Dawid: Gesalfde, Sanger, Profeet, Krygsman (1)

We cannot infer from prosperity that God is pleased with us, nor can we infer from adversity that he is displeased with us. –Wilson Benton

Dawid: Gesalfde, Sanger, Profeet, Krygsman (1)

Ons ontmoet vir Dawid in 1 Samuel 16. Daar is veral drie verhale van belang:

  • Saul word verwerp en God stuur die bejaarde Samuel om ‘n nuwe koning te salf. Dit sou een van Isai se seuns wees. Isai laat al sy seuns by Samuel verbygaan, maar die Here kies nie een van hulle nie. Later is net die jongste een oor, maar hy is besig om die skape op te pas – nou nie juis die eerbaarste werk wat daar is nie. Toe Dawid daar aankom sê die Here vir Samuel: Staan op, salf hom, want dit is hy (16:12). Dan lees ons: Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk – hy is nou gereed om te lei.
  • Net daarna lees ons dat ‘n bose gees vir Saul voortdurend ontstel het. Dit is geglo dat musiek baie kalmerend op sulke mense inwerk. Sy raadgewers beveel aan dat hy iemand moet kry wat vir hom die lier kan speel. Een van die amptenare onthou dat hy vir Dawid hoor speel het. Saul laat vir Dawid haal: Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar (16:23). Dawid kom na Saul se paleis, nie as troonopvolger nie, maar as musikant en sanger.
  • Die derde verhaal is dié van Dawid en Goliat (1 Samuel 17).

Hierdie drie verhale beklemtoon ook die drie beelde van Dawid volgens die vroeë Bybelverklaarders.

  • Dawid, die Gesalfde

Ons het gesien dat Samuel vir Dawid gesalf het. Wat beteken dit as iemand gesalf word? Letterlik beteken dit om olie op sy kop te vryf. Hierdie olie het parfuum bevat. In die antieke wêreld het mense dit geniet om hulle liggame met allerhande olies wat lekker ruik in te vryf. As Amos die selfsugtige ryk mense kritiseer, sê hy: Julle drink wyn uit offerkomme en salf julle met uitsoekolie (6:6).

Om olie oor iemand uit te gooi, is dus ‘n mooi ding om te doen, maar dit was ook ‘n simboliese optrede  waardeur mense in ‘n hoë posisie aangestel is. Konings is gesalf  en op ‘n stadium ook hoëpriesters. Salwing en die amp van koning is so sterk verbind dat mashiah (gesalfde) eintlik ‘n sinoniem vir koning geword het. Dawid het later koning van Israel geword, Hy word dan ook bestempel as Israel se grootste koning. Later toe die Israeliete onder vreemdelinge gely het, het hulle gehoop dat Israel in die toekoms weer sou terugkeer na die heerlikheid van Dawid se regering – die herstel van ‘n Dawidiese koning – ‘n mashiah – op die troon. Drie maal per dag sal Jode bid in die rigting van Jerusalem en onder andere vra vir die herstel van Dawid se troon.

Ten spyte van al sy misstappe word Dawid steeds as die ideale beeld van ‘n koning beskou. Christene natuurlik glo dat Jesus hierdie langverwagte mashiah was. Hulle het na Hom as die Messias en Christos (gesalfde) verwys. Nog ‘n bewys van ‘n baie ou gesegde: Wat in die Ou Testament verborge is, lê oop in die Nuwe.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 13

There is a foolish corner in the brain of the wisest man -Aristoteles, filosoof (384-322 vC)

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 13

Vraag:

Kan enigeen die wet van God volkome onderhou?

 

Antwoord:

Sedert die sondeval kon geen mens nog die wet van God volkome onderhou nie, maar verbreek dit voortdurend in gedagte, woord en daad. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 

Teksvers:

Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10 – 12).

 

Kommentaar:

‘n Reisiger wat hom in ‘n hewige storm van donderweer en reën vasloop, sal onmiddellik afdraai na ‘n huis of boom om skuiling te soek. Hy sien nie af van sy reis nie, maar keer terug en hervat sy reis  as die storm verby is. So is dit met mense vasgevang in die band van sonde: die wet ontmoet hulle in ‘n storm van donderweer en weerlig vanuit die hemel.  Hulle word bang en word gehinder in hulle reis. Vir ‘n seisoen dryf dit hulle van koers af. Hulle sal bid of hulle lewe verander  as ‘n vorm van skuiling teen die storm wat hulle vrees teen hulle gewetes sal kom. Is hulle reis gestop? Het hulle beginsels verander? Nee, sodra die storm verby is … keer hulle terug – weer in die diens van sonde.

 

Ons mag nooit dink dat ons stryd teen die sonde – om die sonde te kruisig, te onderdruk, dood te maak – verby is nie. Sodra ons dink ons het oorwin, is daar nog ‘n oorblyfsel wat ons nie raakgesien of van geweet het nie. Baie oorwinnaars het al verloor omdat hulle na ‘n oorwinning agterlosig geraak het. Baie is geestelik diep gewond na  ‘n groot sukses teen die vyand … ons kan sonde net oorwin deur  vasberade die sonde uit te snuffel. 

 

Hierdie kommentaar is deur John Owen (1616 – 1683), ‘n Engelse Puriteinse teoloog geskrywe. Hy gaan na die universiteit van Oxford op 12 jarige ouderdom, verwerf sy MA-graad toe hy 19 jaar oud was en word ‘n pastoor toe hy 21 jaar oud was. Later word hy as Visekanselier van die universiteit aangestel. Hy preek in die parlement op die dag van Koning Charles I se teregstelling. Hy het baie geskryf insluitend geskiedkundige verhandelinge  oor godsdiens en verskeie studies oor die Heilige Gees.

Hierdie kommentaar kom uit  “The Nature, Power, Deceit, and Prevalency of the Remainders of Indwelling Sin in Believers” in The Works of John Owen, geredigeer deur Thomas Russell, Volume XIII (London: Richard Baynes, 1826), 200–201, 26.

 

Verdere leesstof

 “Original Sin” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

U Naam is Immanuel, ons Here en heerser: genade vloei oor u lippe en aan u behoort barmhartigheid en vergifnis, al het ons teen U in opstand gekom. Ons, wat nie werd is om u dienaars genoem te word nie, pleit by U om ons oortredings  te verwyder. Ons bely dat U ons kan verwerp as gevolg van ons oortredings, maar pleit om u Naam se ontwil om dit nie te doen nie. Ons wysheid is weg, ons krag is weg, ons het niks wat ons eie is behalwe ons sonde of skaamte of verwarring  nie. Wees ons genadig, o Here, wees ons genadig. Amen

 

Hierdie gebed  kom van John Bunyan (1628 – 1688).  Hy was bekend as die blikslaer (tinker) van Elstow. Hy kom dramaties tot bekering en word ‘n leidende Puriteinse prediker. Soos sy gewildheid toegeneem het,word hy toenemend die teiken van skinderstories en laster. Uiteindelik word hy in die tronk gegooi. Tydens sy tyd in die tronk begin hy sy bekende werk: The Pilgrim’s Progress. Dit word vir die eerste keer in1678 gedruk.

 

Hierdie gebed kom uit The Westminster Collection of Christian Prayers, deur Dorothy M. Stewart (Louisville: John Knox, 2002), 49.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Die Jesuïete

Never undertake more Christian service than you can cover by believing prayer. –Alan Redpath

Die Jesuïete

Pous Franciskus is ‘n Jesuïet . Wat beteken dit?

Wie is die Jesuïete?

Die Rooms-Katolieke orde van die Jesuïete is die grootste enkele orde in die Katolieke Kerk. Dit is in 1534 deur Ignatius Loyola in Parys gestig.

Hy was ‘n Baskiese soldaat wat tot bekering gekom het terwyl hy besig was om te herstel nadat hy op die slagveld gewond is. Hy en ses medestudente aan die Universiteit van Parys het besluit om die pous  as sendingsoldate vir Christus te dien. Aanvanklik is die orde volgens militêre voorskrifte onder die leierskap van ‘n “Vader Generaal”  georganiseer. Hulle bynaam was “God se Mariniers,” want hulle was bereid om op bevel van die pous na enige plek ter wêreld te gaan. Pous Paulus III het hulle in 1540 as orde gereorganiseer. Vandag is daar meer as 20 000 Jesuïete.

Waarvoor is hulle bekend?

Hulle sendingywer en liefde vir opvoeding. Loyala het geglo dat die beste manier om God se woord te versprei was deur die vestiging van skole. Die sukses van ‘n kollege in Messina (in Sisilië)  het hom aangemoedig om lede van die orde in Europa en verder te stuur met die doel om skole, universiteite en seminariums te vestig. Toe hy in 1556 sterf het hulle reeds 74 kolleges in Ierland, Duitsland, Pole, Egipte, Indië en Japan gevestig. Vandag beheer hulle 189 kolleges wêreldwyd. Hulle bevorder vrye denke en teologiese debat. Daarom word hulle deur konserwatiewe Katolieke as te onafhanklik beskou.

Word hulle gerespekteer?

Tydens die 16de en 17de eeue word hulle beskou as die vroomste en mees intellektuele priesters. Soos Katolieke Europa gedisintegreer het, het hulle, as gevolg van hulle absolute lojaliteit aan die pous, baie vyande gemaak. Hulle word as agterbakse manipuleerders  gesien. Anti-Katolieke het vermoed dat hulle op bevel van die pous regerings wou omverwerp. Op aandrang van sekere Europese konings het Pous Clement XIV die orde in 1773 ontbind. Die Jesuïete het  in Rusland en Pruise oorleef. In 1814 word die pous se bevel om die orde te ontbind teruggetrek. Die suspisie teen hulle bly voortbestaan.

Wat is hulle reputasie tans?

Hulle word steeds as die liberaalste orde in die kerk beskou. As gevolg van hulle sendingwerk, veral in Latyns-Amerika, het hulle simpatie met die armes ontwikkel – veral dié onder koloniale en militêre regerings. In 1974 verklaar hulle dat hulle roeping ‘n geloofsdiens is waarvan die bevordering van geregtigheid  ‘n absolute vereiste is. By sommige priesters lei dit tot die sogenaamde bevrydingsteologie. In 1981 verwerp Pous Johannes Paulus II die benoeming van die Jesuïete vir Vader Generaal omdat hy ongelukkig was met die rigting wat hulle ingeslaan het. Hy wys ‘n leier van sy keuse aan.  Die lei tot onmin tussen die Jesuïete en die Vatikaan – iets wat vandag nog nie heeltemal herstel is nie.

Sal Franciskus ‘n Jesuïtiese pous wees?

Ten opsigte van seksuele moraliteit en die rol van vroue in die kerk is die pous ‘n tradisionalis. Hy het hom ook van die bevrydingsteologie beweging gedistansieer omdat dit té polities was. Hy deel die Jesuïete se intense identifikasie met die armes en magteloses. Hy glo die onregverdige verdeling van goedere is ‘n sosiale sonde wat ten hemele roep. Sy kommer oor sosiale ongeregtigheid sal die rigting waarin die Vatikaan gaan beweeg, beïnvloed. Hy het ook, soos ander Jesuïete, min agting vir hiërargie. Kevin O’Brien, vise-president vir sending en bediening aan Georgetown Universiteit, sê:  “The church has been sidetracked by sexual and financial scandals. Now, it’s about getting back to the basics. It’s about preaching the gospel and helping the poor.”

Jesuïete het Sao Paulo gevestig; hulle het die oorsprong van die Nyl bepaal; hulle het rubarber, Kinien, vanilla en ginseng uit Asië en Suid-Amerika na Europa gebring. Hulle klem op opvoeding  is duidelik uit ‘n Jesuïtiese wiskundige wat die Gregoriaanse kalender ontwikkel het; ‘n Jesuïtiese wetenskaplike het ontdek dat pes versprei as gevolg van mikro-organismes; 35 kraters op die maan is na Jesuïtiese wetenskaplikes en sterrekundiges vernoem.

 




Hoe moet ek die profeteboeke verstaan?

. –Thomas Brooks

Hoe moet ek die profeteboeke verstaan?

Wat het al hierdie snaakse gebeure waarvan die profete praat nou met ons te doen? Al die afgryslike dele oor oordeel soos in Jeremia en Amos kan ons maar oppervlakkig lees. En wat van die onverstaanbare beelde in Esegiël, Daniël en Sagaria? Daarom spandeer ons maar min tyd aan hierdie boeke.

 

Hoe moet ons hierdie boeke verstaan? Ons moet kyk hoe hulle in die konteks van die verhaal van die Bybel inpas. Die Bybel begin met die verhaal van die wonderlike skepping; die mense wat God na sy eie beeld gemaak het, sondig gereeld teen Hom. God se oplossing vir die probleem van die mens se sonde kry ons in sy verbond met Abraham (Genesis 12 – 17). Baie van dit wat nou volg gaan oor God se vervulling van sy beloftes aan Abraham. In Eksodus lees ons dan hoe God sy volk uit Egipte uitlei. God sluit dan ‘n nuwe verbond met die volk by Sinai – die Mosaïese verbond. Hierdie verbond het basies drie bene: Ek sal julle God wees; julle sal my volk wees; Ek sal in julle midde bly.

Net voor die volk die beloofde land intrek, kry ons Deuteronomium 28 waarin ‘n lys van seëninge en strawwe uitgespel word vir die onderhouding of verbreking van die verbond. Dit sluit in die voorwaardes waaronder Israel in die beloofde land kan bly. Israel belowe herhaaldelik om hierdie verbond na te kom.

In Josua tot aan die einde van 2 Konings is die sentrale vraag: Sal die volk getrou bly aan hulle verbond met God soos dit primêr in Deuteronomium beskryf word? Die antwoord is duidelik: Nee. Onder invloed van die buurnasies verwerp God vir Israel en begin afgode te aanbid. Terselfdertyd draai hulle hulle rug op die etiese riglyne en ons lees van geestelike en morele verval. Hierdie agteruitgang word net onderbreek deur die verhale van Samuel en Dawid.

God se geduld is op. Nou stuur Hy die profete  met ‘n finale pleidooi: Bekeer julle; keer terug na julle godsdiens en die ware aanbidding van God soos ooreengekom is in Deuteronomium 28. Indien die volk dit nie doen nie, sal die vreeslike strawwe beskryf in Deuteronomium 28 in werking tree. Die profete wys vir die volk hoe hulle die ooreenkomste met God verbreek het. Die oordeel is nou onvermydelik. Dit kom in die vorm van twee vreeslike invalle:

  • In 722 vC val Assirië die Noordryk in en vernietig die noordelike koninkryk.
  • In 587/586 vC val die Babiloniërs die Suidryk in en vernietig Jerusalem en die tempel.

Israel verloor so die beloofde land.

Die profete verkondig oordeel, maar reik ook terug na God se verbond met Abraham en Dawid. God se verbond met Abraham het veral drie beloftes: ‘n land, ‘n nageslag en dat hy tot seën  van alle nasies sal wees. God se verbond met Dawid is dat Hy vir hom ‘n koningshuis gaan vestig: Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan (2 Samuel 7:16). Daarom voorspel die profete ‘n hersteltyd – ‘n tyd wanneer God ‘n nuwe en beter verbond met sy mense sal sluit. Dit is baie gou duidelik dat hierdie verbond nie tot Israel beperk sou wees nie, maar alle nasies sou insluit – soos God aan Abraham beloof het.

Die boodskap van die profete sluit basies drie punte in:

  • Julle (Israel en individue) het die verbond wat God met Moses gesluit het, verbreek. Bekeer julleself. Hier is ‘n paar sondes wat die profete oor en oor herhaal: afgodery, sosiale ongeregtigheid en ‘n dwase vertroue op godsdienstige rituele.
  • As julle julle nie bekeer nie, is oordeel onvermydelik.
  • Daar is egter hoop vorentoe – na die oordeel. Daar wag ‘n heerlike toekoms en Israel sal herstel word. Maar al die nasies word nou deel van hierdie nuwe verbond.

Met hierdie agtergrond is dit makliker om die konteks van die profeteboeke te verstaan en sal ons die rykdomme in hierdie boeke kan ontgin.