Alle Paaie lei na Jesus: Die Nuwe Testament – Adrio König
4.10 Die Nuwe Testament
Die Nuwe Testament sluit direk by die Oue aan wat die skepping betref. Maar daar kom baie belangrike uitbreidings. Terwyl daar in die Ou Testament net na God die Here as Skepper verwys word, kry ons in die Nuwe die onderskeid tussen Vader, Seun en Gees. Maar voor ons daarby kom, eers net ’n paar algemene opmerkings.
Die skrywers van die Nuwe Testament wat na die skepping verwys, maak die meeste gebruik van Genesis 1 en Genesis 2. Daar word ’n paar keer verwys na God “wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het”. Dit is moontlik ’n samevatting van Genesis 1 (Hand 14:15; Op 5:13; 10:6; 14:7). Die mens as die beeld van God is belangrik by Paulus (1 Kor 11:7; Ef 4:24; Kol 3:10 ev). Verder ook “die begin” van Genesis 1:1 (Matt 19:8; Mark 13:19; Heb 10:1; 2 Pet 3:4). Hierdie “begin” is die skepping. Maar die Nuwe Testament gaan verder terug, selfs voor die skepping. Juis in ’n woordspeling op Genesis 1:1 se “begin”, skryf Johannes: “In die begin was die Woord,” en dan gaan Hy vóór die skepping terug (1:1). Trouens alle uitsprake oor Jesus se voorafbestaan (pre-eksistensie) gaan voor die skepping terug. Dit gaan oor die ewige Seun van God, sy verhouding met die Vader, en dit wat die Vader voor die skepping gedoen het (Joh 1:2-5; 17:24; Ef 1:4; Fil 2:6; 1 Pet 1:20).
Genesis 2 kom selfs sterker na vore in die Nuwe Testament. Terwyl Adam en Eva nie verder in die Ou Testament ’n noemenswaardige rol speel nie, kom hulle sterker na vore in die Nuwe. Veral Paulus verwys na hulle in verband met die sonde (Rom 5:12-21), die dood (1 Kor 15:20-22), die huwelik (Ef 5:31) en die onderdanigheid van vroue (1 Tim 2:8-15).
Daar word nooit in die Nuwe Testament verwys na die ses skeppingsdae of na die spesifieke volgorde van die skepping in Genesis 1 nie. Daar word wel na ’n aantal skeppingsvoorstellings verwys soos skepping deur die woord (2 Kor 4:6; Heb 11:3; 2 Pet 3:5). Dié voorstelling word dan deur Johannes op Jesus as dié Woord toegepas (Joh 1:1-3). Verder lees ons ook dat die skepping die werk van God se hande is (Heb 1:10). Die bekende uitdrukking “voor die grondlegging van die wêreld” (1953-vertaling Ef 1:4) veronderstel dat die aarde ’n bouwerk met fondamente is.
Dan is daar die vreemde voorstelling dat die aarde uit water en deur water geskep is (2 Pet 3:5). Die NLV het ’n goeie poging aangewend om dit enigsins te verduidelik: “God het die aarde uit water laat opkom en dit met water omring.” Dit herinner dan aan Genesis 1 waar God die water terugstoot sodat die land sigbaar word.
Dit mag opmerklike lesers opgeval het dat ons nog nooit verwys het na skepping uit niks nie. Die rede is eenvoudig: Dit kom nie in die Ou Testament voor nie. Die gedagte dat die Hebreeuse werkwoord wat gewoonlik gebruik word in die sin: “God het geskep” (bara) “skepping uit niks” beteken, is ongegrond. Dieselfde woord word gebruik wanneer Jesaja verwys na die terugtog. Hy noem dit iets nuuts wat God geskep het (48:7).
Maar wat van die Nuwe Testament? Daar is twee uitsprake wat gewoonlik aangehaal word: ”Ons weet dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie” (Heb 11:3). Maar as God die sigbare dinge geskep het uit onsigbare dinge (iets wat ons nie sien nie), is dit skepping uit onsigbare dinge en nie skepping uit niks nie. Onsigbare dinge is nie niks nie. Verder is daar: God wat “dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord” (Rom 4:17). Oënskynlik is dit ’n sterker getuienis. Dit praat van dinge wat nie bestaan nie, wat agterna bestaan. Wat niks was, bestaan dus nou deur God se skeppingswerk. Maar dis nie seker dat dit die betekenis is nie. God het die mens wat nie bestaan het nie, deur sy skeppingswerk tot stand gebring, maar nie uit niks nie, uit grond. Daar is geen duidelike getuienis in die Bybel dat God alles uit niks geskep het nie. En van die mens is dit in elk geval nie waar nie.
Daar is wel ’n uitspraak in een van die Apokriewe boeke wat deur sommige so geïnterpreteer word. Die ma van ’n seun wat met die dood gedreig word, sê onder andere die volgende vir hom: “I implore you, my child, look at the earth and the sky and everything in them and consider how God made them out of what did not exist, and that human beings come into being in the same way” (2 Makkabeërs 7:28, my kursivering). Die laaste frase maak dit egter onseker of dit verstaan kan word as skepping uit niks. Dis nie hoe mense ontstaan nie.
En tog is skepping uit niks ’n belangrike voorstelling. Dit getuig van die groot mag van God. Ons kan ook iets “skep”, maar ons het materiaal daarvoor nodig, byvoorbeeld om ’n rok te maak. Maar ons weet ook hierdie materiaal beperk ons. As dit rooi is, kan ons nie ’n wit rok maak nie, as dit sy is, kan ons nie ’n katoen rok maak nie, as dit min is, kan ons nie ’n lang aandrok maak nie. Maar as ons aanvaar dat God uit niks geskep het, beteken dit Hy was nie beperk deur die materiaal waaruit Hy geskep het nie. Hy kon dus alles maak presies soos Hy wou. Dit onderstreep die uitspraak in Genesis 1 dat alles wat Hy gemaak het, regtig goed was, presies soos Hy dit wou hê.
Maar in ’n ander sin kan ons tegelykertyd sê dat God juis nie uit niks geskep het nie, maar uit sy hart uit. God het nie leeg, planloos gestaan en sommer iets gemaak nie. God het gemaak wat Hy wou, wat in sy hart is, en in sy hart is liefde. Dit beteken dat die skepping wat God gemaak het, net in liefde kan werk. Dit is die God van liefde se handewerk. In al ons verhoudings kan dus net liefde werk. Dis ’n “skeppings ordinansie”!
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König