Vertrou God vir wie jy is.

Love is not affectionate feeling, but a steady wish for the loved person’s ultimate good as far as it can be attained – C. S. Lewis

 

Vertrou God vir wie jy is.

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder … U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is (Psalm 139:13 en 16).

Baie mense sukkel om hulleself te aanvaar soos hulle is. Ons moet God vertrou vir wie ons is. Psalm 139 help ons baie:

 

  • God het ons gemaak wie ons is: God het my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder (vers 13). Wat die psalmis hier sê, is dat God toesig hou oor die biologiese proses in my moeder se baarmoeder. Die woord wat hier gebruik word vir my innerlike wese wat God vorm, is niere.  Die Jode het dit as die plek van ons emosies en morele sensitiwiteit gesien. Letterlik sê hierdie vers dat God my persoonlikheid geskep het. God maak ons wie ons is – fisies, verstandelik en emosioneel. Job sê: U hande het my gevorm, my gemaak … Dink daaraan dat U my soos klei gevorm het …het U my nie soos botter berei, soos kaas gevorm nie? U het my vel en vleis gegee, U het my bene en senings aanmekaargeweef (Job10:8 – 11). Ons lees ook: Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm (Psalm 119:73); God sê vir Jeremia: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken (1:5). Die psalmis tob nie oor hoe God hom gemaak het nie: Wat U gedoen het, vervul my met verwondering (139:14). Die psalmis prys God nie omdat hy aantreklik was nie, maar omdat God hom gemaak het. Die ewige God wie se wysheid oneindig is en wie se liefde volmaak is, het my en jou gemaak. Hy wil hê dat ons moet wees net soos ons is, want Hy het jou lief. Selfaanvaarding beteken dus basies dat ek God vertrou vir wie ek is. En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? (1 Korintiërs 4:7).
  • Vertrou God vir wat ek is. God het ons geskep presies soos Hy dit wou hê sodat ons sy plan vir ons kan vervul. In Psalm 139:16 sê die psalmis: Al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hierdie vers het twee moontlike betekenisse:
  1. Al die ondervindings van die psalmis se lewe is in God se boek opgeskrywe – wat in sy lewe sal gebeur; God se plan vir sy lewe. Dit pas beter in by die voorafgaande verse. God se plan vir ons sluit in wat Hy wil hê dat ons moet wees en doen. Daarom gee Hy aan ons spesifieke geestelike gawes.

 

Wie ons is, is nie ‘n biologiese toevalligheid nie: God het dit vir jou beplan. Omdat God ons dae bepaal het, het elke dag betekenis. Dit beteken nie ons moet fatalisties die status quo aanvaar nie. As ons die geleentheid het om ons situasie op so ‘n manier te verbeter dat dit God sal verheerlik, moet ons dit doen. God se woorde aan die ballinge in Babilon moet ons bemoedig: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jeremia 29:11). Dit openbaar God se hart vir sy kinders. God se plan is goed. Daar is baie dele van sy plan wat vir ons skadelik lyk, maar ons moet God vertrou ten spyte van alles wat vir ons negatief lyk.

  • Vertrou God vir leiding. As God dan ons dae bepaal het, kan ek hom vertrou om my te lei om sy plan te verwesenlik? Die Psalmis sê: Hy lei my op die regte paaie (Psalm 23:3). Die beeld is dié van ‘n herder wat sy skape lei. Die inisiatief lê by die herder; hy besluit waar is drinkplekke; hy lei die kudde. As ons herder het God onderneem om ons te lei.

 




KEN GOD SE LIEFDE

I love mankind! It’s people I can’t stand – Linus, Charlie Brown se vriend. ‘n Mate van waarheid hierin?

Ken God se liefde

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? … Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet (Romeine 8:35, 37).

Op een of ander stadium bevraagteken ons God se liefde vir ons – veral as dinge skeefloop.

Hoe meer ons God se soewereiniteit aanvaar, hoe meer bevraagteken ons sy liefde – hoekom doen Hy nie iets om ons swaarkry te verlig nie? Ons hoef nie tussen God se soewereiniteit en sy liefde te kies nie – die Bybel bevestig beide.

God is liefde (1 Johannes 4:8). Daarmee saam sê Johannes: God is lig (1 Johannes 1:5). [Lig = heilig]. Liefde en heiligheid som God se karakter, soos in die Bybel geopenbaar, op. Omdat God liefde is, is dit ‘n noodsaaklike deel van sy wese om goed te te doen en barmhartigheid aan sy kinders te bewys. Psalm 145 praat oor God se ondeurgrondelike grootheid, dat Hy vol  liefde is en vir almal goed is. Hy is goed vir alles wat Hy geskep het (145:8 – 9, 17). Selfs in sy rol as regter oor opstandige mense sê Hy: Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe (Esegiël 33:11).

As rampe ons tref, is ons geneig om aan God se liefde te twyfel. In die proses kom Satan en versoek ons verder. Ons kan nie keer dat ons versoek word nie, maar ons kan God eer deur op Hom te vertrou. Aan die begin van sy swaarkry sê Job: Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Heer (1:21). Later sê Hy: God laat nie aan my reg geskied nie … Dit baat ‘n mens nie om die wil van God te doen nie (34:5, 9).

As ons dan aan God se liefde vir ons twyfel, aan watter waarhede moet ons dan vashou as wapens teen hierdie versoekings?

 

 




God verduidelik nooit nie

 “You will not see anyone who is truly striving after his spiritual advancement who is not given to spiritual reading.” – St. Athanasius

God verduidelik nooit nie

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).

God verduidelik nooit wat Hy doen en hoekom Hy dit doen nie. Hy gee nooit vir Job redes vir sy lyding nie. 

God het ‘n groter doel met Satan se aanslae. Na Job 2 verdwyn Satan heeltemal van die toneel en die boek eindig met ‘n gesprek tussen Job en God – nie tussen God en Satan nie. Hierdie gesprek lei tot ‘n nuwe, dieper verhouding tussen God en Job: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien (42:5). Job sien eers later die voordele van teenspoed in sy lewe.

Presies dieselfde gebeur met Josef. Hy het beslis geen voordele gesien toe hy as slaaf na Egipte weggevoer is nie. Tog, toe die droogte kom, kon hy sy familie help. Dit maak nie saak of ons enige voordele in ons swaarkry sien nie – ons word opgeroep om God te vertrou. In sy liefde sal Hy die beste vir ons doen; in sy wysheid weet Hy hoe om die beste vir ons te bewerkstellig. Ons kan nie vir God vra hoekom Hy sekere dinge doen nie? Ons kan nie van God vra om sy optrede te regverdig nie.

Daar is sekere psalms wat begin met ‘n “waarom” vraag (Psalm 10, 22, 74). Hierdie waarom hou nie onbeperk aan nie, want hierdie psalms eindig almal met vertroue in God. Hierdie waarom-uitroepe is eintlik ‘n natuurlike reaksie op pyn. God antwoord nooit Job se hoekom/waarom vraag nie. Wat Hy wel doen is om vir Job te sê Wie. Job moes hoor Wie in beheer was.

Ons moet leer om God te vertrou as Hy nie ons waarom/hoekom-vrae beantwoord nie – as ons nie verstaan wat Hy besig is om te doen nie. Hy is in beheer.

 

 

 

 




God se soewereiniteit en ons verantwoordelikheid

 “When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves.” 

Victor Frankel

God se soewereiniteit en ons verantwoordelikheid

Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit (Nehemia 4:9).

Die groot gevaar van ons aanvaarding van God se soewereiniteit is ‘n fatalistiese gesindheid van ons kant. In Handelinge 4 verskyn Johannes en Petrus voor die Joodse Raad. Hulle kom terug by hulle medegelowiges en vertel wat alles met hulle gebeur het. Wat was die reaksie van almal daar bymekaar? Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid (vers 24).

Later lees ons: Hulle (Herodes en Pontius Pilatus) het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. Die dissipels erken God se soewereiniteit, maar sien dit as ‘n rede om te bid – omdat God soewerein is, kan Hy hulle gebede verhoor. As Hy nie soewerein was nie, sou dit geen doel gedien het om te bid nie.

 

Hou sommer ook my huisvesting gereed, want ek hoop dat God, in antwoord op julle gebede, my aan julle sal teruggee (Filemon 22). Paulus maak nie asof hy God se wil ken nie; hy sê nie dat hy terugkom nie, maar dat hy hoop om na hulle terug te keer. Hy weet dat God se soewereiniteit kan verseker dat hy losgelaat word uit die gevangenis Daarom vra hy vir Filemon om te bid vir hom. Gebed is die uitdrukking van Paulus se vertroue in God se soewereiniteit.

 

Maar as ons dan so afhanklik van God is, is dit dan nodig dat ons self iets moet doen? ‘n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie (Spreuke 20:4); Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek (Prediker 10:18). Ja, ons moet op die soewereine wil van God vertrou. Hy werk in die alledaagse omstandighede van die lewe. Dit beteken egter nie dat ons nie ook ‘n verantwoordelikheid het nie.