Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (4) – Adrio König
Ons is besig met die vraag: Waarom het God alles geskep? Ons het reeds na twee aspekte – die eer van God en die skepping self gekyk. Ons kom nou by die laaste aspek.
2.1.3 Die verbond
Ons gaan nie nou hier breedvoerig in op die verbond as sodanig nie. Dit doen ons elders (hoofstuk 1.2 en 1.3). Hier gaan dit net oor die verbond as die doel van die skepping. Ons het nou agtereenvolgens oor die eer van God en oor die skepping self as doel van die skepping gedink. Maar dwarsdeur die bespreking het dit om God én mens in verhouding tot mekaar gegaan.
Toe ons die eer van God bespreek het, het ons dadelik aandag gegee aan die eer wat mense Hom moet toebring. Toe het ons ook daaraan gedink dat sy hoogste eer juis lê in sy selfprysgawe om mense te red. Dit het dus gedurende die hele bespreking gegaan oor God en mense in verhouding met mekaar. Toe ons daarna gedink het oor die skepping self, en veral die mens, as God se skeppingsdoel, het ons dadelik verwys na die mens wat bedoel is om die beeld van God te wees en na die heerlike voorreg dat die doel van ons lewe is om God te verheerlik en Hom te geniet. Dit beteken in beide gevalle het dit om God én mens gegaan, maar om God en mens in verhouding met mekaar.
En dan moet ons mos aan die verbond dink, die ooreenkoms wat God met Israel gemaak het: ”Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees.” Dit is veral Karl Barth wat die verbond die doel van die skepping genoem het. Daarmee het hy eintlik twee dinge bedoel:
- Dat die verbond, dit is die saamleef van God en mens, die rede is waarom Hy die wêreld gemaak het.
- Dat die wêreld die plek is waar die verbond gestalte moet kry, dit wil sê waar God en mens in gemeenskap moet saamleef.
’n Mens kan dit nogal ’n bietjie probeer aflei uit Genesis 2-4. Dit is opvallend hoe hierdie verhaal begin. Voor daar regtig voorsiening vir die mens op aarde is omdat die aarde nog kaal en dor was, maak God al die mens (2:4b-7). Maar direk daarna sorg Hy vir die mens (2:8 ev). Die tuin waar die mens kan woon, is baie idillies as ’n mens onthou die verhaal is in Israel geskryf, wat in daardie tyd hoofsaaklik maar ’n droë kalkklipperige wêreld was. God plant ’n pragtige tuin met ’n oorvloed water en vrugtebome. En die implikasie van Genesis 3:8 is dat die Here gereeld by hulle kom kuier het, en regtig in hulle lewens gedeel het.
Al kom die woord “verbond” nie in hierdie hoofstukke voor nie, is die boodskap van hierdie hoofstukke dat hier ’n baie noue verhouding tussen God en mens ontwikkel het, ’n verhouding waarin die Here die inisiatief geneem het en die mens versorg het, en die mens die geleentheid gekry het om die Here te gehoorsaam, te dien en te eer. Die Here gee aan die mens wonderlike verantwoordelikhede, en voorsien op ’n buitengewone manier in sy behoefte aan ’n maat (2:15-24).
Daar is interessante ooreenkomste tussen hierdie verhaal, dié van Abraham, en die uittog. In al drie gevalle neem God die inisiatief, in al drie is Hy die een wat getrou is en sy beloftes hou, in al drie stel die mense Hom herhaaldelik teleur. Ons sien hoe Adam en Eva wat aan Hom ongehoorsaam is, Abraham wat herhaaldelik leuens vertel om uit die moeilikheid te kom, en Israel wat telkens in die woestyn in opstand kom teen die Here.
En dit is presies hoe die verbond in die geskiedenis gewerk het … en nog steeds werk: God se trou en ons ontrou! Maar dit kon en moes alles anders gewees het. God het dit inderdaad anders bedoel. As Adam en Eva, as Abraham, as Israel konsekwent en getrou na die Here geluister het, sou die geskiedenis heeltemal anders geloop het. Dink maar net aan Israel. Die Here sou hulle so geseën het dat hulle so voorspoedig sou gewees het dat die volke na Jerusalem sou stroom en die Here daar saam met Israel sou kom dien het. Hieraan gee ons elders volle aandag (hoofstuk 8.1). Maar nou is dit net nodig om hierdie prentjie helder voor ons oë te kry. Die doel van die Here met die skepping van alle dinge was om in so ’n verhouding met ons te leef dat ons Hom en sy seëninge sou geniet, en Hom voortdurend daarvoor sou dank. Dit sou ’n verhouding van sorg van sy kant en dank en aanbidding van ons kant gewees het.
As ons nou terugkyk op die drie verskillende standpunte oor God se skeppingsdoel met ons en die wêreld, is dit duidelik dat ons hierdie standpunte nie téén mekaar hoef af te speel nie. Hulle sluit by mekaar aan en verryk mekaar.
- Natuurlik gaan dit om die eer van God. Natuurlik moet ons Hom in liefde eer, verheerlik, aanbid, gehoorsaam en dien om dat Hy ons gemaak het om sy goedheid met ons te deel.
- En natuurlik is sy doel dan dat ons met vreugde mense kan wees en dit kan geniet om te lewe, te werk en te speel, en ons lewe in sy diens en in diens van mense in nood te stel.
- En natuurlik veronderstel sy eer en ons lewensvreugde as skeppingsdoel ’n verhouding tussen Hom en ons waarin Hy die inisiatief neem om ons te versorg en te beskerm, en ons antwoord met dankbare diens vir sy oorweldigende genade.
Maar nou die groot vraag: Wat het dit alles nou met heil en saligheid te doen? Dit het dan nou die hele tyd net gegaan oor God se skeppingsdoel.
Oor die heil/saligheid het baie gelowiges heeltemal ’n ander beklemtoning as dit waarmee ons nou hier werk. Dit gaan vir hulle glad nie oor hierdie aarde/wêreld en hierdie lewe nie, eerder oor die hemelse geluksaligheid eenmaal na die dood ver van hierdie aarde by die Here in die hemel. Hierdie aarde sou dan net ’n “jammerdal” wees wat moet verbygaan. Ons sou hier net pelgrims wees op pad na ons eintlike vaderhuis by die Here in die hemel. Ons sal by die dood die “tydelike” met die “ewige” verwissel en dan kry ons in die hemel die huis wat Jesus vir ons berei het. Hierdie aardse lewe sou dan maar net die tydelike voorbereiding vir die ewigheid by die Here in die hemel wees. Ons lewe in die hemel sou dan die eintlike lewe wees waarvoor hierdie lewe net ’n voorbereiding is. As dit so ongeveer jou oortuigings is, hou vas daaraan. Kom ons blaai nou deur die Bybel en kyk waar kry ons dit.
Maar intussen hou ons ook vas aan God se skeppingsdoel, want dis tog logies dat dit direk verband sal hou met heil/saligheid. God se skeppingsdoel was tog seker om ons salig, gelukkig, heel te maak. En kort saamgevat het ons gesien God se doel was om ’n aarde te maak waar ons in sy gemeenskap en onder sy sorg kan leef en Hom in liefde daarvoor kan eer en dank.
Kom ons hou vas aan hierdie twee gekursiveerde paragrawe terwyl ons deur die Bybel blaai. Ons gaan by die Ou Testament begin en deurwerk tot die einde van die Nuwe Testament om in Openbaring 21, 22 te eindig.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König