Die Christelike lewe – wat is dit?

. — Johannes Calvyn

 

Die Christelike lewe bestaan nie uit leerstellings en geestelike dissiplines nie, maar gaan oor gemeenskap met God – koinonia. Wat kan ek doen om gemeenskap met God te ondervind? J. D. Greear  geen ‘n paar riglyne:

 

  • Plaas jouself in die teenwoordigheid van God se Woord.

 

 

Stiltetyd. Vir ten minste 30 minute elke dag moet jy tyd maak om saam met God te verkeer. Lees die Bybel, bid en lees ‘n stukkie uit ‘n godsdienstige boek of kommentaar oor die gedeelte wat jy gelees het.

 

 

Bid die Skrif terug vir God. Bid oor dit wat jy in die Bybel gelees het. Die Skrif wys vir ons God se denke en ook hoe ons moet bid.

 

Sluit aan by ‘n kleingroep. God praat baie dikwels deur sy liggaam – wees deel daarvan.

 

  • Bid daarvoor

 

Ons het nie nuwe inligting nodig nie, maar ‘n beter verstaan van dit wat ons reeds weet. Daarom bid ons dat God ons oë sal oopmaak. Die Hebreeuse woord vir heerlikheid is kabod – letterlik beteken dit gewig. As jy dus iemand bo God verheerlik, sê jy daardie persoon dra meer gewig as God.

 

  • Wees gehoorsaam al voel jy nie daarna nie

 

Daar kom tye wanneer jy nie God se teenwoordigheid “voel” nie. Gehoorsaam – die gevoelens kom later. In enige verhouding word die gevoel van intimiteit dikwels gefasiliteer deur lang tye van gehoorsaamheid. In hierdie tye sal God jou nader aan Hom trek.

 

Versterk jou persoonlike verhouding met God deur jou in sy woord te verdiep, te bid en gehoorsaam te wees.




Jongmense verlaat die kerk – Hoekom?

Jongmense verlaat die kerk – Hoekom?

Jim West is nou ‘n man wat reguit praat. Hy lewer soos volg kommentaar op ‘n onlangse artikel waarin tien redes genoem word waarom mense – veral jongmense – die kerk verlaat. Hy glo daar is net een rede – en baie verskonings. Die rede is omdat hulle nooit werklik deel van die gemeente was nie.

Hy sê dat alle verskonings net pogings is om hulle persoonlike verantwoordelikheid te ontduik. Hulle verlaat die kerk omdat iets anders hulle aandag afgetrek het.

Hy verwys dan na 1 Johannes 2:19: Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie. Dan maak hy ‘n baie sterk stelling: When a generation is raised on pizza parties and events and games and outings and trips and that’s the entire extent of their exposure to discipleship it isn’t discipleship to which they are exposed. It’s self-involvement.

Hy sê die kerk behandel lidmate asof hulle die middelpunt van die gemeente is – die doel van die gemeente en die rede waarom die gemeente bestaan. Dit is dus logies dat hulle die gemeente sal verlaat as iets anders hulle aandag trek. As die gemeente reguit verklaar dat God die Here is en dat ons sy dienaars is, kan ons dissipels maak. Jesus se opdrag aan die kerk is om dissipels te maak – nie mense wat net eredienste bywoon nie.

Die groot vraag volgens hom is: Wat verloor die gemeente as dit lidmate verloor wat nie bereid is om tyd, energie en liefde vir bediening te gee nie. Al wat hulle verlang is om bedien te word. Antwoord op die vraag: die gemeente verloor bitter min. As hulle volwasse word, sal hulle terugkeer. As hulle nie terugkeer nie, was hulle nooit werklik deel van die liggaam van Jesus Christus nie. Plastiese chirurgie kan hulle nie verander in iets wat hulle nie is nie.

My eerste reaksie was dat hy darem baie uitgesproke is – nou nie iets wat ek by ‘n Christen sou verwag nie. Maar is dit nie dalk tyd vir die gemeente om ‘n slag reguit te praat nie?

Alle Paaie lei na Jesus: Het alles presies so gebeur?

Alle Paaie lei na Jesus: Het alles presies so gebeur? – Adrio König

4.7 Het alles presies só gebeur?

Dit lyk of die twee skeppingsverhale nie noukeurige beskrywings is van hoe God alles geskep het nie. ’n Hele paar trekke van die verhale wys in hierdie rigting. “Adam” en “Eva” is Hebreeuse name terwyl Hebreeus maar ’n jong taal was. Eers van Genesis 12 af is sprake van Abraham uit wie God dan Israel laat voortkom het. Eers daarna kon Hebreeus ontstaan het.

Wat die eerste verhaal betref, is die spesifieke vaste, herhalende struktuur ook opvallend, en net so die skepping in een week. Dit kom nooit weer in die Bybel voor nie, ook nie die spesifieke volgorde waarin die dinge geskep is nie, en dit alles terwyl daar baie ander verwysings en selfs breedvoerige besprekings van die skepping is. Dink maar net aan Psalm 74, 104, Job 38.

 

’n Mens sou kon oorweeg dat die skrywer die model van die werk gebruik terwille van die simboliek van werk. God het gewerk toe Hy geskep het. Daarom eindig die verhaal ook met die Sabbat. Ná die werk het Hy gerus, as ’n voorbeeld vir die volk om die Sabbat te hou.

 

Dit is ook duidelik dat beide verhale met ’n baie beperkte, verkleinde begrip van ruimte en tyd werk. Wat die ruimte betref, het ons ’n baie klein heelal met die sterre wat kleinerige liggies is wat nie te ver bokant die aarde nie, aan die vaste blou koepel hang. Wat die tyd betref, is die voorstelling dat die skepping nie té lank gelede kon plaasgevind het nie. Die geslagsregisters wat deel van Genesis 1-11 is, kom maar op ’n paar duisend jaar uit.

 

Net soos die skeppingsvoorstellings, deel die Bybelskrywers hierdie voorstellings met die ander godsdienste. Ook in hierdie opsig wou hulle dus nie ’n eie bedrae lewer nie. Hulle vertel van die skepping in die terme wat tot hulle beskikking is. Dit alles word bevestig deur die feit dat daar verskillende skeppingsvoorstellings is, en wat nog belangriker is, dat daar van dieselfde dinge geskryf word dat hulle op verskillende maniere geskep is. Dink maar net aan die gewelf, die ligte, die see diere en die diere op aarde in Genesis 1. In elke geval het God beveel dat hulle moet bestaan én het Hy hulle gemaak/geskep. Verder het ons elders gelees Hy het die hemelliggame deur sy woord geskep én met sy hande. En ook dat Hy die fondamente van die aarde en die hemelkoepel met sy hande gemaak het, maar ook deur sy woord tot stand gebring het. Dit kan net beteken dat die skrywers nie in die eerste plek wou beskryf presies hoe alles geskep is nie. En dit volg duidelik uit die skeppingsgedeeltes. Hulle gebruik dieselfde skeppings-voorstellings wat die ander godsdienste gebruik. Hulle suiwer wel hier en daar voorstellings uit wat nie pas by die verhouding tussen God en die skepping nie (stryd, geboorte). Maar vir die res is dit ook nie nodig om ander voorstellings te gebruik nie omdat niemand twyfel dat alles geskep is nie, en die godsdienste dieselfde voorstellings gedeel het. Die vraag was net: Wie het geskep? En die antwoord is duidelik in die Bybel: Israel se God is die enigste ware God, en daarom spreek dit eintlik vanself dat Hy die Skepper is. Hierdie agtergrond sal ons help om oor vorms van evolusie na te dink.

 

Maar ons kry ook skeppingsverhale elders in die Bybel. Volgende keer kyk ons na die psalms, die profete en die wysheidsliteratuur.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die sorg van die Here

Alle Paaie lei na Jesus: Die sorg van die Here – Adrio König

4.6 Die sorg van die Here

’n Laaste belangrike saak is die merkwaardige sorg van die Here vir die mens. Juis dit maak hierdie verhaal ’n besondere verbondsverhaal. Die Here plant ’n wonderlike tuin waarin Hy die mens “tot rus bring”, om dit te bewerk en te bewaak. As ’n mens onthou hoe droog groot dele van Israel in daardie tye was, is die water en die vrugtebome oorweldigend. Daar loop ’n rivier wat buite die tuin in vier groot riviere verdeel. Dis ’n simbool van oormaat. So iets was eenvoudig onbekend in Israel. En die vrugtebome! Daar was seker geelperskes.

Dan kom die interessante uitspraak van die Here: “Dit is nie goed nie … ” (2:18). Dis presies die teenoorgestelde van die reeks uitsprake in die eerste verhaal toe alles wat Hy geskep het, juis goed was. Wat is nie goed nie? Die eensaamheid van die mens. Hy is nie gemaak om alleen te wees nie.

 

Dadelik maak die Here die diere en bring hulle na die mens. Hy moet hulle name gee, wat ’n simbool van beheer en heers is. Maar was daar ’n verdere motief daaragter dat die Here die diere na die mens bring? Die mens soek ’n maat. Moes hy eers deeglik bewus word van sy identiteit? Moes hy dit eers beleef dat hy nie ’n dier is nie, dat ’n dier nie sy maat kan wees nie? Dit lyk nogal so, want ons lees: “Maar vir homself het hy nie ’n maat, ’n gelyke, gekry nie.” Eers dan word spesiaal vir hom ’n maat gemaak. En sy is nou van sy soort. Sy pas by hom, iets wat nie van die diere gegeld het nie. So sorg die Here vir die mens in hierdie pragtige verbondsverhaal.

 

Ons het nou ‘n oorsig oor die skepping na aanleiding van Genesis 1 en 2  gekry. Nou volg ‘n belangrike vraag: Het alles presies so gebeur? Daarna kyk ons volgende keer.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König