20:22-23 Nadat Paulus ’n opsomming van sy bediening in Efese gegee het om die ouderlinge, wat sy bediening moet voortsit, daaraan te herinner, vertel hy aan hulle wat sy huidige posisie is. ‘Nou dwing die Gees my om na Jerusalem toe te gaan’ (die werkwoord déō ‘bind’ word ook gebruik vir ‘dwing;’ die perfektum vorm van die werkwoord beteken dat hy bewus geword het van die leiding van die Heilige Gees en dat dit voortduur). Jesus het gesê: ‘Die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig…’ (Joh 14:26). Die Heilige Gees het gekom om by ons te bly en in ons te wees (Joh 14:17), soos Jesus self in ons is (Joh 14:20). Die Vader en die Seun het by die een wat vir Jesus liefhet sy woning gemaak (Joh 14:23). Paulus het net bewus geword dat die Gees hom dwing om na Jerusalem toe te gaan sonder om te weet wat met hom gaan gebeur – behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan hom bevestig het (hom gewaarsku het – albei betekenisse van diamartúromai)) dat gevangenskap en thlipseis ‘moeilikhede en lyding’ op hom wag (vgl. Hand 19:21; 20:16 vir sy besluit). Die onsekerheid oor wat op hom wag blyk ook uit sy brief aan die Romeine 15:30-32 wat pas voor sy vertrek uit Korinthe deur hom geskryf is.
Daar is ’n ooreenkoms tussen Jesus se opdrag aan Paulus om in Jerusalem te gaan ly en Jesus se eie reis na Jerusalem. Lukas 9:51-19:28 vertel dat Jesus vasbeslote die reis na Jerusalem onderneem het toe die tyd vir sy hemelvaart nader gekom het. Dit nadat Jesus twee maal reeds vir sy dissipels gesê het dat die Seun van die Mens baie moet ly, verwerp en doodgemaak moet word en op die derde dag opgewek word (Luk 9:22), en in die hande van mense oorgelewer gaan word (Luk 9:44). Die derde keer wat Jesus van die doel van sy reis na Jerusalem vir sy dissipels vertel, brei Hy uit op die eerste twee. In Luk 18:31-34 Hy dat dit ’n vervulling sal wees van wat die profete geskryf het, dat Hy aan heidene oorgelewer sal word, bespot en beledig sal word, op Hom gespuug sal word, Hy gegesel sal word en doodgemaak sal word, maar op die derde dag sal opstaan. Soos Jesus gaan Paulus op na Jerusalem om op Pinksterdag in gevangenskap te gaan wat vir vier jaar sou duur. Later sou hy in Rome doodgemaak word oor sy geloof en belydenis van Jesus Christus as die Here deur wie alles is en ons deur Hom (1 Kor 8:5; vgl. 2 Tim 4:6-8 oor Paulus se dood en verheerliking).
20:24 ‘Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie’ – met ander woorde hy gee nie om of hy lewe of doodgaan nie (vgl. Matt 16:24-27 ‘…wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind…’ vgl. Flp 1:21-24) ‘solank ek my sending en diens, wat ek van die Here Jesus ontvang het, voltooi, naamlik om te getuig (van wat ek self beleef het) van die evangelie van God se genade.’ Soos Jesus is Paulus ook nie gebind deur sy aanstaande nood nie, maar deur die sin van sy lewe wat die doel van sy lewe is. Hy beskryf sy sending (figuurlike betekenis van die woord drómos ‘weg’) as ‘n diens (’n diakonía ‘diens of amp’) wat hom opgelê is. Sy diens is ’n wedloop soos in 1 Kor 9:24-26; Flp 3:14; 2 Tim 4:7 waarvoor hy aangestel is. Sy diens aan sy Here is ’n diens aan die wêreld soos Jesus se diens was (Mark 10:45). Vir die voltooiing van Paulus en Jesus se diens word dieselfde Griekse woord teleiō gebruik (Joh 17:4). Paulus is daarvan bewus dat die Here Jesus deur Hom sy werk op aarde voortsit as ’n diens wat Jesus daagliks aan hom opdra. Dit gaan om die evangelie, die goeie boodskap van God se onverdiende genade teenoor die wêreld met die offer van Jesus vir ons sondeskuld en om sy verlossing van ons uit die mag van sonde. Dit moet in geloof aangeneem en uitgeleef word.
20:25 Met die derde deel van sy toespraak skets Paulus sy toekoms en dié van die gemeentes in Asië. Hy som sy werk in Asië op as die verkondiging van die koninkryk, dit wil sê die koningskap van Jesus in die koninkryk van God, dat Jesus die koning, die Here word wat die seggenskap kry oor die lewe van die mense wat in Hom glo. Hulle sal Paulus se aangesig, dit beteken vir homself, nie weer sien nie. Hulle het eintlik verstaan dat hy in Jerusalem sou sterf (vgl. 20:38). Paulus sou egter weer by hulle uitgekom het na ’n moontlike vrylating uit Rome se gevangenisskap (vgl. 1 Tim 1:3; 3:14; 2 Tim 1:18; 4:6,12-17,20; Titus 1:5).
20:26 Paulus het sy sending/sy diens voltooi as ’n lewende getuie van die evangelie van God se genadige verlossing deur Jesus Christus, die koning van God se koninkryk. Daarom ‘getuig hy op dié dag van vandag’ aan die ouderlinge van Efese ‘dat hy rein is (katharós) aan hulle almal se bloed’ – dat hy, Paulus voor God onskuldig is as iemand van hulle verlore sou gaan (vgl. Eseg 33:1-6). Bloed verwys hier na die ewige dood, soos in 18:6. Volgens Mattheus 27:24-25 het Pilatus gesê dat hy onskuldig is aan die bloed van Jesus Christus, waarop die hele volk geantwoord het: ‘Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!’
20:27 Vers 26 som vers 25 op: Paulus se aanstelling tot sendingdiens in vers 25 is die verkondiging van God se koninkryk in vers 26. So is vers 27 weer ’n gevolgtrekking uit vers 26: Paulus is onskuldig as hulle sou verlore gaan (vers 26) omdat hy nie teruggehou het om die volle heilsplan van God aan hulle te verkondig nie (vers 27). Alles wat God beplan het (vers 27) is dieselfde as vers 25 se koninkryk van God wat Hy beplan het.
Paulus sluit die opsomming van sy arbeid in Efese af met die stelling dat hy nie teruggehou het (ou hupesteilámên) om God se volle heilsplan aan hulle te verkondig nie (vers 27), soos hy in vers 20 begin het dat hy niks teruggehou het (oudèn hupesteilámên) om enigiets wat vir hulle voordelig kon wees aan hulle te verkondig nie. Paulus skryf later aan die Efesiërs 1:11 ‘In Christus is ons ook uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur.’
Uit die hele relaas blyk dit dat God se openbaring in Jesus se koms, lyding, dood, opstanding en hemelvaart nou nog geopenbaar word. Dit geskied deur die prediking en optekening daarvan en mense se hoor en lees daarvan deur die eeue. Jesus is besig om deur sy volgelinge en hulle getuienis en geskrifte God se wil uit te voer.
20:28 Van sy eie verantwoordelikheid wat in die vorige verse uitgespel is, gaan hy na die verantwoordelikheid van die ouderlinge van Efese. Hulle funksie in die gemeente word beskryf met die beeld van ’n skaapwagter wat sy kudde versorg en beskerm teen wrede wolwe (vers 29). Voorop in die sin, met beklemtoning, staan die woord ‘Wees waaksaam’ proséchō – om voortdurend gereed te wees om kennis te neem van enige gevaar, behoefte of verkeerde optrede en gepas daaroor op te tree. So moet ‘n herder waak teen enige gevaar wat hom en sy kudde bedreig, let op hulle behoefte aan kos, water en ondersteuning, en ’n skaap wat afdwaal terugbring in die trop. In Johannes 10:11 het Jesus gesê: ‘Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.’ Die herderbeeld in die Nuwe Testament kom uit die Ou Testament: Jesaja 40:11 ‘Soos ’n herder versorg die Here God sy kudde…’ In Eseg 34:11 wat handel oor die ontroue herders, sê die Here ‘Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien…’ In Ps 23:1-4 bely Dawid: ‘Die Here is my herder’ (vgl. 1 Petr 5:1-4 vir Petrus se aanwysings vir die ouderlinge ).
Paulus sê die Heilige Gees het die ouderlinge aangestel as bewakers (episkopoi ‘wat die verantwoordelikheid het om te sorg vir die geestelike belange; in Engels is dit met ‘bishops’ vertaal) om die gemeente van God soos ’n skaapwagter te lei, te help en te versorg (poimaïnō). Die gemeente het God vir Homself verkry deur sy eie bloed (dood). Manuskripte uit die sesde en sewende eeu n.C. het ‘God’ verander na ‘die Here:’ Dan lees die teks: die gemeente wat die Here vir Homself verkry het deur sy eie bloed. Die ouer lesing met ‘God’ is ’n belydenis dat Jesus God is, soos Jesus volgens Johannes 14:10-11 gesê het. Later skryf Paulus aan die Efesiërs 1:7,13 ‘In Jesus Christus het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredinge…..die bevryding van God se eiendomsvolk’ (vgl. 1 Petr 1:19 ‘…julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus;’ Openb 1:5 ‘…Aan Hom wat ons liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het…’ Dit onderstreep die belangrikheid van Jesus se dood vir ons verlossing omdat Hy God is wat self ons sondes op Hom geneem het.
In verse 21-28 word verwys na God se genadige heilsplan en sy koningskap oor ons lewe, wat Paulus verkondig; na die Here Jesus wat aan Paulus sy opdrag gegee het en deur sy eie bloed die gemeente verwerf het; en die rol van die Heilige Gees wat vir Paulus lei en die ouderlinge as bewakers van die Here se kudde aanstel – van God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees se eenheid en samewerking aan die evangelie om mense tot bekering tot God en geloof in die Here Jesus te lei.
20:29 Om te waak teen die wrede wolwe behoort tot die beeld van die herder as deel van die Bybel se voorbeelde van die rol van die bose om mense weg te lei na die dood, weg van die lewe wat God aan ons wil skenk (vgl Joh 10:1; Luk 10:3; Matt 7:15). Die ouderlinge moet waak teen die valse leer van mense wat die gelowiges wil weglei van die suiwer evangelie van God se genade, van Jesus as Verlosser, en van die Heilige Gees se inwoning en leiding. Die valse leraars en valse lering lei die gemeente tot ondergang.
20:30 Die valse leraars kom van buite die gemeente, soos in vers 9 beskryf, en veral deur die Jode se aanslae op die gemeente soos dit telkens geblyk het, en reeds deur Jesus as kinders van die duiwel beskryf is (Joh 8:44; vgl. Titus 1:10-11). Maar ook van binne die gemeente self sal daar vals leraars opstaan wat die gelowiges probeer oortuig om hulle te volg en met die ander gelowges te breek. So het Paulus dit self ondervind (vgl. Gal 1:6-12; 4:9-11; 5:2,12 en 2 Kor 11:13-15; vgl. Rom 16:17-18; Kol 2:8; 1 Joh 2:19). Dit verbreek nie slegs die eenheid van die gemeente nie, maar bedreig die heil van die gelowiges.
20:31 Oor die huidige en ewige gevolge van dwaalleer moet die ouderlinge voortdurend gereed en op hulle hoede wees – dit is die betekenis van die figuurlike gebruik van die woord vir wakker wees. So roep Paulus in sy briewe die gemeentes op om waaksaam te bly (vgl. Rom 16:17-18; Flp 3:2; 1 Thess 5:6; 1 Kor 16:13; Kol 4:2). Paulus beklemtoon die dringendheid van sy waarskuwing met verwysing na die voorbeeld van sielsorg wat hy vir hulle in Efese gestel het (vgl. 1 Thess 2:9-12; 2 Thess 3:8-9). Vir drie jaar lank het hy nag en dag (die Joodse volgorde vir dag en nag. Hulle dag begin met sonondergangs) nie opgehou om elkeen van hulle met trane te onderrig in God se woord, te waarsku teen afval en dwalendes te vermaan nie (betekenisse van die woord nouthetéō). Die drie jaar tel blykbaar Hand 19:8 se verwysing na drie maande in die Joodse sinagoge by, sowel as Hand 19:9-10 se twee jaar in Tirannus se saal en die ‘tyd lank’ wat hy daarna nog in Asië vertoef het (Hand 19:22) toe die oproer plaasgevind het (20:1).
Skrywer: Prof Francois Malan