Danksegging onder alle omstandighede

Augustinus het gesê: Nothing, therefore, happens unless the Omnipotent wills it to happen, or he brings it about himself.

Danksegging onder alle omstandighede

Paulus sê ons moet onder alle omstandighede dankbaar wees – goed en sleg. Dankbaarheid is nie ‘n natuurlike deug nie, maar ‘n vrug van die Gees. Luister na Paulus se aanklag teen mense: Al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie (Romeine 1:21). Danksegging is ‘n erkenning van afhanklikheid. Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? (1 Korintiërs 4:7).

 

 

As God se kinders moet ons Hom onder alle omstandighede dank. Lees net weer die verhaal van die tien melaatse mans wat Jesus genees het – al tien roep om genesing, al tien is genees, net een kom terug om vir Jesus te bedank (Lukas 17:11 – 19). Ons is ook so – gou om God se hulp te vra, maar ons vergeet van dankie sê. Ons moet ‘n gees van dankbaarheid kweek.

 

Ons het probleme om God te dank as die omstandighede sleg is. Maar ons glo tog dat Hy in beheer is en onder alle omstandighede aan die werk is. Ons moet hierdie waarheid aanvaar al weet ons nie hoe Hy alles ten goede gaan laat meewerk nie. Ons moet besef dat God op ‘n proaktiewe en nie op ‘n reaktiewe wyse werk. Hy reageer nie op ons omstandighede om die beste van ‘n slegte saak te maak nie. Hy weet vooraf presies hoe hy die omstandighede gaan gebruik. Josef sê vir sy broers: Dis nie julle wat my hierheen gestuur het nie (Genesis 45:8). Later sê hy vir hulle: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:20). Daarom sê Paulus dat ons onder alle omstandighede dankbaar moet wees.

 

Is ons dankbaar genoeg?




Ek kies om God te vertrou

Most assuredly God will require an account of the children from the parents’ hands, for they are His, and only lent to their care and keeping. —A.W. Pink

 

Ek kies om God te vertrou

Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ‘n blote mens aan my doen? (Psalm 56:4 – 5).

Ons moet doelbewus kies om God te vertrou. Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kern ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God! (Psalm 42:12).

Ons lees van Dawid, die dapper soldaat, wat van Saul wegvlug na koning Akis van Gat. Hy hoor koning Akis se amptenare gesels: Toe Dawid besef wat hulle sê, het hy baie bang geword vir koning Akis van Gat (1 Samuel 21:12). Psalm 56 word aan hierdie episode verbind, maar hier sê die psalmis: Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.

 

In die psalms lees ons herhaaldelik dat God vertrou word. Ons sien dit ook in Psalm 23: Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. Ook Psalm 16:8: Ek het die Here altyd by my; omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. God is altyd by ons. Hy sê self: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie (Hebreërs 13:5).

 

Die probleem is dat ons sy teenwoordigheid moet erken – gaan ons sy beloftes van voortdurende beskerming en versorging glo of nie. Dit verg ‘n wilsbesluit van ons kant af. Maar voordat ons so ‘n wilsbesluit kan neem het ons ‘n sekere kennis nodig. Ons moet weet dat God soewerein, wys en liefdevol is.

 

 

 

 




Ons leer deur swaarkry

Peace is such a precious jewel that I would give anything for it but truth. —Matthew Henry

Ons leer deur swaarkry

Omdat God deur swaarkry in ons lewens werk, moet ons leer om te reageer op wat Hy doen. Sy werk beteken nie dat ons geen verantwoordelikheid het nie. Daarom moet ons uit swaarkry leer. Hoe doen ons dit?

 

  • Ons onderwerp ons daaraan – vrywillig. Natuurlik moet ons die gevolge van swaarkry probeer minimaliseer. Soms is dit duidelik wat God probeer doen. Dan moet ons ons in nederige gehoorsaamheid aan Hom onderwerp en Hom vertrou.
  • Ons moet die woord van God op die toestand van toepassing maak. Dit gee ons nuwe insigte. Martin Luther sê: Were it not for tribulation I should not understand the Sciptures.  Swaarkry versterk as ‘t ware die onderrig van God se woord – ons sien waarhede wat ons nie vantevore raakgesien het nie. Soms verander “kopkennis” in “hartkennis.” Teorie word nou vir ons ‘n werklikheid. Die Skrif en beproewing werk sinergisties.
  • Ons moet ons beproewings en die lesse wat ons geleer het, onthou. God wil nie net hê dat ons ons beproewings verduur nie – ons moet hulle onthou en uit hulle leer. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nog jy nog jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom (Deuteronomium 8:2 – 3).

 

In die Bybel kry ons voorbeelde van wat God doen:

  • Snoei: Elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra (Johannes 15:2). Om nuttelose lote af te sny, lei tot meer vrugte. In ons geestelike lewens moet God ons snoei sodat ons ontslae raak van al die ongewenste dinge in ons lewens – die wêreld se plesier en besittings. Hierdie is nie ware vrugte nie. God snoei ons sodat ons meer vrugte sal dra.
  • Heiligheid: Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel (Hebreërs 12:10). Wat is die verband hier? Beproewing openbaar die omvang van ons sondige natuur. Sodra beproewing kom, besef ons dat die vrugte van die Gees nie diep in ons lewens wortel geskiet het nie. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God (Hebreërs 12:11).
  • Afhanklikheid: Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5). Ons leef in ‘n wêreld wat onafhanklikheid en selfvertroue hoog aanslaan. Ons vertrou op ons kennis van die Skrif, ons besigheidsvaardighede, ens. Maar ons moet op God en nie op onsself vertrou nie. In 2 Korintiërs 1:8 – 9 vertel Paulus van sy probleme –  ver bo ons kragte. Hoekom? Dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. So leer Paulus om volledig op God te vertrou – geestelik en fisies. Paulus leer dat hy nie op sy krag, maar op God se genade moes vertrou. Daarom kon Paulus later sê: Daarom is ek bly oor swakhede … as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:10).
  • Volharding: die ontvangers van die Hebreërbrief het baie gely. Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het (10:36). Later sê hy: Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop (12:1). Volharding stel ons in staat om ons doel na te streef ten spyte van hindernisse en probleme. Volharding is nie passief nie – ons streef na vore ten spyte van probleme. As julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard (Jakobus 1:3); Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding (Romeine 5:3). Volharding ontwikkel in die smeltkroes van beproewing, maar dit kry energie in geloof. Volharding volg op afhanklikheid.
  • Diens: God bring Josef in die farao se paleis deur die tronk. So leer God hom sodat hy later die verantwoordelikhede wat God aan hom wou toevertrou kon hanteer. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer (2 Korintiërs 1:4). Almal gaan beproewing ondervind; almal het ‘n vriend wat omgee nodig om hom tydens hierdie moeilike tye te bemoedig. Ons moet aan ander gee wat ons van God ontvang het. 
  • Die gemeenskap van lyding: Johannes skryf aan die gelowiges in Asië wat vervolg word: Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding (Openbaring 1:9).  As ons ly word ons deel van ‘n spesiale gemeenskap met ander gelowiges wat ook swaarkry. Dit bring ons almal op dieselfde vlak. Maak nie saak hoe ryk ons is nie, ons het almal ‘n Verlosser nodig – ryk en arm, swak en sterk. Swaarkry breek hindernisse tussen mense af
  • Ons verhouding met God: beproewing verdiep ons verhouding met God. Ons leer om voor sy soewereiniteit te buig en sy liefde te ondervind. Soos Job kan ons dan uitroep: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien (42:5). Ons vorder van weet van God tot om God te ken.

 

Moeilik om te glo as ons midde in die swaarkry staan, maar dit is vir ons ‘n leergeleentheid.




Groei deur swaarkry.

Suffering is God’s surgery that leads to health when we respond by faith. —Ed Welch

 

Groei deur swaarkry.

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings  oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming (Jakobus 1:2 – 4).

 

 

Die Cecropia-mot

Hierdie is ‘n ongelooflike gebeurtenis in die natuur. Met groot moeite bevry die mot hom uit sy kokon. Iemand het hierdie gesukkel aanskou. In ‘n poging om te help, neem  hy ‘n skêr en sny die kokon oop. Gou kom die mot te voorskyn. Sy vlerke was heeltemal verskrompel. Die persoon kyk wat nou gaan gebeur. Die vlerke bly swak. Die mot kon glad nie sy vlerke oopsprei en vlieg nie – hy kruip rond. Hy is gefrustreerd, want hy kan nooit die pragtige mot wees wat God bedoel het hy moet wees nie.

 

Wat die persoon nie besef het nie, was dat die gesukkel om by die kokon uit te kom ‘n noodsaaklike deel van die ontwikkeling van die spiersisteem van die mot was. Dit stel hom in staat om sy vlerke uit te sprei. Deur die mot se stryd te vergemaklik, het die persoon die mot se bestaan verdoem.

Die teenstand wat ons in die lewe ondervind is baie soortgelyk. God gebruik dit om ons geestelike “spiere” te ontwikkel.

 

Ons kan seker weet dat die ontwikkeling van ‘n geestelike karakter nie sonder swaarkry sal gebeur nie. Dink aan Paulus se beskrywing van die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22 – 23). Die eerste vier – liefde, vreugde, vrede, geduld – ontwikkel veral as ons swaarkry. Ons mag dink ons het ware Christelike liefde totdat iemand ons beledig; ons dink ons het Christelike vreugde totdat een of ander ramp of teleurstelling ons tref; teenstand vernietig ons vrede en beproef ons geduld. God gebruik swaarkry om vir ons te wys dat ons ‘n behoefte aan groei het.