Hoekom het dinge in die wêreld skeefgeloop?

My chains fell off, my heart was free,

I rose, went forth, and followed Thee.

Charles Wesley

 

Hoekom het dinge in die wêreld skeefgeloop?

Antwoord: sonde. God het ons gemaak om Hom te verheerlik en te dien en om ander lief te hê. Maar die mensdom keer sy rug op God – kom in opstand teen sy gesag. Ons word selfgesentreerd. Omdat ons verhouding met God verbreek is, is alle ander verhoudings verbreek. Die wêreld verkeer nou onder die mag van sonde.

 

 

Sonde het twee ernstige gevolge:

  • Geestelike slawerny (Romeine 6:15 – 18). Ons probeer beheer oor ons lewens kry deur vir ander dinge te leef – geld, beroep, familie, roem, seks, mag, gemak, ens. Die gevolg is altyd ‘n verlies aan beheer – slawerny. Almal moet vir iets lewe en as dit nie God is nie, dryf daardie ander ding ons. Almal aanbid. Die keuse wat ons het, is wie of wat ons wil aanbid.
  • Veroordeling. Die loon wat die sonde gee, is die dood (Romeine 6:23). Ons ly nie net as gevolg van sonde nie, ons is skuldig. Om ‘n “goeie lewe” te leef, maar die verhouding met Hom aan wie ons alles verskuldig is, te verwaarloos, is verkeerd. God het ons gemaak. Ons is alles aan Hom verskuldig. Ons kan mos nie anders as om vir Hom te lewe nie. Ons het ‘n skuld wat betaal moet word.

 

Wat sal dinge weer regstel?  Antwoord: Christus. Hoe doen Hy dit?

  • Deur sy menswording. God het nie net vir ons inligting gegee nie. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (Johannes 1:14).
  • Deur plaasvervanging. God kan nie sommer ons sondes afskryf nie. Om jammer te wees, is nie genoeg nie. Ons kan tog nie verwag dat die volmaakte hemelse Regter ons sondes sommer moet vergeet nie. Jesus Christus het nooit gesondig nie (Hebreërs 4:15). En ons? Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Johannes 3:10). Maar wat gebeur? Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring (1 Petrus 3:18). Paulus sê: Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21).
  • Deur alles wat verkeerd geloop het, reg te maak. Die eerste keer toe Jesus na die wêreld gekom het, het Hy in swakheid gekom en vir ons sonde gely. Maar met sy weerkoms kom Hy om die wêreld te oordeel. Dan bring Hy ‘n einde aan die bose, lyding en die dood. Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God beloof het en waar die wil van God sal heers (2 Petrus 3:13). Die finale doel van God is die hernuwing en herstel van die materiële wêreld, en die verlossing van ons siele en liggame. Ons verlossing lê nie daarin dat ons uit die wêreld ontsnap nie, maar in die transformasie van hierdie wêreld.

 

Dinge het skeefgeloop, maar Jesus Christus het dinge weer kom regstel.




Godsdiens en evangelie

 “The more seriously you take your growth, the more seriously your people will take you.” — John Maxwell

Godsdiens en evangelie

Tim Keller (Center Church) gee hierdie bruikbare tabel.

 

 

Godsdiens

Evangelie

Ek gehoorsaam en daarom word ek aanvaar

Ek is aanvaar en daarom gehoorsaam ek

Motivering berus op vrees en onsekerheid

Motivering berus op dankbare vreugde

Ek gehoorsaam God om dinge by Hom te kry

Ek gehoorsaam God om Hom te kry – om Hom vreugde te gee en om Hom te weerspieël

As omstandighede in my lewe sleg verloop, blameer ek Hom of myself, want ek glo soos Job se vriende dat ‘n goeie mens  ‘n gemaklike lewe verdien

As omstandighede in my lewe sleg verloop, sukkel ek, maar ek besef dat God dit toelaat sodat ek daaruit kan leer. Ek besef dat Hy binne hierdie stryd sy Vaderlike liefde sal uitoefen.

As ek gekritiseer word, is ek kwaad of verpletter, want ek moet aan myself as ‘n “goeie persoon” dink. Bedreigings vir my selfbeeld moet ten alle koste vermy word.

As ek gekritiseer word, sukkel ek, maar dit is nie vir my noodsaaklik om aan myself as ‘n “goeie mens” te dink nie. My identiteit is nie op my prestasies gebou nie, maar op God se liefde in Christus vir my

My gebedslewe bestaan hoofsaaklik uit versoeke en word net ernstig as ek behoeftes het. Die hoofdoel van my gebede is die beheer van omstandighede

My gebedslewe bestaan uit groot gedeeltes van lof en verheerliking. Die hoofdoel van my gebede is gemeenskap met God

My siening van myself swaai tussen twee pole. As ek voldoen aan my standaarde, voel ek vol vertroue, maar dan is ek geneig om trots en onsimpatiek te wees teenoor mense wat misluk. Voldoen ek nie aan my standaarde nie, voel ek nederig, maar sonder vertroue. Ek voel soos ‘n mislukking

In Christus is ek terselfdertyd sondig en verlore, maar ook aanvaar. Ek is so sleg Hy moes vir my sondes gesterf het. Dit lei tot ‘n diepe nederigheid by my, maar ook ‘n diepe vertroue.

My identiteit en selfwaarde berus hoofsaaklik op hoe hard ek werk of hoe moreel ek is. Ek kyk dus neer op diegene wat ek as lui of immoreel beskou. Ek voel meerderwaardig teenoor ander

My identiteit en selfwaarde is gerig op Hom wat vir sy vyande – insluitend ekself – gesterf het. Slegs deur genade is ek wat ek is. Ek kan dus nie op ander wat iets anders glo en beoefen neerkyk nie. Ek het nie ‘n innerlike behoefte om argumente te wen nie.

Omdat ek na my prestasies kyk vir my geestelike aanvaarbaarheid, maak my hart afgode – talente, persoonlike dissipline, sosiale status, ens. Ek moet dit hê, want dit is my hoop, betekenis, sekuriteit en vreugde.

Ek het baie goeie dinge in my lewe – familie, werk, ens, maar dit is nie dié dinge nie. Dit is nie absoluut noodsaaklik dat ek hulle het nie. Daar is dus ‘n perk oor hoeveel angs, bitterheid en wanhoop hulle vir my kan veroorsaak wanneer hulle vir my bedreig of verlore raak.

 

Dit is baie makliker om van die evangelie na godsdiens te skuif as andersom – godsdiens is die default stelling van die menslike hart.




Die evangelie het twee vyande

The Christian story provides us with such a set of lenses, not something for us to look at, but for us to look through (Lesslie Newbigin).

 

Die evangelie het twee vyande

Die evangelie is basies ‘n verslag van Christus se werk ten behoewe van ons. Dit is nuus, want dit gaan oor ‘n verlossing wat reeds vir ons bewerkstellig is. Dit is nuus wat ‘n lewe van liefde tot gevolg het, maar hierdie lewe van liefde is nie die evangelie self nie.

 

 

Tertullianus het gesê dat net soos Jesus tussen twee diewe gekruisig is, word die evangelie tussen twee vyande gekruisig. Wat is hierdie vyande? Wettisisme (moralisme) en relativisme (pragmatisme). Wettisisme sê dat ons ‘n heilige en goeie lewe moet lei om gered te word. Relativisme sê dat, omdat ons gered is, hoef ons nie ‘n heilige en goeie lewe te lei nie. Ons moet deeglik tussen die evangelie, wettisisme en relativisme kan onderskei om sodoende die krag van die Heilige Gees in staat stel om in ons te kan werk. Hang ons enige van hierdie twee vyande aan, sal die evangelie nie sy hartsveranderende werk kan doen nie – maak nie saak hoe goed ons kan kommunikeer nie. As ons net algemene leerstellings en etiek verkondig, verkondig ons nie die evangelie nie.

 

Maar om dit alles te verstaan – wie God is, hoekom ons verlossing nodig het, wat gedoen is om ons verlossing te bewerkstellig – het ons tog kennis van die basiese onderrig van die hele Bybel nodig. As ons byvoorbeeld nie weet dat Jesus ook God is nie of as ons nie weet wat die toorn van God beteken nie, is dit tog onmoontlik om te verstaan wat Jesus aan die kruis bereik het.

 

Ons moet nie net die Bybel in die algemeen verkondig nie – ons moet die evangelie verkondig. Maar as die luisteraars nie die Bybel in die algemeen verstaan nie, sal hulle nie die evangelie verstaan nie. Bybelkennis is noodsaaklik vir die evangelie, maar dit is nie die evangelie nie.

 




Die evangelie is nie alles nie.

You gain strength, courage and confidence by every experience in which you really stop to look fear in the face. You must do the thing you think you cannot do. – Eleanor Roosevelt 

Die evangelie is nie alles nie.

Wat bedoel ons as ons van die evangelie praat? Nie alles wat in die Bybel staan, is evangelie nie. Die evangelie is ‘n boodskap van hoe ons van ‘n ramp gered is. Evangelie se agtergrond is ‘n nuusberig oor ‘n lewensveranderende gebeurtenis wat reeds plaasgevind het.

 

  1. Die evangelie is goeie nuus, nie goeie raad nie. Dit is nie iets wat ons doen – ‘n lewenswyse – nie. Dit is iets wat reeds vir ons gedoen is en waarop ons moet reageer. Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos (Psalm 40:10). Omdat die evangelie goeie nuus is, moet dit verkondig word – dit is immers wat ons met nuus doen.
  2. Die evangelie is goeie nuus wat aankondig dat ons verlos is. Waarvan is ons verlos? Jesus deur wie ons gered is van die oordeel wat kom (1 Tessalonisense 1:10). Hierdie is God se oordeel; ons verhouding met Hom is verbreek. In Romeine 1:18 – 32 identifiseer Paulus God se toorn as die groot probleem van die mens. Hierdie toorn van God het verskeie ramifikasies. Omdat ons van God vervreem is, is ons sielkundig van onsself vervreem – ons is skaam en bang. Maar ons is ook sosiaal van mekaar vervreemd en omdat ons van God vervreemd is, is ons ook fisies van die natuur vervreemd. Ons ondervind nou harde werk, fisiese degenerasie en die dood. Ons leef in ‘n wêreld vol lyding, siekte, armoede, rassisme, natuurrampe, oorlog, veroudering en die dood. Ons moet dus verlos word. Die wortel van die probleem is ons vertikale verhouding met God. Alle menslike probleme is eintlik simptome – ons skeiding van God is die onderliggende oorsaak. Die basiese oorsaak is dat ons nie met God versoen is nie. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8); Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (2 Korintiërs 5:20). Die eerste en belangrikste ding wat die mens sal red, is om weer ons verhouding met God te herstel.
  3. Die evangelie is nuus oor wat Jesus Christus gedoen het om ons verhouding met God reg te stel. Om Christen te word beteken ons verander ons status: Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het (1 Johannes 3:14). Let wel: klaar oorgegaan het. Jy is of in Christus of nie; jy het die ewige lewe of jy het dit nie.

 

Die evangelie is goeie nuus – leef ons sodat mense kan sien ons het deel aan hierdie goeie nuus?