Israel is honger

Do not have your concert first and tune your instruments afterward.  Begin the day with God. —Hudson Taylor

Israel is honger

Hulle het God getart toe hulle kos gevra het na eie smaak (Psalm 78:18)

In haar boek Unbroken vertel Laura Hillebrand die ongelooflike verhaal van Louis Zamperini. Tydens die Tweede Wêreldoorlog oorleef hy en twee ander Amerikaanse soldate ‘n vliegtuigongeluk. Vir 47 dae dryf hulle op die see rond.

Hulle het net reënwater gehad om te drink en af en toe ‘n albatros om te eet. Een van die manne het dit nie oorleef nie. Vir dae was hy in ‘n beswyming as gevolg van honger en dors. Uiteindelik sterf hy. Louis en sy maat word later deur die Japannese gevange geneem.

Min van ons ken werklik die lyding van hongersnood en dehidrasie. Voordat ons nou sommer die Israeliete van ‘n gebrek aan geloof beskuldig, moet ons ons in hulle omstandighede indink. Hulle het geen kos gehad nie – ook nie om hulle kinders mee te voed nie. Daar was nog honderde kilometers oor van hulle reis. Ons kan sê dat hulle tog moes besef het dat God sou voorsien as hulle net sou vra – maar hulle het nie. Alhoewel Hy reeds sy wonderlike versorging van hulle bewys het deur water uit ‘n rots te voorsien en selfs al was sy voorsiening nooit skraps nie, het hulle dieselfde probleem gehad as wat baie van ons steeds het – hulle kon nie vertrou nie.

E. M. Bounds sê:Trust always operates in the present tense. Hope looks toward the future.” Beide vertroue en hoop vereis ‘n visie wat verby ons huidige probleme kyk. Al wat die Israeliete gesien het was ‘n barre woestyn. Kan God in die woestyn kos gee? (78:19). Hulle sien nie die onsigbare werklikhede van God en sy oneindige hulpbronne nie. Hulle kon nie aan sy goedheid en beskermende aard vashou nie. Nee, hulle kies ongeloof wat lei tot aanklagte teen God. Dit is arrogansie.

 Waaroor is ons chronies bekommerd? Rekeninge? Ons kinders? Ons gesondheid? Satan blaas altyd die omvang van ons probleme op sodat ons nie vir God kan raaksien nie. Ons moet bid dat ons probleme tot hulle werklike grootte krimp sodat ons God al hoe beter kan sien.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 12

Do not have your concert first and tune your instruments afterward.  Begin the day with God. —Hudson Taylor

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 12

Vraag:

Wat vereis God van ons in die negende en tiende gebooie?

 Antwoord:

Negende: dat ons nie leuens vertel of ander mislei nie, maar dat ons die waarheid sal praat. Tiende: dat ons tevrede is en nie ander beny nie. Dat ons nie gegrief sal weer oor dit wat God aan hulle of aan ons  gegee het nie. [Onderstreepte gedeeltes is die antwoord vir kinders.]

 

 Teksvers:

As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg (Jakobus 2:8)

 Kommentaar:

Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie. Here, U beveel my in hierdie gebod hoe ek my tong teenoor my naaste moet gebruik en hoe ek my moet gedra betreffende sy naam. U verbied my om vals getuienis af te lê. Hiermee verbied U alle vorme van skinder, leuens, valsheid en onwaarhede. Hoekom? As “lede van een liggaam”  wil u hê dat ons die waarheid met mekaar sal praat. Ons moet almal versigtig wees om ‘n ander se swakheid te bedek en met ons tong die naam van ander te verdedig, soos ons wil hê hulle teenoor ons sal doen.

 In hierdie gebod, soos U allerhande  vorme van bose, gevaarlike, lasterlike en onwaar  spraak  verbied, beveel U my om alle vorme van goddelike, eerlike en ware praat na te streef … O, hoe ‘n goeie ding is dit vir my! As ons dink aan die seerkry wat volg op onwaarhede en deur woorde waardeur baie mislei word, sien ons duidelik die wonderlike voordeel en versorging van U vir ons in hierdie gebod.

 Jy mag nie begeer nie. Hier, genadige Here God, gee U aan my die laaste gebod van u wet wat my geleer het watter uiterlike optrede ek moet vermy, sodat ek nie daardeur  my naaste kwaad aandoen of seermaak nie.  Voorbeelde is moord, egbreuk, diefstal en vals getuienis.  Nou leer U my ‘n reël vir my hart. U beveel dat ek niks van my naaste sal begeer nie. Ek weet dus dat as hy ‘n mooier huis as ek het, ek dit nie mag begeer nie; as hy ‘n mooier vrou as ek het, ek haar nie mag begeer nie … ek mag nie ‘n bees of donkie, ja, selfs nie sy hond  of die kleinste dingetjie wat hy besit, begeer nie. In die ander gebooie  het U alle beserings of bose praktyke teen my naaste verbied, nou beveel U my dat ek moet oppas om nie bose gedagtes teen hom te dink nie … Die apostel het reg gepraat toe hy gesê het dat ons al ons laste aan U moet gee, want U sorg vir ons. Dit is waar: U sorg vir ons en U wil hê dat ons ook vir ander moet sorg.

 Hierdie kommentaar is deur John Bradford (510–1555), ‘n Engelse Protestantse Hervormer  geskryf. Bradford het aan die universiteit van Cambridge gestudeer. Hy word die koninklike kapelaan vir Koning Edward  VI. Toe Mary Tudor, ‘n Katoliek, die troon bestyg word hy saam met  Latimer, Ridley and Aartsbiskop Cranmer gearresteer. Hy het ‘n groot reputasie as prediker gehad en ‘n groot skare het sy teregstelling bygewoon. Hy word veral onthou vir sy stelling:  “There but for the grace of God goes John Bradford.”  Sy werke waarvan sommige in die tronk geskryf is, sluit in briewe, oproepe, lofredes, preke en verhandelings.

Hierdie kommentaar kom uit  “Godly Meditations: A Meditation upon the Ten Commandments” inThe Writings of John Bradford, geredigeer by Aubrey Townsend (Cambridge: University Press, 1868), 150–157.

 Verdere leesstof:

Oaths and Vows” en “Antinomianism” inConcise Theology, deur  J. I. Packer.

 

Gebed:

Almagtig Vader, die Vader van lig, wat deur u dierbare Seun belowe het dat almal wat u wil doen, sal u leer ken; gee my die genade om so te leef dat deur daaglikse gehoorsaamheid my geloof sal toeneem en dat ek u heilige Woord beter sal verstaan deur Jesus Christus ons Here. Amen

 

C. S. Lewis (1893 – 1963) was ‘n lektor in Engelse literatuur aan die Universiteit van Oxford en hoof van die Departement Engels aan die Universiteit van Cambridge. Hy het letterkundige kritiek, kinderliteratuur, fantasie as ook teologie geskryf. Sy bekendste werke is  Mere Christianity, The Screwtape Letters  en The Chronicles of Narnia. Hy was lid van die Anglikaanse Kerk. Sy bekering is deur sy vriend J. R. R. Tolkien beïnvloed.

 

Hierdie gebed kom uit ‘n brief wat hy op 18 Maart 1952 uit Magdalen College aan Mev Sonia Graham geskryf het. Sy het vir hom gevra vir ‘n gebed. Dit kom uit Letters of C. S. Lewis , geredigeer deur  W. H. Lewis (Orlando: Harcourt, 1966), 419.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.

 




JESUS PREEK – DIE BERGPREDIKASIE (1)

JESUS PREEK – DIE BERGPREDIKASIE (1) – Jan van der Watt

Deel 1 – Jesus preek oor die wet

 

Jesus preek op ‘n berg, daarom word dit die Bergpredikasie genoem. Lukas vertel ons nie van die berg nie, maar sê dat Jesus in die vlaktes gepreek het (Luk 6:17). Waarom? Kyk byvoorbeeld na hoofstuk 5. Daar word daar oor en oor van die Wet gepraat. Jesus kondig, soos Moses van ouds af die Wet van die berg af. Matteus, wat vir die Joodse Christene skryf  wil Jesus met die nuwe  Moses vergelyk. Soos Moses kondig hy weer die wet af.

1. Die saligsprekinge

In 5:3-12 lees ons hoe God na sy mense kyk en wat Hy dink is belangrik of nie.

2. Jesus en die wet

Soos ons weet, het Matteus waarskynlik hoofsaaklik vir Jode wat Christene geword het, geskryf. Vir die Jode het hulle godsdiens om die tempel en die wet gedraai. Deur die wet te gehoorsaam het hulle gevoel dien hulle God, omdat die hou van die wet die voorwaarde was vir hulle nakom van die verbond tussen hulle en God. Jesus het egter ander dinge op die sabbat begin doen wat hulle gedink het verkeerd is. Jesus het nie gevoel dat Hy die wet breek of verwerp nie, maar dat Hy die wet anders interpreteer. Hy hou dus nog die wet, maar op ‘n ander manier. Ons sien iets van die debat in hoofstuk 5.

Jesus bevestig die geldigheid van die wet, maar soos Hy dit kom vervul het. Sy manier van die wet sien, sal lei tot geregtigheid wat groter is as die van die Fariseërs (die Joodse mense van die wet).

Jesus verduidelik dit in die gedeeltes wat nou volg. Hy gee ses voorbeelde van wat dit beteken om die wet te hou soos Hy dit bedoel het. In elke vergelyk hy die Joodse standpunt met die manier waarop Hy dit sien.

Lees die volgende gedeeltes oor die volgende temas deur en sê in elke geval wat presies die verskil is:

In elke geval gee Jesus ‘n ander perspektief: moord beteken nie net om iemand fisies dood te steek nie, maar ook om die persoon sielkundig of geestelik seer te maak deur hom allerhande beledigings toe te snou. Wat is die beginsel hier? Wel, Jesus sien mense anders. Hulle is nie net liggame nie, maar het ook binnestes wat kan seerkry. As jy dus na ‘n mens kyk, moet jy nie net ‘n liggaam sien nie, maar jy moet ook die persoon se geestelike (onsigbare) sy sien, sy ‘binneste’. Of jy nou sy liggaam of sy ‘binneste’ seermaak, jy maak die persoon seer en volgens die manier wat Jesus die wet sien, is dit nie toelaatbaar nie.

So sien ons elke keer dat Jesus die mens as volledige mens voorop stel. Jy moet die mens as mens nie skade berokken nie, veral nie as die mens weerloos is nie. Respek en eer vir mekaar is dus een van die basiese vereistes van die wet. Of anders gestel: sien mense raak en nie wette nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (4)

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (4) – Adrio König

5.4.3 Dankbaarheid

Ons liefde is ’n analogiese eienskap met God se liefde. Ons liefde moet iets van sy liefde vertoon. Ons is immers sy beeld. Dankbaarheid is ’n komplementerende eienskap van genade. Die twee verskil, staan in ’n sekere sin teenoor mekaar, maar hulle verskil sinvol sodat hulle presies by mekaar pas. Ons is immers God se bondgenote wat heeltemal ’n ander rol in die verbond speel as Hy, maar ’n sinvolle aanvullende rol wat sy inisiatiewe aanvul tot ’n harmonieuse verhouding.

Dit was nie vreemd dat ons liefde gekies het as die analogiese eienskap nie. Ons lei ons siening van die mens af uit ons siening van God, en God is liefde. Net so is dit ook nie vreemd dat ons as komplementerende eienskap dankbaarheid kies nie. Veral in die Gereformeerde teologie was dankbaarheid altyd sentraal as ons antwoord op God se verbondsgenade. Die hele evangelie is saamgevat onder drie woorde: sonde, verlossing, dankbaarheid. En ook die klassieke nagmaalsformulier vat ons hele verhouding met die Here saam onder die een woord: dankbaarheid.

 

Net soos in die geval van analogiese eienskappe is ook by dankbaarheid sprake van verskille en ooreenkomste, behalwe dat die verskille hier opvallender is. Dit is juis hierdie reeks eienskappe wat ons daaraan herinner dat daar ’n groot verskil is tussen God en mens, terwyl die analogiese eienskappe ons aan die ooreenkoms tussen Hom en ons herinner. Kom ons kyk ’n oomblik na sommige van die verskille tussen genade en dankbaarheid.

  • Genade spreek van inisiatief, dankbaarheid van reaksie.
  • Ons verdien nie God se genade nie, maar Hy verdien ons dankbaarheid oor en oor. Trouens dis meer as dat ons nie sy genade verdien nie. In werklikheid het ons sy genade verbeur.
  • Ons sonde is die aanleiding tot sy genade – wat ’n vernederende gedagte is. Maar sy genade is die aanleiding tot ons dankbaarheid – wat ’n verheffende gedagte is. Sy genade gee ons ’n ongekende status: kinders, en selfs erfgename van God.

 

Hierdie verskille is egter nie steurend nie. Hulle pas sinvol in mekaar. Hulle vorm ’n passende geheel.

Maar God se genade kan ons ook baie leer oor ons dankbaarheid. Daar is ook punte van ooreenkoms. God is nie traag om ons genadig te wees nie. Ons hoef Hom nie aanhoudend te smeek nie. Ons hoef nie baie beloftes te maak nie. Abraham moes, by wyse van spreke, ook nie afvaardigings na Hom toe stuur om Hom te oorreed om ’n verbond met hom te maak nie. Daarom kan ons ook nie traag wees in ons dankbaarheid nie. As Hy graag genadig is, pas dit ons om met entoesiasme dankbaar te wees. Dankbaarheid wat gevra of voorgesê moet word, is ’n probleem.

 

Genade is duur, selfs onbetaalbaar duur. Ons kon niks doen om dit te verdien nie. Dink net weer ’n oomblik daaraan dat Hy sy enigste Seun só ’n pad laat loop en só ’n prys laat betaal het. Kersfees het nie maar net die laaste tyd duur geword oor die inflasie nie. Die eerste Kersfees was die duurste ooit. God het nie net sy hand diep in sy sak gesteek nie, maar Hy het sy hart gegee. Dit het die gevolg dat ons niks hoef te gee om sy genade te probeer verdien nie. Hy het klaar die prys betaal. Sy genade is verniet.

 

Maar daarby kan net ’n dankbaarheid pas wat ook radikaal is, ook alles gee. Omdat Hy in Jesus Homself gegee het, kan dit tog nie anders nie as dat ons in dankbaarheid ook onsself gee nie. Om anders mens te wees as ’n-ten-volle-aan-God-oorgegewe mens pas eenvoudig nie. ’n Halfhartige Christen is ’n anomalie. Trouens selfs ons alles kan nog hoegenaamd nie met sy alles vergelyk word nie. God se genade is meer as genoeg, dis ’n oorvloed. “Hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword” (Rom 5:20). Christus het deur sy offer die wêreld met God versoen (2 Kor 5:17-20). Die verlore seun kry nie ’n stukkie droë brood en ’n beker koffie nie, hy kry die vetgemaakte kalf en nuwe klere. En die arbeiders wat net een uur gewerk het, kry ook ’n volle dagloon (Matt 20:1-16).

 

Dit is merkwaardig dat die “kerkmense” van daardie tyd in opstand kom teen hierdie oorvloedige goedheid van God. Die oudste seun wat nooit iets verkeerd gedoen het nie, is so kwaad oor sy pa se rojaalheid teenoor sy jong boetie dat hy buite bly staan. En die arbeiders wat die hele dag gewerk het, kom in opstand teen die volle dagloon wat die laatkommers kry. En niemand van ons kan dink dis lelik van hulle nie. Ons sou presies dieselfde gedoen het. God se goedheid is so ’n oorvloed dat dit selfs teen ons idee van reg en regverdigheid indruis.

 

Maar dit alles moet vir ons iets sê oor hoe ons dankbaarheid behoort te lyk. Hoe kan ons so traag en so middelmatig in ons  toewyding aan Hom wees? Sou dit nie eerder gepas gewees het as ons te ver gegaan het in ons toewyding, as ons té groot offers in sy diens gebring het nie, as die skrywers van die Nuwe Testament ’n keer vir ’n gemeente moes skryf: “Stadig, nou gaan julle darem te ver” nie? Maar om soos hierdie gemeentes gedurig aangespoor en aangepor te moet word, pas eenvoudig nie by God se rojaalheid nie.

 

Deel van God se genade is dat Hy ons verlede en ons sonde vergeet. Dis nie die geval dat sy geheue Hom in die steek laat nie, dis ’n keuse wat Hy maak: Hy wíl vergeet. Hy verwyder ons oortredings van ons af so ver as die ooste verwyder is van die weste (Ps 103:12). Maar dan pas dit by ons dankbaarheid om dieselfde te doen. Ons hoef dus nie aan ons verlede vasgenael te sit nie. Jy kan jou kop optel selfs al was jy die swartskaap van die familie. Die waarheid is dat God ons eie verlede aan die kruis saam met Jesus opgehang het, en ons met Jesus verenig het sodat ons aan sy nuwe lewe, sy opstandingslewe deel het. Daarom kan Paulus ons beveel: “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (Rom 6:11). ’n Minderwaardigheidsgevoel pas hoegenaamd nie by gelowiges nie. Hoe kan dit onder die son? Ons is kinders  en erfgename van God! Ons het ’n aandeel aan Jesus se opstandingslewe. Skep moed en begin leef!

 

Dis interessant wat gebeur as ons nadink oor ons verhouding met mense. Teenoor God se genade pas ons dankbaarheid? Maar wat van ons verhouding met ander mense? Natuurlik moet ons ook dankbaar wees teenoor hulle. Maar dis nie al nie. Is daar nie ’n sin waarin ons óók genadig teenoor ander moet wees nie? Jesus se houding teenoor ander is tog dwarsdeur sy bediening eintlik ’n oproep aan ons om soos Hy teenoor mense op te tree. Wat bedoel Hy anders met sy houding teenoor die vrou wat op egbreuk betrap is? (Joh 8) Sy houding is tog eintlik ’n appèl op die Fariseërs om soos Hy genadig teenoor haar te wees. En die appèl aan die ouboet is tog ook: Vergewe, wees genadig (Luk 15). En die appèl aan die Fariseër wat Hom na ’n ete genooi het toe die vrou by sy voete kom staan en huil het? (Luk 7)

 

Dit kom eintlik op dieselfde neer as sy oproep om ander lief te hê. Daar moet ’n sagtheid, ’n toegeneentheid in ons houding teenoor mense wees, veral mense wat “aan die verkeerde kant van die draad staan”. “Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Kor 13:7) is nie ’n probleemlose uitspraak nie, maar dis ’n sterk appèl om genadig te wees, om begrip te probeer opbou vir die persoon wat in die beskuldigdebank staan. Veral die eerste frase: “Die liefde bedek alles” kan misverstand wek. NLV vertaal selfs: “Die liefde bly stil oor ander se foute.” Maar dit skep tog ernstige vrae. Moet ons toesmeer, deur die vingers sien, maak asof dit nie bestaan nie? Doen God dit? Het Jesus dit gedoen met die vrou wat in egbreuk betrap is? Of het Hy haar beveel om op te hou met haar sonde? En met die Samaritaanse vrou by die put? (Joh 4) Die oorspronklike woord vir “bedek alles” is afgelei van die woord vir ’n dak of ’n bedekking. Sou dit dus eerder kon beteken die liefde beskou alles, ook mense se foute en sonde, onder die dak van die liefde? Die liefde is dan die oorkoepelende perspektief, die bril waardeur ons na ander se foute kyk. Dan verdoesel ons nie, maar beoordeel in liefde, met begrip, bereid om te verstaan en te vergewe. Dit is wat dit beteken om genadig teenoor ander te wees. NJB vertaal: “Love is always ready to make allowances.” Kan ons ruimte maak vir ander se foute?

 

As ons terugdink aan God se genade moet ook ons graag “genadig” wees teenoor ander selfs al kos dit ons iets. Dis meestal maklik om toegeeflik te wees as dit ons niks kos nie, maar dis goedkoop, terwyl God se genade duur was. Ons genade moet ook nie te gou grense bereik nie, want God s’n is oorvloedig. En ons moet bereid wees om op die ou end ander se foute/sonde te vergeet. Genade grawe nie ou koeie uit die sloot nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König