Dissipelskap – drie kontoere

Blog52c

I am commanded by the king to be brief, and since I am the king’s obedient servant, I will be. I die His Majesty’s good servant, but God’s first – Sir Thomas More. Hy wou nie die eed aflê dat die koning die opperste gesag, selfs bokant die kerk, is nie. Hy is tereggestel.

Dissipelskap – drie kontoere

Almal praat van dissipelskap, maar hoe lyk dit? Miskien is die beste plek om te begin by Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels in Matteus 28:19 – 20: gaan … maak die mense my dissipels …doop hulle … leer hulle. Ons sien hier drie kontoere in die kultuur van dissipelskap:

 

  • Die maak van dissipels is ‘n doelgerigte proses van evangelisering van ongelowiges, vestiging van gelowiges in die geloof en die toerusting van leiers.

Maak dissipels impliseer doelgerigtheid en ‘n proses. Dit gebeur nie sommer net omdat daar ‘n gemeente is nie. kyk weer: gaan … doop … leer – dit is ‘n proses. Dit moet evangelisasie (gaan na nuwe mense en nuwe plekke), vestiging (doop en leer gehoorsaamheid) en toerus (leer dissipels om self dissipels te maak) insluit. Is dit wat ons gemeentes doen?

  • Die maak van dissipels gebeur binne die konteks van die plaaslike gemeente

Dit is ‘n gemeenskaps- en nie ‘n persoonlike projek nie. Die gemeenskap is die plaaslike gemeente. Dit gebeur nie net in koffiewinkels nie, maar ook in die gemeente waar die Woord gesing, gebid, gelees en verkondig word. Jesus het immers aan die kerk die gesag gegee om die evangelie te verkondig, mense te doop en hulle te leer om gehoorsaam aan Hom te wees.

  • Die maak van dissipels is Woord-gesentreerde en mens-tot-mens bediening

Jesus het twaalf manne op die stofpaaie van Palestina geleer om dissipels te wees. Om dissipels te maak, is die Woord van God wat mense vorm in egte verhoudings. Kyk net wat skryf Paulus aan die gemeente in Tessalonika: So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry (1 Tessalonisense 2:8). Dit is meer as saam eet (baie belangrik).

Dissipelskap is ‘n proses wat binne die gemeente plaasvind. Die fokus is op die woord van God en persoonlike verhoudings.




Ek stel uit en uit

The difference between the almost right word and the right word is the difference between the lightning bug (die Amerikaanse woord vir ‘n vuurvliegie) and the lightning – Mark Twain.

Ek stel uit en uit

Dit is ‘n baie algemene probleem – ook by gelowiges. Die Bybel gee goeie raad om op te hou uitstel.

  • Hou op verskonings maak. Die lui mens sê: “Daar is ‘n leeu daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag (Spreuke 22:13). Waarvoor maak jy verskoning? Wat gaan jy binnekort doen? Die algemeenste verskoning is: “As dinge eers weer na normaal terugkeer, sal ek …” Dinge keer nooit na normaal terug nie. Doen wat belangrik is … nou.
  • Begin vandag.  Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie (Spreuke 27:1). Nie volgende week nie, nie môre nie – vandag.
  • Werk volgens ‘n skedule. Alles wat ‘n verstandige mens doen, word met kennis gedoen; wie nie wysheid het nie, begaan een dwaasheid na die ander (Spreuke 13:16). As jy nie beplan nie, beplan jy om te misluk. Jy moet tyd reserveer vir dinge wat jy moet doen. Skryf dit in jou dagboek. As dit ‘n baie groot taak is, verdeel dit in hanteerbare gedeeltes.
  • Hanteer jou vrese. Ons erken nie dat ons soms bang is nie, want dit is dan kwansuis ‘n teken van swakheid. Net dwase is nie bang nie. Moed beteken nie dat jy nie bang is nie, maar dat jy, ten spyte van jou vrese, vorentoe beweeg. Die Bybel maak dit duidelik dat ons met Christus se hulp alles kan bemeester.
  • Fokus op wat jy wen en nie op jou pyn nie. Daar is min dinge in die lewe wat maklik is. Jy moet deurdruk ten spyte van frustrasie en pyn. Konsentreer op hoe goed jy gaan voel as jy die taak afgehandel het. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel (Galasiërs 6:9)

Jesus belowe nooit vir sy kinders ‘n gemaklike lewe nie. Daar sal opoffering en toewyding wees. Daar wag egter ook ‘n groot beloning as ons doen dit waarvoor Hy ons geroep het.

Moenie vra nie: “Waarvoor is ek lus om te doen?” Vra: “Wat wil God hê, moet ek doen?” Dit geld vir my gesin, my persoonlike lewe en my werk.

[Hierdie is ‘n dagstukkie van Rick Warren.]




Daar is vier soorte mense in die wêreld

God loveth the lowest saint more than the highest angel loveth God. —Thomas Manton

Daar is vier soorte mense in die wêreld

Tim Keller (Galatians For You) sê daar is vier soorte mense. Die onderskeidende kenmerke is of mense die wet gehoorsaam en of hulle die wet vertrou.

 

  • Gehoorsaam die wet; vertrou op die wet. Hierdie mense  is onder die wet en is dikwels baie selfvoldaan en meerderwaardig. Uitwendig is hulle baie seker dat hulle saak met God reg is, maar diep binne in hulle is hulle tog onseker. Daarom is hulle baie sensitief vir kritiek en verpletter as hulle gebede nie beantwoord word nie. Hulle toon baie ooreenkomste met die Fariseërs van Jesus se dag.
  • Gehoorsaam nie die wet nie; vertrou op die wet. Hulle glo dat hulle werke hulle sal regverdig, maar hulle leef nie altyd so nie. Daarom is hulle nederiger en meer verdraagsaam as die eerste groep. Hulle het egter baie skuldgevoelens en is bang vir godsdienstige onderwerpe. Sommige gaan kerk toe, maar hulle woon op die periferie, want hulle geestelike selfbeeld is laag.
  • Gehoorsaam nie die wet nie; vertrou nie op die wet nie. Hulle het die hele konsep van die wet van God verwerp. Hulle is sekulêr of geestelik maar vaag. Hulle kies hulle eie morele standaarde en glo hulle voldoen daaraan. In hulle onderbewussyn weet hulle daar is ‘n God en dat hulle Hom moet gehoorsaam. Hulle is baie verdraagsaam. Hulle is besig om hulle eie verlossing te verdien.
  • Gehoorsaam die wet; vertrou nie op die wet nie. Hierdie is Christene wat die evangelie verstaan. Hulle gehoorsaam die wet uit dankbaarheid – hulle weet hulle is sy kinders. Meeste Christene sukkel om hierdie uit te leef. Hulle weet egter dat hulle verlossing nie van hulle vertroue op die wet afhang nie.

‘n Interessante indeling.




Jy kan nie almal altyd gelukkig maak nie

Forsake not the public worship of God, lest God forsake thee, not only in public, but in private. — John Bunyan

Jy kan nie almal altyd gelukkig maak nie

Almal van ons wil graag hê dat mense van ons hou. Daarom moet jy die regte vriende hê, die regte kar bestuur … Dit is belangrik dat die mense om my van my moet hou. Daarom, as ons besluite neem, vra ons: “Wat sal die mense hiervan dink?” Die probleem is dat ons met verloop van tyd al hoe sterker dosisse goedkeuring nodig het om tevrede te voel – ons is afhanklik van die goedkeuring van ander.

 

Die gevolg is ons word werkoliste en gee meer aandag aan mense buite ons familie as aan diegene vir wie ons die liefste is. Die grootste probleem is egter dat ons so ‘n obsessie het met wat mense van ons dink, dat dit wat God dink nie meer vir ons belangrik is nie. Mense word vir ons groot en God word klein.  Ons spandeer meer tyd aan ons openbare profiel as aan ons persoonlike verhoudings.

Maar wat doen ons nou? Sê vir jouself: “Ek kan nie almal tevrede stel nie, maar ek kan vir God tevrede stel.”  Wat sê God van my?

  • Ons is nuwe mense (2 Korintiërs 5:17)
  • Ons is verlos en ons oortredinge is vergewe (Efesiërs 1:7)
  • Ons is erfgename van God (Romeine 8:17)
  • Ons behoort aan God en Hy het ons lief (Romeine 1:7).

As ek ophou om te probeer om mense tevrede te stel, kan ek op een ding fokus: om God tevrede te stel. Dit is nie maklik nie – ek moet elke dag daaraan werk. Moet ons nie probeer om soos Paulus hierdie vers uit te leef nie: Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie (Galasiërs 1:10).

Om almal tevrede te probeer stel is ‘n algemene probleem. Vergeet daarvan – fokus op God en probeer om Hom tevrede te stel.