Wit rook; swart rook

Self-image, the concept we have of ourselves, must begin not by looking in the mirror, but by looking into the face of God. —Sam Storms

Wit rook; swart rook

Baie mense het die afgelope tyd voor hulle televisiestelle vasgenael gesit met alle oë op die koper skoorsteen van die Sistynse kapel. Min mense het voor die afgelope paar dae geweet wat fumata nera en fumata bianca – swart rook en wit rook beteken het.

 

Hierdie rook kom deels van die verbranding van die stembriewe in ‘n spesiale stoof binne die kapel. Tradisioneel het die Vatikaan nat strooi (wit) of teeragtige pik (swart) bygevoeg om die verlangde kleur te verkry. Ons weet klam gras gee ‘n wit kleur aan rook en as jy bande verbrand, kry jy ‘n swart kleur.

Hoekom het die Vatikaan die prosedure verander? Tydens vorige verkiesings was die rook soms so ‘n vae grys – niemand was presies seker of dit nou swart of wit was nie. Daarom is in 2005 besluit om ‘n meer betroubare manier te gebruik om die kleur aan te dui – chemikalieë.

Vir swart rook word ‘n mengsel van kaliumperkloraat, swael en antraseen gebruik en vir die wit rook ‘n mengsel  van kaliumkloraat, laktose en die hars van ‘n keëldraende plant. Hierdie hars is blykbaar dieselfde wat vioolspelers gebruik om hulle viole se snare voor te berei.
Die hele sisteem is daarop ingestel om foute uit te skakel. Die skoorsteen word elektries verhit en daar is ook waaiers om te verseker dat die rook uitborrel. Die chemikalieë en stembriewe word in twee afsonderlike stofies langs mekaar, maar met ‘n gesamentlike skoorsteen, verbrand.




Die nuwe pous se naam

A man’s treatment of money is the most decisive test of his character – how he makes it and how he spends it. —James Moffat

Die nuwe pous se naam

Dit is interessant dat die pous ‘n naam gekies het wat nog nooit vantevore  deur ‘n ander pous gebruik is nie. Sy naam is Franciskum (Francis in Engels). Die keuse van ‘n naam is baie belangrik, want dit gee ‘n aanduiding van die rigting waarin hy gaan beweeg.

Op hierdie stadium is dit nog onseker na wie sy naam verwys:

  • Fransiskus Xavier. Hy was waarskynlik die kerk se bekendste sendeling. Hy het God se woord in Indië en so ver oos as Japan versprei. Maurice Collis (The Land of the Great Image) skryf dat die bekering van die hele Ooste sy ambisie was.  Hy was baie nederig en toe hy in 1542 in Goa, ‘n Portugese kolonie, aangekom het  “it was noticed that he was barefoot, that his gown was ragged, and his hood of the coarsest stuff.” Uit alles wat ons tot dusver gehoor het, is nederigheid ‘n besondere kenmerk van die nuwe pous.
  • Fransiskus van Assisi is vir meeste van ons beter bekend. Wat egter nie algemeen bekend is nie, is dat hy na die Midde-Ooste gereis het met die verwagting om Moslems te evangeliseer. Daar het hy een van die groot sultans ontmoet. Hy het selfs ‘n taalskool gevestig waar die sendelinge die Arabiese taal kon leer. Ons ken hom meestal vir sy liefde vir diere – hy het hulle selfs geseën. Hy was ook ‘n vurige advokaat vir die armes en ‘n sterk teenstander van simonie en korrupsie in die Rooms-Katolieke Kerk. [Simonie = die koop en verkoop van kwytskeldings, kerklike bedienings en ander kerklike voorregte.]

Uit sy geskiedenis en sy keuse van ‘n naam kan ons verwag dat hy klem gaan lê op evangelisasie, die armes en die uitroei van korrupsie in die kerk. Ons sal moet wag en sien hoe sy pouslike termyn ontwikkel.




MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (6)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (6) – Jan van der Watt

3.7 Matt 13: Koninkryksgelykenisse

 

Hoofstuk 13 vorm die middelpunt van die Evangelie. Hier vertel Matteus ons wat presies die koninkryk van God (die hemele) is wat Jesus bring. Wat is dit en hoe werk dit? Weer bring Matteus vir ons ‘n klomp van die verhale (gelykenisse) bymekaar wat Jesus verkondig het. Elke gelykenis vertel ‘n storie. Al hierdie klein stories saam vertel weer ‘n groter storie.

Miskien het jy by min of meer die volgende uitgekom:

Kyk of jy die gelykenisse met die volgende uiteensetting kan verbind:

Die saaier (verkondiger) verkondig die woord, wat nie deur almal op dieselfde wyse ontvang word nie (dit is ook die boodskap van die Evangelie tot nou toe, het ons gesien). Die Christene, wat die evangelie aanvaar het, word egter nie uit die wêreld weggeneem nie, maar leef saam met die ongelowiges in die wêreld tot met die finale oordeel. Die koninkryk begin ook nie groot nie, maar die inherente krag van die koninkryk is so groot dat dit oor die hele wêreld sal groei. Daarom is dit die heel kosbaarste skat wat jy kan soek en kry. Jy moet alles wat jy het daarvoor opoffer. Aan die einde, met die finale oordeel, sal die Christene van die nie-Christene geskei word. Dan sal die beloning kom.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (3) – Adrio König

Selfliefde

Dit is belangrik om in hierdie verband na selfliefde te kyk omdat daar mense is wat meen selfliefde is deel van die liefde wat ons behoort te hê, en is selfs deel van Jesus se opsomming van die wet: “Ons moet ons naaste liefhê soos onsself.” Indien dit korrek is, beteken dit natuurlik dat selfliefde nie net toelaatbaar is nie, maar selfs ’n “moet”.

Dit sou ’n bevel van Jesus wees. Jy moet jou self liefhê, en jou naaste dan net soveel. Jou liefde vir jouself is die maatstaf van jou liefde vir jou naaste. Ons kan hier praat van ’n uitbalanseringsetiek: Ek en my naaste moet uitgebalanseer word, ons moet ewe veel kry, maar ek is die maatstaf. Dit word dan verbind aan die goue reël: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (Matt 7:12). As ons onsself liefhet, sal ons goed weet wat ons graag wil hê, en dit help ons om te weet wat ons aan ons naaste moet doen.

En daarby kom nog die vermaning van Paulus: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil 2:4).

 

Dit lyk so met die eerste oogopslag ’n sterk argument ten gunste van selfliefde en ’n uitbalanseringsetiek. Sommige formuleer dit só: Gun aan ander wat jy self het. En ook: “Charity begins at home.”

 

Maar daar is ook ’n ander siening. Kom ’n mens ooit by die naaste uit as jy by jouself begin? Kry jy ooit die ander een in sig as jyself die wêreld volstaan? Augustinus het gesê: Sonde is incurvatus in se, dis die Latyn vir opgekrul in jouself – soos ’n luislang. En ’n luislang moet homself eers uitrol, reguit draai en na buite kyk om te kan beweeg. Is Jesus se opdrag regtig dat ons by onsself moet begin? Is dit wat Hy gedoen het?

 

Kom ons begin by Jesus se opsomming van die wet. As ’n mens mooi dink, eindig die selfliefde-argument met drie gebooie in plaas van Jesus se twee: liefde vir God, liefde vir jou self, en liefde vir jou naaste. Maar Jesus sê uitdruklik Hy som die wet in twee gebooie op. Het Hy dan regtig bedoel “soos jou self” is ’n aparte gebod?

 

Die goue reël lui natuurlik nie dat ons aan ander moet doen wat ons aan onsself doen nie, maar dat ons aan ander moet doen wat ons wil hê dat hulle aan ons moet doen. Dit beteken dat ek my moet indink in wat vir my lekker sal wees en dit dan aan ander doen. Dit is heeltemal anders as om eers alles aan myself te doen en dit dan ook aan ander te doen. In die goue reël word jy net ’n teoretiese maatstaf vir wat jy aan ander moet doen, nie een wat dit eers daadwerklik aan jouself doen nie.

 

En dan Filippense 2:4, die vermaning van Paulus. Soos dit daar staan, skep dit al die ruimte om by jouself te begin en daarna na die ander oor te beweeg: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” Dit vra selfs veel minder as die “drie gebooie-etiek” waar ’n mens darem net soveel aan ander moet doen as aan jouself. Hiervolgens moet jy nou net darem ook ietsie vir ander doen.

 

Waarom sou Paulus op ander plekke oor dieselfde saak skryf, maar dit anders stel? Ons lees: “’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander. Maak soos ek: … Ek soek nie my eie belang nie, maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word. Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Jesus Christus volg” (1 Kor 10:24, 33; 11:1). En in Romeine 15:1-2: “Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is.” Waarom sou hy dit dan skielik in Filippense anders stel? Op al die ander plekke lees ons: Nie onsself nie, maar die ander. Maar in Filippense: Nie net elkeen aan jouself nie, maar ook aan ander. Die “net” en die “ook” is natuurlik maar klein woordjies, maar hulle maak ’n groot verskil. ’n Gee-etiek waarin dit nie om myself gaan nie, maar om die ander – soos ons dit by Jesus leer ken het – word deur die twee woordjies verander in ’n uitbalanseringsetiek waarin ek eerste kom.

 

As die “net” en die “ook” weggelaat sou word, is dit ’n totaal ander etiek. Dan is ons terug by Jesus se gee-etiek en Paulus se ander uitsprake. Dan word dit Jesus se voorbeeld wat Paulus dan ook in die Korintiërbrief voorhou. Jesus het mos nie eers aan Homself genoeg gedoen, en daarna darem ook ’n ietsie vir ons nie. Hy het Homself mos radikaal verneder en tekort gedoen om ons te red. “Hoewel Hy ryk was, het Hy terwille van julle arm geword” (2 Kor 8:9). Dis ’n gee-etiek, nie ’n uitbalanseringsetiek nie.

 

Maar is dit nie dieselfde voorbeeld waarna Paulus in Filippense 2 verwys nie? Gaan hy nie na hierdie vermaning in vers 4 direk oor om ons op Jesus te wys wat aan God gelyk was, maar dit prysgegee het en aan ’n slaaf gelyk geword het, en selfs die vernederende kruisdood nie ontsien het nie, om ons te red? (Fil 2:5 ev) Dis uit en uit ’n gee-etiek. Hoe kon Paulus dan nou hierdie saak heeltemal verander met die “net” en die “ook”? Dit lyk of dit nie pas in die verband van Filippense 2 nie. Dis interessant dat die Griekse bewoording van Filippense 2:4 dieselfde vorm het as 1 Korintiërs 10, maar dat die vertalers verkies het om hier ’n “net” en ’n “ook” in te voeg wat hulle nie in 1 Korintiërs gedoen het nie. As hulle wou vertaal soos in 1 Korintiërs 10, en soos die voorbeeld van Jesus in Filippense direk hierna ons leer, sou hulle vertaal het: “Julle moenie elkeen aan sy eie belange dink nie, maar juis aan dié van ander.” Dit sou dan ook presies gepas het by die voorafgaande sin wat nie lees: Julle “moet julleself gelyk ag aan die ander een” nie, maar: Julle “moet die ander een hoër ag as julleself”. Daar was nie taalkundig of teologies rede om die “net” en “ook” in Filippense 2:4 in te voeg nie. Dit spreek teen die hele verband en dit vloek teen Jesus se voorbeeld wat pertinent net daarna in  besonderhede behandel word. Daarom is daar ook ’n aantal vertalings (NJB, WJ) wat die “net” en die “ook” weglaat en vertaal soos die ander plekke waar Paulus daaroor skryf: “Julle moenie elkeen aan julle eie belange dink nie, maar juis aan dié van ander.”

 

En nou kan ons teruggaan na Jesus se opsomming van die wet. Dit spreek teen sy hele lewe en voorbeeld om “soos jouself” as ’n aparte gebod te sien waaraan ons net so gehoorsaam moet wees as aan “jou naaste liefhê”. En dit is in elk geval totaal onnodig  om mense te beveel om hulself lief te hê. Die groot moeilikheid is dat ons onsself nie daarvan kan afkry nie. Dis ons heerlikste tydverdryf. Dis ’n kwade dag as dit geïnterpreteer word as ’n bevel van God. As dit iets is, is dit ’n verbod van God. God sukkel ons lewe lank om ons af te kry van ons liefde vir onsself. Calvyn het gesê ons het nie ’n gebod nodig om onsself lief te hê nie, dis ons sondige natuur wat ons aanvuur om dit  vanselfsprekend te doen.

 

Wat beteken “soos jouself” dan? Dis inderdaad die norm vir ons naasteliefde. Soos ons onsself altyd in ons sondige selfsug liefhet en onsself altyd die uitgangspunt van ons lewe maak, net so moet ons nou ons naaste liefhê en as uitgangspunt van ons doen en late maak. Dis presies wat die goue reël ook sê: Dink mooi wat vir jou lekker sou wees, maar doen dit dan aan die ander, en nie aan jouself nie.

 

Maar waar kom die ernstige verdediging van ’n positiewe selfliefde dan vandaan? Dalk uit ’n misverstand. Die misverstand is die betekenis van liefde in die Bybel. As ons die betekenis van liefde wil aflees uit Jesus se optrede, is liefde die bereidheid om vir ander te offer, selfs tot die dood toe. Ek kan my nie vir myself opoffer nie. Liefde is ’n beweging weg van jouself na die ander. Liefde kos iets, soms alles. Dit maak selfliefde per definisie onmoontlik.

 

Maar daar is tog wel ’n kernwaarheid in die verdediging van selfliefde. Dit is dat ’n mens ’n positiewe selfbeeld moet hê om in staat te wees om lief te hê. Iemand met min selfvertroue kan min gee, en liefde het alles met gee te doen. ’n Positiewe selfbeeld lei ook tot respek vir ’n mens se eie lewe, om verantwoordelik met jou lewe om te gaan. Maar dit is nie liefde nie. Jesus se liefde was onherroeplik op ander gerig. Waar kry ’n mens ’n positiewe selfbeeld? As jy glo wat die evangelie sê, dat God jou (as deel van die wêreld) so liefhet dat Hy sy enigste vir jou gegee het tot in die allerdiepste   vernedering. Dit beteken jy het waarde vir God! Jy kan jou kop optel en uitbeweeg na mense in nood. Dit is liefde.

 

In die volgende artikel kyk ons na ‘n verdere eienskap van die mens: dankbaarheid.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König