Voorgevoelens – Hermie van Zyl

Cindy vra:

My suster het my vandag vertel dat sy op Nuwejaarsdag die gevoel gekry het dat hierdie jaar haar laaste sal wees, dat sy gaan doodgaan. Kan dit waar wees? Is daar al mense met wie dit gebeur het?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

As dit gaan oor iets soos ’n voorgevoel oor wat moontlik in die toekoms kan gebeur, betree ons die terrein van die parapsigologie, dit is die sielkunde van buite-normale verskynsels. Dit sluit alles in wat ons gewoonlik as buite die parameters van normale menslike gewaarwordinge beskou, waaronder iets soos prekognisie, ook bekend as voorbodes, voorgevoelens, heldersiendheid (clairvoyance), of – soos die ou mense gesê het – dat sekere mense met die helm gebore is. Sulke mense sien, beleef en voel dinge aan wat gewone mense nie ervaar nie. Hulle is andersins doodnormale mense, gewoonlik nie aandag- of sensasiesoekers nie, maar sal aan dié na aan hulle laat blyk dat hulle ’n sterk voorgevoel het dat iets gaan gebeur (gewoonlik iets sleg). Soms sal hulle dit waag om voorspellings oor die toekoms te maak – dikwels vaag, ander kere meer spesifiek – waarvan sommige (lyk of dit) uitkom, ander nie.

Dit spreek vanself dat die terrein van die parapsigologie ’n baie fassinerende een is, maar terselfdertyd hoogs omstrede. Die afgelope eeu is daar heelwat navorsing gedoen oor die verskynsel van prekognisie of voorkennis van die toekoms (of die bewerings daaroor), maar dit bly ’n hoogs kontensieuse kwessie waaroor daar nie afdoende antwoorde is nie. Die hoofstroom akademiese wêreld staan uiters skepties oor die parapsigologie, en die meeste sielkundiges en psigiaters beskou dit nie as ’n wetenskap nie. Die argument is gewoonlik: egte wetenskap opereer onder andere met die beginsel van falsifiseerbaarheid; met ander woorde, hipoteses moet nie net as waar bewys kan word nie, maar ook as vals. En dit is juis die probleem by die parapsigologie: die ondersoekers op hierdie terrein is reeds oortuig van die egtheid van hierdie verskynsels en soek dan net getuienis om dit te bevestig. Indien getuienis tot die teendeel gevind word, word dit geïgnoreer en verder gesoek na bevestigende getuienis. En dit is nie hoe wetenskap werk nie, word gesê. Egte wetenskap moet ook oop wees vir die moontlikheid dat jou hipotese as vals bewys kan word. Die gevolg is dat ’n mens vandag ver sal moet soek na akademiese instellings soos universiteite wat parapsigologie by hulle sielkundeleerplan insluit. Navorsing hieroor is deesdae hoofsaaklik beperk tot privaat gefinansierde instansies. Laasgenoemde word bedryf deur mense wat ’n besondere belangstelling in hierdie terrein openbaar, en hulle is dikwels opgeleide psigiaters en sielkundiges.

Dit is presies op hierdie punt dat die saak vanuit Bybels-Christelike hoek baie interessant word. Die hele Bybel is immers gebaseer op die premisse dat daar ’n geestelike wêreld is wat die fisiese onderlê, dat wat ons met ons normale sintuie kan waarneem eintlik maar net ’n fraksie van die werklikheid is. Die Bybel is daarom boordensvol met mense wat visioene het van ’n “ander wêreld” wat nie net as werklik ervaar word nie, maar wat ook ons denke en optrede in die alledaagse werklikheid grondig beïnvloed en vorm. Dink aan Jakob wat ’n visioen het van engele wat op en af beweeg tussen hemel en aarde (Gen 28:12-17), engele wat aan mense verskyn (bv Gen 18; Matt 1:20-23; Luk 1:26-27), die Here wat die oë van Elisa se slaaf open om te sien dat hulle omring is van hemelse perde en strydwaens van vuur wat hulle beskerm teen die vyand (2 Kon 6:17), profetiese vergesigte van toekomstige gebeure en van ’n Redder wat sal kom (bv Sag 3:8; 9:9-10), Petrus wat ’n visioen het waar hy op ’n dakstoep besig is om te bid (Hand 10:10-16), die dissipels en later Paulus wat ontmoetings het met die opgestane Here Jesus (Joh 20:19-29; Hand 9:3-6), en die hele Openbaringboek wat uit een majestieuse visioen bestaan van ’n hemelse wêreld wat ons huidige wêreld oorspan, rig en stuur. En so kan mens die voorbeelde vermenigvuldig; daar is omtrent nie ’n bladsy in die Bybel waar die bo-sintuiglike wêreld en gepaardgaande parapsigologiese ervarings nie ter sprake kom nie. Trouens, dis die hele perspektief waaruit die Bybel geskryf is. Sonder erkenning van hierdie perspektief word die hele betekenis van die Bybel betekenisloos.

Om meer spesifiek die kwessie van voorgevoelens aan te raak, kan ons die geskiedenis van Paulus van nader bekyk. Paulus het teen die einde van sy sendingloopbaan algaande oortuig geraak dat sy lewenseinde ook naderkom. So sê hy vir die ouderlinge van Efese dat hy hulle nie weer sal sien nie (Hand 20:25,38). Boonop het ’n profeet met die naam Agabus Paulus se voorgevoel bevestig toe hy op ’n simboliese manier Paulus se hande vasbind en sê dat Paulus oorgelewer sou word aan die heidene. Waarop almal toe baie ontsteld reageer en Paulus afraai om Jerusalem toe te gaan. Maar Paulus hou by sy planne, oortuig dat hy in die hande van die Here is (Hand 21:10-14). Wanneer Paulus uiteindelik in Rome is, is hy duidelik besig om oor sy naderende dood te dink (Fil 1:21-23; 2:17), tog is hy nog vol moed dat hy dalk weer ’n draai by die Filippense sal kan maak (1:24-26; 2:23-24). Ten spyte van sy voorgevoel maak hy dus nog planne vir die lewe hier op aarde, totdat die teendeel duidelik blyk. En volgens ons beste kennis was dit Paulus nie gegun om die Filippense nog ’n keer te besoek nie; hy het kort na sy brief aan die Filippense die marteldood in Rome gesterf. Die punt is: selfs in die aangesig van die dood – en sy sterk voorgevoel hieroor – het Paulus nie in swaarmoedigheid verval oor sy lot nie, maar steeds deel van die lewe gebly, wetende dat einde ten laaste dit die Here is wat die laaste woord oor sy lewe spreek, nie sy voorgevoelens nie, al het dit in hierdie geval waar geblyk te wees.

Kom ons probeer saamvat en sin maak uit wat ons tot sover beredeneer het:

  • Wetenskap en Bybelse getuienis staan nie teenoor mekaar nie, maar bied verskillende perspektiewe op dieselfde werklikheid, elkeen vanuit sy eie hoek. Die wetenskap opereer slegs met wat voor oë, toetsbaar, herhaalbaar en falsifiseerbaar is. Dit is sy mandaat, en ons moet niks anders van die wetenskap verwag nie. Dit is daarom verstaanbaar dat die wetenskap baie terughoudend is om ’n terrein soos die parapsigologie as wetenskap te beskou. Dit wat wel toetsbaar op hierdie terrein is, kan dikwels op ander, heel natuurlike maniere verklaar word. Maar nou weet ons ook dat die wetenskap nie naastenby alle verskynsels kan verklaar nie; dit beskik gewoon nie oor die instrumentarium en metodologie om alles wat eg en waar is, te ondersoek en tot onweerlegbare gevolgtrekkings te kom nie. Maar net omdat iets nie toetsbaar is nie, beteken dit nog nie dat dit vals is nie. Daar is baie dinge waarvoor die wetenskap (nog) nie antwoorde het nie, maar wat nogtans werk, soos bv sekere medisynes. Vir lank het mense geweet dat die wilgeboom se blare ’n kuur vir hoofpyne is. Maar niemand het geweet hoekom nie. Totdat navorsing in die middel 1800’s die aktiewe bestanddeel daarin gelokaliseer het wat op sy beurt gelei het tot een van die bekendste hoofpynpille vandag – aspirien. Dink ons verder oor die Bybelse getuienis, moet ons sê dit werk ietwat anders as die wetenskap. Dit het vir seker ook met die werklikheid te doen, maar vanuit ’n ander perspektief, naamlik dat daar ’n geestelike werklikheid is wat nie so direk voor oë is nie maar wat ons sigbare werklikheid transendeer, onderlê en deurkruis. Wie oog hiervoor kry, weet dat ons sigbare werklikheid deur die transendente God in aansyn geroep is, en steeds onderhou en na sy voltooiing gevoer word. En van die begin af het Hy mense sensitief gemaak vir sy onsigbare maar duidelike werking in die skepping. God se teenwoordigheid is afleesbaar uit sy werke, sê Paulus, maar die mens het verkies om dit te ignoreer, te misken en te misbruik tot sy eie nadeel (Rom 1:18-32). Tog het God van die begin af mense sensitief gemaak vir sy teenwoordigheid, al was hulle ’n klein groepie. Hulle staan byvoorbeeld bekend as die profete en wyses in die Ou Testament, mense wat ingestel was op God se werking en wil in die skepping en samelewing, en daarom as God se spreekbuise opgetree het. Soms was dit om toekomsperspektiewe oop te maak, maar meermale was dit om die wil van God vir die daaglikse, ondermaanse lewe bekend te maak, wat in sigself ’n bonatuurlike insig is. Dit is weens hierdie insigte dat daar iets soos die Bybelse geskrifte tot stand gekom het. Daarom dat die hele Bybel hierdie transendente dimensie adem. Verder, ’n mens het geloof nodig om God se onsigbare maar werklike werking te bespeur en te ervaar. Dis die rede waarom Hebreërs 11:1 sê dat geloof ons oortuig van dinge wat ons nie sien nie. Waarop die res van die hoofstuk dan volg om die voorbeelde van “geloofshelde” uit die Ou Testament in te ryg – mense wat die Onsienlike gesien, vertrou, gedien en gevolg het, al was hulle dikwels daaroor verguis (11:38).
  • Afgesien van die Bybelse profete en wyses, dink ek dat ons moet aanvaar dat daar ’n klein subgroepie in elke populasie is wat ons as “menslike seismograwe” kan aanmerk. Hulle is net fyner ingestel op wat rondom ons aangaan; hulle registreer “golwe” en “vibrasies” in die samelewing, natuur en omgewing waarvan ander nie bewus is nie. Hoekom dit so is, weet ons nie. God het ons as geestelike wesens geskape, maar die meeste van ons sien net wat voor oë is; ons kan eenvoudig nie die “dieper konneksies” van die universum registreer nie. Daarom is die standaard rasionele verduideliking vir voorbodes wat agterna blyk waar te wees, dat dit gewoon toeval is. Sulke dinge gebeur maar, word gesê; dis gewoon ’n sameloop van omstandighede. Daar is soveel interaksies in die wêreld dat dit statisties moontlik is dat daar somtyds ’n sameloop van psigiese ervarings en werklike gebeure sal wees. Ons moet dus nie te veel daarin lees as sommige mense se “voorspellings” waar word nie. Nou, ek stem saam. Mens kan jou nie deur alle aansprake van heldersiendheid en voorspellings op loop laat jaag nie. Mense vat kanse. En daar is ook mense wat geestelik versteurd is, wat allerlei dinge sien wat niks met die werklikheid te doen het nie. Of daar is dié wat graag die aandag op hulleself wil vestig dat hulle, anders as die meeste ander, oor besondere vermoëns sou beskik. Party probeer ook geld maak uit hierdie aansprake. Maar alles in ag genome is daar nog steeds ’n groepie mense oor wie jy nie anders kan nie as om te erken, of ten minste ’n sterk vermoede te hê, dat hulle wel oor besondere heldersiende vermoëns beskik. Ja, die wetenskap bly steeds skepties daaroor, en dis inderdaad moeilik om hierdie aansprake binne die wetenskap as eg te verklaar, maar dit maak dit nie noodwendig vals nie. Nie in die lig van bogenoemde uiteensetting nie.
  • As Bybelgelowige wil ek vir myself graag die volgende insigte as rigsnoer neem: Die mens en sy interaksie met die lewe in sy totaliteit is uiters kompleks. Die verskuiwing wat daar in die wetenskap self ingetree het van keiharde rasionalisme na postmoderniteit met sy meerkantigheid en onsekerheid maak dat ons vandag erken dat ons nie naastenby weet hoe alles in mekaar steek nie. Daarom die erkenning dat iets soos heldersiendheid en egte voorgevoel tog sou kon bestaan. Ek wil graag ruimte laat daarvoor. Maar waar laat hierdie erkenning ’n mens vir die daaglikse praktyk van die lewe? Want dis moeilik om die kaf van die koring te skei, om te weet wanneer jy op ’n voorgevoel moet reageer of nie. Daarom sou ek verkies om my nie te veel aan voorgevoelens te steur nie. Dis nie ’n wyse weg van lewe nie. Ons het hierbo na Paulus se voorgevoel verwys. Maar as ons mooi kyk na die gebeure dan was dit nie iets wat asof uit die bloute gekom het nie. Hoewel Paulus self nie onbekend met visioene was nie (naas die ontmoeting met die opgestane Here Jesus, kyk ook 2 Kor 12:1-4, waar Paulus op ’n subtiele manier na sy bonatuurlike ervarings verwys), probeer hy nie hieruit munt slaan nie. Hy het eerder die “tekens van die tyd” rondom sy persoonlike situasie fyn waargeneem, daaroor nagedink (sekerlik gebid ook) en sekere afleidings vir die toekoms gemaak. Amper soos wat toekomskundiges vandag doen as hulle scenario’s opstel oor wat kan gebeur op grond van huidige tendense. Daarom het Paulus, ten spyte van sy oortuiging dat hy sou sterf, tog die hoop gekoester dat hy weer die Filippense sou besoek. Hy het dit egter aan God oorgelaat. En ek dink dis die weg wat ons moet bewandel. Ons moet ons nie op loop laat jaag deur ons eie of ander se voorgevoelens nie, maar elke dag rustig uit God se hand ontvang en doen wat jou hand vind om te doen, wetende dat ons tye in God se hand is (Ps 31:16). Die toekoms behoort aan God; dit kom ons nie toe om die tye en omstandighede te weet wat God vir ons bepaal het nie (Hand 1:7). Dit is vir my genoeg om te weet dat die werklikheid inderdaad meer is as wat voor oë is, daarvan is die Bybel vol. Maar ons is nie geroepe om die onbekende toekoms te eksploiteer nie. Daaroor waarsku die gebeure rondom koning Saul se besoek aan die dodebesweerster van En-Dor ons baie duidelik (1 Sam 28). Ons taak is om – vanuit die transendente perspektief wat die Bybel bied – besig te wees met die dinge van elke dag. Ek kan nie nog môre se las vandag ook dra nie; elke dag het genoeg aan sy eie kwaad (Matt 6:34). Dít is vir my ’n sinvoller manier van lewe as om my te veel te steur aan dié of daardie voorgevoel.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Handelinge van die Apostels: Timotheus sluit by Paulus en Silas aan (Hand 16:1-5) – Francois Malan

16:1 Van Silisië af stap Paulus en Silas oor die Taurusbergreeks (taurus ‘bul’ in Latyn) waarskynlik deur die Silisiese poorte deur die berge. Die Taurusberge strek van die meer Egirdir in die weste tot in die bolope van die Tigris en Eufraatriviere. Die hoogste punt in die Taurusreeks is 3 756 meters bo seespieël). Na die tog deur die berge bereik hulle eerstens die gemeente in Derbe, waar Paulus se eerste sendingreis gedraai het (14:20-21). Daarna is hulle na die gemeente in Listra, waar Paulus gestenig is en later ouderlinge laat kies het (14:19,21,23).

‘En kyk! ’n dissipel (volgeling van Jesus) met die naam Timotheus was daar’ (vgl. 20:4). Die Griekse naam Timótheos beteken: ‘om God te vereer’ (timáō vereer, Theós God). Die Here gee vir Paulus nog ’n nuwe medewerker wat ’n groot rol in Paulus se lewe gaan speel tot by sy dood (vgl 2 Tim 4:9,19). In 1 Kor 4:17 noem Paulus hom ‘my geliefde en getroue kind in die Here,’ ’n bekeerling van Paulus. Sy ma was ’n gelowige Joodse vrou (vgl. 2 Tim 1:5 met die naam Eunice (Euníkêi ‘goeie oorwinning’). Hulle het waarskynlik tot bekering gekom tydens Paulus se eerste besoek aan Listra (14:7,20,21) daarom noem Paulus hom sy kind in die Here. Sy pa was egter ’n Griek. Volgens die Joodse reg was ’n gemengde huwelik onwettig (vgl. Deutr 7:3-4 ). Kinders uit so’n huwelik volg die moederlyn as Israeliet en moet daarom besny word as lid van die volk met wie God ’n verbond gesluit het (Gen 17:11). 

16:2 Oor die jong man Timotheus se lewe en sy getuienis oor Jesus is daar getuig deur die gemeentes in Listra en Ikonium wat hom geken het.

16:3 Paulus wil die jongman as medewerker saamneem op sy reis, maar sien tog ’n probleem wat kan opduik in sinagoges waar Paulus gaan preek. Veral in Listra en Ikonium was dit bekend dat Timotheus nie deur sy Griekse pa laat besny is nie, wat ’n hindernis sou wees in sy getuienis teenoor die Jode (vgl. bv. die oproer toe die Jode in Jerusalem gedink het Paulus het die onbesnede Efesiër Trofimus in die tempel ingebring en so die heilige plek ontheilig;  Hand 21:28-29). Al was dit teen Paulus se oortuiging (vgl. Gal 5:2,11), het hy die aanpassing gemaak (vgl. Paulus se getuienis in 1 Kor 9:20: ‘Want hoewel ek vry is van almal, het ek almal se slaaf geword, om soveel mense as moontlik te wen. Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword, om Jode te wen; vir diegene onder die wet  – al staan ek self nie onder die wet nie – om diegene onder die wet te wen….’). Vir sy ander medewerker Titus, wat nie ’n Jood was nie, maar ’n Griek wat gelowig geword het, het Paulus nie laat besny nie (Gal 2:3); vgl. 1 Kor 9:21,23: ‘Vir diegene sonder die wet, het ek iemand sonder die wet geword – al is ek nie sonder die wet van God nie – om hulle wat sonder die wet is, te wen…Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek ook daarin mag deel.’ 

16:4 Paulus en Silas en Timotheus besoek die gemeentes wat op die vorige sendingreis gestig is. In die gemeentes hou hulle die reëls (dógmata) voor waarop die vergadering in Jerusalem besluit het, nl. om weg te bly van afgodsoffers en die gepaardgaande hoerery, en die Noagitiese reëls in Genesis 9:4 wat impliseer dat ’n mens nie bloed sal eet nie en nie van wat verwurg is sonder bloedlating nie. Dit is die enigste vereistes. Die besnydenis en onderhouding van die wet van Moses word nie van die gelowiges verwag nie, slegs geloof in die Here Jesus as Verlosser. Silas is destyds juis deur die vergadering afgevaardig om die geskrewe reëls mondelings te bevestig (15:27). Van die gemeentelede word verwag om die vereistes te onderhou wat die vergadering onder leiding van die Heilige Gees opgestel het. Dan sal hulle goed doen in die oë van die Here (15:28-29).

16:5  Met hulle besoeke aan die gemeentes is die gelowiges in hulle geloof in die Here Jesus versterk en het die getalle van die lidmate in elke stad daagliks vermeerder onder die seënende hand van die Here wat die mense oortuig het deur die prediking van die drie sendelinge. Lukas noem kort-kort die groei van die gemeentes (Hand 2:41,47; 4:4;  5:14; 6:7; 9:31,35,42; 11:21; 12:24; 14:1). Dit is ’n opsomming van die werk tot hier toe. Van hier af word nuwe sendingvelde onder die leiding van die Heilige Gees betree vir die uitbreiding van die Here se koninkryk tot in die suide van Griekeland.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Handelinge van die Apostels: Die vergaderig in Jerusalem (deel 2; Hand 15 vers 13-21) – Francois Malan

15:13  Nadat Paulus en Barnabas vertel het van wat die Here deur hulle onder die heidene gedoen het, het Jakobus daarop geantwoord met sy insig in die Here se uitsprake deur die profete. Hy het ook die bespreking saamgevat en die voorstel geformuleer wat die besluit van die vergadering geword het. Hy spreek die vergadering aan as ‘broeders,’ ’n term wat in die Nuwe Testament ook vroue kan insluit. Hy vra ook die vergadering se aandag vir sy mening oor die Here se uitsprake deur die profete (vgl. ook Lukas 10:16 vir Jesus se uitspraak oor luister na Hom).  

Hierdie Jakobus was die broer van Jesus (Mark 6:3). Jesus het ná sy opstanding ook aan hom verskyn (1 Kor 15:7). Toe die apostels uit Jerusalem gevlug het, tydens Herodes Agrippa I se vervolging van die leiers (Hand 12:1-3), het Petrus opdrag gegee dat die mense wat vir hom gebid het, van sy vrylating uit die tronk aan Jakobus moet gaan vertel (Hand 12:17). Hy het toe blykbaar die leiding in die gemeente in Jerusalem oorgeneem by Petrus. Paulus noem hom een van die pilare van die Jerusalemgemeente (Gal 1:19; 2:9). Hy is ook die skrywer van die brief van Jakobus aan die twaalf stamme van Israel in die diaspora (Jak 1:1; vgl Judas 1:1).

15:14  Jakobus verwys na Simeon, die Hebreeuse vorm van Simon (vgl. die vurige seun Simeon van Jakob, Gen 34:25; 49:5). Simeon het in Hand 15:7-11 die verhaal vertel van God se roeping van Kornelius-hulle wat deur die verkondiging van die evangelie tot geloof in Jesus gekom het, die Heilige Gees ontvang het en dat hulle gereinig en verlos is deur die genade van die Here Jesus. Dit beskryf Jakobus as die belangrikste (prōton) aanduiding dat God graag vir sy Naam ’n laós verbondvolk uit die éthnoi heidense volke wil bymekaarmaak (lambánō ontvang, verkry, kies, versamel). Deur geloof in Christus word heidene deel van die volk met wie God ’n verbond gesluit het, reeds van Abraham se tyd af (Gen 12:3). Met die verbond sê die Here: ‘Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees  (vgl. Gen 17:7; Eseg 32:38 en nog 20 tekste in die Bybel). Die doel van God met die opneem van die heidene in sy genadeverbond is dat hulle getuies van sy Naam in die wêreld sal wees, deur sy Naam te dra as lede van sy volk, met hulle mond en manier van lewe saam met Hom voor die mense. Waar Petrus die koms van die Heilige Gees op die heidene as argument aanhaal vir hulle insluiting, verwys Jakobus na die werk van Christus as die beloofde Seun van Dawid. 

15:15 Jakobus verwys na die woorde van profete in die Ou Testament wat saamstem met Petrus se getuienis oor die heidene se geloof in Jesus (sumfōnéō Letterlik: saamklink, hulle woorde klink soos Petrus s’n, die profete en Petrus is in simfonie). Jakobus verwys na die woorde van die Here wat die profeet Amos ongeveer 800 jaar tevore opgeteken het (Amos 9:11-12). Amos was die eerste profeet wie se woorde van die Here aan hom in ’n profete-boek opgeteken is (die profete voor hom, soos Elia en Elisa, se woorde is in die Samuel- en Konings-boeke opgeneem). Nou sê Lukas in Handelinge dat die Here se woorde van 800 jaar tevore ooreenstem met die woorde van Petrus. Die aanhaling stem meer met die Griekse vertaling, die Septuaginta, ooreen as met die Hebreeuse Bybel se weergawe van Amos se woorde.    

15:16 In ongeveer 750 v.C. het Amos 9:11 gesê:  ‘op daardie dag’  met verwysing na die terugkeer van die volk uit Babel se ballingskap wat meer as 200 jaar na Amos geskied het, van 538-430 v.C. Jakobus pas dit aan met ‘Daarna sal Ek (die Here) terugkom’ met verwysing na Jesus se voortsetting van sy werk op aarde deur sy volgelinge (vgl. Joh 14:18 ‘Ek kom weer na julle toe;’ Joh 14:23 Ek en my Vader sal woon by wie My liefhet). Verder word Amos letterlik aangehaal in vers 16: ‘en Ek sal die vervalle huis/woonplek van Dawid  weer opbou (skênê letterlik: tentwoning of tabernakel of verwysing na sy koninkryk) en Ek sal die bouvalle daarvan herbou en dit herstel’ – Amos voeg nog by: ‘soos in die ou dae.’ Dié deeltjie laat Jakobus uit, want die koninkryk wat Jesus kom oprig is nuut en anders as Dawid se koninkryk wat met geweld gevestig en uitgebrei is. Die tempel wat Serubbabel na die ballingskap gebou het was ook nie so vol prag soos Salomo se tempel nie (Haggai 2:3). Herodes het hierdie tempel vergroot en verfraai, maar toe die Seun van Dawid kom het Hy die tempel vervang as die plek waar ons God ontmoet (Joh 2:19-22). Vergelyk ook die engel Gabriël se belofte dat die troon van sy voorvader Dawid aan Hom gegee sal word, in Luk 1:32; ook Sagaria se profesie oor die baba Jesus in Luk 1:69 oor die kragtige verlossing wat die Here uit die nageslag van Dawid vir ons bewerk het). Jakobus se verwysing na die opbou van die vervalle woonplek van Dawid, woonplek of die tabernakel/tempel en die koninkryk van Dawid, is vervul toe Jesus, gebore uit die geslag van Dawid, opgestaan het as oorwinnaar oor die dood.

15:17 Die Septuaginta, wat in Handelinge aangehaal word, het twee Hebreeuse woorde anders as die bekende Hebreeuse teks gelees (was dit uit ’n ander manuskrip van Amos of ’n ander lesing van dieselfde teks?). Die Afrikaanse vertaling wat die Hebreeuse teks uit die 10e eeu n.C. volg, vertaal Amos 9:12 soos volg: ‘sodat hulle (=my volk) die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is, oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê die Here.’

Die Hebreeuse sin ‘sodat hulle die oorwinnaar sal wees (jijreshu) oor die oorblyfsel van Edom (’êdom), oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is’  word deur die Septuaginta vertaal met ‘sodat die oorblyfsel van die mense (’adam) en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, ernstig sal soek (jidereshu) (na My). In die oorspronklike Hebreeuse tekste is slegs medeklinkers geskryf: ‘Edom’ en ‘Adam’ sonder klinkers is altwee slegs ’dm; by ‘sal oorwinnaar wees’ jjrshw en ‘sal ernstig soek’ jdrshw is die verskil tussen die Hebreeuse j wat soos ’n afkappingsteken lyk en d  slegs die lengte en hoek van die twee strepies en kan maklik verskillend afgeskryf word uit die Amosteks wat sedert 750 v.C. telkens met die hand oorgeskryf is (In 1436 n.C. het Johannes Gütenberg eers die bewegende drukpers ontwerp en is Bybels gedruk en nie meer met die hand oorgeskryf nie).

Volgens die 10e eeu n.C. se handgeskrewe Hebreeuse Bybel met vokale het Amos geprofeteer dat Israel die klein klompie Edomiete wat oorgebly het en al die nasies wat deur die Here aangeneem is, sal oorwin. Volgens die Septuaginta wat 200 jaar v.C. uit die Hebreeuse teks sonder vokale vertaal is, het Amos geprofeteer dat die oorblyfsel van die mense en al die nasies wat die Here vir Hom aangeneem het, (Hom) ernstig sal soek. By altwee tekste gaan dit oor die nasies oor wie die Naam van die Here uitgeroep is. Die passiewe werkwoord veronderstel dat die Here sy Naam oor hulle uitgeroep het en dat hulle daarom aan Hom behoort. Die perfektum vorm van die werkwoord ‘uitgeroep’ impliseer ook dat die gevolge daarvan vir hulle voortduur. Daarin sien Jakobus die Here se plan om die nasies permanent in te sluit onder sy Naam. Daarom haal Jakobus die slot van Amos 9:12 aan: dit ‘sê die Here wat besig is om hierdie dinge te doen.’ Dit is nie maar die profeet se woord nie, maar waarlik die Here wat deur hom gepraat het.

15:18 ‘(die dinge) wat van lank gelede bekend is’  – in Jesaja 45:21 sê die Here: ‘Wie het wat nou gebeur lankal aangekondig? Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur? Is dit nie Ek, die Here, nie?’ Jakobus haal dit hier verkort aan om te beklemtoon dat die sending na die heidene en die wêreldwye volk van God deel is van God se oorspronklike raadsplan (vgl. Ef 1:4), wat Hy reeds aan Abraham geopenbaar het in Genesis 12:3 en dikwels daarna. God is besig om alles te doen wat Hy Hom van ewigheid af voorgeneem het. So is die bekering van heidene deel van God se grootse werk van skepping en herskepping.

15:19 Op grond van alles wat gesê is, die ooreenstemming met die profetewoorde (v15-18) en God se skenking van die Heilige Gees (v8-9) gee Jakobus sy mening wat saamstem met Petrus se woord (v10) en Paulus se verhaal (v12) wat die basiese vryheid van die wet aan die heidenchristene gee. Daarmee erken Jakobus dat Paulus se wetsvrye sending onder die heidene volgens die woord en wil van God is, en word die Judaïste (v1) en Fariseërs (v5) se eise afgewys: ‘Daarom meen ek (krinō besluit, verkies, beoordeel, dink, reël) om nie ’n ekstra las op te lê (parenochléō para ekstra, enochléō las oplê) vir dié uit die heidene wat hulle tot God bekeer nie.’  Die mening van Jakobus word in vers 22 en 28 die besluit van die vergadering.

15:20 Die eerste twee van die vier eise wat Jakobus voorstel vir die bekeerlinge uit die heidendom is om weg te bly van die die besmettings van die beelde wat as gode vereer word en van porneía (onwettige seks, hoerery, prostitusie). Vir die Jode en die vreemdelinge onder hulle is ‘n lys van onwettige verhoudings in Levitikus 18 verbied (Lev 18:26; Suid-Afrika se huwelikswet volg vandag nog die aanwysings van Lev 18). Dit was twee sondes teen God waarvoor die heidene juis bekend was en dwarsdeur die Ou Testament deur God afgekeur word as teen sy wil vir die mensdom (vgl. Eks 20:3-6, 14). Daaraan het Israel hulle by Sinai skuldig gemaak met hulle goue kalf wat hulle as god aanbid het met hulle wellustige fees (Eks 32:1-6). Die tweede groep eise, ‘om weg te bly van wat verwurg is en van bloed’ is deur die Jode beskou as die Noagitiese gebod wat daarom vir alle mense geld, omdat alle mense, Jode en nie-Jode, ná die groot vloed, uit Noag stam; vgl. Genesis 9:4-5 se opdrag aan Noag: ‘Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in nie, dit is met sy bloed in nie. Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe; van ’n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van ’n mens, en van ’n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens.’   

Jode eet kosher vleis (Hebreeus: cashēr = ‘gepas’ (gepas om geëet te word) omdat dit deur ’n shochet (’n rabbi of ’n lid van die sinagoge wat die Shabbat onderhou) geslag is, deur die dier te laat doodbloei (vgl. Lev 17:14; 7:26-27; Deutr 12:23-25). Die Griekse woord pniktós ‘verwurg’ of ‘versmoor’ is deur die Rabbi’s toegepas op diere wat in die veld gesterf het of wat verskeur is en vanweë die bloed in die vleis nie kosher is nie. Vleis wat nie kosher is nie, ‘nie-gepas’ is nie, word in Hebreeus genoem trafah = verskeur (deur ’n dier; vgl. Eks 22:31; Lev 17:15) deurdat die vleis nog te veel bloed in het.

15:21 Die tekste waarna in 15:20 verwys is, kom almal uit die Wet van Moses, soos die eerste vyf boeke van die Ou Testament genoem is. Nadat Jakobus aangehaal het uit die Profete in 15:15-18 as tekste wat van lank gelede bekend is en waarin die koms van die Christus voorspel is, verwys hy in 15:19 na vier eise uit die Wet van Moses, wat veel ouer is as die profeteboeke. Die sinagoges het ontstaan toe die tempel deur Nebukadnesar vernietig is, tydens die Jode se jare in ballingskap. Na hulle terugkeer is daar sinagoges in elke dorpie opgerig vir gereelde samekomste elke Sabbat, waar elke Sabbat uit die Wet en die Profete vir die gemeente voorgelees is. Die godvresendes het reeds die vier eise onderhou, maar hulle het hulle nie laat besny nie, anders as die proseliete wat hulle laat besny het om al die seremoniële wette te onderhou.

Skrywer: Prof Francois Malan




24 Ouderlinge – Hermie van Zyl

Michele vra:

Ek wil graag weet wanneer het die 24 ouderlinge hemel toe gegaan, want volgens Openbaring is hulle in die hemel nog voor die 2de wederkoms van Jesus.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons lees van die ouderlinge voor God se troon op ’n hele paar plekke in Openbaring – 4:4,10; 5:5-6,8,11,14; 7:11,13; 11:16; 14:3; en 19:4. Soms word hulle “24 ouderlinge” genoem, ander kere is dit net “die ouderlinge”; en soms is dit “een van die ouderlinge” wat met Johannes praat. Maar dis telkens dieselfde groep wat ter sprake is. Hulle sit op 24 trone voor God se troon, het wit klere aan en op hulle koppe is daar goue krone. Hulle presiese posisie voor God se troon is ietwat onseker. Die feit dat hulle eerste genoem word en dat hulle “reg rondom die troon” is (4:4), laat dink dat hulle die eerste konsentriese kring vorm, maar in 4:6 word gesê dat die vier lewende wesens “naby, rondom die troon” is. Verder word ook gesê dat die ouderlinge die lewende wesens se leiding volg wanneer hulle God aanbid (4:9-10). Dit wil dus eerder lyk asof die vier lewende wesens die eerste konsentriese kring rondom die troon vorm, met die ouderlinge die tweede kring. Hoe dit ook al sy, die 24 ouderlinge aanbid en prys God voortdurend, saam met die vier lewende wesens. Verder tree die ouderlinge as tussengangers en interpreteerders op (7:13-17), en hulle vervul ook ’n soort priesterlike funksie omdat hulle die gebede van die gelowiges in God se teenwoordigheid hou (5:8).

Die groot vraag is wie hierdie 24 ouderlinge is. Verskeie oplossings word aan die hand gedoen, waarvan die volgende twee die waarskynlikste blyk te wees:

Moontlik dien die 24 diensgroepe waarin die Aäronitiese priesters van die tweede tempelperiode ingedeel is (1 Kronieke 24:4-19) as agtergrond. Die skrywer van Openbaring wend hierdie diensgroepe dan op simboliese manier aan: hulle verrig ’n volmaakte priesterlike diens in die hemel, iets wat die Aäronitiese priesters maar net op ’n onvolmaakte manier op aarde kon doen. Hulle verteenwoordig die aardse gelowiges in God se troonsaal – dien, aanbid, vereer en prys Hom, en dra die gelowiges se gebede aan God oor (5:8). Wat moontlik téén hierdie verklaring tel, is dat die woord “ouderling” nie goed pas by die priesters nie, hoewel daar aanduidings in ander Joodse geskrifte is dat hierdie benaming ook vir priesters gebruik is. Verder, behalwe 5:8 waar gemeld word dat die ouderlinge goue bakke van wierook het wat die gebede van die gelowiges bevat, word die priesterlike funksies van die ouderlinge andersins nie goed in Openbaring beskryf nie. Maar nou moet ons onthou dat die skrywer van Openbaring nie daarop uit is om Ou-Testamentiese motiewe letterlik te kopieer nie; hy wend hulle eerder kreatief aan om nuwe beelde en simbole te skep wat die verbeelding van die leser aangryp. Indien hierdie verklaring aanvaar word, druk dit die gedagte uit van hemelse priesters wat gelowiges op aarde by God verteenwoordig, hulle gebede aan God oordra, en namens ons God voortdurend loof en prys.

’n Tweede moontlike oplossing, wat reeds in die vroeë kerk voorgekom het, is die gedagte dat die 24 ouderlinge die 12 stamme van Israel en die 12 apostels van die Nuwe-Testament voorstel. Die gedagte is verder dat hierdie 24 ’n soort hemelse raad vorm wat die totale getal gelowiges uit OT en NT voor God se troon verteenwoordig. Hulle verteenwoordig dus amptelik alle gelowiges op aarde om God voortdurend te aanbid, te loof en te prys. En dit bly hulle doen, selfs al sluit gelowiges wat “uit die groot verdrukking kom” by hulle aan (7:14). Die 24 ouderlinge is dus ’n permanente “instansie” in die hemel wat alle gelowiges op aarde verteenwoordig. Die feit dat hulle op trone sit en krone dra, druk hulle verhewe, amptelike regeerposisie uit; hulle wit klere simboliseer heiligheid en oorwinning. Die feit dat hulle saam met die vier lewende wesens – wat die skepping verteenwoordig – die gesamentlike binnekring voor die troon van God uitmaak, druk hulle besondere bevoorregte posisie uit, dat hulle saam met God regeer. Dit laat dink aan Matteus 19:28 waar Jesus sê dat in die nuwe wêreld die dissipels saam met Christus oor die twaalf stamme van Israel sal regeer. Tog is die ouderlinge ondergeskik aan God, want hulle lê hulle krone uit onderdanigheid voor Hom neer (4:10).

Watter van die twee verklarings ’n mens ook al aanvaar (en daar is ’n mate van oorvleueling tussen hulle), maak nie regtig saak nie. Met hierdie voorstelling trek Johannes die gordyn weg en gee vir ons ’n kykie in die hemel – wat “agter die skerms” aan die gebeur is. Die hele Openbaringboek is trouens ’n openbaring van die hemelse realiteite agter die aardse realiteite, hoewel in simboliese taal. Die menslike oog kan egter nie hierdie hemelse realiteite waarneem nie, maar dis inderdaad besig om in die hemel af te speel, gelyktydig met aardse gebeure. Die vraag is dus nie hoe en wanneer die ouderlinge in die hemel gekom het nie. Ons moet eerder oog kry vir die ryke simboliek wat hierdie toneel uitstraal. Of die 24 ouderlinge nou die 24 priesterlike groepe of al die gelowiges voorstel, is nie so belangrik nie; feit is dat hulle teenwoordigheid voor die troon van God die ryke troos inhou dat ons as gelowiges op aarde, te midde van die aanslae van die bose, nou reeds “in die hemel” is deur middel van ons hemelse verteenwoordigers. Hulle neem deel aan die Godsregering en die hemelse erediens namens ons. En so het ons die waarborg dat ons verlossing vas en seker staan.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl