Martin Luther
Gaan leer by die Mormone
Greg Stier is die stigter en President van Dare 2 Share Ministries International. Hy skryf onlangs hierdie interessante blog.
Die gewildheid van Mormonisme is besig om dramaties toe te neem. Hoekom? Mitt Romney? Hy voel die antwoord is eenvoudig: Mormone se jeugbediening is baie beter as dié van die gemiddelde Protestantse kerk.
Hierdie skoongeskeerde Mormoonse sendelinge in ons strate wat aan ons deure klop, word deur baie gesien as oudmodies. Ons maak nie die deur oop as ons sien dit is hulle nie of ons sê vir hulle ons is Christene en verwerp Mormonisme. Ons lag in ons mou: om te dink ‘n kerk verwag van sy jongmense om van deur tot deur te loop en mense te evangeliseer. Ons dink ons strategieë vir jeugbediening is strate voor hulle s’n. Is dit so?
Mormone weet wat hulle glo en hoekom hulle dit glo. Hulle is fanaties toegewy aan hulle weergawe van die Groot Opdrag. Wat doen ons as Protestante? Miskien elke tweede jaar ‘n weeklange uitreik in Mosambiek. Wat doen ons daar? Ons bou huise en bevorder nie noodwendig die koninkryk van God en die evangelie van Jesus Christus nie.
Ons wil nie glo wat hulle glo nie. Ons glo wat hulle verkondig is nie die Jesus wat ons in die Bybel kry nie. Maar: Mormone druk hulle kinders harder en neem hulle dieper en verder in hulle godsdiens in as wat ons jeugbedienings ooit sal waag. Dink aan ‘n jeuggroep wat elke tiener uitdaag om elke oggend om ses uur bymekaar te kom vir ‘n klas oor die Christelike geloof. Dit is wat die Mormone verwag.
Natuurlik moet ons nie hulle strategie slaafs navolg nie. Ons moet wel hulle filosofie aanvaar. Ons moet ons tieners druk sodat hulle weer aktiviste word. Ons moet geleenthede vir diens, uitreik en onderrig skep. Ons moet hulle toerus om hulle geloof met ander te deel en hulle begelei.
Is dit dan nou ‘n soort kompetisie? Natuurlik. Ons is in ‘n kompetisie met Satan gewikkel vir ons jongmense – en ons slaag nie met vlieënde vaandels nie. Die probleem is nie die Mormone nie; die probleem is ons.
While thousands, careless of the damning sin,
Kiss the book’s outside who ne’er look within
William Cowper
Hoe weet ek ek is gered?
JD Greear sê dat hierdie ‘n algemene vraag is wat Christene vra. Daar is ‘n gedeelte in 1 Johannes 5 wat ons hier help. Ek gebruik Die Boodskap.
Ons het al ons hoop op verlossing op Jesus Christus geplaas
Die evangelie verseker ons deur te verkondig “Jesus in my plek” – nie hoe goed of hoeveel ek gedoen het nie. Die vraag is nie of ek ‘n spesifieke gebed gebid het nie, maar: “ Rus ek in Jesus?” Johannes skryf nie aan mense wat die sondaar se gebed gebid het nie, maar aan diegene wat glo in Jesus Christus. Dit gaan nie oor die gebed wat jy gebid het nie, maar oor jou huidige posisie.
Jy het ‘n nuwe natuur (vers 16 – 18)
As jy weergebore is, ontvang jy ‘n nuwe natuur. Hierdie nuwe natuur kom met nuwe begeertes. Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie, want jy het nou nuwe begeertes. God verander ons, nie deur ons onder allerhande reëls toe te gooi nie, maar deur vir ons ‘n nuwe hart te gee. Jy hou nie meer van oneerlikheid of onsedelikheid nie. Jy vermy hulle, nie weens dreigemente van God nie, maar omdat hierdie dinge nie vir jou meer begeerlik is nie.
Dit beteken nie dat jy onmiddellik volmaak is en glad nie meer stry met sonde nie. Jy sondig nie meer willens en wetens nie. Jy kan nie God liefhê en ook die dinge wat Hom seermaak nie. Jy kan nie met jou mond God loof en met jou lewe Hom kruisig nie. My liefde vir God blyk duidelik uit my lewe.
En as jy terugval in sonde – iets wat ons almal doen – beskerm Christus ons. Een van die tekens dat jou verlossing eg is, is dat al val jy jy nooit permanent val nie. God bring jou keer op keer terug. ‘n Gelowige staan elke keer na ‘n terugslag weer op (Spreuke 24:16).
Jou nuwe natuur word nie gekenmerk deurdat jy nooit val nie, maar deur wat jy doen as jy geval het. Verlossing beteken nie dat ek volmaak en sonder sonde is nie – dit beteken wel ‘n nuwe rigting.