Het ons ons godsdiens afgewater? Vier vissermanne langs die See van Galilea

Pride is the devil’s dragnet in which he takes more fish than in any other, except procrastination – C. H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? Vier vissermanne langs die See van Galilea

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

 Ons het laas gesien dat Ayan, die Moslemvrou, groot opofferings moes maak om Jesus Christus te kan volg. Is sy ‘n uitsondering? Kom ons kyk na Jesus se oorspronklike oproep.

 

Jesus loop langs die See van Galilea. Daar sien Hy vier vissermanne – Simon (Petrus), Andreas, Jakobus en Johannes. Jesus roep hulle en sê: Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19). Wat sê Jesus in werklikheid vir hulle? Los julle beroep, besittings, drome, familie, vriende, veiligheid – los alles net so en volg My.

As ons Jesus Christus wil volg moet ons alles agterlaat. Ons leef in ‘n wêreld waar alles om onsself draai – ons bestaan, ons status, ons bevordering, ons besittings …  Hierdie eerste vier dissipels van Jesus moes groot opofferinge gemaak het: Petrus is onderstebo gekruisig, Andreas is in Griekeland gekruisig, Jakobus is onthoof en Johannes moes vlug uit sy land. Tog was hulle oortuig dat om Hom te volg beslis die moeite werd was – al beteken dit dat hulle hulle lewens mag verloor. Hulle het ‘n pad ontdek waarop hulle met vreugde geloop het al het dit hulle lewens gekos.

Hoe ver het ons nie van hierdie pad afgedwaal nie. Wat leer ons vandag in die kerk? Aanvaar sekere feite, aanvaar dat as jy sekere woorde sê en ‘n kaartjie invul alles reg is. Dit nie waar nie. Soos ons uit Jesus se eerste vier dissipels se lewens sien, is daar ‘n koste verbonde daaraan om Jesus te volg. Is ons bereid om hierdie prys te betaal en om uit ons gemaklike “Christelike” geloof te stap?

Jesus Christus vra meer as intellektuele geloof – ek ken ‘n klomp feite en aanvaar hulle. Volgende keer gaan ons na die hedendaagse kerk kyk. Hoekom al die bohaai? Wat het in die kerk gebeur?




Het ons ons godsdiens afgewater? ‘n Verhaal van ‘n Moslemvrou

If there be a man before me who says that the wrath of God is too heavy a punishment for his little sin, I ask him, if the sin be little, why does he not give it up? – C. H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? ‘n Verhaal van ‘n Moslemvrou

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie. Lees die verhaal van Ayan. In haar geval was daar veel meer op die spel.

 

Ayan is ‘n Moslem. Haar persoonlike identiteit, eer en sosiale status is nou verbonde aan haar godsdiens – Islam. Sy weet dat as sy haar geloof sou verlaat, sy haar lewe kan verloor – nie noodwendig letterlik nie, maar sy sal ‘n uitgeworpene in haar samelewing wees. As haar familie agterkom dat sy nie meer ‘n Moslem is nie, sal hulle haar keel afsny. Jy begin met haar oor Jesus Christus praat. Met verloop van tyd kom jy agter dat haar hart versag. Sy bewe as sy net dink aan die prys wat sy sal moet betaal as sy ‘n Christen sou word.

Met geloof in haar hart, maar met vrees in haar oë, vra sy: “Hoe word ek ‘n Christen?”  Wat sê jy vir haar?

  • Aanvaar sekere waarhede; bid ‘n sekere gebed en jy is verlos. Dit is al wat nodig is. OF
  • God roep jou om te sterf. Jy moet letterlik sterf van jou lewe, jou gesin, jou vriende, jou toekoms … Die EK moet eers doodgaan voor ek vir Christus kan lewe. Dan word ek deel van ‘n globale familie van alle ouderdomme.

Hulle het vir haar die tweede antwoord gegee. Sy het Jesus Christus as haar Verlosser aangeneem, maar sy moes vlug van haar familie en vriende. Om Jesus Christus te volg het sekere opofferings van haar vereis. Die vraag is of ons bereid is om dit vir mense te sê wat vir ons vra wat hulle moet doen om Christene te word. Of skram ons weg en gee ‘n maklike, oppervlakkige antwoord? Glo ons nog dat om Christus te volg, ‘n prys van ons vra?

Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie probleem spandeer. Volgende keer kyk ons na vier vissermanne en wat hulle moes opoffer.




Wat vertraag evangelisasie?

All places are places of worship to a Christian. Wherever he is, he ought to be in a worshiping frame of mind –  C. H. Spurgeon

Wat vertraag evangelisasie?

Tim Gombis sê dit is die gedagte dat ons eers toegerus moet voor ons enigiets kan doen. Ons het die regte gereedskap en die regte onderrig nodig voordat ons in ons gemeenskappe betrokke kan raak. Hoekom dink ons so? Is dit omdat ons ‘n waarborg wil hê dat ons nie sal misluk nie?

Die gevolg is dat ons baie Bybelstudie in ons gemeente doen, maar nooit die geleentheid kry om in ons gemeenskappe uit te reik nie. Natuurlik is Bybelstudie belangrik, maar dit is nie al waaroor ons godsdiens gaan nie. Dit voed ons liggame wanneer ons ander dien en wanneer ons ons verhoudings met nie-gelowiges geniet.

Daar is een baie belangrike les wat ons moet leer: ons is nie daar om ons gemeenskap te red nie – God is teenwoordig in daardie gemeenskap  om ons te red. Hy onderhou ons; Hy gee aan ons lewe as ons saam met mense in die gemeenskap eet, na hulle stories luister en vriendskappe van gee en ontvang ontwikkel.

Dit is belangrik dat ons saam na die verkondiging van die Woord luister; dit is belangrik dat ons mekaar in die gemeente dien. Maar dit is net so belangrik dat ons doelbewus verhoudings met buitestanders in ‘n gesindheid van nederigheid aanknoop.




Psalm 119:48

“A sunny disposition is worth more than fortune. Young people should know that it can be cultivated; that the mind like the body can be moved from the shade into sunshine.”   —Andrew Carnegie

Psalm 119:48

Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig. U voorskrifte sal my bybly (NAV)

En my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink (OAV)

Om al u voorskrifte te hou maak my baie bly. Ek kan nie genoeg vir U sê hoe gelukkig dit my maak om te doen wat U sê nie, ek dink heeltyd daaraan (Die Boodskap)

 

Ons lig natuurlik ons hande op vir ‘n verskeidenheid van redes: om ons onderwyser se aandag te trek, om te waai, om dinge wat val te vang, om fees te vier, ens. Die psalmis sê ons moet ons hande ophef. Hoekom? Om te prys – om ons liefde vir God se gebooie te verklaar.

Daar is iets van ywer, maar ook ‘n begeerte om die leermeester se aandag te trek, in hierdie vers. Dwarsdeur Psalm 119 lees ons van die psalmis se ywer om met God te verbind. Hy lig sy hande entoesiasties op omdat God se gebooie hom bly maak. Die gevolg is dat hy al God se insettinge oordink.

Dit is interessant dat u gebooie wat ek liefhet ook in vers 47 voorkom. Sommige teoloë beweer dat hierdie ‘n oorskryffout is wat per ongeluk herhaal word Moontlik, maar dalk wou die psalmis net sy liefde vir God se woord herhaal het.

In die 176 verse van Psalm 119 kry ons in meeste ‘n sinoniem vir God se woord. In vers 48 kry ons twee sinonieme – gebooie en insettinge. Ons kry twee sinonieme net in verse 16 en 168. Al drie kom aan die einde van ‘n afdeling voor. Vers 48 is die einde van die Wau gedeelte.

Hoe lig ons ons hande op na God se gebooie?