Die Handelinge van die Apostels: Paulus se visioen van ‘n Masedoniese man (Hand 16:6-10) – Francois Malan
16:6 Van Antiogië in Pisidië af wou hulle reg weswaarts deur die Romeinse provinsie Asië na Efese toe gaan. Maar die Heilige Gees het hulle verhinder. Toe stap hulle reg noord na die provinsie Bithinië, al op die westelike grens tussen die ou Galasië, waar die egte Galasiërs gebly het, en die ou Frigië. Maar voordat hulle Bithinië bereik het lei die Heiige Gees hulle weer weswaarts deur Misië tot in Troas. Troas was ’n hawestad van Misië aan die Egeïese see, naby die ruïnes van die ou stad Troje.
Die Griekse woord chōra dui ’n gebied aan, en verwys soms spesifiek na die landelike gebied in onderskeid van die stad. Die woord diérchomai beteken deeglik deurgaan of net beweeg van die een punt na die ander. ‘Hulle het deur die gebied van Frigië en Galasië gegaan…’ Dit het aanleiding gegee tot twee verskillende teorieë oor die brief aan die Galasiërs: Die Noord-Galasiese teorie meen Paulus-hulle het in die gebied van die egte Galasiërs (in die stede Ankyra, Tavium en Pessinus) gemeentes gestig wat hy volgens Handelige 18:23 ’n tweede keer sou besoek het en toe tydens die derde sendingreis vanuit Efese die Galatebrief aan hulle geskryf het. Die Suid-Galasiese teorie meen Paulus-hulle het slegs deur die landelike gebied van Galasië gegaan, en dat die brief aan die Galasiërs verwys na die gemeentes in die uitgebreide Romeinse provinsie Galasië. Dit het die stede Antiogië, Ikonium, Listra en Derbe van Paulus se eerste en tweede sendingreis ingesluit. Hy sou die brief dan na die tweede sendingreis vanuit Korinthe geskryf het, moontlik selfs as sy eerste brief wat ons het. Die mikpunt van Paulus was duidelik om by Efese, die hoofstad van die Romeinse provinsie Asië uit te kom. Volgens Handelinge was Paulus se sendingstrategie veral om in stede te werk, hoofstede in die besonder.
Maar die Heilige Gees het hulle verhinder om die woord in Asië te verkondig, hoe word nie uitgespel nie. Maar dit is duidelik dat die Here op die stadium ’n ander plan vir Paulus gehad het. Later sou hy 2 jaar lank in Efese gaan werk (Hand 19).
16:7 In plaas van wes na Efese te stap, stap hulle toe noord deur Frigië en Galasië op pad na Misië en Bithinië, moontlik na die stede Prusa (Bursa), Nikomedië (Ismit) en Bizantium (Istanbul) in Bithinië. Weer eens word hulle planne deur die Here verander. Hier word ‘die Gees van Jesus’ die enigste keer in die Bybel gebruik vir die Heilige Gees. Daarmee word die noue eenheid van die Vader en die Seun en die Heilige Gees onderstreep. Die Jesus wie se begin van sy werk op aarde in die Lukas-Evangelie beskryf is (Hand 1:1), is aktief besig om sy werk vanuit die regterhand van die Vader op aarde voort te sit deur sy Gees in o.a. Paulus om hom te stuur waarheen die Vader en die Seun en die Gees besluit (vgl. Joh 14:17,17,23 dat die Gees en die Seun en die Vader in ons kom woon). Die Here maak die deur na die noorde vir eers vir Paulus toe. Hoe dit geskied het, word nie verder uitgespel as dat die Gees van Jesus hulle nie toegelaat het om noord te gaan nie. Jesus as die Heer van die sending, bepaal die roete. Dawid het reeds in Ps 31:15-16 gesê: ‘Maar ek, ek vertrou net op U, HERE! Ek sê: “U is my God, my tye is in u hand.” So bepaal die Here die roete en tye van sy dienskneg Paulus.
Later sou die boodskap van Jesus ook die noordelike dele bereik, vgl. 1 Petrus 1:1. By die sinode van Nicea (wes van Nicomedië) het keiser Konstantyn in 325 n.C. die Christendom as die offisiële godsdiens van die Romeinse ryk verklaar, en in 330 n.C. het hy Byzantium gekies as die setel van die Nuwe Rome.
16:8 Hulle is toe nie noord deur Misië na Bithinië aan die Swartsee toe nie, maar wes deur Misië tot by Troas, die hawe van Misië aan die Egeïese See, 20 km suid van Troje. Die woord parérchomai kan ‘verbygaan’ of ‘deurgaan’ beteken, vgl. Luk 18:37). In Troas het daar ook ’n gemeente begin (vgl. Hand 20:6-11; 2 Kor 2:12; 2 Tim 4:13).
16:9 In Troas kry Paulus ’n derde aanwysing oor die Here se plan vir hierdie sendingreis. Dit verklaar ook die doel van die vorige twee deure wat die Here vir hulle toegemaak het. Paulus kry die aanwysing in ’n visioen (hórama) in dié nag, waarskynlik die eerste nag in Troas. ’n Visioen is ’n gebeure waarin iets verskyn wat vir jou denke werklik en betroubaar is, hoewel dit nie werklik teenwoordig is nie, maar die invloed van ’n goddelike mag of agent impliseer. In die ander gesigte waarvan in Handelinge vertel word is dit òf die Here self wat verskyn (18:9; 23:11 en 9:1) òf sy engel (27:23). Daarom is die man van Masedonië ook ’n goddelike boodskapper, soos Paulus dit ook verstaan het (16:10). Dit kan vergelyk word met Daniël 10:13,20 se engel van Persië en engel van Griekeland wat aan ’n volk verbind is en vir hulle optree; wat ook die merktekens van die volk dra waaraan hulle herkenbaar is, bv. aan hulle drag of taal. Masedonië was ’n Romeinse provinsie oorkant die Egeïese See van Asië af, met Thessalonika as hoofstad.
Die Masedoniese man het daar in Paulus se nagtelike visioen gestaan en hom baie ernstig en ordentlik gevra: ‘Kom oor (die see) na Masedonië, help ons’ (boêthéō help – om te voorsien wat ons nodig het; ons – die mense en die land Masedonië). Daarmee rig die Here Paulus se gesig na die weste en open Hy die sending na die westerse mense, as ’n deel van die ‘tot aan die einde van die aarde’ van Jesus se opdrag in Hand 1:8. Die hulpgeroep getuig ook van die bankrotskap van die trotse Romeinse en Griekse kultuur met al hulle afgode wat nie hulle mense werklik kan help nie.
16:10 Vir die eerste keer praat die skrywer (Lukas) van ‘ons’ – ‘ons probeer om na Masedonië te gaan.’ Tot hier het hy deurgaans in die derde persoon geskryf: hulle en hy. Die ‘ons’ strek tot by vers 16:17, wat aandui dat Lukas saam met Paulus en Silas en Timotheus tot in Filippi gegaan het en waarskynlik in die gemeente gearbei het tot na Paulus se derde sendingreis. Van Handelinge 17:1 af is dit weer derde persoonsvertellings tot aan die einde van Paulus se derde sendingreis in Hand. 20:5-6, wat vertel dat ‘ons’ van Filippi af na Paulus-hulle in Troas gevaar het. Daarvandaan bly die ‘ons’ gedeeltes tot aan die einde van Handelinge. Lukas bly by Paulus tydens sy besoek aan Jerusalem (21:15), die twee jaar wat Paulus in gevangenis in Sesarea was (27:1), met die bootreis na Rome, die skipbreuk op Malta (Hand 27:27,37; 28:1, en Paulus se twee jaar onder bewaking in sy eie huis in Rome (28:16). In Kolossense 4:14 wat in dié tyd geskryf is, sê Paulus ‘Lukas, die geliefde dokter…groet julle’ (vgl. ook Filemon in 1:24, die brief wat handel oor Onesimus. Die brief aan Filemon is saam met die brief aan die Kolossense gestuur, Kol 4:7-9). In 2 Timotheus 4:11 sê Paulus: ‘Net Lukas is nog by my.’ Dit was waarskynlik ná Paulus se aanvanklike vrylating in Rome, en sy moontlike reise daarna. Daarna is hy weer gevang en toe onthoof. Lukas was waarskynlik Paulus se permanente helper ná die derde sendingreis tot Paulus se dood. Die dele van Handelinge waar Lukas teenwoordig was, word ook uitvoeriger vertel as die dele wat hy van ander moes gehoor het.
Paulus kon die hulpgeroep van die Masedoniese man nie anders interpreteer nie as dat dit ’n soeke was om die evangelie te hoor, die enigste werklike hulp vir die lewe saam met die lewende God en uit die finale veroordeling en ewige verderf. Paulus en sy metgeselle interpreteer die visioen as ’n oproep en aanwysing van God om die evangelie aan die Masedoniërs te gaan verkondig. Dit was dan die rede waarom die Gees hulle telkens verhinder het om ’n ander rigting in te slaan. So het hulle God se plan met die sendingreis gevolg. Hulle ‘ons probeer om na Masedonië te gaan’ veronderstel die soeke na ’n geskikte skip vir die reis.
Skrywer: Prof Francois Malan