Ek twyfel aan my geloof

Ek twyfel aan my geloof

Niemand hou daarvan om te twyfel nie. Twyfel destabiliseer ons en ons doen alles in ons vermoë om dit te vermy. Dit geld veral vir geloofsake. Twyfel en geloof kan nie saam bestaan nie – dit is of die een of die ander. As jy twyfel moet jy daarvan ontslae raak. Ons weet tog dat twyfel lei tot onaanvaarbare optrede soos depressie, geïrriteerdheid en stres.

Dit is duidelik dat God wil hê dat ons van alle twyfel ontslae moet raak. Reg? Verkeerd.

 

Daar is voordele in twyfel. Twyfel is ‘n gawe van God, want dit beteken dat ons nie meer op onsself vertrou nie, maar op Hom. Twyfel dwing ons om weer vas te stel wat ons van God glo. Dit kan nogal ontstellend wees. Dan sien ons dat ons God na ons eie beeld gevorm het – nie andersom soos dit hoort nie. Twyfel lei ons na ‘n nouer verhouding met God waar Hy en nie ek in beheer is.

As jy twyfel vra vir God wat Hy besig is om jou te leer – van Hom en van jouself. As jy die Bybel lees – Psalms, die Prediker, Job en ander – sal jy sien dat jy nie die enigste een is wat twyfel nie. Hier sien ons hoe hierdie proses van destabilisering lyk. Om deur hierdie twyfel-tye te gaan – nie om hulle nie –  lei dikwels tot geestelike diepgang.

Die Christen se lewe is ‘n reis. Soms kom daar dinge in jou lewe wat jy nie verwag het nie of waarvan jy nie hou nie. Nou begin jy twyfel. Dit is nie die einde van jou geloof nie … dit is die begin van jou geloofsreis.

Om ‘n Christen te wees, beteken nie dat ek van alles seker is nie. Twyfel in die lewe van ‘n Christen is normaal. Juis as dit lyk asof God afwesig is, praat Hy baie duidelik met jou. Dan besef jy dat geloof ‘n reis is waarin God jou verder wil neem.




Ek is nie waardig om Nagmaal te gebruik nie

 

Ek is nie waardig om Nagmaal te gebruik nie

Baie Christene sê dat hulle nie aan die Nagmaal kan deelneem nie – hulle voel nie waardig genoeg nie of daar is dinge wat hulle eers moet regstel. Wat sê hulle eintlik: Ek ken my eie swakpunte en ek voldoen nie aan God se verwagtinge nie.

 

Tim Gombis sê ons moet weer kyk na wat waardig beteken. As Paulus praat oor onreëlmatighede by die Nagmaal (1 Korintiërs 11:17 – 34) verwys hy na spesifieke skynheilighede wat voorgekom het by die mense se deelname aan die Nagmaal. Die doel van die maaltyd was om die eenheid van God se kinders te demonstreer. Dwarsdeur hierdie brief verwys hy na dinge wat die kerk in Korinte verdeel. Dit is dan die konteks van hierdie gedeelte oor die Nagmaal. Hy waarsku hulle dat hulle gedrag gelowiges verdeel – hulle eet op ‘n onwaardige wyse.

Hoe moet ons gee?

Hoe moet ons gee?

Daar word baie gestry oor hoeveel en hoe ons moet gee. Geld die tiendes nog? In Eksodus 35 – 36 lees ons van hoe die mense van Israel hulle offers vir die tabernakel gebring het. Hier is ‘n paar waarnemings van J. D. Greear.

 

  • Hulle gee in reaksie op ‘n inisiatief wat van God af kom.

  • God gebruik dit wat hulle gee om die tabernakel te bou.
  • Almal het iets gehad om by te dra
  • (35:20). Daarna lees ons van die bydraes van verskillende soort mense: vroue, kleremakers, ambagsmanne, ens. Almal dra iets by, want God was nie op soek na ‘n paar bydraes van die ryk mense nie – Hy was agter die harte van al sy mense.

    • Jy kan nie gee wat jy nie het nie

    Veral in 35:22 – 29 sien ons dat elke persoon gegee het uit wat God vir hom gegee het. Moenie skuldig voel nie: jy kan nie iets gee wat jy nie het nie. God bepaal die seisoene van jou lewe. Jy is verantwoordelik om toegewy te wees volgens die seisoen waarin jy is.

    • Hulle gee in reaksie op genade.

  • Hulle gee vrywillig, maar word ook deur die Gees aangespoor
  • Elkeen wat daarna gevoel het het vrywillig ‘n offergawe vir die Here gebring. Ons lees egter ook dat die Here het hom toegerus met sy Gees. Nêrens sê Moses vir iemand wat hy moet bring nie. Die Gees sal dit in hulle harte lê wat hulle moet gee.

    • Hulle gee in die openbaar

    In Eksodus 35:5 lees ons dat elkeen ‘n offergawe moes bring. Die woord wat hier met offergawe vertaal word beteken eintlik dat jy dit moet bring en in die lug optel sodat almal dit kan sien.

    • Hulle moes ‘n gemeentevergadering hou om die mense te sê om nie meer te gee nie

    Moses moes almal bymekaar kry en hulle vra om op te hou gee: Daar was meer as genoeg om al die werk te doen (36:5 – 7).

    Hier is ‘n paar baie goeie riglyne.




    Alle Paaie lei na Jesus:Genesis 1 (2)

    Alle Paaie lei na Jesus:Genesis 1 (2) – Adrio König

    4.3 Genesis 1

    Ons het in die vorige artikel na die struktuur van Genesis 1 gekyk. Nou gaan ons na die inhoud van Genesis 1 kyk.

     

    Die inhoud van Genesis 1

    Maar hierdie agt keer herhaalde gediggie is ook nie alles nie. Dit is net die “geraamte” of raamwerk waarin daar baie stof opgeneem is wat uit ’n interessante verskeidenheid bestaan. Kom ons kyk daarna.

     

    Skepping deur die woord én daadskepping Ons het vroeër verwys na die baie algemene oortuiging onder Christene dat God alles net deur die woord (bevele) geskep het. Dit word gewoonlik veral uit Genesis 1 afgelei. Die gedagte is dan dat God net elke keer gesê het ’n sekere ding moet bestaan, en dan het dit bestaan. Die skeppingsvoorstelling van die lig is ’n duidelike voorbeeld: “Toe het God gesê: Laat daar lig wees. En daar was lig” (1:3). Maar dis net die skepping van die eerste ding. As ’n mens verder lees, kom jy gou agter dit werk nie presies só met die skepping van die ander dinge nie.

    • As God die gewelf maak, sê Hy wel daar moet ’n gewelf wees, maar dan maak Hy ook die gewelf (1:6, 7). En dit geld ook van die twee ligte (1:14, 16), die waterdiere (1:20, 21), die wilde diere (1:24,  25). Hier is dus nie net ’n bevel en dan is dit daar nie. Hier is beveel en doen.
    • En as Hy die plante maak, beveel Hy die aarde om plante voort te bring, en dan bring die aarde die plante voort (1:11, 12). Hy beveel nie net daar moet plante wees en dan is hulle daar nie. En Hy maak ook nie self die plante nie. Die aarde bring hulle voort.
    • En wanneer God die diere maak, beveel Hy dat die aarde diere moet voortbring, maar, anders as in die geval van die plante, doen die aarde dit dan nie. Hy maak dan self die diere (1:24, 25). Nog ’n keer beveel Hy nie net en dan is dit daar nie.

     

    Teen hierdie tyd besef ons al klaar dat dit ’n uitsondering was dat God net beveel het daar moet lig wees en toe was dit daar. Elke skeppingswerk verloop op sy eie manier. God doen dit op verskillende maniere. En wat belangrik is, dit is nie waar dat Hy elke keer net beveel en dan is dit daar nie. Verder is dit ook belangrik dat van heelwat dinge ’n dubbele voorstelling gegee word: Hy beveel dat dit moet bestaan én Hy maak dit. 

     

    Dit is dus nie so dat God alles net deur die woord (bevele) geskep het nie.

    • Soms beveel Hy net en dit is daar;
    • soms beveel Hy en dan maak Hy dit ook;
    • soms beveel Hy iets om iets anders voort te bring, en dan gebeur dit;
    • en soms beveel Hy iets om iets anders voort te bring, maar dan doen Hy dit tog self.

     

    Skepping deur skeiding: En intussen het ons nog nie eens gekyk na skepping deur skeiding nie.

    • God skei die duisternis van die lig (1:4).
    • God skei die waters bo die gewelf van die waters onder die gewelf (1:7).
    • God skei die waters op die aarde van die droë grond (1:9).
    • God skei die nag van die dag deur die twee ligte (1:14, 18).

     

    Behalwe beveel en maak, is daar dus ’n derde manier van skep: skei. Dit is trouens interessant watter dinge van mekaar geskei is:

    • Die duisternis is afgeskei van die lig.
    • Die water bo die gewelf is afgeskei van die water onder.
    • Die see is afgeskei van die land.
    • Die nag is afgeskei van die dag.

     

    Waarom hierdie skeiding? Uit die res van die Ou Testament weet ons die duisternis, die water daarbo, die see en die nag is bedreigende elemente. Die duisternis en die nag is simbole van die sonde en die dood, en die lig is ’n simbool van God en van heiligheid. Johannes skryf: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons … Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus … ons van elke sonde” (1 Joh 1:5-7). En ons hoor Jesus sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12).

     

    Net so is die water in die lug en die see bedreigende elemente in die Bybel. Ons weet almal van die bedreiging van die see. Die see was een van die grootste gevare vir Israel. Ons lees telkens dat God grense vir die see gestel het (Job 38:8-11; Ps 104:6-9). Die chaosmonsters was almal seemonsters: Behemot, Rahab, Leviatan. Die golwe van die see was vir Israel die aanslae van hierdie monsters op hulle lewe. Hulle het geglo God het hierdie seemonsters verpletter (Ps 74:13-14). Maar die see het ’n bedreiging gebly. Selfs in die tyd van die groot koning Dawid, het Israel nooit ’n vloot of ’n seemag gehad nie. Dit is ook opvallend dat Jesus die onstuimige see bestraf, ’n woord wat Hy soms ook vir demone gebruik (Mark 4:39; 9:25; Matt 17:18).

     

    Die “water bo die aarde” vra ’n bietjie meer verduideliking. Ons lees in Genesis 1:6 ev dat God ’n gewelf bo die aarde gemaak het, en die water bo die gewelf van die water onder op die aarde geskei het. Hulle het gemeen die blou lug bo ons is ’n ondeurdringbare koepel met vensters/luike in. Die koepel hou die massa water daarbo, en as dit reën, maak God sommige van die vensters oop sodat die water kan deurval (Mal 3:10). Tydens die sondvloed het God al die vensters gelyk oopgemaak sodat al die water daarbo op die aarde geval het. Dit is dus duidelik dat ook hierdie water vir Israel groot bedreiging ingehou het. En al weet ons vandag reën werk nie so nie, weet ons ook dat die massa waterdamp in die lug inderdaad groot verwoesting op aarde kan aanrig as dit te veel reën.

    En soos ons gesien het, het God by die skepping juis hierdie gevaarlike elemente afgeskei: die nag en duisternis van die dag en lig, die water bo én dié in die see van die land as ons blyplek. Die skeidingsmotief beteken dus skynbaar dat God van die begin af sy skepping teen bedreigings beskerm. Dit kon ’n wonderlike troos gewees het vir mense wat destyds in nood was, en dit kan dit vandag nog wees.

     

    Daar is nog ’n paar sake in Genesis 1 wat ’n mens se aandag trek. In die volgende artikel gaan ons na Skepper of skepping kyk.

     

    AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

     

     

     

    Skrywer: Prof Adrio König