God roep vir Jeremia; God roep vir ons

“Nothing is more certain than the word of God. Hence neither science nor anything else is more certain than faith.” Tomas van Acquino

 God roep vir Jeremia; God roep vir ons

In Jeremia 1 lees ons van sy roeping as profeet. In hierdie roeping is daar ‘n paar betekenisvolle aspekte  wat ons altyd in gedagte moet hou.

  • Dit is God wat roep: Die woord van die Here het tot my gekom.
  • God het Jeremia vir sy taak uitgekies nog voor sy geboorte: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
  • Roeping se kern is die verkondiging van God se woord. Ten spyte van Jeremia se besware sê God vir hom: Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.
  • God self bemagtig Jeremia om sy woord te verkondig. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red.
  • God beloof nie vir Jeremia rykdom en gemak nie, maar teenstand  en selfs vervolging. Die woord wat Jeremia moes verkondig, sou teenstand tot gevolg hê: Ek stel jou aan oor nasies en koninkryke om af te breek en uit te roei … Van die noorde af gaan Ek ‘n ramp stuur oor almal wat in hierdie land woon.
  • God belowe egter vir Jeremia dat Hy hom nie alleen sal laat nie: Hulle sal teen jou veg, maar hulle sal jou nie oorweldig nie, want  Ek is by jou, sê die Here. Ek sal jou red.

As God ons roep, kan ons baie uit die roeping van Jeremia leer. Al roep Hy ons vir moeilike take het ons die wonderlike versekering: Ek is by jou … Ek sal jou red.

 




Jakob Stoei

A superior man is modest in his speech, but exceeds in his actions. -Confucius,filosoof en leermeester (c. 551-478 vC)

Jakob Stoei

In Genesis 32 lees ons ‘n boeiende verhaal uit die lewe van Jakob – hy stoei die hele nag met God. Uit hierdie stoeiery leer ons belangrike lesse oor gebed:

  • God se seëninge in ons lewens word deur gebed vrygestel

In Genesis 25:23 lees ons dat Rebekka God raadpleeg omdat haar tweeling teen mekaar gestamp het. God sê vir haar: Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien. God voorspel hier dat die seën Jakob s’n sal wees en nie Esau s’n nie. Maar dit is eers na sy stoeigeveg en nag van gebed  dat hy die belofte van God sy eie maak. Die Bybel is ‘n boek vol beloftes – ongeveer 3 000 van hulle. Baie van hulle is vir spesifieke mense en spesifieke situasies. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God (2 Korintiërs 1:20). Elke belofte is dus ‘n “ja” vir elke gelowige. Daarom moet ons nie net deur die Bybel lees nie – ons moet deur die Bybel bid en die beloftes van God vir ons toeeien.

  • Soms word God se seëninge deur volgehoue gebed vrygestel

Martin Luther het gesê dat Jakob se gestoei met God ‘n beeld is van stoei met ‘n oënskynlike vyandige God. Nog ‘n voorbeeld is die Siro-Fenisiese vrou wat na Jesus kom met die versoek dat Hy haar dogter sal genees (Markus 7). Luister na Jesus se eerste reaksie: Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.  Is Jesus besig om haar weg te stuur? Nee, Hy gaan die dogtertjie genees al lyk dit aanvanklik asof Hy vyandig gesind teenoor hulle is. God is nie vyandig of ongevoelig nie – dit kruis is bewys daarvan dat Hy liefdevol is. Jesus wys hier vir ons dat gebed soms die indruk skep dat Hy vyandig is. Daarmee toets Hy ons geloof in sy goedheid.  Like a child trying to push against the hand of a parent, the parent gives only enough resistance to test the resolve of the child. So God resists us in prayer, to see our resolve in his goodness.” (Martin Luther)

  • Die seëninge van God word nie verkry deur ons planne nie

Aan die einde van hulle stoeigeveg vra God vir Jakob: Wat is jou naam? Natuurlik weet God wat Jakob se naam was, maar Hy wou hê dat hy dit moes erken. Onthou toe die bejaarde Isak vir Jakob gevra het wat sy naam was, was sy antwoord Esau. So het hy Esau se eersgeboortereg gesteel. Nou vertel hy die waarheid: “Ek is Jakob, die bedrieër. Ek het probeer om self my seëninge deur manipulasie te verkry. Nou is ek jammer.” Daarom gee God aan hom ‘n nuwe naam – Israel. God gee die seën – Jakob kry nie die seën deur allerhande slinkse planne nie. Seëninge kom nie deur beter beplanning nie, maar deur onderwerping aan God.

  • God self is die seën wat ons soek

God eindig sy ontmoeting met Jakob nie deur vir hom te sê dat alles nou reg is nie. Geen belofte dat hy sy ontmoeting met Esau gaan oorleef nie – om die waarheid te sê God maak hom mank sodat hy nie eers vir Esau kon weghardloop nie. Maar Jakob kry die grootste seën moontlik – die herstel van sy verhouding met God. Soms weerhou God seëning van ons sodat ons kan besef dat ‘n verhouding met God die grootste seën moontlik is. God verander nie altyd ons situasie nie – soms verander Hy ons identiteit. Hy verander ons van Jakob na Israel. ‘n Nag van gebed beteken nie al ons probleme is nou opgelos nie. Dit beteken wel dat ons belangrikste verhouding herstel is.

  • Ons weet dat God ons hoor, want Hy het vir ons swak geword.

In hierdie geveg moes Jakob vermorsel word. Hy is nie. Dit beteken dat God Hom teruggehou het – God word vrywillig swak. God hou Homself swak sodat Jakob verlos kan word.  Eeue later word Jesus swak aan die kruis sodat ons verlos kan word.

Soms lyk dit vir ons asof God nie luister nie. Hy luister – die kruis verseker ons dat Hy luister. God gee so baie om dat Hy selfs aarde toe gekom het om met Jakob te stoei. God gee so baie om vir ons dat Hy mens geword het om met ons sonde te stry. Daarvoor het Hy sy lewe gegee; daarom is ons verhouding met God herstel. Bid; bid aanhoudend; moenie moed opgee nie.




Lees ons genoeg?

Most people are brought to faith in Christ not by argument for it, but by exposure to it. —Samuel Shoemaker

Lees ons genoeg?

Laat die wyse luister, dan sal sy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes  verkry (Spreuke 1:5 – OAV)

‘n Jong leraar vra vir die bekende prediker, Joseph H. Smith, of hy sou aanbeveel dat hy oor sekulêre werke moet lees. Smith se antwoord is duidelik:  “Young man, a bee can find nectar in the weed as well as in the flower.

 

John Wesley het die jong leraars van die Wesleyan Societies aangeraai om te lees of die bediening te verlaat. Hy het boeke oor wetenskap en geskiedenis gelees. Soos hy van die een afspraak na die ander gery het, was daar altyd ‘n boek in sy saalsak.

Andy Dolbow was ‘n bekende Indiaanse prediker. Hy het by geleentheid sy hoorders aangespoor met hierdie woorde: “When you are chopping wood, and you have a dull axe you must work all the harder to cut the log. A sharp axe makes easy work. So sharpen your axe all you can.” (The Size of the Soul, 33.

In hierdie besige lewe mag die Here my help om tyd om die byl skerp te maak, opsy te sit. Amen.




Dawid: Gesalfde, Sanger, Profeet, Krygsman (2)

Joy is the serious business of heaven.” C.S. Lewis

Dawid: Gesalfde, Sanger, Profeet, Krygsman (2)

In die vorige blog het ons na Dawid die gesalfde gekyk. Nou gaan ons na Dawid as sanger en as krygsman kyk.

  • Dawid die Sanger

Dawid kom na die koninklike hof van Saul as sanger en musikant. Toe Saul en Jonatan op die slagveld sterf, skryf Dawid ‘n aangrypende klaaglied (2 Samuel 1:19 – 27). Na Dawid se oorwinning oor die Filistyne skryf hy ‘n pragtige loflied (2 Samuel 22).

Hy het die sangers en Leviete georganiseer (1 Kronieke 15:16) en die musiekinstrumente vir lofprysing vervaardig (1 Kronieke 23:6).

Dawid was dus bekend as ‘n komponis van liedere en gebede. In ‘n teks  gevind onder die boekrolle ontdek langs die Dooie See word gesê dat Dawid meer as 4 000 werke gekomponeer het.

  • Dawid die Krygsman

Hier dink ons aan die verhaal van Dawid en Goliat. Selfs op ‘n baie jong ouderdom het hy hom op die slagveld gehandhaaf. Wat die mense egter die meeste beïndruk het, is dat hy Goliat oënskynlik ongewapen aangepak het: Jy kom na my met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee (1 Samuel 17:46 – 47). Dit is baie belangrik. In Die Wysheid van Ben Sirag lees ons: Het hy nie, toe hy nog jonk was, ‘n reus doodgemaak en so die skande oor sy mense weggeneem nie? … Hy het dit reggekry omdat hy na die Here, die Allerhoogste, geroep het om hom te help. Die Here het toe Dawid se regterarm sterk gemaak sodat hy die geweldige oorlogsheld kon doodmaak ( 47:4 – 5). Die kern van Dawid se sukses as krygsman was sy vertroue op God.

Dit is Dawid soos ons hom in die Bybel leer ken het: gesalfde voorloper van die Messias, sanger en God se krygsman. Dit  het hy sonder wapens gedoen. Hy is deur God uitverkies en was ‘n voorbeeld vir geslagte Jode en Christene.