‘n Nuwe Kategismus: Vraag 5
Wat het God nog gemaak?
God het alle dinge deur sy kragtige Woord gemaak, en sy skepping was baie goed; alles het onder sy liefdevolle heerskappy gefloreer. [Onderstreepte gedeelte is antwoord vir kinders.]
Teksvers:
(Genesis 1:31).
Kommentaar:
Hierdie kommentaar is deur Heinrich Bullinger (1504 – 1575), ‘n Switserse hervormer en opvolger van Zwingli as hoof van die Switserse kerk, geskryf. Bullinger het teologiese en geskiedkundige werke geskryf – ongeveer 127 boeke. Daar bestaan ongeveer 12 000 briewe aan en van Bullinger. Dit is die mees uitgebreide korrespondensie van die Hervorming wat behoue gebly het. Hy het met onder andere Henry VIII, Edward VI en Elizabeth I van Engeland, Christiaan II van Denemarke en Frederick III, keurvors van Rome, gekorrespondeer. Hierdie aanhaling kom uit: “That God is the Creator of All Things: The Fourth Sermon” in “The Other Eight Sermons of the Fourth Decade” in Decades of Henry Bullinger, vertaal deur H.I., Volume 4 (Cambridge: University Press, 1851), 177–179.
Verdere leesstof:
“Creation” in A Faith to Live By, by Donald Macleod.
“Providence” in Concise Theology, by J. I. Packer.
Gebed:
Hierdie gebed is deur Richard Baxter (1614 – 1691), ‘n Engelse Puritein geskrywe. Hy was kapelaan in die leër van Oliver Cromwell. Toe James II onttroon is, is hy vervolg en sit vir 18 maande in die tronk. Hy hou aan preek en skryf: “I preached as never sure to preach again, and as a dying man to dying men.” Hy was ook ‘n digter en skrywer van liedere. Hy skryf ook sy eie kategismus vir sy familie.
Uit “A Shorter Form of Praise and Prayer for the Lord’s Day” in “The Poor Man’s Family Book” in The Practical Works of Richard Baxter, Volume 19 (London: Paternoster, 1830), 635–636.
Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church
3.6 Paulus se verwerping van die wet In die vorige artikel het ons na Paulus en die wet en ons saligheid gekyk. Daar loop egter ook ’n ander lyn in Paulus se Briewe. Om dit te verstaan, moet ons onthou daar was twee verskillende sienings van die wet onder die Jode. Die Jode in Palestina (die strenger groep) het van die heidene verwag om net soos hulle self Jode te word as hulle die God van Israel wou dien. Hulle moes hulle laat besny en die hele wet onderhou nes die Jode self. Maar die Hellenistiese Jode (wat buite Palestina geleef het en ’n ruimer siening gehad het) het die heidene aanvaar as hulle net in die God van Israel glo en die sinagoge saam met die Jode besoek. Hulle is deur hierdie Jode die “godsdienstiges” of godvresendes” genoem (Hand 10:2). Kornelius was ’n goeie voorbeeld van so ’n Griek. Hy was ongetwyfeld in hoë aansien onder die meer gematigde Jode. Dit is immers belangrik om te onthou dat hy buite Palestina gewoon het onder die Joodse gemeenskap met ’n ruimer siening. Omtrent dieselfde onderskeid het posgevat tussen die Christen-Jode en die heiden-Christene. Die gelowiges uit die Jode het van die heidene geëis om bo en behalwe hulle geloof in Jesus ook besny te word en die wet te hou (Hand 15:1), terwyl Paulus net van hulle verwag het om Jesus te aanvaar om gered te word (Gal 2:16). Trouens Paulus het nog verder gegaan. Hy het nie net hierdie gelowiges uit die heidene toegelaat om nie die wet te onderhou nie, hy het hulle ten strengste verbied om besny te word en die wet te onderhou. Dit sou hulle losmaak van Christus wat die enigste weg tot saligheid is (Gal 5:2-4). Die Christen-Jode het wel self nog die besnydenis en die wet baie streng onderhou, en Paulus het skynbaar vrede daarmee gehad. Trouens in Handelinge 21:17-26 stem hy selfs daartoe in om self in die tempel ’n offer te gaan bring om die gelowiges uit die Jode te oortuig dat hy self nog die wet onderhou (Hand 21:24). ’n Mens moet sekere dinge netjies van mekaar onderskei om hierdie standpunt van Paulus te verstaan. Enersyds verklaar hy kategories dat die Jode self nie in staat is om die wet te hou nie, maar andersyds onderhou hy self die wet. Hoe werk dit? Die onderskeid is skynbaar die volgende. Wanneer dit gaan oor die redding of saligheid, verwerp hy die wet radikaal. Net deur die geloof in Jesus Christus kan ’n mens gered word, heidene én Jode (Gal 2:15-16). Maar wanneer dit gaan om die lewe van die gelowige in gehoorsaamheid aan God, is die wet nog altyd die rigsnoer vir ons toewyding. Daarom kan hy in die vermanende dele van die Briewe die wet as basis gebruik en dit terwyl dit Briewe is wat aan heiden-Christene geskryf is (Ef 4 en Kol 3). Daar is dus ’n sin waarin Paulus baie vry met die wet kan omgaan, afhangende van die situasie waarin hy hom bevind. Dit kom baie sterk na vore in Korintiërs. Paulus is vry van almal, maar hy is tog gewillig om hom aan almal diensbaar te maak om soveel mense as moontlik te red (1 Kor 9:19 ev). “Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.” En vir dié wat sonder die wet is, het hy geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Paulus kan dus in een situasie vir Timoteus laat besny terwille van die Jode (Hand 16:3), maar in ’n ander situasie weier om die Griek Titus te laat besny omdat die Jode vals voorwendsels gehad het (Gal 2:3-5). Hiermee is sekerlik nie alle probleme in verband met Paulus se siening oor die wet opgeklaar nie. Dit is trouens een van die heel moeilikste onderwerpe in die hele Nuwe Testament. Maar dit het wel geblyk dat ’n mens tog iets kan verstaan as jy eers seker maak in watter verband Paulus oor die wet skryf. As dit oor redding gaan, is hy onverbiddelik negatief. Nie net die heidene nie, maar ook die Jode kan net gered word deur die geloof in Jesus Christus, en nie deur die onderhouding van die wet nie. Trouens as hulle deur die wet geregverdig wil word, maak hulle hulleself los van Christus en het Hy vir hulle geen waarde nie. Maar as dit gaan oor die nuwe lewe en ons toewyding aan die Here, het die wet sy volle betekenis behou soos dit oorspronklik bedoel was toe dit aan die volk van God by Sinai gegee is. Dit is die riglyne waarvolgens hulle in gehoorsaamheid aan die Here moes leef. In die volgende artikels gaan ons na die wet in die Hebreërbrief kyk. Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus. Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za Skrywer: Prof Adrio König Alle Paaie lei na Jesus: Paulus se verwerping van die wet
Alle Paaie lei na Jesus: Paulus se verwerping van die wet – Adrio König
Alle Paaie lei na Jesus: Paulus: die wet en saligheid
Alle Paaie lei na Jesus: Paulus: die wet en saligheid – Adrio König
3.5 Paulus: die wet en ons saligheid
Ons het nou na Jesus se houding teenoor die wet en die wet in Handelinge gekyk. Wat van Paulus?
Dit is veral in Romeine, 1 Korintiërs en Galasiërs waarin Paulus die wet bespreek. En die direkte aanleiding waarom hy dit doen, is dieselfde as in Handelinge: die Christen-Jode wat eis dat heiden-Christene die wet moet hou, en veral dat hulle besny moet word (Hand 15:1). Paulus neem sterk standpunt hiertéén in.
Dis nie net ’n kwessie daarvan dat dit onnodig is vir die gelowiges uit die heidene om die wet te hou en besny te word nie. Dis veel erger as dit. Dis óf die besnydenis óf Christus. Hy skryf: “As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur” (Gal 5:2-4).
Paulus gaan hier veel verder as wat ons in Handelinge gekry het. Dáár was dit net ’n keuse: nie die wet nie, maar Christus. Hier staan die wet radikaal en uitsluitend téénoor Christus. Dis geen onskuldige keuse nie! Op hierdie negatiewe waardering van die wet kom ons later terug. Maar ons moet eers kyk na ander aspekte van Paulus se siening.
Enersyds is Paulus positief oor die wet. Die wet (wat dikwels eenvoudig die hele Ou Testament beteken) het lank tevore al getuig van die vryspraak wat God sou gee, die vryspraak wat toe in Christus gekom het (Rom 3:21-22). Hy noem die wet heilig en reg en goed (Rom 7:12). Die wet gee ons kennis van sonde (Rom 3:20). Paulus skryf byvoorbeeld dat hy nie sou geweet het dis sonde om te begeer as die wet dit nie gesê het nie (Rom 7:7 ev). Maar wanneer Paulus die wet en die evangelie met mekaar in verband bring, word dit skielik ’n ander saak. Dan is hy regtig negatief oor die wet. “Die letter (die wet) maak dood, die Gees maak lewend” (2 Kor 3:6). Verderaan in hierdie hoofstuk skilder hy regtig ’n donker prentjie oor die betekenis van die wet teen oor die evangelie. Die wet gaan verby, die wet veroordeel mense, die wet lei tot die dood (2 Kor 3:7-11). Elders lees ons die wet moedig ons aan om te sondig (Rom 7:8 ev), die wet het die sonde lewendig gemaak, want sonder die wet was die sonde dood (7:8). Die sonde kry dus sy krag uit die wet (1 Kor 15:56). Ons het hier sterk uitsprake oor die negatiewe krag en werking van die wet.
Paulus se negatiewe houding teenoor die wet kom egter ook van ’n ander kant af, van die kant van die swakheid van die wet. Dit was alreeds geïmpliseer in sy stelling dat die wet eintlik vir ons die lewe moes bring, maar toe uiteindelik die dood gebring het (Rom 7:10). Die wet doen dus iets anders as wat dit bedoel was om te doen. Die rede hiervoor lê egter nie in die wet self nie, maar eerder in ons. Die wet is deur ons sonde swak gemaak (Rom 8:3).
In Galasiërs (wat voor Romeine geskryf is) het hy dit nog ’n bietjie anders gesien. Toe was hy oortuig dat die wet glad nie gegee was of bedoel was om ons die ware lewe te gee nie (3:18, 21). Die wet het net gesê wat reg en verkeerd is. Dit is dus nie net ’n geval dat die wet te swak was nie, dit was glad nie daarvoor bedoel nie.
Maar hierdie twee kante is maar net kop en stert van dieselfde muntstuk: Dis nie die wet van ons red nie, maar Christus.
Die wet en die kruis Trouens dis juis deur die wet wat ons onder die oordeel van God gekom het. “Die wet bring juis die straf (oordeel) van God” (Rom 4:15). En omdat ons op geen manier vir ons sonde kon vergoed en self aan die eise van die wet kon voldoen nie, het Christus in ons plek kom staan. Daarom is daar soveel nadruk in die Nuwe Testament op die feit dat Hy onder die wet was. “Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word” (Gal 4:4-5). Elders in dieselfde Brief: “Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek (van die wet) … Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ’n vervloekte te word” (Gal 3:10, 13). Immers Hy wat sonder sonde was, is in ons plek deur God as sondaar behandel, sodat ons deur ons verbondenheid aan Hom, deur God vrygespreek kan word (2 Kor 5:21).
Hierdie betekenis van die wet sou Paulus nooit uit die Ou Testament kon kry as hy nie in Jesus geglo het nie. Joodse teoloë wat Jesus nie as Messias aanvaar nie, kan dan ook glad nie met Paulus saamstem oor sy negatiewe wetsinterpretasie nie. Hulle is oortuig dat die wet gegee was om onderhou te word, wat vanselfsprekend beteken dat mense dit kan en moet onderhou. En hulle het sterk gronde hiervoor in die Ou Testament.
Maar omdat Jesus gekom het, lees Paulus die Ou Testament anders as hulle. “As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterf het” (Gal 2:21). Dit is hierdie betekenis van die kruis van Jesus wat Paulus se uitleg van die wet bepaal en legitimeer. In die Brief aan die Hebreërs gaan ons dit nog duideliker sien.
As Paulus skryf Christus is die einde van die wet (Rom 10:4), is dit hierdie betekenis van die wet wat hy in gedagte het. Hy bedoel Christus is die einde van die wet as jy dink jy kan die wet onderhou om gered te word. Hy is egter oortuig dat dit nooit die doel van die wet was nie (Gal 3:18, 21). Die wet was gegee vir mense wat klaar die volk van God was, nie vir mense wat deur die wet te hou, nog eers deur God aanvaar moes word nie. Die wet was die riglyne waarvolgens God se kinders in gehoorsaamheid aan Hom moes leef, nie die manier waarop mense wat Hom nie ken nie, by Hom guns moes verwerf nie.
Sover die negatiewe betekenis van die wet by Paulus. Maar ons het aan die begin kortliks daarna verwys dat hy die wet ook in ’n positiewe lig kan sien. Paulus beklemtoon die feit dat die gelowiges deur die krag van die Gees die wet kan hou. “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur die sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees” (Rom 8:4). Daarom is die tien gebooie ook die sleutel van sy vermanings aan die gemeentes. Een na die ander pas hy die gebooie op hul lewe toe. In Efesiërs 4:25-5:5 hou hy agtereenvolgens aan hulle voor die negende, agtste, derde, sesde, eerste en sewende gebooie. In Kolossense 3:5- 11 agtereenvolgens die sewende, eerste, sesde, derde en negende gebooie. En hy hou dit voor as gebooie wat hulle inderdaad in staat is om te hou. Maar hy skryf dié gedeeltes nádat hy oor die nuwe lewe gehandel het wat hulle deur Christus en die Gees ontvang het (Ef 4:17-24; Kol 3:1-4).
In die volgende artikel gaan ons na Paulus se verwerping van die wet kyk.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König
‘n Nuwe Kategismus: Vraag 4
‘n Nuwe Kategismus: Vraag 4
Hoe en hoekom het God ons gemaak?
Hom te ken, lief te hê, met Hom te leef en om Hom te verheerlik. Dit is reg dat ons, wat deur God gemaak is, tot sy heerlikheid sal leef. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]
Teksvers:
(Genesis 1:27)
Kommentaar:
Hierdie kommentaar is deur John Charles Ryle (1816 – 1900), die eerste Anglikaanse biskop van Liverpool geskryf. Ryle se aanstelling is aanbeveel deur Benjamin Disraeli, die destydse Eerste Minister. Hy was ‘n skrywer en pastor, maar ook ‘n atleet. Hy het vir Oxford Universiteit geroei en krieket gespeel. Hy was ook verantwoordelik vir die bou van meer as veertig kerke.
Expository Thoughts on the Gospels: St. Matthew (New York: Robert Carter & Brothers, 1870), 51–56, 336–337.
Verdere leesstof
“What is Man?” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.
“Humanness” en “Creation” in Concise Theology, by J. I. Packer.
Gebed:
Ek bid vir God, in die Naam van Christus … om my nou as volledig syne te ontvang en om my, onder alle omstandighede, so te hanteer, of dit nou tot my voor- of nadeel is. Hy kan met my, wat syne is, doen net wat Hy begeer. Van nou af sal ek nie weer as my eie optree nie – ek sal as my eie optree as ek ooit weer my eie krag gebruik om dinge te doen wat God nie verheerlik nie. Die verheerliking van God is my enigste besigheid. Amen.
Hierdie gebed is van Jonathan Edwards (1703 – 1758). Hy was ‘n Amerikaanse prediker, teoloog en filosoof en word pastoor van sy kerk in Northampton, Massachusetts in 1726. Hy is veral bekend vir sy beroemde preek: “Sinners in the Hands of an Angry God.” Hy het ook baie boeke geskryf, insluitend The End For Which God Created the World en A Treatise Concerning Religious Affections. Edwards sterf as gevolg van ‘n inenting teen pokke kort nadat hy as president van die College of New Jersey (later Princeton Universiteit) aangestel is.
Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church