Ongesuurde brood in antieke Israel

Ongesuurde brood in antieke Israel – Coen Slabber

Vraag:

Susan Barnard vra:

Ek wil graag ‘n brood resep hê wat hulle in die Bybel se tyd gebruik het vir ongesuurde brood. Kan julle my dalk help asseblief.

Antwoord:

Coen Slabber antwoord:

Die stapelvoedsel van die ou Israeliete was brood. Dit was so ‘n belangrike deel van elke maaltyd dat die Hebreeuse woord vir brood ook na voedsel in die algemeen kan verwys. Om die belang van brood verder te beklemtoon, het Bybelse Hebreeus ten minste twaalf verskillende woorde vir brood. Brood is by feitlik elke maaltyd geëet en het in tussen 50 en 70% van die gewone mense se kalorie inname  voorsien.

 

Die Israeliete het veral koring, gars en soms sorghum verbou. Dit is gewoonlik in die vorm van ‘n platbrood of roosterkoeke gemaak. Fyn gemaalde meel was ‘n luukse wat net die rykes kon bekostig. Gars was die gewildste graansoort in die antieke Midde-Ooste. Gars word vroeër as koring ryp en is ook meer bestand teen droogtetoestande. Ons lees dat Jesus die seuntjie se vyf garsbroodjies vermeerder het om 5 000 mans en hulle gesinne te voed (Johannes 6:9 – 13).

 

Die hele proses van brood maak, is begin deur die graan te dors. Die primitiefste manier was om die are met die hand uit te vryf – iets wat Jesus se dissipels gedoen het (Lukas 6:1). Later is die gerwe met stokke geslaan of osse is oor die gerwe gejaag om die korrels van die kaf te skei.

 

Daarna is die graangewas gemaal.’n Harde klip is gebruik om die koring op die meulsteen te maal. Later is ‘n stamper en vysel gebruik.  Hier is ‘n voorbeeld van so ‘n meulsteen.

 

 brood

 

Hierdie was ‘n moeilike en tydrowende proses. Elke huis het sy eie graan gestoor. Dit word bereken dat omtrent drie uur elke dag nodig was om genoeg meel vir ‘n gesin van vyf  te maal. Na die meel verkry is, is dit met water gemeng en geknie in ‘n groot bak. Gewoonlik is suurdeeg gebruik. Die suurdeeg is verkry deur  ‘n klein deeltjie van die deeg wat vir die vorige baksel gebruik is, te hou.

 

Hierdie deeg is op verskillende maniere gebak. Aanvanklik is die deeg direk op warm klippe geplaas. Later is ‘n bakpan of bakplaat gemaak van klei of yster gebruik (Levitikus 7:9).

 

Die eindresultaat van al hierdie metodes was dun brode. Daarom die gebruik om brood te breek en nie te sny nie. Hierdie brood is ook gebruik om in souse te doop. Soms is die brood in ‘n wynsous gedoop (Rut 2:14); soms is dit in olyfolie gedoop.  Brood is soms verryk deur  boontjies, lensies, sorghum en spelt by te voeg (Esegiël 4:9).

 

Wat dan nou van ongesuurde brood? Ons lees van die gebruik van ongesuurde brood by die instelling van die paasfees (Eksodus 12). Reeds op die eerste dag van die fees moes alle suurdeeg uit die huis verwyder word. Vir sewe dae lank kon net ongesuurde brood geëet word. Hierdie was ‘n opdrag van God en indien iemand dit nie gehoorsaam nie, moes hy van Israel afgesny word. Die eet van ongesuurde brood hang dikwels saam met Joodse godsdiensfeeste.

 

Hoekom ongesuurde brood? In die Bybel word suurdeeg gewoonlik met die bose verbind. Die gisting wat plaasvind simboliseer verrotting of ontbinding. Jesus waarsku sy dissipels: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs (Matteus 16:6). Paulus gebruik ook die beeld van suurdeeg in ‘n negatiewe betekenis: Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? Verwyder dan die ou suurdeeg dat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees … Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid (1 Korintiërs 5:6 – 8). Daar is egter ‘n uitsondering op hierdie reël. Jesus vertel ‘n gelykenis en sê dat die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was (Matteus 13:33).

 

Ongelukkig kon ek geen resep kry nie.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Laat sy liefde jou lei: God gee nét genoeg

Laat sy liefde jou lei: God gee nét genoeg – Milanie Vosloo

Dié wat baie (manna en kwartels) opgetel het, het niks oorgehou nie. Dié wat min opgetel het, het nie te min gehad nie. Daar was net mooi genoeg vir elkeen om van te eet. Exodus 16:18b

 

Die meeste van ons hou daarvan as ons lewens min of meer georganiseerd is; as ons weet waarheen ons oppad is, wat ons moet doen en hoe ons dit behoort te doen. Dis mos maar menslik om in beheer te wil wees. Juis daarom vind ons dit dikwels frustrerend as ons na God se wil vra … en voel of Hy nie antwoord nie. Dis ook nie altyd maklik om in die duister te wees oor wat Hy vir ons toekoms beplan nie.

Die feit is: God laat Hom nie voorskryf deur ons menslike vereistes, ons horlosies en manier van leef nie. Hy doen dinge op sý unieke en soewereine manier: ook wanneer en die manier hoe Hy ons op ons vrae en gebede antwoord. Boonop maak ons Vader dit ook duidelik dat Hy ’n ”Een-tree-op-’n slag-God” is. Hy gee dit wat ons vir vandag nodig het, vandág. Môre sorg Hy vir môre. Soos Hy in Eksodus 16 manna en kwartels dag-vir-dag aan sy volk gee, so sal Hy ook vir ons dit gee wat ons op hierdie tydstip nodig het. Niks meer nie en niks minder nie!.

Dit help nie om vandag al môre se antwoorde te probeer bymekaarmaak nie. God gee een woord op ’n slag.

Here, dankie dat U stukkie-vir-stukkie die antwoorde sal gee wat ek nodig het.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 




JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (3)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (3) – Jan van der Watt

ii) Wie was Johannes die Doper?

As ons Johannes die Doper kon raakloop… wat sou ons sien?

 

  • Kon 1:8. 
  • Heelwat wetenskaplikes verbind Johannes die Doper met die gemeenskap – waarskynlik Esseners – wat by Kumraan langs die Dooie see gewoon het. Hulle was ‘n klomp priesters wat gerebelleer het teen die afvalligheid van die priesters in Jerusalem rondom die tempel. Hulle het gevoel dat daai priesters te veel toegewings maak teenoor die heidense Romeine en so die egte geloof verlaat. Hulle het te veel na die pype van die heidene gedans. Uit hierdie groep, wat ‘n strenger godsdiens voorgestaan het, kom Johannes waarskynlik. Daarom is hy wetsgehoorsaam en leer sy volgelinge so (Mk 2:18).

     

    • Die reaksie op Johannes was oorweldigend. Daar is eintlik onder die meeste geleerdes konsensus dat Johannes uit menslike oogpunt belangriker was onder die Jode as Jesus:
      • Johannes is bekend en doop baie mense uit groot gebiede. As jy iemand doop beteken dit dat die persoon hom “by jou groep aansluit”. (Mk 1:5). Daarom weet hulle in die hart van Jerusalem ook deeglik van hom as profeet (Mk 11:32). Hulle stuur selfs afvaardigings om te kom kyk of hy nie dalk ‘n belangrike profeet is nie (Joh 1:19).
      • Hulle het Johannes ook begrawe na sy dood (Mk 6:29)
      • Daar is vandag nog reste van die Johannes die Doper groep.

    iii) Waar doop hy?

    Ons het nou na Johannes die persoon gekyk. Nou gaan ons na sy preke kyk.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt

     




    Alle Paaie lei na Jesus: Oorgange binne die Nuwe Testament

    Alle Paaie lei na Jesus: Oorgange binne die Nuwe Testament – Adrio König

    6.5 Oorgange binne die Nuwe Testament

    Kom ons kyk ook na twee oorgange binne die Nuwe Testament. Tydens sy aardse bediening tree Jesus op soos die profete uit die Ou Testament: Hy roep die volk tot bekering. Hy gaan nie na die heidene nie, maar rig Hom uitsluitlik op Israel (Matt 1:21; 10:5-7; 15:24). Hy roep hulle op tot bekering soos ’n tipiese Ou-Testamentiese profeet. Sy doel is dieselfde as dié in die Ou Testament:

    As Israel aan die Here getrou is, sal Hy hulle só seën dat die heidene na Jerusalem sal stroom om die Here daar saam met Israel te dien (Ps 22:28; Jes 2:2-5; Jer 3:17). As Hy teen die einde van sy bediening besef dat die leiers van die volk nie na Hom luister nie, begin Hy hulle ernstig waarsku dat God die koninkryk van hulle  sal wegneem en aan die heidene sal gee (Matt 21:31, 43; 22:1-14; 23:37 ev). As hulle Hom dan finaal verwerp en kruisig, kom daar ’n dramatiese keerpunt. Ná sy opstanding gee Hy uitdruklik die bevel dat sy dissipels nou na die heidene moet gaan (Matt 28:19). Dit is ’n radikale oorgang binne die Nuwe Testament, ’n oorgang van wat ons die Ou-Testamentiese sendingmetode kan noem, na die Nuwe-Testamentiese metode (3.3).

     

    ’n Tweede voorbeeld binne die Nuwe Testament raak die tempeldiens. Aanvanklik gaan die tempeldiens, die priesterorde, die offergebruike en selfs ook die Sabbatsviering van die Ou Testament onveranderd in die Nuwe Testament voort. Tydens die aardse optrede van Jesus neem Hy self daaraan deel en gee opdragte daaroor (Matt 5:23-24; Luk 4:16). Trouens tot laat in die Nuwe Testament gaan die Christene nog gereeld tempel toe en bring Paulus spesiaal ’n offer in die tempel (Hand 3:1 ev; 21:26). Eers daarna kom daar ’n definitiewe breuk tussen die Jode en die Christene – dus weer ’n radikale oorgang binne die Nuwe Testament, en nie tussen die twee Testamente nie. ’n Mens kan dus nie vra na die verhouding tussen die tempelkultus in die Ou Testament en in die Nuwe Testament nie, maar tussen die tempelkultus soos dit nog lank in die Nuwe Testament voortgegaan het, en die einde van die tempelkultus vir die Christene wat eers baie laat in die geskiedenis van Handelinge kom.

     

    In ’n sekere sin kan ons dus nie die Ou Testament en die Nuwe Testament as twee blokke met mekaar vergelyk nie. Terwyl ons enersyds bepaalde sake in die twee Testamente met mekaar kan vergelyk (en só op groot verskille in die verhoudings afgekom het), moet ons andersyds besef dat van die mees dramatiese oorgange binne die twee Testamente self plaasvind, en nie tussen hulle nie.

     

    Geen kortpad nie

    In die lig van hierdie sterk gevarieerde verhouding is elke “lekker” kort formule vir die verhouding Ou Testament – Nuwe Testament op sy beste maar net ’n baie klein faset van ’n baie ingewikkelde saak, en op sy slegste ’n vertekening van die werklikheid. Dis een ding om met mooi formules te speel,  maar dis heeltemal iets anders om na die werklikheid te kyk, na die talle verskillende verhoudings wat daar tussen bepaalde dinge in die twee Testamente is. Daar is geen moontlikheid om “die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament” in ’n enkele formule vas te lê nie. ’n Mens moet eenvoudig elke keer kyk na die spesifieke dinge wat met mekaar in verband gebring moet word.

     

    Wanneer ’n mens nou die titel van die boek in gedagte hou en terugkyk in hierdie hoofstuk, besef jy omtrent alles wat aangehaal is oor die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament het direk met Jesus in verband gestaan. Alle paaie lei na Jesus.

     

    In die volgende artikel gaan ons na ‘n interessante vraag kyk: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan?

     

    AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

     

     

     

    Skrywer: Prof Adrio König