‘n Kind, Jesus, word gebore en word groot (2)

‘n Kind, Jesus, word gebore en word groot (2) – Jan van der Watt

deel 2[1] – die verhale van Matteus en Lukas

 

Die verhaal van Jesus se geboorte (die kersverhaal) word in Matteus 1-2 en Lukas 1-2 vertel. Behalwe vir die engel wat na Maria toe kom en Jesus wat gebore word, verskil die verhale heeltemal. Dit beteken nie een is verkeerd en die ander een reg nie. Dit beteken net dat die twee verhale op verskillende dinge wat gebeur het, fokus. Dit is nie ‘n geval van òf-òf nie maar van èn-èn. Daarom gaan ons die twee verhale afsonderlik bekyk.

 

 

2.1) Matteus se verhaal van die geboorte van Jesus.

Matteus se verhaal begin met die geslagsregister. Ons het klaar daarna gekyk en gaan dit nie weer bespreek nie. Kom ons kry i) ‘n kort oorsig oor die verhaal van Matteus en dan ii) kyk ons na ‘n paar van die uitstaande kenmerke.

* Lees Matt 1:18-2:23. Skryf die opvallendste kenmerke van die verhaal neer.

i) Die verloop van Matteus se kersverhaal

bb1

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Daar is ‘n hele klomp interessanthede in die kersverhaal van Matteus:

a) Die name van Jesus

Jesus word twee name gegee:

  • (1:21)
  • hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. (1:23)

Die eerste naam (Jesus) dui daarop dat Jesus mense van hulle sonde verlos sodat hulle weer by God kan uitkom. Hy maak ons pad oop na God toe.

Die tweede naam (Immanuel) sê dat God na ons toe gekom het. God kom weer by ons uit!

Dit vorm die perfekte sirkel – ons by God en God by ons. Dit is wat Jesus gedoen het: Hy het die mens na God toe kom lei en God na die mense gebring. Daarom bereik die evangelie ‘n soort van hoogtepunt as die soldaat by die kruis uitroep: Waarlik, Hy is die Seun van God (27:54). Dit is wat ‘n mens moet raaksien as jy na Jesus kyk.

b) ‘n Spesiale geboorte

Daar is al genoem dat geboortes eintlik ‘n refleksie is van die persoon se latere lewe omdat die karakter van die baba nie van die latere volwasse persoon verskil nie. Daarom was dit tipies van antieke geboorteverhale dat met die geboorteverhale van “groot persone” die tekens van sy grootheid reeds met sy geboorte sigbaar word.

Wat sou jy dink is spesiaal aan die geboorteverhaal van Jesus wat reeds op sy “grootheid” dui?

c) ‘n Verhaal in die profesieë van die OT toegedraai

Gaan 1:18-2:23 weer deur en kyk hoeveel aanhalings uit die Ou Testament jy kan kry:

Elke afdeling van die verhaal bevat ‘n aanhaling uit die Ou Testament:

AANHALINGS UIT DIE OU TESTAMENT IN DIE KERSVERHAAL

Verse in Matteus

Ou Testamentiese aanhalings

Waar dit voorkom in die verhaal

1:23

Jesaja 7:14

Die geboorteverhaal – Jesus se naam

2:6

Miga 5:1

Herodesverhaal – oor die leierskap van Jesus

2:15

Hosea 11:1

Vlug na Egipte – Jesus sal uit Egipte geroep word

2:17-18

Jeremia 31:15

Kindermoord – oor die hartseer

2:23

Nie seker waar dit staan nie

Terugkeer uit Egipte – oor Jesus se naam

Matteus is die evangelie vir die Jode. Die Ou-Testamentiese aanhalings wys dus dat die profesieë van die Ou Testament in Jesus vervul is. Die God van die Ou Testament is dus die Een wat in Jesus aan die werk is, want wat Hy beloof het, word daar waar.

Dit was vir die Jode nogal belangrik. Jesus het nie ‘n nuwe godsdiens kom stig nie, maar is die voortsetting van die pad wat God met sy volk wil loop. Waar Jesus nou is, is God teenwoordig. ‘n Mens besef eers hoe groot die krisis vir die Jode moes wees as jy besef dat die Jode wat Jesus verwerp het, eintlik volgens die boodskap God verwerp het en nie meer sy volk was nie. Dit bring ons by die volgende belangrike saak.

d) Moord op kersfees

ii) Die verloop van Lukas se kersverhaal

Lukas se geboorteverhaal lyk heeltemal anders – die donkerte maak plek vir vreugde en lied.

Lees Luk 1:5-2:52 en skryf alles neer wat jou in die verhaal tref.

Die verloop van Lukas se verhaal lyk so:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Lukas se geboorteverhaal het ook interessante kenmerke van sy eie:

a) Daar word baie gesing oor Jesus

  • Lofliedere in die kersverhaal van Lukas

    Plek in Lukas

    Wie se lied is dit?

    1:42-45

    Loflied van Elizabeth

    1:46-55

    Loflied van Maria

    1:68-79

    Loflied van Sagaria

    2:14

    Loflied van die engele

    2:29-32

    Loflied van Simeon

    Hieruit kan ons onder andere die volgende aflei:

    • Vreugde en lof speel ‘n baie belangrike rol in die verhaal – die liedere wys dit, maar dit word ook aanmekaar genoem. Merk miskien al die plekke waar vreugde/blydskap/lof in die deel voorkom, bv. 1:14,44,64 en baie ander. Jesus se verhaal is inderdaad een van vreugde en vrede.

    b) Liedere het destyds hard gepraat

    Liedere was destyds die manier waarop inligting versprei is. Mense kon nie lees nie en daarom is hulle liedere geleer. Die liedere het die belangrikste inligting wat hulle moes weet bevat en soos hulle dus sing, leer hulle sommer. Dit beteken dus dat ‘n mens mooi moet kyk na die antieke liedere, want hulle vertel ‘n mens sommer alles wat jy regtig moet weet.

  • Som nou vir jouself die belangrikste inhoud van elkeen van die liedere (soos in die blokkie hierbo genoem) op en kyk wat wil Lukas vir ons oor Jesus sê:
  • Het jy van die volgende motiewe gekry (dit is nie alles nie, maar gee vir ons ‘n ideë waaroor die vroegste Christene gesing het as hulle aan Jesus gedink het:

     

    • Kyk of daar ook buite die liedere sulke mooi dinge oor Jesus gesê word (bv. dat Jesus koning is 1:32-33, ens.).

      c) God met ons

      In Matteus het ons gesien dat dit belangrik was om te beklemtoon dat Jesus God en mens is (Jesus en Immanuel). Lukas beklemtoon dit ook op sy manier.

      Kyk of jy bewyse in die geboorteverhaal van Lukas kan kry dat Jesus van God af kom en iets goddelik aarde toe bring.

      Dink nou bietjie na oor die twee verhale wat ons nou bekyk het: Hulle verskil baie van mekaar. Wat sou jy sê is die verskille en wat wou elkeen op sy eie manier oor Jesus se geboorte sê?

      [1] As jy nie heeltemal klaarkry met deel 2 nie, laat so bietjie oor vir die volgende sessie. Deel 3 is bietjie korter.

       

      Skrywer: Prof Jan van der Watt

       




    Alle Paaie lei na Jesus: Die Psalms, Profete en Wysheidsliteratuur (2)

    Alle Paaie lei na Jesus: Die Psalms, Profete en Wysheidsliteratuur (2) – Adrio König

    4.8.2 Die Profete

    Die Profete kom oor die algemeen ooreen met die Psalms. Ook hier is die stryd by die skepping en die lof aan God oor sy skeppingswerk belangrik. Trouens daar is selfs herinnerings aan die eerste twee skeppingsverhale. Die son beheer ook die dag en die maan en die sterre die nag (Jer 31:35).

    Interessant dat die grootheid van God wat uit sy skeppingswerk blyk, hier gebruik kan word om te wys hoe skokkend die volk se ongehoorsaamheid aan die Here is. Hulle het nie ontsag vir die Here nie, hulle is nie bang vir Hom nie terwyl dit Hy is wat die sand as grens vir die see gestel het, ’n grens waaroor die bruisende golwe nie kan kom nie. Selfs die magtige see kan nie in opstand kom teen God nie, maar die volk doen dit! (Jer 5:22- 23)

     

    Stryd by die skepping kry by die Profete ’n nuwe dimensie. In Genesis is net implisiete verwysings daarna, in die Psalms kom die stryd prominent na vore, maar dis nog steeds ’n stryd by die skepping. Maar by die Profete word die stryd by die skepping ook ingetrek in die geskiedenis in, en word dikwels ’n stryd by die uittog uit Egipte.

     

    Jesaja noem Egipte “Rahab” (Jes 30:7), en die Here noem die farao van Egipte “die groot seemonster” wat oorwin word en vir die diere gevoer word (Eseg 32:1-8). Die mooiste voorbeeld is in Jesaja 51:9-10. Die profeet roep tot die Here om die volk uit ballingskap te bevry. Hy begin deur  die groot mag te besing wat die Here by die skepping getoon het en dan gaan hy oor na die uittog.    “Gryp in, Here, gryp in! Toon u mag, u krag! Gryp in soos in die ou tyd, soos in dae lank gelede. Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het, wat die seemonster deurboor het nie? (Dis ’n verwysing na die skepping.) Is dit nie U wat die see, die groot diep waters laat opdroog het nie, U wat op die seebodem ’n pad gemaak het sodat dié wat verlos is, kon deurgaan nie?” (’n Verwysing na die uittog.)

     

    Trouens vroeër in Jesaja word dié stryd selfs ook na die toekoms toe geprojekteer. In die groot, finale toekomstige stryd “sal die Here sy skerp, groot, sterk swaard gebruik om die Leviatan, die vinnige, kronkelende slang te verslaan en sal Hy die monster doodmaak wat in die see is” (27:1). En ons weet hoe hierdie stryd teen die dier en die draak in Openbaring geskilder word. Hierdie stryd dek dus die hele geskiedenis: skepping, uittog, voleinding.

     

    Jesaja 40-66

    Ons moet spesiale aandag gee aan die tweede en derde dele van Jesaja – Jesaja 40-55, en 56-66. Die eerste en belangrikste rede is dat dít die deel in die Ou Testament is wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word. ’n Mens sou dit amper die “Bybel” van die apostels kon noem. Jesaja 40-55 is geskryf deur ’n onbekende profeet in die slegste tyd van die ballingskap. Israel is waarskynlik al vier of vyf dekades in Babilon. Die jong mense wat as slawe daarheen geneem is, het nou oud geword. ’n Nuwe geslag wat niks van Jerusalem weet nie, is gebore en getoë. En jaar na jaar moes hulle die groot Nuwejaarsfees ter ere van Marduk, die Babiloniërs se groot skeppergod, vier. Die Babiloniërs het geglo dis hy wat Tiamat verslaan en middeldeur gekap het in die groot godegeveg, en uit die twee dele van sy liggaam die hemel en die aarde gemaak het.

     

    Nogeens die strydvoorstelling

    Na dekades in die heidenland, was dit ongetwyfeld ten minste ’n krisis vir die Israeliete om nog in die Here te glo. Was Marduk nie dalk sterker as Hy nie? Hier sit hulle in Marduk se mag en daar kraai nie ’n haan na nie. Dit kon net een van twee dinge beteken, het hulle waarskynlik gevoel: óf Marduk was sterker as die Here, óf die Here stel nie meer in hulle belang nie. Hier is die profeet se vrae aan hulle: “Waarom sê jy dan, o Jakob, waarom kla jy, Israel: Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby?” En dan volg die profeet se bemoediging. Maar waarmee sal hy hulle bemoedig in hierdie troostelose situasie? “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die

    ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie … Hy gee die vermoeides krag” (40:28- 31).

     

    Let op! Die krag van die Here word beklemtoon deur na die skepping te verwys! ’n Paar hoofstukke verder skryf die profeet dit met nog meer oortuigingskrag. Ons het reeds verwys na Jesaja 51:9-10, maar nie in besonderhede nie. Dit gaan oor stryd by die skepping. Maar wat gaan regtig hier aan?

    Dit gaan in werklikheid hier oor vier chaosmonsters:

    • Rahab,
    • Tanin (’n seemonster),
    • Jam (die see wat self as ’n monster voorgestel word),
    • Tehom Rabba (die diep waters – die duister vloed van Gen 1:2).

     

    Onthou dat Marduk vir Tiamat (waarskynlik dieselfde as die Tehom van die Bybel) middeldeur sou gekap het. Nou sê die profeet die Here het self vir Rahab middeldeur gekap (NLV, NJB) en selfs nog drie ander monsters ook. En een van hulle was juis die een wat Marduk in stukke sou gekap het. Verder kom die monster Jam nie eens in die Babiloniese verhale voor nie. Dis ’n Ugaritiese seemonster. Dit beteken dat die Here veel meer as Marduk gedoen het, Hy het vier monsters verslaan, sommige waar van die Babiloniërs nie eens geweet het nie.

     

    Die strydvoorstelling neem dus ’n nuwe vorm aan. Dit word ’n groot troosboodskap: die Here kan en sal julle terugbring Jerusalem toe. Hy is magtiger as die gode van Babilon.

     

    ’n Nuwe skepping

    Die tweede belangrike saak wat in Jesaja 40-55 voorkom, is die wyse waarop die profeet van die terugtog skryf. Ons sal sien hy gebruik skeppingsterme en skeppingsbeelde om te verduidelik hoe wonderlik die terugtog gaan wees wanneer die Here die volk terugneem Jerusalem toe. Die punt wat hy wil maak, is dat die terugtog uit Babilon soveel wonderliker as die oorspronklike uittog uit Egipte gaan wees, dat hulle eintlik hierdie uittog moet vergeet (43:16-21). Dit is in werklikheid ’n ongehoorde ding, want die uittog was hulle geboorte as volk van die Here, was die basis vir die verbond waarin hulle met die Here geleef het. Terloops, die “net” van die 1983-vertaling in 43:18 mis die punt heeltemal. NLV se vertaling is uitstekend.

     

    Die vraag is nou waar die profeet groter en sterker beelde as juis die uittog gaan kry om die nuwe terugtog te beskryf. Hy gryp terug op die skepping. Jesaja 48:7 behoort vertaal te word: “Ek gaan dit nou skep” en dit sien op die terugtog wat op hande is. Later sê die Here Hy gaan die puinhope in Jerusalem soos Eden maak, die tuin van die Here (Jes 51:3). Ook dit is natuurlik ’n skeppingsbeeld uit Genesis 2.

     

    Waarom gryp hy op skeppingsbeelde terug om die heerlikheid van die verlossing te beskryf? Omdat dit die sterkste beelde is waaroor Israel beskik het. Niks wat die Here gedoen het, was so wonderlik soos die skepping nie. Trouens in werklikheid gaan die profeet dan selfs nog verder. Wat die Here nou gaan doen, sal selfs groter wees as die skepping self! Die hemel en die aarde sal verdwyn wanneer die Here die verlossing vir Israel bring (51:6).

     

    Hier in Jesaja 40-55 kry ons dus die eerste keer die boodskap dat die Here dinge kan doen wat selfs groter en wonderliker is as die skepping.

     

    Jesaja 56-66 radikaliseer hierdie belofte. Hier word nou vir die eerste keer letterlik van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde en ’n nuwe Jerusalem geskryf. Waarom? En wat beteken dit? Hierdie hoofstukke word waarskynlik ’n paar dekades later geskryf toe ’n deel van die volk alreeds na Jerusalem teruggekeer het en die herbou van die tempel al begin het. Maar die terugkeer was nie so glorieryk nie, en die herbou van die tempel het onder uiters spanningsvolle omstandighede begin. Dit beteken dat die profeet wat hier aan die woord is, oortuig is dat die belofte van die heerlike terugtog nog nie vervul is nie. Hy radikaliseer dan hierdie belofte in die omvattendste uitsprake denkbaar van ’n totale nuwe werklikheid wat die Here sal skep (Jes 65:17 ev). Die woorde wat Hy gebruik, herinner sterk aan die begin van die eerste skeppingsverhaal, en sou dan verstaan kon word as ’n totale nuwe skepping.

     

    Die probleem is egter dat die hele deel (65:17-25) eintlik net handel oor ’n nuwe Jerusalem. En die nuutheid en vreugde is net vir die plaaslike inwoners. Dit is net 17a en 25 wat algemene uitsprake is. ’n Mens kan dus nie hierdie radikale belofte te ernstig opneem nie. Dit kan eenvoudig ’n manier wees om te sê hoe belangrik Jerusalem is.

     

    Wat wel belangrik is, is die feit dat ook hier skeppingsterme gebruik word om die verlossing te beskryf. Verlossing word herskepping wat dit ’n ingrypende saak maak.

     

     

    AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

     

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

     

     

     

     

    Skrywer: Prof Adrio König

     




    Die Nuwe Testament en die Apostels

    Die Nuwe Testament en die Apostels

    Ons kyk na Michael Kruger se reeks oor die Nuwe Testament. Wat ons moet verstaan, is dat die Nuwe Testament nou verbind is aan die aktiwiteite van die apostels. Jesus het die twaalf apostels aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe (Markus 3:14 – 15).

    Die apostels se gesag kom van Jesus Christus en hulle was sy mondstuk. Hulle onderrig, saam met dié van die profete, was die fondament waarop die kerk gebou is met Jesus Christus as hoeksteen (Efesiërs 2:20). As die kerk die ware Christelike boodskap wou ken, moet hy teruggaan na die onderrig van die apostels.

    Op ‘n stadium – redelik vroeg al – het die apostels hulle boodskap neergeskryf. Hulle het dit self gedoen of  ander het dit vir hulle gedoen. Die kerk sou uiteraard meer waarde aan hierdie apostoliese boeke as enige ander tipe boek heg. Die boeke wat die kerk as apostolies beskou het, was juis die boeke wat gelees en neergeskryf is – en tydens aanbidding gebruik is. Hulle word uiteindelik die boeke van die Nuwe Testament.

    Dit is juis die kerk se afhanklikheid van hierdie apostoliese geskrifte wat aanleiding gegee het tot die proliferasie van die apokriewe boeke wat na die apostels vernoem is – die Evangelie van Tomas, die Evangelie van Petrus, die Handelinge van Johannes en selfs die Evangelie van die Twaalf.

    Die Nuwe Testamentiese kanon bestaan, want die vroeë Christene het geglo dat die apostels vir Christus gepraat het. Daarom het hulle soveel waarde aan die apostoliese boeke geheg.

    Nederigheid en Vertroue

    Nederigheid en Vertroue

    Twee vrugte van die evangelie wat ons in geen ander godsdiens gaan kry nie, is nederigheid en vertroue. Alle godsdienste het oomblikke van vertroue en oomblikke van nederigheid, maar die evangelie veroorsaak beide terselfdertyd.

     

    Nederigheid en vertroue is die gevolg van wat jy van jouself glo. Nederigheid is die gevolg van jou besef hoe sleg jy is. Sonder die evangelie kan hierdie gevoel jou persoonlikheid domineer; sonder die evangelie word nederigheid deur skaamte vervang.

    Vertroue is as ons ‘n goeie situasie herken. Sonder die evangelie sal mense hulle op die rug klop … en dit vir al die verkeerde redes. Hulle wens hulleself geluk, want hulle is meer godsdienstig, meer suksesvol, meer… as ander persone. Sonder die evangelie word vertroue met arrogansie vervang.

    Hierdie is die twee grootste hindernisse wat mense verhinder om God te nader. Sommige voel skaam, want hulle voldoen nie aan die “standaarde” nie. Hulle kan nog aanvaar dat God ‘n liefdevolle God is, maar hulle kan nie aanvaar dat God hulle lief het en aanvaar nie. Ander is arrogant – hulle hoor reeds hulle hele lewe lank hoe goed hulle is … en hulle glo dit. Hulle sien geen nodigheid om God te nader nie.

    Hoe hanteer ons dit? Die benadering vir beide groepe is dieselfde. Tim Keller sê dat die evangelie die nuus is dat ons terselfdertyd boser is was wat ons dink en meer geliefd en aanvaarbaar is as wat ons ooit gehoop het.

    By die kruis word skaamte en arrogansie vernietig. Hulle word vervang met nederigheid en vertroue. Die kruis herinner ons daaraan hoe sondig ons is – dit maak ons nederig. Maar die kruis herinner ons ook aan God se liefde. Omdat Christus vir ons gesterf het, gee dit vir ons vertroue.

    Martin Luther het gesê simul justus et peccator – terselfdertyd regverdig en sondig.