Alle Paaie lei na Jesus: Die groot oorgang binne die Ou Testament – Adrio König
6.4 Die groot oorgang binne die Ou Testament
Die grootste oorgang in die hele geskiedenis van die Bybel kom tydens die ballingskap voor. Daar ontwikkel ’n radikale nuwe siening van die werklikheid en die geskiedenis. Hierdie nuwe kyk op die wêreld vorm later die agtergrond waarteen ons Jesus se optrede moet verstaan. Dit is die oorgang van ’n profeties-historiese wêreldbeskouing na ’n apokaliptiese wêreldbeskouing. Effens oorvereenvoudig kan ons praat van die oorgang tussen ’n natuurlike en ’n bonatuurlike wêreldbeskouing.
Die woorde mag moeilik klink, maar ons is almal goed bekend met die betekenis daarvan. Die ou profeties-historiese (natuurlike) beskouing was vir die grootste deel van die Ou Testament in gebruik. Dit gaan oor dinge wat alle mense elke dag kan ervaar. Die seën van die Here is: Voorspoed soos goeie gesondheid, goeie oeste, goeie aanteelt van die vee, baie kinders en vrede met die omringende volke. Net so is die oordeel van die Here ook volkome natuurlik: siekte, droogte, slegte oeste, kinderloosheid, onderwerping deur buurvolke.
Hierteenoor staan die nuwe bonatuurlike wêreldbeeld wat tydens die ballingskap ontwikkel het: die seën van God as die ewige lewe, die opstanding uit die dood, die verheerliking op die nuwe aarde in die hemelse teenwoordigheid van God, en die oordele van die Here as die ewige verderf. Dit is nie dinge wat ons ooit ervaar nie. Verder is daar bose magte wat mense se lewens bedreig, sterre wat op die aarde sal val as die Seun van die mens in heerlikheid kom, ’n algemene oordeel oor alle mense. Hierdie oorgang het tydens en na die ballingskap ontwikkel. Aanvanklik is die ballingskap ook “natuurlik” verstaan: dit was God se oordeel oor die volk weens hulle aanhoudende ontrou aan Hom: vyande wat hulle oorwin. Daar was niks vreemds of onvoorstelbaars in nie, al was dit ’n vernietigende ervaring. Maar die ballingskap was so erg dat die oortuiging gaandeweg posgevat het dat meer op die spel was as net die “natuurlike”oordeel van die Here. Hulle was oortuig bose magte het op aarde oorgeneem en die hele wêreldorde omgekeer. Hierdie magte het die mensdom probeer vernietig.
Dit is nie iets wat mense daagliks kan ervaar nie. Daarom word daar ook beelde gebruik wat heeltemal onwerklik is. Die enigste boek in die Ou Testament waarin hierdie nuwe wêreldbeskouing volledig ontwikkel word, is Daniël, wat baie laat geskryf is. Kyk ’n oomblik na die totaal onwerklike diere wat in Daniël 7 beskryf word.
Die oorname van die bose magte het beteken dat die heerskappy van God op aarde in gedrang gekom het, die heerskappy waaroor veral die Psalms so heerlik kon sing. Dink maar net aan Psalm 47:3: “Die Here is die groot Koning oor die hele aarde.” Trouens daar is baie Psalms wat hieroor sing, soos Psalm 46-50. Hierdie heerskappy is deur die bose magte gebreek. Dat die duiwel en sy magte die wêreld van die Here “gesteel” het, is ’n beeld wat Jesus self gebruik (Matt 12:29). Die duiwel is nou die god van hierdie wêreld (2 Kor 4:4; 1 Joh 5:19). Daarom kan die duiwel vir Jesus al die koninkryke van die aarde aanbied as Jesus hom sou aanbid (Matt 4:8 ev). Dit is ’n werklike versoeking vir Jesus omdat dít juis is wat Hy moes kom doen: om die wêreld van die bose magte terug te wen en só God se heerskappy (koninkryk) op aarde te herstel. Daarom kondig Jesus ook aan dat die koninkryk van God gekom het juis as Hy duiwels uit mense se lewens uitdryf (Matt 12:28). Dit is ook die rede waarom Jesus se genesings en duiweluitdrywing die grootste enkele element is in sy aardse optrede. Hy herstel God se heerskappy (koninkryk).
Hiermee is klaar ’n bepaalde verband gelê tussen die twee Testamente: natuurlik – bonatuurlik. Jesus tree op teen hierdie bonatuurlike agtergrond. Daarom praat Hy van dinge wat nêrens in die Ou Testament na vore gekom het behalwe in die apokaliptiese literatuur wat eers baie laat geskryf is nie (soos Daniël en ’n paar dele uit ander boeke soos Jesaja 24-27 en Sagaria 12-14). Hy praat van ’n wêreldeinde, van die groot opstanding, die oordeel, die verderf, sake wat nooit in die vroeër dele van die Ou Testament ter sprake gekom het nie.
Sonder die agtergrond van die apokaliptiek in die laat Ou Testament sou ons baie min van Jesus se optrede kon verstaan. Daarom is die oorgang na hierdie apokaliptiese wêreldbeskouing so belangrik. Maar dit vind nie plaas tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament nie, maar binne die Ou Testament. Dit is dus onvoldoende om net die twee Testamente met mekaar te probeer vergelyk.
Ons kry presies dieselfde in die Nuwe Testament. In die volgende artikel gaan ons daarna kyk.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König