Die Handelinge van die Apostels: Oproer in Efese Deel 2 (Handelinge 19 vers 30-40) – Francois Malan

19:30 Paulus wou in die volksvergadering ingaan, waarskynlik om die saak van die Here te stel en om sy reisgenote te verdedig, maar die dissipels in Efese wat hulle mense geken het, het hom verhinder, soos die Heilige Gees hom vroeër verhinder het om na Efese te gaan (16:6). Dit was nie ’n wettige vergadering nie en sy volgelinge in Efese het geweet Paulus se lewe is op die spel as hy daar sou ingaan. Vir hom as prediker wat handgemaakte gode soos Artemis juis as nikswerd gode afgewys het, sou dit daar nog gevaarliker gewees het as vir sy reisgenote. So gebruik die Heilige Gees die dissipels om Paulus te keer.

19:31 Uit ’n onverwagte en verrassende oord stuur die Here ’n tweede waarskuwing met ’n boodskapper na Paulus. Sommige hoë amptenare van die Romeinse provinsie Asië (Asiárchoi), wat vriende van Paulus was, het na Paulus ’n boodskap gestuur. Hulle het hom baie ernstig gesmeek om hom nie in die teater te begewe nie (letterlik: om homself in die teater te gee nie). Die hoë amptenare in die provinsie was gewoonlik aangestel om toesig te hou oor die administrasie en oor die keiserkultus. Hulle vriendskap met Paulus het al so ver gevorder dat hulle hierdie Jesusboodskapper se lewe wil beskerm. Dit is duidelik ook die werk van die Heilige Gees dat die beskermers van die keiserkultus hulle oor Paulus bekommer. As hulle sy vriende genoem word, het hulle seker al begin belangstel in die evangelie.

19:32 Lukas skets’n komiese prentjie van die groot volksoploop. Demetrius neem nie leiding nie en lê nie ’n klag teen die Christene aan die opgesweepte skare voor nie. Lukas skets ’n tipiese Oosterse byeenkoms: sommige van die skare het dít en ander dát uitgeskreeu, want die volksvergadering was in verwarring. Die meeste van hulle het glad nie geweet waarvoor hulle daar bymekaar gekom het nie.

19:33 Die vers is nie duidelik nie en die Griekse woorde maak dit ook nie duidelik nie. Alexander is onbekend, tensy hy dieselfde Alexander van 2 Timotheus 4:14-15 is, die kopersmid wat vir Paulus baie kwaad aangedoen het en sy woorde heftig teengestaan het. Aan die einde van sy lewe skryf Paulus dit in sy brief aan sy geestelike seun Timotheus wat destyds in Efese die leier in die gemeente van Efese was. Paulus waarsku Timotheus om op sy hoede te wees vir Alexander.

Wie vir Alexander in die teater na vore gestoot het (proballō om blaartjies uit te stoot) en wat hulle vir hom voorgesê het (sumbibázō adviseer deur opdragte te gee), is raaiwerk. Moontlik was dit Jode wat ook in die massa was en vir die skare wou sê dat hulle nie saamstem met Paulus se verkondiging van Jesus nie, hoewel die Jode ook teen afgode en beelde was.   

   Alexander het met sy hand beduie en wou voor die inwoners van Efese ’n verdediging lewer – van homself of namens die Jode? Sekerlik nie om Paulus en vir Jesus te verdedig nie, tensy hy ’n Christen Jood was wat deur die gelowiges voorgestoot is om hulle te verdedig, wat onwaarskynlik is (vgl. 1 Tim 1:20 vir sy teenstand teen Paulus). Hy wou moontlik vir die skare verduidelik dat die Jode en die Christene twee heeltemal verskillende groepe is en dat die Jode nie die silwersmede bedreig nie, of dat die kopersmede ook bedreig voel deur die vinnige groei van die volgelinge van Jesus.

19:34 Dit is duidelik dat die Efesiërs nie van die Jode gehou het nie. Hulle het seker geweet die Jode is teen afgodsbeelde. Moontlik het party vir Alexander geken en dit luidkeels verkondig of hulle het aan sy spraak of voorkoms agtergekom dat hy ’n Jood is. Daar kom toe ’n nuwe uitbreek van die heidense selfbewussyn. Die hele skare het soos een man die belydenis van die Efesiërs begin uitskreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!’ En hoe langer hulle skreeu hoe harder word dit sodat die hele stad vir twee uur lank geskud word deur hulle uitroep. 

19:35  Toe verskyn die stadsleier op die toneel. Uit sy optrede blyk dit dat die stad Efese se hoofamptenaar ook verantwoordelik was vir wet en orde in die stad. Hy was ook die aankondiger van besluite van die keiser en die plaaslike Raad en daarom het sy woord gesag gedra by die inwoners. Hy het die skare onder sy beheer gekry en stil gekry met sy teenwoordigheid – die massa wat nie geweet het waarvoor hulle hier is nie, het gedink die stadsleier sal weet waarvoor hulle hier is. Hy begin om hulle aan sy kant te kry met sy argument deur hulle godsdienstige gevoel gerus te stel en hulle trots te vlei: ‘Efesiërs (letterlik: manne/mense van Efese) watter mens is daar wat nie weet dat die stad Efese die beskermer van die tempel (neokóros wat die tempel versorg en bewaak) van die groot Artemis is nie en van die klip wat uit die lug geval het nie?’ Die Efesiërs het geglo dat die meteoriet wat uit die hemel in Efese beland het,die beeld is van dié godin. Die beeld het in die aduton, die binneste heiligdom van die tempel gestaan. Dat die beeld uit die hemel geval het was die hoofamptenaar se argument teen Paulus se beskuldiging dat hulle gode handgemaak is – in die antieke tyd was daar ook op ander plekke tempels opgerig vir meteoriete wat beskou is as gode wat uit die hemel na die aarde toe gekom het.

19:36 ‘Omdat niemand die dinge kan weerspreek nie (naamlik die Efesiërs se taak om die tempel van die godin uit die hemel te beskerm) is dit noodsaaklik dat hulle beheersd moet wees en niks roekeloos, sonder nadenke of berekening van die gevolge, doen nie.’

19:37  ‘Want hierdie manne wat julle hierheen gebring het, naamlik Paulus en sy reisgenote Gajus uit Derbe en Aristargus uit Masedonië (19:29), is nie tempelrowers nie (hierósulos kan tempelrower of beeldstormer aandui – die een steel uit die tempel, die ander slaan die beelde stukkend) en hulle belaster ook nie ons godin nie.’ Demetrius het gesê dat Paulus-hulle sou beweer dat handgemaakte gode nie gode is nie (19:26). Die stadsleier het dus hulle aanklag teen die Christene in beginsel afgewys.

19:38 Demetrius en sy ambag se manne word egter na die ordentlike regproses verwys as hulle iets teen iemand het. Daarvoor word hofsttings op bepaalde dae in die groot stede van die provinsie Asië, soos Efese, Pergamum, Smirna, ens.  gehou en daar is prokonsuls wat die Romeinse Senaat se gesag verteenwoordig. Laat hulle hulle klagtes en aanklagte teen mekaar daar voorlê. Daar word sake goed oorweeg en nie met ’n onnadenkende geskreeu in die teater nie.

19:39 As die massa egter iets meer soek as wat die stadsleier nou vir hulle geskilder het oor die regsproses, moet dit in ’n wettige vergadering van Efese se burgers besleg word. Die stadsleier is die voorsitter van so ’n vergadering. Die Romeinse owerheid het aan sekere stede soos Efese die voorreg van selfregering toegeken, solank as wat hulle volgens die Romeinse wette optree. So ’n vergadering is driemaal elke maand gehou.

19:40 Die stadsleier sluit af met ’n baie ernstige waarskuwing. Hy vrees, en nie sonder rede nie, dat hulle die reg tot selfbeskikking kan verloor deur hierdie dag se oploop. Efese loop reeds die gevaar om ernstig aangekla te word oor hierdie dag se openlike opstand teen die plaaslike gesag en teen die Romeine se vereiste van ordelike regsreëls by byeenkomste. Daarby sal hulle geen rede kan aanvoer vir die onordelike oproer nie

Met die waarskuwing sluit die stadsleier die vergadering af en verdaag hy die vergadering. 

In hierdie stukkie geskiedenis onderstreep Lukas die Here se werk om die evangelie in Efese uit te brei deur Paulus se prediking en wonders (19:10-12). Die teenstand teen die evangelie word deur Demetrius en die silwersmede gelei tot ’n onwettige en deurmekaar opstand wat baie lawaai maak in die stad. Die Jode wou nog teenstand bied, maar die massa het hulle nie ‘n kans gegee nie. Die Here beskerm vir Paulus deur die gemeente wat hom nie toegelaat het om in die teater in te gaan nie (19:30); deur die owerhede, die Romeinse regeerders in die provinsie Asië wat by hom pleit om hom nie in die teater te begewe nie (19:31) sowel as die stadsleier wat vir Paulus en sy twee reisgenote onder sy beskerming neem met sy kalm optrede. Deur elkeen se optrede kan ’n mens die leiding en sorg van die Here oor sy volgelinge sien en dit te midde van die aanslae teen die geloof in Jesus Christus. In 2 Korinthiërs 1:8-11 verwys Paulus na die bedreiging van sy lewe in Asië en hoe die Here hom uit die groot doodsgevaar gered het.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Was Paulus ‘n apostel?- Francois Malan

As PAULUS n apostel was,was daar tog 13 apostels. Is it korrek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord apostel in die Nuwe Testament kom van die Griekse woord apostéllō wat beteken om iemand te stuur of om ’n boodskap te stuur.’ Die woord apóstolos beteken ’n gestuurde of ‘n boodskapper.

In Handelinge 22:21vertel Paulus dat die Here Jesus aan hom in die tempel van Jerusalem verskyn het en gesê het: ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur (apostéllō) na die heidene.’ In Handelinge 26:17-18 vertel Paulus aan koning Agrippa en die hele saal vol mense in Sesarea van sy roeping toe die Here Jesus aan hom op die pad na Damaskus verskyn het (vgl. Handelinge 9:1-6). Hy was op pad om die Christene in Damaskus te gaan arresteer. Op pad het  Jesus aan hom op die middag verskyn in ’n lig uit die hemel wat skerper was as die son. Die Here het vir hom gesê: ‘Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur (apostéllō) om hulle oë op te maak, sodat hulle van die duisternis na die lig kan kom, en van die mag van die Satan na God, en ook dat hulle deur geloof in My vergewing van sonde, asook ’n erfdeel saam met die geheiligdes, kan ontvang. Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie…’ 

In sy briewe aan die gemeentes  begin Paulus altyd sy brief ‘Paulus, ’n dienskneg van Christus Jesus, ’n geroepe apostel (apóstolos), afgesonder vir die evangelie van God (Romeine 1:1). ‘Paulus, deur die wil van God ’n geroepe apostel (apóstolos) van Christus Jesus..’(1 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’ (2 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel – nie op gesag van mense of deur ’n mens nie, maar wel deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het…’  (Galasiërs 1:1). ‘Paulus, ‘n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’  (Efesiërs 1:1), ensovoorts.

In Handelinge 14:14 word Barnabas ook ’n apostel (apóstolos) genoem saam met Paulus, al was Barnabas nie een van die twaalf nie.

Volgens Lukas 6:13 het Jesus, na ’n nag van gebed op die berg, sy dissipels (volgelinge) nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle apostels (apostóloi) genoem. Een van die twaalf was Judas Iskariot, wat Hom sou verraai (Lukas 6:16). Na Judas se dood, en na Jesus se dood en opstanding en hemelvaart het Petrus die 120 broers verwys na Psalm 109:8 ‘Laat ’n ander sy amp as opsiener oorneem. In Judas se plek het hulle twee manne voorgestel, en in gebed  die Here gevra om een aan te wys wat die Here gekies het om die taak  van hierdie diens van apostel (apóstolos) oor te neem waarvan Judas afvallig geraak het. Toe het hulle geloot en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels (apostóloi) gevoeg.

Openbaring 21:12-14 verwys na die Nuwe Jerusalem se 12 poorte waarop die name van die twaalf stamme van Israel op gegraveer is, en die twaalf fondamente van die stadsmuur met die name van die twaalf apostels (apostóloi) van die Lam op gegraveer.

Die Openbaring aan Johannes is egter ’n boek van simbole. Hier word die name van die twaalf stamme van Israel gebruik om aan te toon dat al die gelowiges uit die Ou Testament deel sal wees van die Nuwe Jerusalem. Die Nuwe Jerusalem is egter ’n simbool van die ewige lewe saam met God. So is die twaalf name van apostels ’n simbool vir al die gelowiges van die Nuwe Testament wat in die Lam van God, sy Seun Jesus Christus glo, wat deel het aan die ewige lewe saam met God. Want Jesus, as God wat ons menslike natuur aangeneem het, het gesterf vir die sonde van die ganse mensdom van die Ou Testament en van die Nuwe Testament (vgl. Johannes 1:1-5,9-14,29,36). En elkeen wat in Jesus glo word deel van die ewige lewe saam met God. (vgl. Johannes 3:16).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Oproer in Efese (Hand 19:23-40) – Francois Malan

19:23 Juis in die tyd toe so baie inwoners van Efese en die provinsie Asië tot geloof in Jesus gekom het, so ’n groot groep gelowiges finaal met hulle geskiedenis van toordery gebreek het en hulle toorboeke in die openbaar verbrand het, het daar ’n gewelddadige oproer oor ‘die Weg’ in Efese ontstaan (Lukas beskryf dit as geen geringe oproer nie).  Oor ‘die Weg’ is reeds verwys in Hand 9:2. Dit is die Weg van die Here en daarvan is Jesus self die Weg na die Vader en die Waarheid en die Lewe van elke mens en ding (Joh 14:6).

19:24 Die rede (gár want) vir die oproer word aangegee as ’n man met die naam Demetrius. Eintlik was dit die bose geeste wat deur Paulus uit mense uitgedryf is wat met die slinkse plan gekom het om Paulus uit Efese te verdryf. Dit gaan om die bedreiging van die lewensonderhoud van mense wat op mense se bygeloof teer. So is Paulus en Silas in Filippi voor die magistrate gesleep omdat die eienaars van die slavin met die waarsêersgees hulle inkomste verloor het (Hand 16:19). Demetrius was ’n silwersmid wat Artemistempeltjies uit silwer vervaardig het en deurlopend baie besigheid aan die vakmanne verskaf het (letterlik ‘nie min nie’ om ’n groot hoeveelheid aan te dui; ergasía kan besigheid of wins aandui; die werkwoord vir ‘verskaf’ is in die imperfektum wat voortduur aandui). Hulle inkomste was in gevaar.

Die beroemde marmer Artemisium in Efese, een van die sewe antieke wonders, was 120 meter lank en 70 meter breed met 128 pilare van 19 meter hoog waarop die dak gerus het. Daarvan het Demetrius klein silwerbeeldjies gemaak vir die skares wat na die orgiese feeste van Artemis gekom het en mense uit alle lae, ook die slawe en slavinne ingesluit het. Belangstellende reisigers het deur die jaar na die wonder kom kyk. Demetrius-hulle sou seker ook afbeeldings van die godin Artemis gemaak het, waarvan daar heelwat klein silwerbeeldjies opgegrawe is. Die Griekse Artemis was ’n jongvrou as die godin van die jag en kuisheid. Die Efesiese Artemis het egter meer Oosterse elemente gehad soos van die Hetiete se Cybele, en was ’n volwasse vroulike vrugbaarheidsgodin, die natuurmoeder van alles wat lewe. Haar beeld het talryke borste teenmekaar gehad en diere of later bye op haar romp as sinnebeelde van vrugbaarheid. Die beeld wat uit die hemel sou geval het, het in die aduton, die binneste heiligdom van die tempel, gestaan. Met die feeste is ’n artemisbeeld deur die strate van die stad gedra. By die feeste is talryke beeldjies van die silwersmede verkoop.

19:25 Demetrius het ’n bedreiging vir hulle bedryf gesien in die groot getal Efesiërs wat Artemis verlaat het om Jesus Christus te volg. Daarom wou hy ’n teenaksie loods om die Christensending uit te wis en verdere werk vir Paulus onmoontlik te maak. Hy het sy vakmanne byeengeroep en ook ander vakmanne van dieselfde ambag in Efese om hulle steun vir sy plan te kry. Hy het begin om te sê: ‘Manne, julle weet uit hierdie bedryf is ons voorspoed.’ 

19:26 Demetius beroep hom op wat die manne self waarneem en beleef en wat hulle van ander hoor. Hulle het ook al die daling in hulle verkope gesien en beleef. Met sy verwysing na die groot getal mense wat deur Paulus oorreed is om Christus te volg, getuig Demetrius eintlik oor die wydheid van die invloed van Paulus se verkondiging, nie net in Efese nie, maar in die hele Romeinse provinsie Asië. Demetrius verklaar dat Paulus mense mislei, weglei uit hulle vorige geloof, met sy verkondiging dat handgemaakte gode nie gode is nie. Die gewone mense het die beelde van gode en die gode self wat daardeur afgebeeld is, vereenselwig (vgl. Paulus se standpunt in Hand 17:29). In Ps 115:2-13; 135:15-18; Jes 44:9-20; Jer 10:3-15 is afgode reeds belaglik gemaak. Dit is die Bybelse agtergrond van Paulus se verkondiging.  ‘Hierdie Paulus’ is ’n minagtende verwysing na Paulus – ‘Hierdie vent Paulus,’ wat hulle gode en die produk van hulle ambag minag, bedreig nou hulle voorspoed.

19:27 As die mense begin glo dat handgemaakte gode nie gode is nie, is daar drie rampspoedige gevolge wat toeneem in belangrikheid: dit sal hulle ambag in ’n slegte lig stel, hulle aansien laat verloor  – met die gevolglike verlies van werk en inkomste. Die wêreldberoemde tempel van Artemis sal sy waarde/roem verloor – met die gevolglike verlies aan besoekers en verkope van hulle beeldjies. Die toppunt van die ramp is dat die godin Artemis wat orals in Asië en die hele bewoonde wêreld vereer en aanbid word, van haar grootheid en luister ontdaan sal word – met die gevolglike staking van al haar feestelike geleenthede waarvoor hulle so hard werk en so goed wins maak.

‘Dit hou nie net vir ons spesifieke besigheid die gevaar in om hewig gekritiseer te word nie – dat mense van ons besigheid sal sleg praat nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Artemis as niks gereken sal word, en dat sy wat in die hele Asië en die wêreld vereer word, van haar grootheid en belangrikheid ontdaan sal word.’ 

19:28 Die opswepende rede van Demetrius bereik sy doel. Die mense wat hom aangehoor het, het vol woede geword, rasend van woede geword, en geskreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!’  Dit is hulle reaksie op Paulus se verkondiging dat handgemaakte gode nie gode is nie.    

19:29 Die oproer het deur die hele stad versprei (letterlik: die stad is gevul met oproer). Hulle het met dieselfde gedagte na die opelugteater in die middel van die stad met sy 25 000 sitplekke toe gestorm. Hulle het Paulus se reisgenote, Gaius en Aristargus van Masedonië, saamgesleep na die teater toe. Die oproer wat die silwersmede begin het, het ’n algemene volksoploop geword om hulle godin te verdedig. Die doel van hulle geskreeu was om die stadsowerhede te dwing om Paulus en sy genote uit die stad te verdryf, en Paulus se twee reisgenote was in die uiterste gevaar. Volgens Hand 20:4 was Aristargus lid van die gemeente in Thessalonika in Masedonië en Gaius van Derbe in Galasië (vgl. die dissipels in Derbe; 14:21). Aristargus het Paulus ook vergesel op sy reis as gevangene na Rome (Hand 27:2) en in Rome by Paulus gebly (Kol 4:10 ’n mede-gevangene; Flm v24 ’n mede-arbeider).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus teen die bose geeste in Efese (Hand 19:11-22) – Francois Malan

19.11  God het ongewone (wat nog nie beleef is nie) wonders (dunameis bonatuurlike kragte) in Efese deur die hande van Paulus verrig.  Die wonders het Paulus se woorde in die lesingsaal bevestig en mense ook na Paulus se besprekings getrek. Dit word duidelik gestel dat God aan die werk was deur Paulus se woorde en dade om die pad vir die evangelie oop te maak na die harte en geloof van die mense. 

19:12 Selfs as van sy gesigshanddoeke of sweetbande (spoudária) of werksvoorskote (simikínthia) wat kontak met sy vel gehad het weggedra is na die siekes toe, is hulle bevry van hulle siektes en het die bose geeste hulle verlaat. Die kledingstukke van Paulus is slegs simbole van God wat genees, dié Here wat in ’n nagtelike visioen vir Paulus belowe het: ‘Ek is met jou’ (Hand 18:10). Maar in die heidene se gedagte word die genesingskrag van Paulus se liggaam oorgedra deur die klere na die siekes. So het die vrou met die bloedvloeiing ook gereken sy sal genees word deur die soom van Jesus se bokleed aan te raak, maar die genesingskrag het van Hom, wat God is, gekom (Luk 8:43-48; vgl. Luk 6:58; ook Hand 5:15-16 vir Petrus se skaduwee – Efese se heidene moes ook sien wat Jerusalem se Jode gesien het).

19:13 Die uitdrywing van die bose geeste deur die hande van Paulus, volgens vers 12, geskied in die sekerheid dat die Here Jesus deur Paulus werk, vgl. Hand 16:18. Die Here het reeds vir Ananias gesê: ‘Ek het hom uitgekies om my Naam uit te dra na die nasies …’ (Hand 9:15). Die rondreisende Joodse uitdrywers van bose geeste het egter die Naam van Jesus bewustelik misbruik vir hulle eie magiese kunste. Hier word ’n humoristiese geskiedenis oor hulle vertel.  Rondreisende Joodse uitdrywers van bose geeste het hulle goedbetaalde kunste met toorformules beoefen met aanroeping van Ou Testamentiese name soos Jahweh, Abraham, en veral Salomo. Die Jode het Salomo beskou as dié wyse man (1 Kon 4:29-34) wat ook toorformules sou opgestel het. Deutr.18:14 sê egter duidelik dat die Here Israel verbied het om soos die Kanaäniete te luister na towenaars en besweerders;  vgl. Jesus se opmerking oor ‘julle seuns wat demone uitdryf’ in Luk 11:19; sewe onrein geeste wat terugkom, Luk 11:24-26). Hier in Efese probeer die sewe Joodse besweerders die krag van die Jesusnaam vir hulle eie doel inspan. 

19:14 Die besweerders word geïdentifiseer as die sewe seuns van die Joodse leier/hoëpriester Skeva van wie daar verder niks bekend is nie. Maar dat dit seuns van ’n leierpriester is, getuig van hulle belangrikheid. So groot het Paulus se getal volgelinge geword (19:12) dat die sewe groot Joodse besweerders die Naam van Jesus vir hulle beswerings begin gebruik om langs Paulus in die besigheid te kan bly. Maar die verhaal wys dat Paulus, wat die Christendom verteenwoordig, nie nageaap kan word nie.  

19:15 Die bose gees antwoord die sewe besweerders deur die besetene se mond. In plaas van uit hom uit te gaan, praat hy met die besweerders en betwyfel hulle gesag. Daarmee het die bose gees hulle reeds oorwin. Sy antwoord is ’n erkenning van Jesus as persoon. Bose geeste ken ook vir Paulus wat reeds namens Jesus van hulle bose geeste uit mense uitgedryf het (19:12), maar die bose gees spot met die sewe Jode wat Jesus se Naam misbruik. Slegs Christusgelowiges word so deur Christus gebruik om sy wil uit te voer. Wie is hulle wat waag om Jesus se Naam te gebruik? Dit is duidelik dat die sewe seuns Jesus nie persoonlik ken of volg nie. Hulle het maar van Paulus se gebruik van Jesus se Naam gedink hulle kan sy Naam as ’n towerformule gebruik om krag by hulle woorde te sit. So misbruik baie mense die woord God en die naam Jesus uit gewoonte en in hulle omgangstaal as stopwoorde of om hulle emosies kragtig uit te druk, sonder dat hulle met Hom wil praat.

19:16 Die man het hulle met bomenslike krag bespring juis met die mag van die bose gees. Hy was sterker as hulle en het al sewe besweerders wat die gees met mag uit die man wou uitdryf, oorweldig (vgl. die krag van die besetene van Gerasa, Mark 5:4). Die sewe het in skande naak, seer en met bloeiende wonde uit die man se huis gevlug.

19:17 Dit word toe in Efese ’n oorwinning vir die Here Jesus. Sy Naam wat deur die sewe duiwelbesweerders misbruik is, het toe, deur die bose gees se optrede, vrees vir Hom onder al die Jode en Grieke in Efese bewerk. So is sy Naam  grootliks vereer (megalúnō groot maak, sy grootheid prys, hoog vereer). Paulus-hulle is in Filippi deur die slavin se waarsêersgees bekendgestel as diensknegte van die Allerhoogste God wat die pad tot verlossing verkondig (Hand 16:17). Die Here het die optrede van die heidense magistrate van Filippi gebruik om sy Naam onder die geharde inwoners van Filippi te herstel (Hand 16: 38-39). In Korinthe het die Here die optrede van die heidense goewerneur van Agaje teenoor die Jode in Korinthe gebruik om die voortgang van die evangelie te bevorder (Hand 18:14-27). In Efese het die Here die optrede van die duiwelbesetene gebruik om die eer van sy Naam te vestig (Hand 19:17).

19:18 Die vrees vir die Here Jesus het ook die pasbekeerde Christene tot belydenis gebring en tot onthulling van hulle betrokkenheid by toorpraktyke. Die lot van die duiwelbesweerders en die grootheid van die Here Jesus het tot ’n groot oorwinning oor die toorpraktyke van die Efesiërs gelei. Sedert die 5e eeu v.C. was Efese al beroemd vir hulle toorspreuke (die sogenaamde ‘Efesiese woorde’ Efesía grámmata) wat jou in kontak met die geesteswêreld sou gebring het. Uit hierdie heidendom het die nuwe gelowiges gekom. Die krag van ’n toorformule is aan sy geheimsinnigheid gekoppel. Toe die Heilige Gees die groot aantal gelowiges oortuig het om hulle toorpraktyke openlik te bely, het die toorformules hulle krag verloor en die gelowiges se toewyding aan die Here Jesus versterk.

19:19 Baie van hulle het ook toorboeke gehad met toorformules (Efesía grámmata ‘woorde van Efese’ het ’n spreekwoord geword vir toorformules). Hulle het hulle boeke gebring en op die stadsplein voor almal in die stad verbrand. Dit het ’n groot vuur geword met toorboeke wat 50 000 silwerstukke werd was. Wat die waarde van ‘n silwerstuk was, word nie gesê nie, waarskynlik elkeen ’n dag se loon, maar die aantal spreek van groot kostes. Die brand was ’n reiniging van hulle ou denkwyse en gelowe, ’n breuk met hulle verlede en ’n openbare getuienis voor almal in die stad oor die nutteloosheid en gevaar van towery. 

19:20  Die woord van die Here het kragtig bly groei en steeds sterker geword deur Paulus se verkondiging van die woord van die Here (19:10), die besondere kragtige dade van God deur Paulus en sy klere verrig (19:11-12), die beroemde besweerders se vernederende vlug (19:16), en die boekverbranding deur gelowiges. So sê Lukas hier aan die einde van sy beskrywing met ’n paar opsommende stellings oor die mag van die evangelie. Die twee werkwoorde  ‘groei’ en ‘sterker word’ is albei in die Griekse imperfektum wat die voortgang daarvan uitdruk. Die mag van die Here en sy woord gaan al verder voort en oorwin die towerwoorde van die besweerders en die krag van die bose geeste.

19:21 Nadat sy werk in Efese al so ver gevorder het, het die Gees Paulus gelei om deur Masedonië (Filippi, Thessalonika? en Berea) en Agaje (Athene en Korinthe) te gaan om die gemeentes te gaan versterk en dan na Jerusalem toe te gaan. Hy het gesê: ‘nadat ek in Jerusalem was, moet ek ook Rome sien.’  ‘Moet’ (dei) verwys gewoonlik na iets wat die Here hom opgelê het. Dit was Paulus se reisplan wat toe anders uitgewerk het as wat hy gedink het. 

19:22 Paulus stuur eers twee van sy helpers na Masedonië, Timotheus en Erastus. Erastus was moontlik die stadstesourier van Korinthe wat bekwaam was om die kollekte vir die armes in Jerusalem in Masedonië te gaan organiseer (vgl. 2 Kor 8:1-3). Timotheus is deur Masedonië na Korinthe (1 Kor 16:10-11). Paulus bly self nog langer in Asië, veral in Efese. Volgens 1 Kor 16:8 wou hy tot Pinkster in Efese bly en daarna in Korinthe gaan oorwinter (1 Kor 16:6)

Volgens Paulus se eie weergawe van gebeure het die gemeente in Korinthe onder leiding van ‘iemand’ teen hom begin draai (2 Kor 2:5), al was Timotheus daar as Paulus se gesant (1 Kor 4:17; 16:10). Paulus het Korinthe vinnig gaan besoek maar is in droefheid terug Efese toe en het aan die Korinthiërs ’n streng brief onder baie trane geskryf (2 Kor 2:1-4). Paulus wou aanvanklik na Korinthe toe gaan en vandaar na Masedonië, weer terug na Korinthe en vandaar na Judea. Hy het egter van die plan afgesien na sy tranebesoek aan Korinthe ( 2 Kor 1:16). Toe het hy die tranebrief saam met Titus na hulle toe gestuur en onder leiding van Titus is die verhouding later herstel en die ‘iemand’ tereggewys (2 Kor 7:8-13 en 2:6-7). Volgens Paulus se weergawe was hy intussen in Efese in doodsgevaar, waaruit die Here hom gered het (2 Kor 1:8-10). Hy is toe na Troas, waar hy gehoop het om Titus te ontmoet op sy pad terug van Korinthe af, om te hoor wat in Korinthe gebeur het. In Troas het die Here ’n deur vir sy evangelieprediking oopgemaak, maar omdat hy nie vir Titus daar ontmoet het nie, is hy oor na Masedonië (2 Kor 2:12-13). Daar het hy in angs op Titus gewag totdat Titus met die goeie nuus daar aangekom het dat die verhouding met Korinthe baie mooi herstel is (2 Kor 7:5-7). Toe skryf hy 2 Korinthiërs vanuit Masedonië, wat hy saam met Titus na Korinthe toe stuur. Daarna is hy self Korinthe toe en het daar drie maande in die winter van 55-56 n.C. deurgebring, moontlik ook in Korinthe se hawestad Kenchreë (Hand 20:3; Rom 16:1). Gedurende hierdie tyd skryf hy die brief aan die Romeine, o.a. met die oog op ’n besoek aan Rome, vir ’n bediening daar en dat hulle sy nuwe basis word, vanwaar hy tot Spanje wil reis (Rom 1:9-12; 15:22-23). Na die drie maande in Korinthe wou Paulus Jerusalem toe, o.a. met die kollekte wat hy vir die armes in Jerusalem laat opneem het by die gemeentes wat hy gestig het (vgl. Gal 2:10; Hand 11:30; 1 Kor 16:1; 2 Kor 9:1-2,12 Hand 20:4; 21:17-19).

Oor die doodsgevaar waarin Paulus in Efese verkeer het ( Kor 1:8-11), gee Lukas ’n kykie daarin in die volgende episode.

Skrywer:  Prof Francois Malan