n integrale deel van die evangelieboodskap. Paulus sê dat hierdie ‘n Bybelse werklikheid is en dat ons nie die opstanding van Christus van sy dood kan skei nie. Thomas Schreiner sê:   “Christ’s death and resurrection are inseparable in effecting salvation.”

    • Die opstanding van Christus is die kern van ons verkondiging aan ‘n verlore wêreld

    Sou ons boodskap anders gelyk het as Christus nie opgestaan het nie? As jy nee antwoord, is daar ‘n groot probleem. Vir Paulus maak die opstanding van Christus al die verskil: En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud (15:14). As Christus nie uit die dood opgestaan het nie, het ons geen goeie nuus om te verkondig nie.

    • Die opstanding van Christus red

    En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sonde (15:17). Natuurlik is Christus se dood die basis vir ons versoening met God. Maar daar is meer om te sê: Maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, ons wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (Romeine 4:24 – 25). Deur Christus op te wek, sê God dat die prys betaal is.

    • Die opstanding van Christus is die basis vir ons toekomstige hoop

    As ons net in hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardige van alle mense (15:19). Christus se opstanding is die eerste vrugte van die groot oes wat nog gaan kom (5:22). Sonder Christus se opstanding het ons geen hoop vir die toekoms nie. Die dood het nou geen angel meer nie.

    Luister net hoe eindig Paulus 1 Korintiërs 15: Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie. Onthou hierdie paasfees: die opstanding van Christus verander alles. Sonder die opstanding het ons geen evangelie, geen verlossing, geen verlossingsboodskap en geen hoop vir die toekoms nie.