Lukas 14:26 – 33

Lukas 14:26 – 33 – Francois Malan

Subeth vra:

Lukas 14: 26 – 33. Ek het ‘n jong seun van 20, my niggie se seun) wat nou skielik sê hy is ‘n ateïs. My Bybelkennis is nou nie van so ‘n aard dat ek vir hom Bybels korrek Lukas 14: 26 – 33 kan verduidelik nie. Hy peper my behoorlik met vrae, so ek is nou so dankbaar vir hierdie webtuiste. Kan u my asb van ‘n antwoord voorsien. Ek het gesê ek sal terugkom na hom toe oor die naweek, maar sal graag so gou moontlik wil terugvoer gee. Dit gaan maar beroerd in daardie huishouding. Sy pa het selfmoord gepleeg, hy knou sy sussie vreeslik af. Daarom lê hy baie swaar op my hart. Groete in Jesus.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord

Dit beteken dat die volgelinge van Jesus wat hulle familie moet haat, beteken dat die familie tweede plek moet inneem (NAV vertaal ‘haat’ in Lk 14:26 met: ‘afstand doen’). Familiebande moet nie kan inmeng met die absolute toewyding aan Jesus die Seun van God nie. Matteus 10:37 het die woord van Jesus weergegee met ‘liewer het’

In Lukas 14:27 gebruik Jesus kruisiging (die Romeine se metode om politieke opstandelinge dood te maak) as ‘n simbool van die uiterste foltering en vernedering waarvoor volgelinge van Jesus gereed moet wees om die prys te betaal vir die feit dat hulle vir Jesus kies, selfs as dit jou lewe sou kos.

Lk 14:33 sê: jy moet selfs bereid wees om van jou rykdom en besittings afstand te doen. Geen ander band mag jou bind nie as net die band met Jesus nie. Daarmee word nie gesê jy mag nie besittings hê nie, maar dat jy vry moet bly om Jesus te gehoorsaam, ook met die verantwoordelike spandering van jou besittings.

Die keuse vir Jesus is die heel belangrikste, want Hy is God (vgl. Johannes 1:1-3) wat sy lewe vir ons kom aflê het aan die kruis, om vir al ons sonde te betaal, en ons verhouding met God reg te maak vir nou en tot in die ewigheid, sodat ons as kinders van God mag lewe, wat doen wat ons hemelse Vader sê.

 

Skrywer: Prof Francois Malan.

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Heilige Gees

Alle Paaie lei na Jesus: Die Heilige Gees – Adrio König

4.13 Die Heilige Gees

Omdat ons nie apart na die Gees in die Ou Testament gekyk het nie, gaan ons hier na die hele Bybel kyk. Maar ons wei uitvoerig uit oor die Gees se vermeende betrokkenheid by die skepping in Hoofstuk 10 waar ons met die Name en benamings van God besig is (kyk onder 10.4).

Die Heilige Gees word baie minder met die skepping in verband gebring as wat ’n mens sou dink (10.4.2). In sowel Hebreeus as Grieks beteken die woord vir Gees ook gees, lewe, asem, wind. Dit lê dus voor die hand om te dink dat die Gees direk met asem en lewe in verband gebring sal word. Die belydenis van Nicea verwys dan ook na Hom as “die Gees wat lewe gee”, maar dit sien waarskynlik meer op geestelike lewe, nuwe lewe. Maar in die Ou en Nuwe Testament word die Gees meer dikwels met gewone natuurlike lewe as met die skepping self in verband gebring (Job 33:4; 34:14-15; Ps 104:27-30; Pred 12:7; Eseg 37).

 

Die rol van die Gees by die skepping en in die res van die Ou Testament word breedvoeriger bespreek in hoofstuk 10.4 waar die vraag aan die orde kom of ons alreeds in die Ou Testament van die drie-enige God lees. Daar sal ons sien Genesis 1:2 en 1:26 (“Laat Ons mense maak”) gee nie oortuigende grond om te aanvaar dat dit inderdaad die Gees van God is wat by die skepping betrokke was nie.

 

Alle paaie lei na Jesus

Soos al die groot temas van die Bybel lei ook die skepping ons na Jesus. Saam met die Vader is Hy die Skepper. Hy ken dus die mens. Hy het die eerste een gemaak. Trouens Hy ken ons nog beter. Hy weet nie net hoe ons is nie. Hy is selfs een van ons. Hy het ’n mens geword, en deel gekry aan ons versoekings en lyding. Die Hebreërbrief verseker ons Hy is met ons swakhede bekend. “Hy is immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp” (4:15). “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (2:18). Hy weet dus uit ervaring wat ons behoeftes én ons moontlikhede én ons tekortkomings is.

 

Ons is nou klaar met die skepping. In die volgende gedeelte kyk ons na die mens.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Gebed van Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu

Train up a child in the way he should go – but be sure you go that way yourself. —C.H. Spurgeon

Gebed van Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu

Hierdie gebed is ‘n verwerking van ‘n oorspronklike gebed deur Sir Francis Drake:

Disturb us, O Lord

when we are too well-pleased with ourselves 
when our dreams have come true because we dreamed too little, 
because we sailed too close to the shore.

Disturb us, O Lord

when with the abundance of things we possess, 
we have lost our thirst for the water of life 
when, having fallen in love with time, 
we have ceased to dream of eternity 
and in our efforts to build a new earth, 
we have allowed our vision of Heaven to grow dim.

Stir us, O Lord

to dare more boldly, to venture into wider seas 
where storms show Thy mastery, 
where losing sight of land, we shall find the stars.

In the name of Him who pushed back the horizons of our hopes 
and invited the brave to follow.

Amen

Aartsbiskop Tutu het ‘n boek met wonderlike gebede daarin geskryf: An African Prayer Book




Vier mites aangaande die kerk

You must keep all earthy treasures out of your heart, and let Christ be your treasure, and let Him have your heart. —C.H. Spurgeon

Vier mites aangaande die kerk

Michael Svigel bespreek vier algemene en gevaarlike mites. Baie Christene skep ‘n kerk volgens hulle eie verbeelding – hulle eie voorkeure. Nou versprei hulle vier mites om hierdie mensgemaakte kerk aan die gang te hou. Om die waarheid te sê hierdie mites word so algemeen aanvaar dat gelowiges hulle sonder meer aanvaar as die waarheid.

 

Mite #1: Die kerk is ‘n menslike organisasie

Die kerk bestaan uit mense, maar Jesus Christus is die hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam – geestelik en fisies – op aarde. Ons kan nie die geestelike, onsigbare en ewige kerk  van die fisiese, aardse , sigbare, historiese kerk skei nie. Daarom hanteer ons die plaaslike sigbare kerk as ‘n menslike organisasie eerder as die unieke kanaal waardeur God werk. Die kerk is nie ‘n klub waar lidmate rigting gee – volgens die meerderheidstem – nie. Die kerk word deur die Heilige Gees verenig.

Mite #2: Die kerk is ‘n supermark vir geestelike kruideniersware

Ons hou van opsies, ‘n verskeidenheid en die vryheid van keuse in ons supermarkte – en in ons kerk! Daarom leef ons in ‘n kultuur waar mense gereeld van kerk verander. Die ergste graad is waar mense nie meer eredienste bywoon nie, maar ‘n diens op die TV of radio volg. (Natuurlik is dit vir party mense onmoontlik om ‘n erediens by te woon. Ek verwys hier na mense wat dit wel kan doen, maar nie doen nie.) Hierdie mense leef buite die lewende, fisiese geloofsgemeenskap. Die doel van die plaaslike gemeente is onder andere die opbou en aanmoediging van mekaar. Die plaaslike gemeente is nie ‘n supermark nie, maar ‘n familie.

Mite #3: Die gemeente is net ‘n bymekaarkom van ‘n paar gelowiges

Baie Christene verlaat die gevestigde kerke vir huiskerke of familiekerke. Die konsep van ‘n huiskerk is Bybels. Die probleem is dat baie huiskerke vandag net ‘n klomp ongelukkige gelowiges is wat ongelukkig is met hulle kerk of leraar. Bybelstudie is nie ‘n kerk nie; gebedsbyeenkomste is nie ‘n kerk nie; mense wat bymekaarkom om te eet en te praat, is nie ‘n kerk nie. ‘n Egte kerk word deur sekere kenmerke en werke gekenmerk. Die noodsaaklike kenmerke van ‘n kerk is:

  • Ortodoksie – die verkondiging van die sentrale waarhede van die Christelike geloof ten opsigte van God, die persoon en werk van Christus en verlossing.
  • Orde – leiers wat volgens Bybelse standaarde gekwalifiseer is en  reg aangewys is.
  • Sakramente – die doop en Nagmaal.

Drie noodsaaklike werke van die kerk is:

  • Evangelisasie – maak ander bymekaar deur die evangelie van genade en deur geloof in Jesus Christus.
  •  Toerusting – geestelike groei van gelowiges tot volwassenheid in Christus deur onderrig en dissipline in ‘n egte geloofsgemeenskap.
  • Verheerliking – verheerlik God deur aanbidding en diens.

Hierdie kenmerke en werke se basis kry ons in die Nuwe Testament. Alle ware kerke is verenig in hulle opbou en uitbou van die liggaam van Christus wêreldwyd. Plaaslike gemeentes is deel van iets groter as hulleself.

Mite #4: Die kerk is opsioneel

Party mense het seergekry in die kerk; party mense is deur hulle ouers gedwing om kerk toe te gaan en verlaat die kerk sodra hulle die ouerhuis verlaat, ens. Wat egter duidelik is, is dat meeste mense ‘n laer waarde aan die kerk heg as wat die Bybel doen. Baie mense glo dat hulle geestelike gesondheid volledig afhang van hulle persoonlike verhouding met God – die sleutel tot geestelike groei is private stiltetyd. Natuurlik is die geestelike dissiplines uiters belangrik, maar hulle is slegs ‘n deel van God se omvattende plan vir geestelike gesondheid en groei. Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal (1 Korintiërs 12:7). Gebalanseerde geestelike groei buite die geloofsgemeenskap is net nie moontlik nie.

Ons moet in gebed elke besluit wat ons oor die plaaslike gemeente neem oorweeg – van lidmaatskap tot bywoning van die eredienste tot die vlak van ons betrokkenheid tot besluite aangaande die gemeente verlaat. As ons Hom eer en ons broers en susters werklik liefhet, sal die Here ons lei om wyse, goddelike besluite te neem aangaande ons betrokkenheid by die plaaslike gemeente.