Gewoontes, reflekse en intuïsie

David F. Wells

Gewoontes, reflekse en intuïsie

Die mens kan nie sonder sy gewoontes oorleef nie. Ons gewoontes geld vir ons optrede en denke. Ons dink op ‘n sekere manier. As ek iemand op die TV sien, plaas ek hom in ‘n kategorie wat ek vantevore aan hom toegeken het. Onmiddellik dink ek dat ek weet wat hy gaan sê.

As ek die naam van die skrywer sien, weet ek al of ek van die boek gaan hou of nie. Hierdie gewoontes van denke is baie belangrik. Reeds as kinders begin ons hierdie gewoontes ontwikkel. Dit is baie belangrik dat hierdie gewoontes gebou word op die fondament van Christelike waarhede en kennis.

Daar is ook iets soos intellektuele reflekse. As sekere dinge gebeur, oordeel ons outomaties. As ek die woord vrygewig hoor, oordeel ek onmiddellik positief. Vir Christene is dit belangrik om te verseker dat hierdie reflekse in ooreenstemming met Christelike waarhede is. Die probleem is dat ons voor so baie besluite te staan kom dat ons nie sonder reflekse gaan regkom nie.

Daar is ‘n derde eienskap waarna ons moet kyk: Intuïsie. Dit is veral belangrik in onseker situasies. Ons weet dikwels dat die een alternatief reg is en die ander verkeerd. Maar dikwels is dit nie so maklik nie. Dan neem ons besluit en kan nie mooi verduidelik hoekom ons nou juis daardie besluit geneem het nie. Veral as ons besluite oor mense neem, is ons dikwels minder rasioneel – intuïsie speel nou ‘n belangrike rol. Steve Jobs van Apple was ‘n meester van intuïsie ten opsigte van styl en estetika. Hy het presies geweet hoe ‘n iPhone moet voel

Christene staan nie los van gewoontes, reflekse en intuïsie nie. Daarom moet ons sorg dat die fondament suiwer is – die waarhede van die Bybel.

Alle Paaie lei na Jesus: Die Verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die Verhouding Ou Testament-Nuwe Testament – Adrio König

3.9 Die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Ons kry hier ’n belangrike insig in die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe. Ons weet dat daar nie net een formule is om hierdie verhouding te beskryf nie, omdat dit ’n ingewikkelde verhouding met baie kante is (hoofstuk 6). Daar is in die verlede baie pogings aangewend om een enkele omskrywing te gebruik soos belofte-vervulling, wet-evangelie, of ’n roosknop-die volle roos (Augustinus). Maar nie een van hierdie formules kan die volle lading dek nie.

 

En juis dit kom nou sterk na vore in die siening van veral Hebreërs. Hier word die wet totaal afgemaak as waardeloos en selfs nutteloos, en die offer van Christus as die oorweldigende waarde

om aan te hang. Hier het ons dus ’n radikale breuk tussen die Ou Testament en die Nuwe, of kom ons formuleer dit netjieser. Hier het ons ’n totale breuk tussen ’n aspek van die Ou Testament en ’n aspek van die Nuwe. En so dek elke ander formule net ’n bepaalde aspek. Natuurlik is daar beloftes/profesieë in die Ou Testament wat in die Nuwe vervul word, maar alles in die Ou Testament is tog nie profesieë nie. En natuurlik stel Paulus die evangelie radikaal teenoor die wet, maar net sover dit ons verlossing raak. Verder het die wet nog altyd sy positiewe betekenis. Die Ou Testament is dus nie nét wet wat nét vervang word in die Nuwe sodat die verhouding as wet-evangelie omskryf kan word nie.

 

Daar is net een manier om te dink oor die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament, en dit is om na die spesifieke aspek te kyk wat onder bespreking is. Tussen bepaalde aspekte is daar verskillende verhoudings. Wat een aspek van die wet (lewensreël vir die volk van God) betref, is daar volkome aansluiting en voortgang tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament, maar ten opsigte van ’n ander aspek (die wet as heilsmiddel) is daar ’n absolute breuk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




God haat die sonde

God haat die sonde – Francois Malan

Loraine vra:

Kan julle asb vir my die skrifgedeelte stuur waar daar staan dat God die sonde haat, maar het die sondaar lief.

 

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Nee, daar is nie so ‘n Skrifgedeelte nie. Maar die hele Bybel is vol van God wat die sonde haat, vgl. bv. Hebr. 1:9 ‘U het die reg lief en U haat die onreg’, wat ‘n aanhaling is uit Psalm 45:8.

En dat God die sondaars liefhet, spreek uit baie Skrifgedeeltes, maar nie sonder ‘n voorwaarde daarby nie, nl. om te glo in Jesus Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Johannes 1:29)

:

Johannes 3:16: ‘Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.’

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Ek is ‘n woordvoerder vir Christus

. — John Calvin

Ek is ‘n woordvoerder vir Christus

Is Christene net geloofwaardig as hulle oor godsdienstige sake praat? Het ons die reg om oor politieke of morele of ekonomiese sake te praat? Is ons nie almal woordvoerders vir ons geloof in die wêreld nie? Die antwoord is natuurlik ja. Die grootte van ons gehore mag verskil, maar nie die verpligting om te praat nie.

 

Hoe doen ons dit? Dallas Willard gee ‘n paar riglyne:

  • My begeertes is altyd sekondêr tot dit wat goed is vir die gemeenskap. My eie persoonlike begeertes kan nie die enigste riglyn vir my optrede wees nie.
  • Ek moet die goeie nuus wat God vir die wêreld bied in my optrede, karakter, woorde, besluite en verhoudings duidelik maak.
  • As dit kom by ekonomiese en sosiale sake kan ek nie sê ek staan los van die politiek nie. Die lewe en my geloof is polities van aard. Ek gaan egter nie deur politieke speletjies die wêreld verander nie.
  • Ek kan my nie beperk tot net ‘n deel van die evangelie nie. Die evangelie raak die hele skepping – nie net ons ewigheidsbestemming nie.
  • Hoe meer tevrede ek is met my eie plek, hoe meer invloed sal ek hê. Voortdurende frustrasie, jaloesie en ontevredenheid met my lot in die lewe lei tot ‘n lewe van wanhoop en chaos en nie vreugde en duidelikheid nie
  • Ek is in ‘n voortdurende proses om my roeping op aarde uit te werk en uit te leef.
  • Omdat ek ‘n beelddraer van God is, moet ek daardie beeld weerkaats – ook teen armoede en verlies aan waardigheid.
  • Ek moet die koninkryk van God soek en vertrou dat God alles wat ek nodig sal hê, sal voorsien.
  • Ons moenie net teen immorele idees en waardes praat nie, maar ook teen immorele sisteme en prosesse wat lei tot ongeregtigheid en onderdrukking van die armes. Doen wat reg is.