Die Handelinge van die Apostels: Paulus in Efese (Hand 19:1-10) – Francois Malan

19:1 Die hoofstuk sluit by 18:23 aan om verder te vertel van Paulus se derde sendingreis. Terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus deur die hoërliggende binneland van die uitgestrekte Romeinse provinsie Asië gegaan – waarskynlik gestap. Daarna het hy afgegaan na Efese aan die Egeïese see.

Augustus, wat in 27 v.C. keiser van Rome geword het, het Efese as die hoofstad van die Romeinse provinsie Asië verklaar in die plek van Pergamum. Toe het Efese die belangrikste stad in die provinsie en die vyfde grootste stad in die Romeinse ryk geword, en Asië was die grootste provinsie in die Senaat van Rome. Toe Paulus daar aangekom het, was daar verskeie godsdienste in die stad: ou Anatoliese gode met trekke van die ou Hetiete en Lidiërs se natuurgodin Cybele, die moeder van die gode en haar gade Attis die songod. Daar was ook Grieks-Romeinse gode met Zeus/Jupiter as die hoofgod, Egiptiese gode met die songod Ra as die skeppergod, en Jode. Efese was beroemd vir die tempel vir Artemis (Diana in Latyn), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, vyf maal groter as die Parthenon van Athene. Die Griekse Artemis was ’n jongvrou as die godin van die jag en kuisheid. Die Efesiese Artemis het egter meer Oosterse elemente gehad wat van haar die natuurgodin gemaak het wat met orgies vereer is om vrugbaarheid te kry. Die teater teen die berg Pion (Panayir Dag) kon 25 000 mense huisves. Soos Korinthe was Efese ook ’n stad met ’n gemengde bevolking van oorspronklike Grieke en verskeie Oosterse mense en Jode. Dit was ook ’n handelstad en ‘n deurgang per skip na die Weste.

Op pad na Efese (katérchomai kan afgaan beteken of aankoms in) kom Paulus af op ’n aantal dissipels, volgelinge van dié Jesus, wat Johannes die Doper verkondig het, soos Apollos ook was. Hulle het geweet van Jesus wat gekom het as die verwagte Messias, en dat Johannes Hom gedoop het, en waarskynlik ook van Jesus se sterwe en opstanding. As hulle van Efese was, het hulle nie die sinagogedienste bygewoon, waar hulle deur Priscilla en Aquila reggehelp kon word nie (Hand 18:26). 

19:2-3  Hulle het egter nog nie eers gehoor van die koms van die Heilige Gees op Pinksterdag nie. Dat hulle as dissipels gedoop is maar nie die Heilige Gees ontvang het nie, was vir Paulus onverstaanbaar. Daarom vra Paulus vir hulle: ‘tot wat (waartoe) is julle dan gedoop?’ Hy vra hulle uit oor wat hulle doop dan vir hulle beteken as hulle nie eers weet van die Heilige Gees se koms om in ons te bly nie. Hulle antwoord: ‘in die doop van Johannes.’ Die doop het vir hulle  beteken wat Johannes die Doper daarvan gesê het, naamlik dat hulle moet wegdraai van sonde en vergewing ontvang. Hulle is gedoop met Johannes die Doper se doop van bekering om hulle gereed te maak vir die koms van Jesus, die Seun van God wat hulle sonde sal vergewe en met die Heilige Gees sal doop (Joh 1:33-34). Apollos het ook net van Johannes se doop geweet en is deur Priscilla en Aquila reggehelp (Hand 18:26).

19:4 Paulus verduidelik die verskil tussen die doop van Johannes en die doop wat hy nou verkondig. Johannes het met die doop van bekering gedoop – dat hulle hulle moet bekeer voor hulle gedoop kan word. Vir die Jode, wat die doop van proseliete geken het om hulle heidendom af te was voordat hulle besny kon word, was die doop van Jode vreemd.  Johannes het aan die volk (laós, volk van die Here, die Jode) gesê dat hulle bekering moet lei tot geloof in die Een wat ná hom sou kom, dit is Jesus. Vir Paulus hoort die Christusdoop en die gawe van die Heilige Gees bymekaar (vgl. Hand 2:38). Hy doop hulle in Christus. Die Heilige Gees is die Gees van Christus en die Gees van God wat die mens ontvang deur in Christus te glo (Gal 3:27; Rom 6:3-11; 8:2,9-11). Vir die verskil tussen Johannes die Doper en Jesus se twee bedelings, vgl. Lukas 7:28:  Nie jou prestasie nie, maar om klein te word voor God wat jou sonde uit sy genade vergewe. Uit sy groot liefde het God jou as sy kind aangeneem deur jou geloof in sy Seun Jesus Christus as jou Here.

19:5 Toe die groepie dissipels dit hoor, het hulle hulle laat doop in die Naam van die Here Jesus. Daarmee trek Lukas die ontvangs van die Heilige Gees en die geloof (19:2) in die persoon van Jesus as die verwagte Christus (19:4) saam. 

Die Naam van Jesus beteken sy persoon en sy reputasie. Geloof in Hom beteken ‘n oorgawe aan Jesus as die Here van jou lewe (19:5). Die doop is die seël wat God gee as bewys dat die dopeling aan die Here Jesus verbind is (19:5). Die doop is God se teken van iemand se opname as sy kind in sy huisgesin saam met sy Kind Jesus. Die terme wat vir kind van God in die Nuwe Testament gebruik word is: tékna kinders uit God gebore (Joh 1:12; Rom 8:16); huioi God se mense Luk 20:36; Rom 8:14-15); huioi/thugatêra 2 Kor 6:18 seuns en dogters van God. Oor die huisgesin van God vgl. 1 Tim 3:15 as die kerk van die lewende God; vgl. ook Hebr 10:21; 1 Petr 4:17.

Die doop is waarskynlik deur Paulus se helpers behartig (vgl. 1 Kor 1:17).

19:6  Soos by die Samaritane (Hand 8:15-17) het hulle die Heilige Gees eers ontvang toe Paulus hulle die hande opgelê het.  Soos by Kornelius (Hand 10:44-46) het hulle ook in tale gespreek en geprofeteer. In tale spreek (glōssa ekstatiese taal) is om in verborgenheid met God te praat wat Hy verstaan, maar nie die mense nie (1 Kor 14:2); profeteer is om onder invloed van goddelike inspirasie sy woord te verkondig sodat mense dit kan verstaan om hulle op te bou, te bemoedig en hulle te vertroos (1 Kor 14:3). Die talespreek was ’n uiterlike bewys aan hulle en aan die gemeente in Efese dat die Heilige Gees ook in hulle kom woon het.

19:7 Lukas, wat nie by die geleentheid teenwoordig was nie, sê hulle was ongeveer 12 mans. Hy gebruik die woord ‘ongeveer’ (hōs of hōseí) dikwels as hy nie seker is van die getal nie, vgl. 2:4; 4:4; 5:7,36; 10:3; 13:18-20; 19:7,34.

19:8 Volgens sy gewoonte begin Paulus eers elke Sabbat by die Jode in hulle sinagoge. Hulle bly ’n besondere lang tyd, drie maande, na hom luister. Hier preek hy met vrymoedigheid oor Jesus as die verwagte Messias van die Jode, wat moes sterf en opstaan uit die dood om mense te verlos. Hy redeneer met die Jode wat die Ou Testament nog steeds anders verklaar as hy na sy bekering. En hy het probeer om hulle te oortuig dat die koninkryk van God met Jesus gekom het. Jesus is die Koning van God se koninkryk. Sy koms is in die Ou Testament voorspel (Jes 9:5-6; Dan 7:14; Miga 4:7 vgl. Luk 1:32-33;  Ps 118:26 vgl. Luk 19:38).

19:9 Die opposisie teen Paulus groei egter veral onder sommiges wat hardkoppig was deur te weier om te glo. Hulle het hulle toegesluit vir die evangelie. In Romeine 9:18 sê Paulus dat God Hom ontferm oor wie Hy wil en koppig maak wie Hy wil. Hulle het Jesus, die enigste Weg na die Vader (vgl Joh 14:6) beswadder (vgl Ps 59:8; Hebr 3:8), sleg gepraat  oor Hom voor die menigte, nl. voor die hele Joodse gemeente. Dit het Paulus laat besluit dat die Here die sinagoge vir hom toesluit. Paulus het hom toe begin losmaak van die Jode. Hy het die volgelinge van Jesus in die sinagoge saam met hom geneem en begin met daaglikse besprekings in die lesingsaal (scholê eerder lesingsaal as skool) van Tirannus. Om dit vir die meeste mense beskikbaar te maak, het Paulus se lesings waarskynlik na 11vm begin, wanneer die Grieke se middagsiësta begin, tot die daaglikse werk van die Grieke weer na 4nm, na die ergste hitte, voortgesit word. Wie Tirannus was, is verder onbekend. Tirannus kon sy werk in die saal teen 11vm afgesluit het en laatmiddae weer begin het.

19:10 Paulus se besprekings in die Tirannussaal het twee jaar aangehou – in Paulus se afskeidsrede aan Efese se ouderlinge wat na hom toe gekom het in Milete, praat hy van drie jaar se dag en nag waarskuwing onder trane aan die Efesiërs (Hand 20:31). In Hand 19:22 word gepraat van ’n tyd wat hy nog langer as twee jaar in Asië gewerk het om die drie jaar vol te maak. Lukas sê: Al die inwoners van Asië, Jode en Grieke het die woord van die Here gehoor deur die twee jaar se intensiewe arbeid in Tirannus se lesingsaal. Mense uit die provinsie het blykbaar na die besprekings toe gekom. So het Epafras waarskynlik in hierdie tyd van Kolosse af gekom en teruggegaan om die gemeente in Kolosse te gaan stig (Kol 1:7; 2:1; 4:12). So ook die gemeente in Laodisea (Kol 4:16) en moontlik ook Hiërapolis wat naby die twee stede geleë is in die vallei van die Likusrivier. Die sewe gemeentes van Openbaring val ook in die provinsie Asië. In dié tyd het Paulus ook drie briewe aan die Korinthiërs geskryf (die vorige brief waarvan 1 Kor 5:9 praat), 1 Korinthiërs en die tranebrief, (vgl. 2 Kor 2:3-5; 7:8-13) en selfs ’n vinnige besoek in Korinthe gebring voor hy die tranebrief aan hulle geskryf het (volgens 2 Kor 2:1).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus se derde sendingreis (Hand 18:23) – Francois Malan

18:23 Paulus se derde sendingreis begin ongemerk in die verslag oor die einde van die tweede sendingreis. Daar word net gesê dat Paulus ’n onbepaalde tyd in Antiogië gewerk het in die gemeente wat hom en Silas uitgestuur het op die tweede sendingreis (15:40). Dit is sy vyfde stopplek sedert hy Korinthe verlaat het, waarvan Lukas melding maak. Antiogië was die einddoel volgens 18:18,22. Paulus sou seker ook verslag van sy werk gedoen het in die gemeentes waar hy verbygestap het in Judea, Samaria en Sirië op pad na Antiogië in Sirië, soos hy en Barnabas na die eerste sendingreis gedoen het (Hand 14:27; 15:3).

Op die derde sendingreis besoek Paulus deeglik een plek na die ander in die landstreek van Galasië en Frigië om al die volgelinge van Jesus (mathêtai dissipels, leerlinge, volgelinge) te versterk in hulle geloof in die Here Jesus.

Voorstanders van die Noord-Galasiese teorie meen Paulus het van Silisië af deur Kappadosië gereis na die landstreek waar die egte Galate bly, toe teruggekom het om deur Frigië na Efese te gaan. Hulle neem dan aan dat Hand 16:6, waar Frigië eerste genoem is en die landstreek Galasië daarna, wys op intensiewe sendingwerk in die streke reeds op Paulus se tweede sendingreis en dat hy toe al daar gemeentes gestig het. Hy sou dan die brief aan die Galasiërs geskryf het tydens sy drie jaar lange bediening in Efese tussen 52-55 n.C. tydens sy derde sendingreis.

Die voorstanders van die Suid-Galasiese teorie dink Paulus het die gemeentes in Derbe, Listra en Ikonium in die Romeinse provinsie Galasië kom versterk in hulle geloof aan die begin van sy derde sendingreis en toe deur Antiogië in Pisidië en deur Frigië na Efese gereis het. Dan verwys die landstreek (chōra landstreek/distrik, of: inwoners van ’n gebied) ook na die provinsie Galasië.

Paulus se brief aan die Galasiërs is dan geskryf aan die gemeentes wat hy reeds op sy eerste sendingreis gestig het. Dan het hy die brief aan die Galasiërs geskryf in 50-52 n.C. vanuit Korinthe tydens sy tweede sendingreis (Hand 16:1-5).

Uit die brief aan die Galasiërs blyk dat sekere predikers in die gemeente opgetree het en ’n ‘ander evangelie’ verkondig het (Gal 1:6-7), soos vroeër ook in Antiogië  in Sirië (Hand 15:1). Hulle vereis die besnydenis en ander wettiese bepalings om voor God geregverdig te word (Gal 5:2-4; 6:12-13), bv. ook deur die onderhouding van vasgestelde dae en maande en tye en jare (Gal 4:10). Daarmee het die predikers die gemeentes verwar (Gal 1:7; 5:10). Paulus verkondig dat God mense wat in Jesus Christus glo se verhouding met Hom regmaak en hulle uit sy genade vryspreek op grond van Christus se offer alleen, en nie deur hulleself te verlos deur die wet te gehoorsaam nie (Gal 1:4; 2:16).

Apollos preek in Efese en Korinthe (Hand 18:24-28)

18:24 Alexandrië in Egipte was die tweede grootste stad in die Romeinse ryk naas Rome en ’n belangrike sentrum van geleerdheid. Die Jood Apollos was ’n boorling van Alexandrië, ’n geleerde welsprekende man (lógios geleerd en welsprekend), goed onderlê (letterlik: magtig) in die Skrifte van die Ou Testament. (Volgens ‘n sesde eeuse manuskrip is Apollos ’n verkorting van Apollonius. Dan het hy sy naam gekry van ’n groot Alexandrynse redenaar met dieselfde naam, wat eintlik beteken volgeling van die Griekse god Apollo wat die son terugbring na die winter, en die duister en die heidendom van alle nie-Helleniste verdryf). Die man Apollos het in Efese aangekom nadat Paulus daar weg is Antiogië toe (Hand 18:22).  

18:25 Apollos was onderrig in die ‘Weg van die Here.’ Die Jode het na die volgelinge van Jesus verwys as ‘aanhangers van die Weg’ (Hand 9:2; 19:9; 22:4; 24:14), na aanleiding van Jesus se woord in Johannes 14:6: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe.’ Hebr 10:12 sê van die weg: ‘deur die bloed van Jesus het ons vrymoedigheid om in te gaan in die heiligdom (9:24: die hemel self), langs ’n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die tempelgordyn heen, dit is deur sy liggaam’- Hebreërs is waarskynlik tussen 70-90 n.C. geskryf.

Waar Apollos oor ‘die Weg’ onderrig is, is onseker. Sou daar volgelinge van Johannes die Doper in Alexandrië gewerk het, of was Apollos vroeër een van die Alexandryne in die Sinagoge van die Libertyne in Jerusalem (Hand 6:9)? Dan was Apollos miskien voor Jesus se optrede reeds deur Johannes die Doper gedoop (Matt 3:5-6; Mark 1:5; Luk 3:3-7,30). 

Hy het geesdriftig (‘lewendig in die gees’) gepraat en noukeurig (akribōs ‘akkuraat, volledig en in besonderhede’) onderrig gegee oor die dinge rondom Jesus. Hy het egter slegs ‘die doop van Johannes geken’ wat ’n voorbereiding was vir die koms van die verwagte Messias/Christus/Gesalfde van God (Luk 1:17,76-79).

18:26 Die geesdriftige en noukeurige Apollos het begin om vrymoedig in Efese se sinagoge oor die dinge rondom Jesus te praat. Maar toe Priscilla en Aquila hom hoor het hulle hom eenkant toe geneem, waarskynlik na hulle huis uitgenooi, en hom die weg van God noukeuriger verduidelik. Die noukeuriger verduideliking sou wees om hom te vertel dat die Messias waaroor Johannes die Doper gepreek het, reeds gekom het, deur die Jode laat doodmaak en deur God uit die dood opgewek is; dat die doop van Johannes met die oog op vergifnis van sonde, deur Jesus sy ware betekenis gekry het, deurdat Hy die sonde van die wêreld op Hom geneem het. Dié wat in Hom glo, ontvang vergifnis van al hulle sonde uit God se genadehand. Priscilla word eerste genoem, soos ook in Romeine 16:3. In Christus het die vrou ’n nuwe status gelyk met die man gekry (vgl. Gal 3:28).  

18:27 Die Here lê dit in Apollos se hart om oor te vaar na Agaje, die Romeinse provinsie waarin Athene, die stad van geleerdheid en kuns, en die bedrywige hoofstad Korinthe geleë is. Die gemeente (letterlik: broers) in Efese het hom aangemoedig en aan die dissipels van Jesus geskryf om hom vriendelik te ontvang. Priscilla en Aquila wat al daar gewerk het, kon hom op hoogte bring van die omstandighede in Korinthe. Hulle was ook bekend by die gemeente daar aan wie hulle hom voorstel. Toe hy daar aangekom het, het Apollos dié wat deur die genade (van God) ‘tot geloof gekom het en daarin volhard’ (volgens die betekenis van die perfektum werkwoord pepisteukósin) baie ‘gehelp met dit waaraan hulle juis behoefte gehad het’ (dit is die betekenis van die woord sumbállomai). Lukas onderstreep die werking van die Heilige Gees wat mense oortuig om in Jesus en sy groot offer vir ons te glo. Ook die volharding in die geloof kom deur die inwoning van die Heilige Gees. En nou kom help die Heilige Gees ook die gelowiges deur die hulp wat Apollos kom aanbied – Jesus het belowe die Vader sal vir sy volgelinge ’n ander Parakleet (voorspraak, trooster, helper) stuur om in hulle te bly (Joh 14:16-17). Die Here het die begeerte in Apollos gewek om na Agaje te gaan om die gemeente te gaan help as mondstuk van die Heilige Gees. .   

18:28 Wat die gelowiges nodig gehad het, word hier uitgespel: want kragtig en deurtastend (die bywoord eutónōs met die dubbele betekenis, staan met klem voor in die sin) het hy die Jode in openbare debat (sodat almal dit kon hoor) verslaan deur hulle argumente te weerlê. Uit die Skrifte (van die Ou Testament) het hy bewys dat Jesus waarlik die Christus is, die Messias Koning en Verlosser wat die Jode verwag. In vers 24 is reeds gesê dat Apollos kragtig was in die Skrifte. Die Here wou juis vir hom gehad het om die Jode in Korinthe kragtig te kom weerlê, en so die gemeente te help in dit wat hulle nodig gehad het om staande te bly teen die aanslae van die Jode teen hulle geloof in Jesus as die Seun van God.

Om te glo en te sê dat Jesus God is, is vir die Jode godslastering volgens Deuteronomium 6:4 ‘die Here is ons God, Hy is die enigste God;’ 10:17: ‘Die Here jou God, Hy alleen is God;’ Deuteronomium 13 sê iemand wat jou na ander gode lei moet met klippe doodgegooi word (vers 10); In Deutr 18:15-22 sê die Here: ’n Profeet wat hom aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf’ (Deutr 18: 20). Maar hulle moet luister na die woorde van die Profeet wat die Here sal stuur. Van elkeen wat nie gehoorsaam is aan die Here se woorde deur die Profeet nie, sal die Here rekenskap eis (Deutr 18:19).

Na ’n rukkie wat Apollos in Korinthe opgetree het, is hy terug Efese toe, waar hy en Paulus saam gewerk het. Volgens

1 Korinthiërs 16:12 het die gemeente in Korinthe gevra dat Apollos saam met hulle drie afgevaardigdes moet terugkom Korinthe toe, maar hy wou beslis nie op daardie oomblik nie. Hy sal gaan wanneer dit vir hom geleë is. Paulus beskryf hulle twee se arbeid as ‘soos die Here dit gegee het, het Paulus geplant. Apollos het natgegooi, maar God het laat groei op sy saailand, die gemeente. Nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi is iets, maar slegs God wat laat groei. Elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. Ons is medewerkers van God’ (1 Kor 3:6-9). In 1 Kor 4:6 sê Paulus: Hierdie dinge het ek om julle onthalwe op myself en Apollos van toepassing gemaak, sodat julle deur ons kan leer om julle nie te verhef bo wat geskryf is nie, sodat niemand homself belangrik sal ag omdat hy vír die een is, en téén ’n ander nie. Paulus skryf dit omdat hy gehoor het daar twiste onder hulle is; elkeen sê: Ék is van Paulus;’ of: ’Ék van Apollos;’ óf: Ék van Sefas,’ of: Ék van Christus.’ Nee! Dié wat roem, moet in die Here roem’ (1 Kor 1:31). Volgens Titus 3:13 het Apollos later ook vir ’n tydjie in Kreta gewerk.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus se reis van Korinthe na Antiogië (Hand 18:18-22) – Francois Malan

18:18 Nadat Paulus nog baie dae in Korinthe gewerk het, soos Jesus in die visioen vir hom gesê het om te doen (18:9), het hy na Sirië vertrek nadat hy die nodige reëlings in die gemeente Korinthe getref het (apotássomai om tot siens te sê en die nodige reëlings te tref). Hy laat Silas en Timotheus blykbaar in die gemeente agter. Daarna is hy op pad terug na Antiogië in Sirië waar sy eerste en tweede sendingreise begin het. (13:1-3; 15:35,40-41). Priscilla en Aquila vergesel hom. Timotheus het later by Paulus in Efese aangesluit (vgl. 2 Kor 1:1). Van Silas word niks verder in Handelinge gesê nie. Tussen 64-68 n.C. skryf Silvanus (die Latynse vorm van die Hebreeuse Silas) vir Petrus sy eerste brief vanuit Rome (1 Petrus 5:12).

Paulus-hulle se eerste stop is egter Korinthe se hawestad Kenchreë, waar hy sy kop laat kaal skeer het as teken van die vervulling van ’n gelofte wat hy aan God afgelê het, moontlik toe hy in Korinthe aangekom het. Waarskynlik het hy die gelofte in Korinthe gedoen en nadat die Here hom vir die 18 maande so goed teen die Jode bewaar het en hom gelei het in die stigting van die gemeente, het hy nou sy hare laat afskeer, volgens die voorskrif in Numeri 6:5 (vgl. Hand 4:21).

18:19 Hulle tweede stopplek was Efese, die hoofstad van die Romeinse provinsie Asië oorkant die see van Korinthe af. Aan die begin van die tweede sendingreis wou hy daarheen gaan, maar is deur die Heilige Gees verhinder (Hand 16:6). Paulus laat sy twee reisgenote Priscilla en Aquila in Efese agter om daar te werk. Voor sy vertrek het hy egter soos sy gewoonte was, eers die Sabbat in die sinagoge ingegaan en met die Jode gaan argumenteer.

18:20-21 Die Jode in die sinagoge reageer verrassend anders as in die ander stede. Hulle versoek hom vriendelik om ’n langer tyd by hulle te bly. Hy het egter nie ingestem nie. Daar word nie gesê waarom nie. Maar toe hy hulle groet belowe hy om weer na hulle toe te kom ‘as God wil.’ Na die belofte aan die Jode het Paulus van Efese se hawe af per skip vertrek.

Die Latynse vertaling vir die Griekse toū Theoū thélontos, die voorwaarde van Jakobus 4:15 (conditio Jacobi ) ‘as die Here/kurios wil’  is Deo Volente, waar ons D.V. vandaan kom. ‘As god wil’ is egter ’n woord wat Socrates meer as 400 jaar voor Christus reeds gesê het. Socrates se student Plato het dit ook gesê maar hulle het nie die Vader van Jesus geken nie. Hulle het ’n idee oor ’n god gehad wat die gange van ’n mens bepaal. Paulus se lewe en werk staan egter onder die wil en seggenskap van die Here Jesus (vgl. Hand 20:16 ‘as dit kon,’  Rom 1:10 ‘as dit die wil van God is,’ 1 Kor 4:19 ‘as die Here wil,’ 1 Kor 16:7 ‘as die Here dit toelaat’ .

18: 22 Die derde stopplek is Sesarea, die hawestad wat Herodes die Grote gebou het voor Christus se geboorte. Maar anders as die einde van die eerste sendingreis toe Paulus direk na Antiogië se hawe Seleusië toe gevaar het (Hand 14:26), land hy nou in Jerusalem se groot hawe Sesarea. Joppe se hawe het kleiner skepe ontvang. Hy het van Sesarea (aan die kus) af opgegaan (anabainō) na die gemeente, waarskynlik word hier verwys na die gemeente in Jerusalem wat op die Judese berge geleë is en Paulus se vierde stopplek is. Hier sou hy verslag gegee het van die tweede sendingreis, soos hy en Barnabas na die eerste sendingreis by die groot vergadering in Jerusalem gedoen het (Hand 15:12). Lukas was nie self by dié deel van Paulus se reis nie, en gee ’n kort opsomming van die reis wat hy by iemand moes gehoor het, moontlik by Paulus self. 

Sommige verklaarders meen dat Paulus se haas om uit Efese na Jerusalem toe te gaan, verband hou met die gelofte wat hy in Korinthe aan die Here sou gedoen het. Volgens Numeri 6 mag iemand wat ’n gelofte gedoen het, nie sy hare of baard skeer nie, totdat die tyd of geleentheid wat in die gelofte genoem is, verby is. Dan moes die hare en baard afgeskeer word, en ’n offer aan die Here gebring word. Maar offers kon slegs deur ’n priester gedoen word op die altaar in Jerusalem. (Na die derde sendingreis was Paulus weer betrokke by ’n gelofte om te bewys dat hy self die wet onderhou; Hand 21:23-24). Na die besoek aan Jerusalem het Paulus afgegaan (katabaínō) na Antiogië. Antiogië lê laer bo seespieël as Jerusalem, maar heelwat hoër as die hawe Sesarea. Dit versterk die gedagte dat hy eers ’n draai in Jerusalem gemaak het en toe na Antiogië gegaan het.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die Jode se aanklag teen Paulus (Hand 18:12-17) – Francois Malan

18:12 Gallio het prokonsul van Agaje geword van April 51 n.C. tot April 52 n.C. in die regeringstyd van keiser Claudius – ’n prokonsul is deur die Senaat in Rome aangestel om hulle belange in die provinsie te behartig en met volmag namens hulle op te tree. Die moeilike provinsies wat direk onder die keiser as praetor gestaan het, het ’n propraetor gehad wat die keiser verteenwoordig het en Romeinse soldate gehad het om orde in die provinsie te handhaaf. Gallio was die seun van ’n Spaanse redenaar en finansier wat die ouer broer van die wysgeer Seneca was. Gallio was egter deur die Romeinse redenaar Lucius Junius Gallio as seun aangeneem, en die jongman het toe die naam van sy weldoener aangeneem. Toe Nero in 65 n.C. sy mentor Seneca verplig het om selfmoord te pleeg omdat hy gedink het dat die familie hom wou vermoor, is Gallio ook deur Nero verplig om selfmoord te pleeg.

Kort nadat Gallio, die nuwe prokonsul in Korinthe aangekom het, het die Jode eendragtig vir Paulus met geweld aangeval en na die bêma gesleep, na die groot regtersplatform van die prokonsul op die agora, die stadsplein (Amerikaanse argeoloë het die bema en die agora opgegrawe en is vandag te sien saam met die teater, tempels, winkels, ens.). Die Jode se beledigings en wrewel teen Paulus (Hand 18:6) het met die uitbreiding van die gemeente in Korinthe gebroei en het nou uitgebars met geweld teen die ‘godslasterlike’ Paulus, in die hoop dat die nuwe prokonsul hulle sal help om Paulus uit die stad te verjaag.

18:13 Die Jode se aanklag teen Paulus voor die prokonsul was dat ‘hierdie een (smalend) die mense aanhits om God op ’n manier te dien wat teen die wet is. Waarskynlik verwys dit na die Christendom wat nie staatserkenning as toegelate godsdiens (religio licita) gekry het soos die Joodse godsdiens nie (toelating was beperk tot ’n spesifieke groep mense op voorwaarde dat hulle ritusse nie aan die Romeine of aan die Romeine se gode aanstoot gee nie). Die aanklag van die Jode is miskien die naaste aan die waarheid van al die vorige aanklagte teen Paulus. Maar dit is dubbelsinnig geformuleer. Vir die Jode is die wet van God ter sprake, dat Paulus se verkondiging teen die wet van God is. Hulle het dit egter so gestel dat die die prokurator dit sou verstaan as teen die wet van Rome en teen die Romeinse gode en kultus.

18:14 Die Jode se slim plan met hulle formulering van die aanklag as ‘teen die wet’ het egter nie vir Gallio ’n rat voor die oë gedraai nie. Sy uitspraak getuig van sy insig in die geskil wat agter die aanklag lê. Keiser Claudius het ook kort tevore die Jode uit Rome verjaag oor hulle onderlinge stryery oor ‘Chrestus’ (volgens Suetonius). Daarby het die Here pas vir Paulus verseker van sy teenwoordigheid om Paulus te beskerm om die woord van God sonder vrees in Korinthe te verkondig (18:10). Die Here het ook gesorg vir die insig, wysheid en reaksie van die regter.

Net toe Paulus sy mond wil oopmaak, wil begin praat – na ’n aanklag het die aangeklaagde geleentheid om daarop te antwoord. Maar die regter wys die aanklag dadelik af. Gallio sê vir die Jode: ‘As dit was oor ’n onreg wat gepleeg is (adikía) of ’n ernstige oortreding van morele beginsels, ‘het ek dit aanvaar as in ooreenstemming met julle aanklag’. Dit is ’n spreekwoord vir: om julle aanklag in die hof te aanvaar of toe te laat. Die uitdrukking kan ook vertaal word as ‘om redelik geduldig te wees met julle’ of ‘sou dit vir my ’n rede kon wees om julle te verdra, o Jode!’ Dit is in elk geval duidelik dat die regter nie dink hulle aanklag is van so ’n aard dat hy hom daarmee gaan bemoei nie, en met sy aanspreekvorm ‘o Jode’ laat hy blyk dat hy nie die Jode kan verdra nie.

18:15 Hy sien die aanklag as ‘n dispuut, ‘n stryery oor woorde en name en hulle eie (Joodse) wet, daarom moet hulle self toesien. Dit het waarskynlik gegaan oor Jesus as die Messias of nie, om Hom  te vereer sou vir die Jode godslastering wees volgens hulle wet. Gallio het geweier om daaroor regter te wees. Daarmee is die Jode se saak vir die regter afgehandel.

18:16 Maar toe hulle nog voor die regterstoel talm, jaag die regter hulle voor die bêma weg – hy het waarskynlik opdrag gegee dat die klaers voor die bêma, die regtersplatform, verwyder word. Dit is duidelik dat hy geen liefde vir die Jode het nie en hulle en hulle praatjies nie verdra nie.

18:17 Sostenes, die leier van die sinagoge, word toe daar voor die bêma deur die skare aangerand sonder dat die regter hom daaraan gesteur het. Volgens 1 Korinthiërs 1:1 is daar ’n ‘broer Sostenes’ wat medeskrywer is van Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs, wat vier jaar later tydens Paasfees in 55 n.C. vanuit Efese geskryf is. Of dit dieselfde persoon is, is nie seker nie, maar tog waarskynlik omdat Sostenes nie ’n algemene naam onder die Grieke was nie. Dit sou beteken dat die tweede leier van ’n sinagoge in Korinthe Christen geword het; dat die slae wat Sostenes by die skare gekry het, deur die werking van die Heilige Gees in sy hart, hom uit die sinagoge geslaan het tot by Christus wat vir hom die slae vir sy sonde gedra het. So was dit ook met Simon van Sirene wat verplig was om Jesus se kruis te dra (Luk 23:26; die vader van Alexander en Rufus, Mark 15:21; Rufus en sy ma was later gemeentelede in Rome, Rom 16:13).

Skrywer: Prof Francois Malan