Kan die kerk die wêreld verander?

(Martin Luther)

Kan die kerk die wêreld verander?

Die kerk wêreldwyd het amper twee biljoen vrywilligers wat net wag om gemobiliseer te word. Die kerk het die mannekrag – hulle moet net tot aksie oorgaan. Die kerk se opdrag is immers om die goeie nuus aan die wêreld te bring. Rick Warren sê ons moet die latente energie in gelowiges wat niks vir die koninkryk van God doen nie, loslaat.

 

Hy sê dat die kerk die liggaam van Christus is, maar dit lyk asof hierdie liggaam geen hande en voete het nie – meeste van die tyd net ‘n groot mond. Dit is tyd dat die mense hoor waarvoor die kerk staan – genade, deernis, barmhartigheid, vergifnis, verlossing en ‘n nuwe lewe in Jesus Christus. Dit is nie nodig om te sê waarteen die kerk is nie – almal weet dit.

Maar is Jesus se opdrag in Handelinge 1:8 op ons van toepassing?Jesus is hier besig om sy plan uit te lê. As Hy sê gaan na Jerusalem sê Hy dat ons met ons familie, vriende en medewerkers moet begin. Judea is die gebied waar jy leef. Samaria is ook mense wat in jou buurt woon, maar kultureel verskil hulle van jou. Jesus sê: Gaan na mense wat anders as jy is. Laastens sê Hy dat ons tot in die uithoeke van die wêreld moet gaan. Dit beteken alle ander mense – nou beweeg jy uit jou gemaksone. Ons moet dissipels van al die nasies maak.

Hoe het Jesus hierdie reuse aangevat? Hy het vyf dinge gedoen wat Hy wil hê dat sy volgelinge steeds moet doen. Dit is:

  • Hy plant geloofsgemeenskappe. As ons die liefde van God met miljoene mense wil deel, moet ons bestaande gemeentes help, maar ook nuwe geloofsgemeenskappe vestig. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? (Romeine 10:14).
  • ‘n Gelowige weet dat hy ‘n arm mens moet help. ‘n Slegte mens steur hom nie aan die armes nie. Hy sal hulle nooit help nie (Spreuke 29:7 – Die Boodskap).
  • Hy versorg die siekes. Miljoene mense, veral kinders, sterf nog jaarliks aan voorkombare siektes. Die grootse oorsaak vir kindersterftes is onsuiwer water. Ons weet mos hoe om water te suiwer.
  • Rick Warren noem dit die PEACE plan (plant, equip, assist, care, educate). Dit is ‘n beweging vir gelowiges – alle gelowiges en nie net leraars nie. Dit gaan oor alle gelowiges in elke gemeente wat doen wat Jesus gesê het, gedoen moet word. Dit gaan oor gemeentes wat saamwerk om hierdie vyf reuse in hulle samelewing aan te pak. Die huidige gehoor moet in ‘n leër verander word, verbruikers in bydraers, toeskouers in deelnemers.

    Net die kerk deur die krag van die Heilige Gees kan dit doen – geen regering nie. net die kerk het die mannekrag – twee biljoen vrywilligers wat wag om gemobiliseer te word. Net die kerk het die mag van die Heilige Gees om hom te bemagtig.

    Jesus het ons beveel om dit te doen. Sal ons doen wat Hy beveel het? Lees net weer Psalm 67:3: Almal op aarde moet sien hoe groot en goed U is. Volke wat U nie ken nie, moet besef dat U mense red (Die Boodskap). God wil al sy kinders gebruik om die wêreld vir Jesus Christus te bereik. Mense moet besef dat die grootste avontuur vir ons is om deur God gebruik te word.

    (Markus 8:35 – Die Boodskap).

    Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

    Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus? – Francois Malan

    Vraag:

    baie  gedra en vir die oortreders gebid het. (OAV)

    Die feit dat baie gebruik word en nie almal nie gee aanleiding tot die volgende vraag:

    Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

     

    Uit Abraham ontstaan die Jode as die uitverkore volk. Na verloop van 430 jaar kom Moses op die toneel en hy ontvang die Tien Gebooie wat spesifiek bedoel was om die Jode te rig. Toe Christus kom maak die Jode  Hom dood. Van die Jode wat hierna tot bekering gekom het, sê Paulus in Gal 2: 15 dat hulle, wat van nature Jode was en nie sondaars uit die heidene nie, in Christus Jesus moes glo sodat hulle geregverdig kon word uit die geloof in Jesus Christus. Dus nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig kan word nie.

    Antwoord:

     

    In Johannes 1:29 sê Johannes die Doper: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld sal wegneem. Johannes 1:1-18 sê dat Jesus Christus self God is, die naaste aan die Vader, dat Hy mens geword het. (Dit alles sodat God self vir die sonde van die wêreld sterf aan die kruis). Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

    Vir die heidene wat Christus aangeneem het skryf Paulus in Galasiërs 3:28: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.

    Jou vraag: Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

    Die hofdienaar van Etiopië is ook nie die eerste heiden wat tot bekering gekom het nie. Kyk maar gedurende Jesus se bediening na die Samaritane Jn 4, die offisier in Kapernaum Mat 8:10-12, die Griekse vrou van Mark 7:24-30, die offisier wat vir Jesus gekruisig het Mark 15:39. Vgl. ook die stad van die Samaritane wat Filippus se getuienis aangeneem het voordat hy die hofdienaar ontmoet het Hand.8:4-8.

    Jesaja 53:12 sê ‘baie’. In Hebreeus is dit die meervoud van ‘baie’ (rabim) wat ‘n menigte aandui. Daarom gaan dit nie om uitsluiting van party nie.

     

    Skrywer: Prof Francois Malan

     




Alle Paaie lei na Jesus: Die wet en Hebreërs (1

Alle Paaie lei na Jesus: Die wet en Hebreërs (1 – Adrio König

3.7 Die wet in Hebreërs

Die probleme rondom die wet is baie ernstiger in Hebreërs as wat dit in Paulus se Briewe is. In Paulus se situasie wil sommige Joodse gelowiges die wet by Christus byvoeg asof Christus nie genoeg is nie. Maar in Hebreërs is die gevaar dat Christus vervang word deur die wet, dat Christen-Jode Christus los en terugval op die wet alléén (2:1-3; 3:6, 12-14; 10:32-39). Die “wet’ moet hier verstaan word as die Ou Testament in die algemeen, maar uiteindelik veral die tempel-priester-offerdiens van die Ou Testament. Ons praat van die tempelkultus. 

 

Hierdie gevaar dat die gelowiges kan terugval op die Ou Testament is die rede waarom die skrywer Christus se grootheid so beklemtoon en Hom herhaaldelik vergelyk met figure of sake uit die Ou Testament en dan wys op Christus se onvergelyklike grootheid. Christus is groter as

  • die engele (1:4 ev),
  • Moses (3:3 ev),
  • Josua (4:8 ev),
  • die wet (10:1 ev),
  • die priesters (7:20-28 en telkens verder aan),
  • die tempel (9:11, 23 ev),
  • en die offers (9:11-14 ev; 10:10).

 

Hieruit alleen is dit duidelik dat hy hulle by Christus wil hou en wil oorreed om nie terug te val op die Ou Testament nie. Dit is nie uit die Brief heeltemal duidelik waarom die gelowiges gehuiwer het of hulle aan Christus moet bly vashou nie. Dit is wel duidelik dat hulle vroeër erg vervolg is en gely het vir hulle geloof (10:32- 39). Hierdie vervolging het waarskynlik nie opgehou nie, en die versoeking kon groter geword het om liewer terug te gaan na die sinagoge waaruit die meeste van hierdie Christene in elk geval gekom het. In sy kommentaar op Hebreërs (Hebreërs vir vandag, CUM) herinner Andrie du Toit ons daaraan dat dit in hierdie tyd baie veiliger en makliker was om deel van die Joodse geloofsgemeenskap te wees as om ’n Christen te wees omdat die Jood se geloofsgemeenskap deur die Romeinse owerheid erken is terwyl die Christene vervolg is.

 

Die meeste van hierdie gelowiges het uit die sinagoge oorgekom soos ons oor en oor lees van Paulus se sendingreise. Hy begin altyd by die sinagoge waar daar dan Jode en sogenaamde “godvresendes” of “godsdienstiges” by hom aansluit (Hand 13:42-43; 17:1-4). Die laaste twee groepe was heidene wat hulle  klaar met die Joodse geloof vereenselwig het.

 

’n Mens moet nou onthou dat ons hier in die Brief aan die Hebreërs ’n nuwe situasie het. Die gevaar is veel erger as in Paulus se Briewe. Dis nie nou meer net ’n geval van gelowiges wat die wet by Christus wou byvoeg nie, maar van ’n keuse: óf Christus óf die wet. Daarom word Christus se grootheid so oorweldigend beklemtoon, en word die wet (Ou Testament) in uiters negatiewe terme geskilder, selfs veel negatiewer as Paulus. Daar kan nie eens ’n vergelyking tussen Christus en die wet getref word nie.

 

Maar ons moet in gedagte hou dat dit nie om die wet (die Ou Testament) in sy totaliteit gaan nie, maar om die bepalings oor die tempelkultus. Hierdie diens word in hierdie Brief ook die “verbond” genoem.

 

Kom ons kyk nou eers hoe heerlik Christus geskilder word, en dan hoe negatief die wet.

 

3.7.1 Die grootheid van Christus

Die Brief begin met heerlike lof aan Christus. Hy oortref alles wat in die Ou Testament deur die profete gesê is (1:1-2). Hy is die unieke openbaring van God self (1:2-3). Hy was self by die skepping van alle dinge betrokke, en Hy hou nou nog alles deur sy magswoord in stand.

 

Engele Hy is veel groter as die engele soos blyk uit die feit dat God Hom sy “Seun” noem terwyl die engele maar net sy dienaars is (1:4-14). Verder het God alles aan Hom onderwerp, iets wat Hy nooit aan die engele gedoen het nie (2:5-9). Daarom is die saligheid wat in Hom geopenbaar is, soveel groter as dié in die Ou Testament, en juis daarom sal dit so fataal wees om van Hom af weg te dryf (2:1-4).

 

Moses Christus is ook veel groter as Moses (3:1-6) – en dit is ’n mondvol vir Jode! Moses was dié dienskneg van God, die een deur wie die wet gegee is, en ons onthou watter geweldige betekenis die wet vir hulle gehad het. Maar Moses self was ’n buitengewone persoon in die geskiedenis van Israel. Van hom word dinge geskryf wat van niemand anders gegeld het nie. Ons lees dat die Here direk met Moses gepraat het soos ’n man met sy vriend (Eks 33:11). Verder ook: “As daar ’n profeet van die

Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. Maar met my dienaar Moses is dit anders. Hy is die betroubaarste in my diens. Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here” (Num 12:6-8). Dis ’n mondvol! Dis geen wonder dat die Jode later die wonderlikste dinge oor Moses geglo het nie. Hulle het geglo hy is die middelpunt van die geskiedenis. Die aarde sou 2 500 jaar voor hom gemaak wees, en die Messiaanse tyd sou 2 500 jaar ná hom aanbreek. Hulle was selfs oortuig dat die groot Griekse filosowe soos Plato en Aristoteles by Moses hulle wysheid gekry het. Dis interessant dat die skrywer aan die Hebreërs hierby aansluit en dieselfde erkenning aan Moses gee waarvan ons in Numeri gelees het. Maar Christus is eenvoudig meer. Beide werk in God se huis (volk), maar Moses was ’n dienaar in die huis, terwyl Christus as die Seun oor die huis regeer (Heb 3:5-6).

 

Josua Christus is ook veel groter as Josua (4:8-11), wat self ’n geweldige aanspraak was. Immers dit is Josua wat uiteindelik die volk in Kanaän ingelei het. Maar die skrywer herinner die Christene daaraan dat Josua nie werklik die rus vir die volk gebring het wat God beloof het nie. Die Sabbatsrus wag nog steeds op die volk van God, en in Jesus kan ons daardie rus ingaan. Op hierdie stadium wy die skrywer weer ’n lang gedeelte daar aan om die grootheid van Christus te besing (4:14-5:10) voordat hy oorgaan na die hoofdeel van die Brief waarin hy Christus vergelyk met die tempel-priester-offerdiens (hoofstuk 7-10).

 

Die wet Veral in hoofstuk 7 bring die grootheid van Christus radikale negatiewe uitsprake oor die wet mee. Daardeur wil die skrywer die lesers oortuig hoe onvergelyklik groot Christus werklik is in vergelyking met die wet waarheen hulle nou wil terug val. Die wet is “afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan” (!) (7:18). Daarteenoor het daar in Christus ’n “beter hoop” gekom “waardeur ons tot God nader” (7:19). Hier die laaste woorde kan ook vertaal word met “waardeur ons regtig by God kan uitkom” wat natuurlik impliseer dat die afgeskafte wet ons nie by God kon uitbring nie. Dit is skokkende uitsprake. Ons beleef min daarvan vandag. Ons is so gekondisioneer deur die grootheid van Christus dat ons byna geen besef het van die eerbied wat die Jode voor en in die tyd van Jesus vir Moses en die wet en die Ou Testament as geheel gehad het nie.

 

En dit het natuurlik die Christene uit die Jode net so gegeld. Hulle het groot geword met die diep oortuiging dat die wet sonder meer die onvoorwaardelike wil van God was waarna hulle met oorgawe moes luister. Om nou te hoor die wet was “kragteloos en nutteloos”, was om die minste te sê, skokkend. Hoe sou hulle dit van Godslastering kon onderskei?

 

In die volgende artikel gaan ons na die afskaffing van die tempelkultus kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Gaan die lewe oor gelukkig wees?

Gaan die lewe oor gelukkig wees?

 

Partly what we do as human beings is to take care of others and contribute to others. This makes life meaningful but it does not necessarily make us happy” (Bauermeister). Geluk is ‘n emosie wat ons nou en hier ondervind, maar mettertyd vervaag dit. Betekenis hou stand.