Alle Paaie lei na Jesus: Die wet in Handelinge

Alle Paaie lei na Jesus: Die wet in Handelinge – Adrio König

3.4 Die wet in Handelinge

Noudat ons na Jesus se houding teenoor die wet gekyk het, gaan ons kyk na die wet in Handelinge. Ons is nie altyd so goed bewus daarvan nie, maar in Handelinge is die wet die eintlike strydpunt.

Maar om dit te verstaan, moet ons eers net na die agtergrond van Handelinge kyk. Ons moet van die begin af duidelik onderskei tussen vier groepe:

  • die Jode,
  • die apostels,
  • die Joodse Christene,
  • en heiden-Christene.

 

Die Jode wat tot geloof gekom het, het Jesus as Messias (Christus) aanvaar. Hulle was egter nog steeds Jode, net Christen-Jode. Hulle het nog gereeld die tempel besoek en die Joodse feeste gevier (Hand 3:1; 5:12; 5:20-21; 5:42; 22:17; 24:18), en Paulus was nog bereid om ’n offer in die tempel te gaan bring (Hand 21:24-28; 24:17-20).

 

Kom ons kyk nou watter rol die wet in die interaksie tussen hierdie vier groepe gespeel het. Ons gaan agtereenvolgens kyk na Handelinge 6:12-14; 11:1-3; 13:38-39; 15:1, 5; 18:12-15; 21:20- 21; 21:28.  Die woord wet gaan elke keer gekursiveer word om die  punt te beklemtoon.

1.    ’n Sekere groep Jode kom in Jerusalem in opstand teen Stefanus. Hulle sweep mense op om hom voor die Joodse Raad te beskuldig: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die heilige tempel en die wet van Moses te sê nie. Ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal afbreek en die voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, sal verander” (Hand 6:13-14). In hierdie geval is dit Jode wat Stefanus daarvan beskuldig dat hy die tempel en die wet minag.

2.    Nadat Petrus die heiden Kornelius besoek het en hy en sy gesin tot bekering gekom het, moet Petrus hom in Jerusalem gaan verantwoord voor Christen-Jode wat hom beskuldig: “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet” (Hand 11:3). In hierdie geval is dit Christen-Jode wat Petrus beskuldig dat hy nie die wet (die reinheidswette) hou nie. Maar natuurlik sou die Jode self dit ook gedoen het. Dit beklemtoon net nog ’n keer die punt dat Christen-Jode nog steeds Jode was.

3.    Paulus preek vir Jode in die sinagoge in Antiogië in Pisidië: “Wat aan julle verkondig word, is die vergewing van sondes deur Hóm … Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie” (Hand 13:38-39). In hierdie geval is dit Paulus wat ontken dat ’n mens deur wetsonderhouding gered kan word.

4.    “Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: ‘As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie’” (Hand 15:1). Kyk ook 15:5. Hier is dit Christen-Jode wat heiden-Christene probeer oortuig hulle moet die wet hou om gered te word.

5.    Die Jode kom in Korinte teen Paulus in opstand en beskuldig hom voor die goewerneur: “Hierdie man probeer die mense oorhaal om God op ’n manier te vereer wat in stryd is met ons wet” (Hand 18:13). Nogeens is dit Jode wat Paulus beskuldig dat hy die wet minag.

6.    “Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir Paulus gesê: ‘Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik. Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie.” In die volgende verse vra hulle Paulus dan om self tempel toe te gaan en ’n reinigingshandeling uit te voer. “Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou.” Paulus willig dan in en gaan doen dit (Hand 21:20-26). Hier is dit Christen-Jode wat nog die wet “stiptelik” hou.

7.    “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig” (Hand 21:28). Jode beskuldig Paulus dat hy die wet oortree.

 

Wat het ons nou in hierdie ses verwysings?

  • Jode beskuldig Christene dat hulle nie die wet hou nie (1 en 5, 7).
  • Christen-Jode beskuldig Petrus dat hy nie die wet hou nie, en hulle hou self nog die wet en probeer heiden-Christene oortuig om die wet te hou anders kan hulle nie gered word nie (2, 6, 4).
  • Paulus probeer Jode oortuig dat die wet hulle nie kan vryspreek van sonde nie (3).

 

Dit alles lyk, om die minste daarvan te sê, na ’n groot ver warring.

 

Die Jode Natuurlik wil die Jode nog hê dat almal die wet moet hou. As ’n mens mooi na die voorbeelde kyk, gaan dit vir hierdie Jode nie soseer oor die heidene nie, maar oor die ander Jode wat tot geloof in Jesus gekom het. Hoe kan hulle nou ophou om die wet te hou? Dis dan die Here se wet. Dis alles maklik om te verstaan.

Die Christen-Jode Maar dis interessant dat gelowiges uit die Jode ook nog die wet wil hou. En hulle het gemeen die apostels ondersteun hulle hierin. Petrus-hulle het dan self nog gereeld die tempel besoek, en Paulus is nog bereid om self ’n offer in die tempel te gaan bring.

Paulus en Petrus Paulus verkondig selfs aan Jode, dus nie net aan heidene nie, dat die wet hulle nie kan red nie, net Jesus. En die feit dat Petrus wel in Kornelius se huis ingaan en saam met hom eet, getuig daarvan dat ook hy in hierdie situasie nie die reinheidswette gehou het nie. Dis presies die teenoorgestelde as wat die Christen-Jode vir die heidene gesê het: Julle kan nie deur Jesus gered word as julle nie meer die wet onderhou nie (Hand 13:38-39; 15:1).

 

Dit is verder ook nog duidelik dat Petrus self maar met hierdie saak moeilikheid gehad het. Eers moes die Here hom deur ’n wonderwerk oortuig dat hy wel die evangelie aan Kornelius moet gaan verkondig (Hand 10), en later het hy weer teruggeval in sy ou oortuigings dat heidene onrein is toe hy nie in Galasië saam met gelowiges uit die heidene wou nagmaal gebruik nie. Hieroor het Paulus hom skerp aangeval (Gal 2:11-14). Dis dan ook interessant dat Petrus nooit êrens in Handelinge of in sy Briewe regtig op hierdie probleem ingaan nie. Dit is uiteindelik Paulus wat ons help om dit te verstaan.

 

Kom ons probeer ’n paar dinge vasmaak.

1.    Paulus en die ander apostels beklemtoon nie die wet nie. In nie een van die preke van Petrus of Paulus kom die wet as selfstandige item voor nie. Hulle preek dat Jesus, die opgestane Here, die Jode se Messias (Christus) is. Gaan gerus ’n keer die opsommings van hulle preke self na (Hand 2:14 ev; 3:12 ev; 4:8 ev; 5:29 ev; 10:34 ev; 13:16 ev; 17:21 ev).

2.    Die wet kom net een keer in een van hierdie preke voor, en dit is omdat Paulus Jesus verkondig as die Verlosser van sonde, en dan net ter verduideliking byvoeg dat dit dus nie die wet is wat ’n mens van sonde kan vrymaak nie, maar Jesus (Hand 13:38-39).

3.    Verder kom die wet net een keer voor as ’n selfstandige punt van bespreking, en dit is in die vergadering in Jerusalem waar Paulus en Barnabas saam met die apostels en ouderlinge in Jerusalem vergader (Hand 15). Die rede vir hierdie vergadering was die aanval van Christen-Jode op Paulus se sendingwerk onder die heidene. Hulle het die heiden-Christene probeer oortuig dat hulle bo en behalwe hulle geloof in Jesus, ook nog die wet moet hou om gered te word. Die uitkoms van die vergadering was dat die gelowiges uit die heidene nie meer die wet hoef te hou nie.

4.    Dit alles beteken dat die probleem veroorsaak is deur Jode én Christen-Jode wat daarop aangedring het dat die heiden-Christene nog die wet moet onderhou om gered te word. Dit het dus glad nie oor die wet-in-die-algemeen gegaan nie, maar oor die vraag hoe ’n mens gered word. Na die wet-in-die-algemeen sal ons later kyk.

5.    Van die Jode kan ’n mens die reaksie verstaan dat die wet onontbeerlik is vir redding. Die wet was vir hulle omtrent die een en al. Daarna het ons vroeër in hierdie hoofstuk gekyk.

6.    Maar wat van die Christen-Jode? Waarom het hulle nog so vasgeklou aan die wet? Die apostels het immers nie bedoel dat dit net die heidene is wat net op Jesus hoef te vertrou en nie daarby ook nog die wet hoef te hou om gered te word nie. Paulus preek dit in die sinagoge vir twee groepe: Jode en heidene wat reeds die Joodse geloof (die Ou Testament) aanvaar het (Hand 13:14-16). En hierdie preek lewer hy lank voor hy enigeen van sy Briewe geskryf het. Hy het waarskynlik sy eerste Brief, die een aan Galasië, omtrent in die tyd van Handelinge 20 se gebeure geskryf. Terloops, die boek Handelinge is natuurlik lank na die tyd eers geskryf, maar dit vertel die geskiedenis van direk na Pinkster.

7.    Nogeens, waarom hou die gelowiges uit die Jode dan so lank aan met die wet? Wel waarom sukkel Petrus so, Petrus wat ’n apostel was wat gedurende die hele aardse bediening van Jesus met Hom saamgeloop het? Hoe moes die Here nie met hom werk nie om hom te oortuig om die evangelie aan die heiden Kornelius te bring! (Hand 10) En waarom val hy later weer terug in sy ou oortuigings en weier om nagmaal saam met heiden-Christene te gebruik? Ons moet onthou hoe sterk godsdienstige oortuigings is, veral as ’n mens dit met “moedersmelk ingekry het” en jou hele lewe ernstig daarvolgens geleef het. En ons moet ook onthou hoe radikaal die veranderings was wat daar in die geloof van die Ou Testament gekom het as gevolg van Jesus se werk. Die hele tempel-, priester-, offerdiens het verval. Die besnydenis het weg geval. Die honderde wette van Levitikus het. Dit was vir die gelowige Jode ’n skok om te aanvaar dat hulle nie God se guns moes verdien deur sy wet te hou nie. En het baie van ons nie ook so ’n paar reëls waaraan ons krampagtig vashou om in die Here se goeie boekies te bly nie?

 

Kan ons die hele diskussie beter verstaan uit die Briewe? Wat sê Paulus oor die wet en ons saligheid?

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 3

George Müller

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 3

Hoeveel persone is daar in God?

 

Daar is drie persone in die een ware en lewende God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hulle is dieselfde in in wese, gelyk in mag en heerlikheid. [Deel onderstreep is die antwoord vir kinders.]

Teksvers:

(2 Korintiërs 13:13)

Kommentaar:

Die Skrif sê vir ons dat daar drie, maar tog net een God, is. Ons moet gedoop word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19).God is oneindig en onverdeel, en tog is Hy Vader, Seun en Heilige Gees. Dit moet ons glo. Van Hom en deur Hom en aan Hom is alle dinge. Hy is ons absolute Eienaar, Heerser en Vader – ons Maker en Verlosser en Heiligmaker.

Hierdie kommentaar is deur Richard Baxter (1614 – 1691), ‘n Engelse Puritein geskrywe. Hy was kapelaan in die leër van Oliver Cromwell. Toe James II onttroon is, is hy vervolg en sit vir 18 maande in die tronk. Hy hou aan preek en skryf:  “I preached as never sure to preach again, and as a dying man to dying men.” Hy was ook ‘n digter en skrywer van liedere. Hy skryf ook sy eie kategismus vir sy familie – hierdie gedeelte kom daaruit.

 

Gebed:

Nie sonder bewing, pleit ons by die heilige geheimenis van die Drie-eenheid: die Vader, die Seun en die Heilige Gees van wie ons in die Skrif geleer het:  in alle nederigheid aanbid ons hierdie Eenheid in die Drie-eenheid en hierdie Drie-eenheid in eenheid. Laat ons hierdie verdeling soos verklaar in die Skrif en die eenheid ook nougeset aan ons oorgedra, in gedagte hou en erken. Daar is net een God.  As ons dus lees dat God die wêreld geskep het, verstaan ons dat die Vader, van wie alle dinge is, deur die Seun, van wie alle dinge is,  in die Heilige Gees, van wie alle dinge is, die wêreld geskep het.

 

As ons dan lees dat die Seun mens geword, gely, gesterf en opgestaan het vir ons verlossing, glo ons dat die Vader en die Heilige Gees, alhoewel hulle nie aan sy menswording en lyding deelgeneem het nie, hulle, desnieteenstaande, ons verlossing deur die Seun bewerk het. En as daar gesê word dat ons sondes deur die Heilige Gees vergewe word, glo ons dat hierdie seëning, en alle ander seëninge wat aan ons gegee word, deur een, ware, lewende en ewigdurende God – die Vader, die Seun en die Heilige Gees – gegee word. Aan Hom ons lof en dank vir ewig en ewig. Amen.

 

Hierdie gebed is deur Heinrich Bullinger (1504 – 1575), ‘n Switserse hervormer en opvolger van Zwingli as hoof van die Switserse kerk, geskryf. Bullinger het teologiese en geskiedkundige werke geskryf – ongeveer 127 boeke.  Daar bestaan ongeveer 12 000 briewe aan en van Bullinger. Dit is die mees uitgebreide korrespondensie van die Hervorming wat behoue gebly het. Hy het met onder andere Henry VIII, Edward VI en Elizabeth I van Engeland, Christiaan II van Denemarke en Frederick III, keurvors van Rome, gekorrespondeer. Hierdie aanhaling kom uit: Of The Holy Ghost: The Eighth Sermon in The Other Eight

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

Is jou kerk ‘n erdepot of mikrogolf?

 “There is no worse screen to block out the Spirit than confidence in our own intelligence.” –Johannes Calvyn

Is jou kerk ‘n erdepot of mikrogolf?

‘n Mikrogolf is goed vir baie dinge – veral gemak. Die mikrogolf het ook baie nadele. Hy glo ons moet probeer om ‘n “erdepot-kerk” in plaas van ‘n “mikrogolf-bediening” te wees. Hoekom?

 

  • ‘n Mikrogolf word gou warm, maar behou nie sy hitte nie. Mikrogolf-bedienings brand warm en gou in die begin, maar is nie volhoubaar vir langtermyn groei nie. Erdepot-kerke behou sy hitte vir ‘n lang tyd. Hulle mag aanvanklik langer neem om warm te word, maar hulle word nie sommer skielik koud nie. ‘n Mikrogolf meet tyd in sekondes, ‘n erdepot in ure.
  • ‘n Mikrogolf maak nie egalig warm nie. As jy iets in ‘n mikrogolf warm maak, kan een deel baie warm wees en die ander deel nog koud. Mikrogolf-bedienings is net so: uitstekende sang of prediking, maar koue dissipelskap- of gebedsbediening – warm bo en koud onder. In ‘n erdepotkerk word die hitte egalig versprei na alle aspekte van die gemeentelewe. Klem word gelê op daardie bedienings wat nie noodwendig altyd op die voorgrond is nie.
  • ‘n Mikrogolf het monitering nodig. Jy moet die kos kontroleer om seker te maak dit is warm genoeg. Jy kan nie sommer die mikrogolf op tien minute stel en daarvan vergeet nie. In erdepot-kerke is daar sisteme in plek wat monitering onnodig maak. Alles in die kerk het nie die goedkeuring van die senior leraar nodig nie – mikrobestuur is onnodig. In so ‘n kerk is bekwame leiers in plek en daarom is voortdurende monitering onnodig.
  • ‘n Mikrogolf is algemeen – jy kry dit in feitlik elke huis. Erdepotte sien jy selde. As jy een sien, trek dit jou aandag. As jy wil uitstaan sodat jou gemeente kan groei, moet jy ‘n erdepot wees. Moenie bang wees om anders te wees nie. Dit mag miskien langer neem om warm te word, maar die hitte word langer behou.

‘n Interessante vergelyking met baie waarheid in.

Hemel op aarde

J. A. Bengal

Hemel op aarde

Die seënuitsprake van Jesus in Matteus 5:3 – 12 het ‘n enorme rol in die kerk se denke gespeel – beide ten opsigte van Jesus en ook oor Christelike etiek en waardes. Verskillende mense lees hierdie seënuitsprake op verskillende maniere:

 

  • Dit is deugde waarna ons moet streef. Dit herinner elkeen van ons wat God van ons wat Jesus se Naam aanroep, verwag.
  • Hulle is nie juis ‘n lys van deugde nie, maar is die toegangvereistes vir iemand wat die koninkryk van God wil ingaan.
  • Dit is ‘n manifes reg aan die begin van Jesus se bergrede wat sê watter soort mense in die koninkryk van God ingaan en wie nie ingaan nie. Volgens hierdie siening konfronteer Jesus onmiddellik sy gehoor met wie “in” en wie “uit” is in sy koninkryk.

Ons kan nou stry oor watter benadering reg is, maar ons moet daarop let dat in elke benadering daar ‘n stel waardes is wat ons aandag nodig het.